INVERSIUM – FRançois p. verster
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2015)
DEEL I
DIE lig was skielik daar.
Die drie aardlinge staan versteen, starend na die vreemde gloed wat voor hulle in die hemelruim hang – ʼn polsende lig wat wink. En toe net so skielik verdwyn, totdat slegs ʼn rooierige skynsel agterbly.
Sinten en Basdian swets gelyktydig.
“Wat de..?” kom dit ook van HiLari. Sy leun vooroor met haar hande op die halfmaanvormige kontrolepaneel voor haar. Haar slanke vingers is oopgesprei, asof sy stabiliteit soek. Haar blou oë lyk komies groot. Die donker wenkbroue in halfmane opgetrek, die vol mond ʼn perfekte ovaal. Sy vee ʼn denkbeeldige sliert weg, al is haar donker hare styf agter haar kop in ʼn poniestert vasgebind.
Maar die breë skerm is nou donker. Die voorwerp is weg. Of buite sig, maar nie een van dié twee moontlikhede skyn bevredigende verklarings te wees nie.
Die aantreklike jong man staan nader aan die meisie; ʼn instinktiewe gebaar wat hulle hegte verhouding weerspieël. Hy is duidelik haar broer al is hy blond: die familietrekke is onmiskenbaar. Met daardie blou oë, gul mond en lenige bou is hulle onmiskenbaar sibbe.
“Ons kan nie ál drie so ʼn fout gemaak het nie, en die sensors ook nie,” sê Sinten huiwerig, vraend. Hulle kyk na mekaar, hul gedagtes duidelik: Te lank op soek? Begin hulle dinge sien wat hulle wil sien? Maar nee, die sensors het die verskynsel ook aangedui. Daar wás iets.
Hulle voel die vloer onder hulle voete vibreer toe HiLari Dantron 3 tot stilstand bring. Basdian manipuleer die visuele apparatuur van die verkenningstuig in alle moontlike rigtings, maar behalwe vir enkele ligprikkels aan die stuurboordkant bly Kwadrant Mestifios donker.
Die fris jong man gaan sit in een van die drie halfmaanstoele, kantel dit na agter en met sy hande agter sy kop kyk hy na die twee sibbe, laaste lede van die RorKin-familie. Soos hy, was hulle weeskinders. Maar dis geen rare verskynsel op die planeet aarde nie. Dekades-lange konflik het die mensdom skrikwekkend uitgedun.
‘Die een goeie kant van dié aaklige situasie is dat ons by mekaar uitgekom het. Kamerade, lewenslank,’ dink Basdian.
Basdian is só stewig gebou dat hy kort lyk – byna so breed as wat hy lank is. In die gedempte lig van die stuurkajuit lyk sy borselkop meer blond as rooi, en ook die baard wat hy onlangs opgehou skeer het. Hy is nogal trots daarop, want dis nou wel nie so dig soos Sinten se bokbaardjie nie, maar dis langer. HiLari glimlag net en weier om skeidsregter te speel.
Maar nou lag niemand nie. Dantron 3 is een van etlike verkenningstuie wat byna ʼnhalwe sterjaar gelede uitgestuur is op wat sommige onderlangs as Sending Totsiens genoem het. Admiraal Jano Resznick het hulle stuurs aangegluur om sy ware emosies te verberg en hulle weggestuur met: “Julle weet wat op die spel is. Kom terug met goeie nuus.” Die verkenners het mekaar stil aangekyk. Woorde was onnodig.
Hulle het van een kolonie na die ander aanbeweeg, voorrade aangevul en inligting ingewin. Van laasgenoemde was daar egter min.Dantron 3 is, sover bekend, die laaste skip wat nog soek. Die ander het óf reeds teruggekeer óf in die oneindigheid van die heelal, sonder taal of tydingverdwyn. Die meeste sal nooit weer van gehoor word nie, want so groot soos die heelal is, so baie dinge kan gebeur.
Een skip, Turkon 2, is juis in hierdie kwadrant vermis. Die admiraal se teorie is dat die bemanning naby die doelwit gekom het en dáárom uitgewis is. Na alle waarskynlikheid sal niemand ooit weet nie. Dis asof die Groot Donker die bemanningslede eenvoudig ingesluk het.
Die admiraal is reg oor een ding: hulle het geen keuse nie. Oorlewing is die reg van die onoorwinlike. Dis sy mantra, en daarom ook dié van sy krygers. Teen wil en dank.
“Niemand is onoorwinlik nie,” het Sinten gebrom, maar HiLari het hom stilgemaak. Basdian het net gegrinnik. Tot hulle die lig gesien het.
“Daar!” sê Basdian. “Daar is dit weer!” Hy beduie na die groot skerm, maar HiLari en Sinten is reeds besig om elke sensor- en sigapparaat op die ligkol te fokus. Data stroom in op ander skerms, en analises word geformuleer. Op grond van hierdie data sal hulle hul besluite moet maak, en waarskynlik baie gou ook.
“Dink jy dis dít?” Basdian se growwe stem klink bra wankelrig.
Sinten knik. “Dit beter wees.”
“Soos ons ooreengekom het,” sê HiLari, sag maar ferm. Basdian laat sy kop sak. Hy is die een wat moet agterbly. Iemand moet sorg dat die ander twee na ʼn veilige hawe terugkeer. Ás hulle wel terugkeer.
Sinten loer vinnig na sy maat. Hy weet hoe graag Basdian wil saamgaan. Aan die dapperheid en vernuf van die kragtige Eurasiër twyfel niemand – soos sy twee kamerade is hy ʼn veteraan van talle skermutselings met die Kotors, die Zargs, die Taranoks; ál die mensdom se dodelikste vyande sedert mense Moeder Aarde die eerste maal verlaat het om buite-kolonies te stig.
HiLari jaag hulle aan – sy is angstig om vas te stel of hulle die vreemde verskynsel kan betree voordat dit dalk heeltemal verdwyn. Tyd vir groet is daar nie, al is die besef dat hulle dalk finaal van mekaar afskeid neem genoeg om haar keel te laat toetrek.
Die data is positief: daar is ʼn massiewe voorwerp baie naby aan hulle,en hulle behoort daarop te kan land. Dit is die goeie nuus. Wat vir hulle wag is onmoontlik om te voorspel. Bewoonbare planete is immers die gevaarlikste. Hierdie een het nie mane of satelliete van enige aard nie, sodat geen berekeninge volgens massa, gravitasie en wentelbane gemaak kan word nie.
“Ons hoop maar dis ʼn planeet,” eggo Sinten haar gedagtes terwyl hy sy helm bokant sy kop lig. Hy grinnik vir Basdian. “Want wat is gevaarliker as ʼn bewoonbare planeet?” Basdian antwoord nie dadelik nie. Toe sê hy: “ʼn Ruimtetuig wat so groot soos ʼn planeet is?”
“Jy bly hier en wag op ons, of op ons noodsein. Indien ons jou nodig het, en mag dit nié gebeur nie!”
“Toemaar HiLari, ou Bas ken die storie,” val haar broer haar in die rede en trek haar agter hom aan. Met ʼn sagte suising sluit die groot grys deur. Basdian is alleen in die stuurkajuit. Hy haal stadig asem.
Die geel lig bokant die deur flikker drie maal vinnig en toe sidder Dantron 3. Op die beheerpaneel begin ligte nou al vinniger pols en Basdian kyk vinnig na die groot skerm. Die vreemde lig lyk flouer as wat dit oomblikke tevore was!
“Pendelpod 1 kom in, kom in,” sê hy vinnig. Stilte. Hy voel hoe sy bors saamtrek en dwing homself om metodies te dink. ‘As jy paniekerig raak, is jy dood.’ Dis reël nommer een in oorlogsituasies. ‘Hierdie ís oorlog, want dit gaan oor die oorlewing van my vriende. En, uiteindelik, die hele mensdom,’ dink hy terwyl koue sweet oor sy hele lyf uitslaan.
“Pendelpod 1, kom in,” herhaal hy en hoop sy kamerade hoor nie die vrees in sy stem nie.
Hierdie stilte is erger as die aakligste doodskrete wat hy as kryger gehoor het. Sy eerste instink was reg: hy is heeltemal alleen,want op die skerm voor hom is net die ewige nag wat Kwadrant Mestifios is – ʼn inkswart blerts in die andersins flonkerende sterrehemel. Die inligting wat die Taranok-gevangene verskaf het, was verkeerd. ‘Altans’, dink hy beangs, ‘altans… dit was ʼn lokval.’ Hy moet besluit of hy by die plan van aksie gaan hou en of hy vir sy lewe gaan vlug.
“Pod 1, kom in!” Hy sluk swaar. “HiLari! Sinten!” Vir die eerste maal in ʼn baie lang tyd smeek Basdian SamOag om genade, van enigiemand, enigiets, en ril vir die ongenaakbare stilte.
“Nêrens voel ʼn mens so eensaam as tussen nêrens en niks nie,” prewel hy. Sy stem klink vir hom soos dié van ʼn kind – onseker en angstig.
* * *
IN die Vallei van die Honderd Woude, ʼn doolhof van aaneenlopende en digbegroeide ravyne, is dit stil, want dit is nag. Die polsende lig wat bedags vanuit die niet verskyn, rus nou – die kleure van die reënboog het in ʼn blouerige skemerte verdonker.
Die lug is koel, want hier in die dieptes is dit windstil. Die stilte voor die storm – letterlik, want inkblou donderwolke bol reeds soos seile oor die hoogste pieke, drywend, spookagtig geluidloos. Dit voel asof die atmosfeer gelaai is, asof daar iets onsigbaar, dog tasbaar oral rondom hom is.
Ariel die Slagter staan stadig op. Hy snuif die lug en glimlag. Sy klere, ʼn jurk en kniebroek rofweg uit pelse van ʼn paar van hierdie einste woude se inwoners gesny – die skugter swartjakkalse, en ʼn donkergrys harnas met ʼn ronde blou metaalskyf in die middel van die borsgedeelte, lê eenkant op ʼn mantel van grys en swart gespikkelde leer wat skubberig in die dowwe ligvertoon. ʼn Binnevoering van liggrys pels, baie ligter van kleur, maar dikker as dié van ʼnjakkals, is aan die huid vasgewerk.
Ariel het sy uitrusting onder ʼn skuinsstaande rots neergesit waar dit droog sal bly. Nou is hy naak, behalwe vir ʼn kort lendekleed om sy heupe en lang leerstewels. Aan die voorkante is die stewels langer sodat sy knieë ook bedek is met gekurfde metaalplate wat van sy voet opwaarts strek.
Die lang man is breedgeskouerd en pragtig gespierd. Behalwe vir ʼn ligte sprinkeling van borshare is sy liggaam feitlik haarloos terwyl daar geen teken van plooie of littekens is nie – sy menige skermutselings oor die jare ten spyt, lyk hy soos ʼn bloedjong rekruut op pad na sy vuurdoop. Of so mag dit lyk – sy hare vertel ʼn ander verhaal: dis spierwit grys.
Ariel sien uit na die louwarm reën. Dit laat sy heuningkleurige vel gloei en sy beendere ontdooi ná die afgelope paar dae se koue tussen die pieke. Hy het ver gereis om hier te kom, van sy Woning in die Wolke. Daar waar dit altyd mooiweer is, hoog bokant die reën en die donder wat hierdie dele dikwels teister. En tog kan dit so droog wees, daar onder in die vlaktes.
Hy is hier, in die vreemde wêreld teen sy wil. Hy haat towenaars en hulle vieslike volgelinge. Hulle is veragtelik, want hulle verbeel hulle dat hulle magtig is,óf hulle kwyl en kruip voor dié wat mag het. ʼn Volgeling sal hy, Ariel, nooit wees nie, daarvoor is hy te onafhanklik, ʼn wese wat niemand nodig het om hom te vermaak of te dien nie.
Ariel verkies inderdaad sy eie geselskap, stel dit veel hoër op prys as enigiemand wat hy al ontmoet het gedurende sy lang lewe. Hoe oud hy is weet niemand nie, hy ook nie aangesien daar geen vaste patroon van seisoene in die plek, hy weet dit word Inversium, genoem, is nie. ‘Dag en nag volg mekaar op en die klimaat wissel blykbaar na willekeur,’ mymer hy.‘Maar, wie tel nou dae? Hier is ouderdom so irrelevant dat dit ʼn haas ongekende konsep is.’
Die groot kryger staar nog ʼn oomblik na die swaar wolke wat hom altyd aan swanger vroue laat dink. Reën is lewe…Hy draai om om te sit, huiwer skielik en bly gebukkend staan. Hy luister. Die humiditeit laai vinnig op en sweet slaan teen sy hele lyf uit. ʼn Ligte bries kielie die punte van sy ore. Dit lyk of onsigbare vingers deur sy lang hare trek. Selfs sy grys baardstoppels, deurspek met blonde strepies wat soos goue drade skitter, kriewel. Hy grom sag. “Laat dit tog reën.” Hy smag na die warm druppels.
Wéér klink daar ʼn grom op, maar dit kom van iewers uit die donkerte. Ariel trek sy skild nader. Die groot strydhamer is reeds in sy linkerhand. Die voorkant is gerond, terwyl ʼn skerp haak aan die agterkant die wapen na ʼn versteende komeet laat lyk. Die twee gekromde sabels en massiewe langswaard wat gewoonlik teen sy rug af hang lê binne bereik.
Skielik is daar oë, skerp groen skynsels hoog tussen die takke waaronder Ariel skuilhou. Hy trek sy harnas vinnig aan, want daarsonder voel hy vreemd naak – die mag van die gewoonte neem beheer in tye soos dié.
‘ʼn Trol. Die vreesaanjaendste kreatuur in die woud,’ dink Ariel. Hy grynslag. ‘Tot nou toe. Nou is ék hier.’
“Wie iss jyy?” kom die donderende stem uit die hoogte. “Hoe durff jy nn myy gebied oorrtrrree?”
ʼn Paar takke breek knallend soos die massiewe woudreus naderkom. Waar sy groot klou-agtige voete die grond tref, sidder dit onder Ariel. Die trol is nou naby. Die ding se kop swaai heen en weer en sy groot neusgate sper nog wyer oop. Hy ruik sy prooi, maar sien dit nog nie.
“Waarr iss jy-y?” bulder hy woedend. As antwoord swiep die strydhamer een maal van links na regs en die trol val gillend agteroor. Sy regterbeen is morsaf, net onder sy knie. Voordat hy kan keer is daar ʼn gewig op sy keel. En toe hoor hy weer die hamer. Net die een maal.
Ariel sit die hamer neer en trek sy langswaard nader. Oomblikke later staar hy na die donkergroen bloed wat uit die onthoofde gedrog se nek spuit en dink. ‘Wat ʼn vermorsing,’ dink hy en plooi sy neus. Hy het lank gelede in trolbloed gebad en het nie enige nut vir die oorvloed wat oor die rotse en boomwortels gespat het nie.
Selfs al kon die trol hom bykom, sou hy min skade aan Ariel kon verrig. Sy heuningbruin huid is immers byna ondeurdringbaar. ‘Vir klou en lem in elk geval,’ dink Ariel. ‘Hoop ek.’ Hy het inderdaad lanklaas met krygers van enige volk of herkoms kragte gemeet.
Die trol se kop kom met ʼn dowwe slag onder in die kloof te lande. Ariel kyk nog een keer behoedsaam rond. Toe sit hy sy wapens neer. Naby genoeg ingeval die trol nie alleen is nie.
Ariel sak neer op sy knieë en maak die teken van ʼn kruis met sy voorarms oormekaar, nes die x-vormige teken op sy skild. Hy weet nie regtig hoekom hy dit doen nie; die residu van oorgeërfde aanwendsels? Gelowe, bygelowe, kultuurgewoontes?
Gelowe… hy sug. As hy nie op daardie dag, daardie aaklige dag toe die priesters van Aleksandrië op die dorpsplein toegeslaan het, nie eers by die tempel vertoef het nie… Hy sug weer. ‘Ek het geweet daar was ʼn komplot. Ek was reg. Maar ek het nooit gedink hulle gaan haar in die openbaar vermoor nie. Dáár was ek heeltemal verkeerd. En te laat om hulle te keer.’
Die groot grys man bly so op sy knieë sit en haal ʼn leersak onder ʼn plat klip uit. Hy swaai die twee rieme wat daaraan vas is oor sy skouer en kyk met ʼn weemoedige uitdrukking na die karkas. Die herinnering aan oorgeërfde tradisies het hom aan sy familie laat dink. Hy kan nie meer hulle gesigte onthou nie, net hoe hulle hom laat voel het. Geborge. Nooit weer daarna sou hy so voel nie.
Hy raak skielik bewoë. Vaagweg onthou hy stemme, die binnekant van ʼn woning. Speelgoed van hout. Die reuk van rook. En toe, op ʼn dag, gille en ʼn ander reuk wat hy goed sou leer ken – die metaalagtige geur van vars bloed. Soos nou, hoewel die trol se bloed effens suurder ruik.
ʼn Vyandige stam, hy onthou nie meer wie hulle was nie, het hulle dié noodlottige nag aangeval en al die volwasse mans in hulle gehuggie uitgemoor. Vroue en kinders is weggevoer as slawe. ʼn Bekende verhaal, tragies, maar net een van talle wat hy in sy lang lewebeleef het. Hy het jare daarna ontsnap toe die galei waarin hy geketting was, herstelwerk benodig het.
Ariel onthou die stad se ligte op die water. Ook dat daardie stad kort daarna deur ʼn vulkaan verwoes is, ook ʼn naburige nedersetting. Vulkan, die Verteerder van Vlees was honger, het die ou swerwer wat die nuus oorgedra het, beweer. Ariel het min smoel vir gode. ‘Hulle manipuleer, of ander doen dit namens hulle, dikwels met skrikwekkende gevolge,’ dink hy terwyl hy na die reuse liggaam staar.
Die reën sak skielik neer, asof dit met ʼn wye swaai uit ʼn enorme kruik gegiet word. Toe skroef hy die driehoekige metaalpunt in die middel van sy skild af en skep ʼn bietjie van die taai groen bloed daarin – die plat agterkant van die driehoek vorm ʼn holte soos ʼn bakkie, en toe hy dit met sy duime manipuleer, skuif ʼn plaatjie oor die holte. Hy druk weer die basis van die driehoek teen die skild vas, draai dit twee maal en plaas dan die skild se handvatsels, twee breë leerbande, oor die dik rand wat die harnas oor sy regterskouer vorm.
Omdat Ariel se kamaste tot by sy knieë reik, hoef hy hom nie aan die plasse bloed en reënwater te steur nie – inteendeel, hy is dankbaar daarvoor. Só laat die doder van die trol geen spoor agter nie.
Een keer kyk hy terug. Daar is geen gevoel in sy oë nie, nou so grys soos lood. Die sterkste het oorwin. Soort van… Toe kners hy op sy tande, skud sy kop sodat water in alle rigtings sproei en steek sy tong uit na die verfrissende reën. Ariel lag sag terwyl hy die gawe van die hemele aanvaar.
Nou moet hy hierdie ding afhandel. Hy verlang reeds méér na die dun, skoon lug van sy tuiste bo die wolke.
* * *
ADMIRAAL Jano Resznik sit vir ʼn oomblik stil en dink. Die Krygsraad het pas die raadsaal verlaat nadat die nuutste militêre inligting van die talle buiteposte ontvang en bespreek is. Die algehele situasie lyk gerusstellend – daar is geen teken van buite-aardse aanvallers nie en binnelandse onluste is al geruime tyd onder bedwang. Geen epidemies is gerapporteer nie en boerderybedrywighede ontwikkel goed. Dit gee hom ʼn kans om te ontspan en met dit in gedagte het hy sy intelligensie-offisier vooruit gestuur om solank die kelder te gaan oopsluit.
Die admiraal laat sy oë oor die mure van die groot saal dwaal. Hoe grandioos, hoe roemryk, hoe wonderlik bevredigend moes dit nie gewees het om hier te vergader nie, met al jou ridders in hulle kleurryke kostuums en hul selfs kleurryker oorlogsverhale. ‘O, die glorie van die verlede, en die romanse…’
Hy sug en staan op. Soveel eeue later staan hierdie ou kasteel steeds hier op sy bergpiek met die pragtige rooie, gele, oranjes en groene van Distrik Triër in die laatherfs, soos ʼn meesterkunstenaar se geniale, tydlose kunswerk.
Ver onder die buitenste mure lê die Grunau-rivier, lieflik kalm en diepblou, en eens op ʼn tyd, so verbeel die admiraal hom, was daar swerms seilbote op daardie einste blou water terwyl hy deur die groot vensters kyk wat ʼn skatryk sakeman laat inbou het toe hy die antieke ruïne gerestoureer het.
Die oorspronklike kasteel het aan Resznik se familie behoort. Hulle was nie die eerste eienaars nie, maar hulle, so glo die admiraal, was tog belangrike mense – edelliede met talle onderdane. Hoe wens hy nie hy het toe geleef nie! ʼn Ridder op sy vurige, proesende perd, uitgedos in ʼn blink harnas, met skildknape wat rondom hom skarrel om sy geringste wens te bevredig. Dit was mos die lewe!
Hy moet tog, wanneer die tyd ryp is, so ʼn geïdealiseerde skildery van hom laat maak. Hy kan dit in sy geestesoog sien: sy agteroor gekamde hare, al het hy nou nie meer veel daarvan oor nie sal blink in die lig van ʼn opkomende son. Sy oë sal streng en stip vorentoe staar, geen glimlag om sy mondhoeke nie, en onder een arm sal hy sy gepluimde helm vashou. In sy ander hand sal hy ʼn lans vasklem en sy harnas sal silwerkleurig wees, byna wit, om reinheid en edelheid uit te beeld.
Ver in die weste sien die admiraal twee wit strepe teen die uitspansel. Hy glimlag. Verkenningstuie op patrollie. Net vir ingeval. In hulle vegskepe is daardie twee vlieëniers die naaste wat vandag se jong mans aan die ridders van ouds kan kom. Hy was self een van die beste vlieëniers wat die aardse magte al opgelewer het; doodsveragtend dapper, want hy het geglo dat niks en niemand hom kan oorwin nie. Wanneer hy in die kajuit van sy klein vegtuig geklim het, was hy oppermagtig, onsterflik. Dié roekelose geloof in homself het hom goed te staan gekom, want hy het dosyne vyandelike tuie afgeskiet en vinnig deur die range gevorder. Hy was en is steeds ʼn inspirasie vir sy mede-aardlinge.
Die admiraal loop tot voor een van die lang geel en blou baniere teen die muur waar eens op ʼn tyd ʼn troon gepryk het. Hy het die banier hier laat hang. Sy offisiere weet dit nie, maar dit was hoe die vaandel van baron Arnand Ariel von Resznik, Pruisiese stamvader van sy familie gelyk het. Min of meer. Soos Ravené die kasteel volgens sy eie voorkeure laat herbou het, so is die Resznik-familiewapen en bykomstighede effe opgehelder na die admiraal se smaak. Waarom is nuwe mites minder waar as oues?
Die admiraal vee denkbeeldige kreukels in sy uniform plat, sit sy donkergroen pet met die goue omboorsel op sy kop, wat sy yl, grys hare effektief versteek en aan hom ʼn adellike voorkoms verleen. Toe stap hy met ʼn forse houding na die klein houtdeur in die portaal net buite die saal se ingang. Hy sien uit na wat hy in die biblioteek mag vind. Hy hoop ook dat sy adjudant na sy aankoms uitsien.
Die son sak nou vinnig en dit raak koud tussen die klipmure van Triër, maar die admiraal verlustig hom in die skaduwees wat soos grillerige gedaantes teen die ruwe mure rondspeel. Sy eie skaduwee lyk reusagtig, dreigend.
Hy kyk een maal versigtig rond en trek dan die swaar deur agter hom toe. Dis asof hy skielik in ʼn lugleegte is, ʼn ruimte waarin tyd gestol het, waar mense net sowel gewigloos kan sweef – nie vorentoe nie, eerder terug in tyd.
Dan hoor hy geluide aan die ander kant van die gang en hy skuif sy fantasie eenkant met ʼn skud van sy kop, maar nie heftig nie, net sodat sy offisierspet meer galant vertoon; nie te skeef nie, net so asof dit vanself so “houding gekry” het.
Die gang daal af en maak ʼn draai na regs, so dat ʼn mens die lig van die fakkels moet volg – daar is elektriese beligting beskikbaar, maar aan Majoor Umanza het hy vertel dat dit beter sou wees dat niemand agterkom daar word meer krag van die opwekkers getrek as wat verwag word nie.
Hy lag sag. Die majoor is nie dom nie. Sy sal besef dit gaan oor die outentieke effek. Die romantiese atmosfeer. Haar familienaam, Umanza, beteken immers juis “romanse”.
‘Maar heg sy ook die konsep van romanse aan outoriteit?’ wonder hy.
Die admiraal haal diep asem en trek sy breë leergordel reg. Uit sy binnesak haal hy ʼn silwer fles. Konjak, die beste wat die Franse keldermeesters al opgetower het. Die blote gedagte aan die slanke majoor met haar toffiebruin gelaat en stuitige boude laat sy hande liggies bewe. Die kelderdeur staan effens oop, net so dat dit na ʼn uitnodiging lyk om binne te kom, dog op privaatheid sinspeel.
‘Op intimiteit,’ dink admiraal Resznik, maar met dekorum én ʼn titsel speelsheid.
Hy stoot die swaar houtdeur stadig oop. Dit kraak dramaties en hy ril van plesier. Hy haal diep asem en stap met ferme tred na binne.
Majoor Urpa Umanza draai stadig om. Die Somaliese skoonheid het ʼn wynrooi uitrusting aan met ʼn hoë spleet wat haar gladde, ferm bobene vertoon. Lang silwer oorbelle swaai koketterig met die beweging van haar kop. Dit aksentueer die lang, sierlike nek waarteen ʼn paar haarslierte los geraak het, blouswart teen die vlekkelose ligbruin vel.
Haar donkerrooi naels vertoon sierlik, dog vreemd gevaarlik teen die vergeelde manuskripte in haar hande.Admiraal Resznik glimlag ingenome, selfs toe haar oë ʼn predatoriese glinstering kry. As die admiraal ʼn alarmklokkie hoor lui, toonhy geen teken van behoedsaamheid nie.
* * *
DIE groot grys man sit doodstil, gehurk soos sy gewoonte is, stewels stewig op ʼn dik boomtak geplant. Net sy oë beweeg; rusteloos, soekend.
Hy is hoog bokant die uitgestrekte ysmeer wat presies soos die visioen lyk wat die Heks aan hom gestuur het. Hy tuur na die fantastiese vorms wat die ys veroorsaak het – aan sy regterkant loop lang hoekige krake kruis en dwars tot by ʼn bevrore woud waar die dooie swart stamme lyk asof hulle bokant die ys sweef. Op die dwarstakke lê sneeu saamgepak. Die bome lyk nes donker stokke met spierwit arms wat aanmekaar raak.
Hy ril. Hy onthou die visioen so glashelder soos die ys voor hom is. “Die bome hou hande vas, hulle wil loop. Saam met haar, hierheen.” het ʼn donker stem geprewel. Daardie stem wat met die gehuil van, wat hy hoop die wind was, selfs die normaalweg flegmatiese Ariel laat gril het. Hy het vinnig regop gesit in sy bed, en lank gelê en luister of daar beweging in die gange rondom sy kwartiere is. Dit was so lank sedert daar ander voetvalle benewens sy eie in die antieke marmergange opgeklink het…
“Bome wat loop?” wonder hy hardop. Hy ken baie mites oor betowerde woude, maar hy weet dis net stories. “En wie is die vrou wat saam met bewegende bome loop?”
Ver agter die bevrore meer is ʼn lang ry bergspitse sigbaar. Dit sal die Tande van die Blou Draak wees, besef hy. “Maar waar het ek dié naam gehoor?” Hy skud sy kop ergerlik, dog die ongemaklike gevoel dat hy die plek ken, wil nie wyk nie.
‘Nee,’ dink hy, ‘Ek was nog nooit daar nie.’ Miskien ʼn soortgelyke plek uit sy verlede?’ wonder hy. ‘Waarskynlik.’ Hy kyk een keer na die helder kleure wat bokant hom maal en kolk en dink: ‘Maar niks hier is regtig “soortgelyk” aan wat ek ken nie.’ Die lug lyk nogal soos die noorderlig op aarde, maar helderder en dit vul die volle uitspansel van horison tot horison – ʼn fassinerende, byna hipnotiese skouspel.
ʼn Skraal windjie roer die blare sporadies, asof daar liggame tussen hulle deurgaan en Ariel loer versigtig rond. ‘Hierdie verdomde gevoel van onheil wil maar nie wyk nie,’ dink hy geïrriteerd.
Behalwe die blare roer niks nie. Hy haal diep asem en kyk weer na die “draaktande” op die horison. Die besluit is reeds geneem. En dít irriteer hom die meeste; dat hy gedwonge voel om die gerief en geborgenheid van sy tuiste te verlaat. En dan, asof daardie donker stem smalend antwoord: “Geniet jy nie tog die opwinding van die reis nie?”
Ariel knor grimmig en wip van die tak af. By die rand van die meer gaan staan hy en kyk stip na die duisende ronde en ovaalvormige wit ysstukke wat lyk asof hulle soos klipstapels opmekaar staan, sover as hy kan sien. Maar nie bo-op die ys nie, wel onder die glashelder oppervlakte.
‘Sou dit die wind wees?’ wonder hy en trek sy dik swart mantel stywer om sy breë skouers. Sommige van die stukke ys lyk soos lugborrels wat verys het. Ook dié indruk laat hom onrustig, maar hy skud die gedagte van hom af met ʼn swiep van sy lang hare.
Sedert hy die trol gedood het, het Ariel voor die donkerte uit getrek; die glans van die môrelig tegemoet gestap en eers nadat hy agtergekom het dat die ruigtes yler raak, rondgekyk vir iets om te eet.
Dit het hom geluk om een van die reuse-wildevarke van die woud met sy hamer dood te gooi. Haastig om nie predatore te lok nie, het hy die kop en pote afgekap en die los repe van die huid rondom die karkas vasgeknoop.
Nou breek hy ʼn paar stukke ys af en druk dit in die leersak om die karkas koel te hou. Nog ʼn stuk ys druk hy met die hamer fyn en skep sy waterkruik vol.
Met sy oë op die glasgladde vloer van die meer, maar sy gedagtes op sy eindbestemming wat oneindig ver voel, begin hy met lang treë te stap. Die idee is om sy aansienlike gewig soveel as moontlik te versprei. Die ys lyk redelik solied, maar hy vertrou nie die vrede nie. Ouderdom doen niks aan hom nie, en pyl of spies kan hy verduur, maar dit beteken nie hy kan nie gedood word nie. Verdrinking is juis ʼn dood wat hom met afsku vervul – die idee van diep wegsink tot waar dit so koud is as wat dit donker is, om daar stadig te verrot, laat hom ril.
Dit lyk nie of die draaktande eens naderkom nie. Hoog in die lug sien hy skielik spikkels. ‘Aasvoëls?’ wonder hy. ‘Hier iewers is dalk iets of iemand dood.’ Met elke tiende tree wag hy en kyk eers rond.
‘My voetstappe klink soos ʼntrol wat sy boude teen bome skuur,’ dink hy en grinnik senuagtig. Hy besef goed dat sy spoed, krag of vaardigheid as vegter nie veel beteken op die skynbaar oneindige ysvlakte nie.
Uit die ooste kom ʼn wit wolk aan. Hy staar ʼn oomblik daarna en toe begin hy sy pas versnel. Hopelik sal hy die bevrore woud bereik voordat die ysstorm hom bereik. ʼn Gewone man sal dit aan repe skeur, vir hom hou dit wel pyn in. Daarvan is hy oortuig.
Die spikkels is weg. Die voëls het reeds die wyk geneem, merk hy grimmig op en draf vinniger. “Dis hoekom ek nooit… van die verbrande berge wil… afkom nie,” mor hy hardop. Langafstand-hardlopery was nog nooit sy ding nie. Veral nie met die vrag wat hy nou dra nie, maar anderkant hierdie ysvlakte sal hy dit nodig kry. Ás hy die vlakte kan oorsteek.
Ariel kan reeds die ysstorm hoor – ʼn massa ysskerwe kom teen ʼn ontsaglike spoed aan, die skerwe ys word letterlik opgeraap en aangeblaas deur die wind wat oor die vlakte voortstorm. Totdat iets soos ʼn heuwel of woud in die pad daarvan kom, sal die wind se spoed algaande toeneem.
Hygend slinger Ariel voort. Hy voel reeds die storm se koue asem in sy nek. Hy kyk om. Sover as wat hy kan sien is ʼn witheid wat alles verswelg, selfs die lug, die lig. En hy weet: hy gaan dit nie maak nie.
“Ag wel, dan moet ek maar die houe vat,” dink hy amper gelate, en staal hom vir die aanslag. Dog, soos altyd, knaag daar weer die vertwyfeling in sy agterkop: ‘Sal ek steeds immuun wees teen hierdie gevaar? Sê nou net die wispelturige gode, of leedvermakerige geestewat my na hierdie plek gebring het, verlaat my?’
Hy kyk nog een maal om en weet dat hy binne oomblikke meer sal weet van dit waaroor hy wonder.