LEO – Anna van der Walt
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2016)
Proloog
DIE glinsterende vaartuig hang vlak bokant die donker stormwolke.
Die vlieënier is ʼn wese van lig. Sy liggaam en silwerwit glimmende uniform straal met ʼn sagte glans. Skitterblink swart hare omring sy fynbesnede gelaatstrekke. Sy smaraggroen oë kyk na holografiese beelde wat die een na die ander vorm aanneem in die middel van die binneruim.
Hy sien die plaashuis en hy sien die donker gestaltes nadersluip. Hy sien die aura’s – afgryslike wolke van venyn, woede en moord. Hy hoor die stemme in die vreemde taal, wat hy geen moeite het om te verstaan nie. Hoor die planne.
“As ons die ou vrou met ʼn yster brand, sal die ou man praat. Daar’s gewere en geld. As die kluis eers oop is, kan ons pret hê.”
“Het jy al ʼn ou wit vrou verkrag?” vra een van hulle vir die makker langs hom, “dis pret, jong. Hulle is só nie gewoond aan regte mans nie, want jy weet, húlle ou mans…”
Hulle lag almal smalend, geniet die grap.
Dan sê ʼn ander: “Maar dis veral pret as die ou man moet toekyk. Daarna kan ons hulle kele afsny. Eendag sal al die gesteelde grond weer aan óns behoort.”
Die smaragoë begin gloei met ʼn bomenslike vuur. Glimmende vingers huiwer oor die beheerpaneel. Hy’s te laag, te laag! Dis reeds verkeerd. Hy mag dit nie so naby waag nie. Hy mag nie kontak maak nie. Mag nie inmeng nie! Hy is nie beskikker oor die lotgevalle van die aarde se mense nie. Maar hoe kan hy dit net laat gebeur? Hy het die vermoë om te help.
Swaar donker wimpers sak ʼn oomblik toe oor die vurige oë, die skraal hande bal tot vuiste en – die aartsverleier wen – die een wat homself so maklik voordoen as ʼn engel van die lig, wat verkondig dat dit in orde is om self te besluit wat goed is en wat kwaad.
Ligglansende vingers gly oor die beheerpaneel. Die glinsterende vaartuig duik af deur die donker wolke – af, af na sy noodlotsontmoeting met ʼn sondige aarde.
HOOFSTUK 1
DOKTER Elana Fouché byt so hard op haar onderlip dat daar ʼn bloedsmaak in haar mond kom. Vir die soveelste keer wonder sy wat op aarde haar besiel het om haar deur ʼn koppige ou mens te laat ompraat om uit te ry op ʼn grondpad wat sy nie ken nie. Sy doen nooit tuisbesoeke nie, maar die tranerige ou tannie wat nie kan bestuur nie en radeloos is met haar siek man, het haar hart vermurwe. Wat soek sulke hulpelose ou mense alleen op ʼn plaas in hierdie tyd van plaasmoorde en geweld? Praat help ook nie, het sy weer uitgevind nadat sy vergeefs geredeneer het tot die donker en die donderstorm haar oorval het.
Nou is sy self kniediep in die moeilikheid. Die tweespoor-plaaspaadjie het in ʼn klein spruit verander, die kante daarvan skaars sigbaar deur die reënsluiers. Haar motor se wiele glip en gly en verloor soms alle traksie. Boonop is die weer ontsettend swaar. Sy was skaars van die plaas af weg toe ʼn ekstra skerp ligflits die motor gevul het, gepaardgaande met ʼn donderslag soos sy nog nooit gehoor het nie en ʼn rammeling wat sy kon sweer ʼn aardbewing was. Sy het amper daar en dan die motor omgegooi. So moet ʼn atoombom seker klink, het sy gedink. Die daaropvolgende donderslae was nie heeltemal so erg nie, maar die weerlig bly flits en die donder hou aan rammel. Sy is ook nie seker of hier selfoonontvangs sal wees as sy ʼn ongeluk maak nie. Sy sal maar net moet deurdruk, maar dit eis al haar vernuf en, ten spyte van die klam koelte, tap die sweet haar in strome af. Ek kan maar net sowel buite in die reën wees, dink sy met ʼn wrange tikkie humor. As ek vanaand lewendig hier uitkom, sal dit net die Vader se genade wees.
Die motor gly-dryf om nog ʼn draai en dan gebeur die totaal onverwagse. Hy is net skielik daar, reg in die middel van die pad, vasgevang in die wit halogeenlig van die motor se sterk koplampe: ʼn vreemde, spookagtige figuur uit ʼn koorsdroom. Sy silwerwit, nousluitende uniform gloei met ʼn fosforlig. Dit skitter en blink, maar van hoog bo teen die linkerskouer en af oor die hele bors het ʼn donker, onheilspellende vlek die ligglans uitgedoof. Sy wit gesig en afwerend geligte hande glim ook met ʼn bleek gloed soos lig deur albaster en sy oë gloei soos dié van ʼn kat in die donker.
Vir ʼn oomblik lyk dit onmoontlik om ʼn botsing te vermy. Dan trap Elana desperaat rem. Die ABS-remme help net ʼn bietjie. Die motor gly buite beheer, tol in die rondte en kom dan deur die een of ander genadewonder met sy linkervoorwiel teen ʼn walletjie tot stilstand sonder om te rol en sonder dat die lugsakke ontplooi. Die enjin stol. Dan is daar net die geluid van die reën en die wind.
Elana bly enkele oomblikke doodstil sit, vasgevang tussen ongeloof en byna paniekerige vrees. Het sy, wat nie in sulke dinge glo nie, in hierdie nag ook nog ʼn spook ontmoet? Dan oorwin die koel, rasionele geneesheer in haar tog. Wie en wat die vreemde verskynsel ookal mag wees, hy was meer verskrik as sy en – sy onthou die donker, ontsierende vlek – waarskynlik beseer. Sy haal diep asem, draai ietwat pynlik agter die stuurwiel om en kyk terug.
Hy is nog daar in die middel van die pad, ʼn spookagtig glimmende figuur, maar onvas op sy voete en eienaardig weerloos en ontredderd. Elana huiwer nog net een oomblik, dan maak sy haar veiligheidsgordel los, skop haar skoene uit en klim vasberade uit in die koue reën en stromende water. Sy sal nie met haarself kan saamleef as sy nie vasstel wat aangaan en hulp verleen as dit nodig is nie. Sy strompel en gly deur die modder en water tot by hom, haar mond kurkdroog terwyl haar hart tamboerslaan teen haar ribbes.
Hy vlug nie, verdwyn nie op geheimsinnige wyse soos ʼn spook nie en slaan ook nie ʼn dreigende houding in nie, maar as sy byna by hom is, lig hy sy bleek, glimmende hande weer in die smekende en tegelyk afwerende gebaar van ʼn wyle vantevore. Hier, by hom, sien Elana sy fynbesnede gelaatstrekke, verwring deur pyn en vrees. Noudat die motorlig nie meer direk in hulle skyn nie, is die oë nie heeltemal so vurig nie, maar hulle gloei tog – groot poele donker, brandende smart.
Hoewel sy nie verwag om verstaan te word nie, want as hy nie ʼn spook is nie, het sy dit sowaar met ʼn buiteaardse wese te doen, hoor Elana haarself kalmerend praat: “Moenie bang wees nie. Ek is ʼn dokter. Ek wil net help. Jy het seergekry.”
Tot haar verdere verbasing vloei iets van die verskriklike vrees uit die onaardse wese voor haar. Die afwerende hande sak. Die bleek lippe roer: “Asseblief!”
Hoewel die tongval vreemd-musikaal is, is die Afrikaanse woord onmiskenbaar. “Asseblief,” herhaal hy weer, eindeloos smekend.
Elana sluk haar verbasing. Sy steek ʼn huiwerige hand uit en raak aan sy arm. Die vreemde, glimmende materiaal van sy uniform voel droog onder haar hand ten spyte van die reën en sy word ʼn eienaardige, prikkelende sensasie gewaar asof die materiaal ʼn lewe van sy eie het. Vir ʼn oomblik moet sy weer stry teen haar eie huiwering en vrees vir die onbekende. Dan oorwin sy dit.
“Kom,” sê sy troostend, “kom saam met my. Ek sal jou help.”
Hy huiwer net ʼn oomblik, die donker, gloeiende oë tegelyk smekend en toetsend. Dan laat hy hom willoos na die motor lei. Sy maak die deur aan die passasierskant vir hom oop, ietwat moeilik omdat dit so naby aan die wal is, en hy klim sonder protes in. Wanneer hy sit, val sy kop agteroor teen die koprus, die oë nou toe, ʼn frons van pyn tussen sy donker wenkbroue. Langerige, gladde, swart hare kleef klam aan sy voorkop, wange en nek en vorm ʼn donker omraming vir die fynbesnede, bleek gesig. Hy kreun skielik, sag, hartroerend. Sy vel is baie wit, effens deurskynend. Dit glim met ʼn sagte lig-deur-fyn-albaster-gloed. Buitengewoon digte, lang, swart wimpers lê soos donker skaduwees op die glimmende, delikate vel. Hy is so mooi in die dowwe kajuitlig dat Elana skielik aan ʼn knop in haar keel moet sluk. Alle vooropgestelde persepsies van hoe besoekers uit die buitenste ruimte sou lyk, sneuwel. Hierdie ligtende wese is te volmaak vir hierdie aarde.
Dan neem die praktiese sy van haar karakter weer oor. Sy weet nie waar hy vandaan kom, wat hy hier kom maak en wat sy bedoelings is nie. Sy weet nie of daar nog van sy soort in die reëndonkerte is nie. Bewondering en ontroering sal hom ook nie help nie. Daar is ʼn lelike kneus-skeurwond hoog teen sy linkerskouer. Rafels silwerwit, glimmende materiaal kleef aan die stukkende vleis en rooi, taai, warm bloed, nes dié van ʼn mens, vloei traag uit die wond.
Elana het nie die vaagste benul hoe hy op medikasie sal reageer nie, maar bloeding is bloeding en moet gestelp word. Sy leun oor, neem haar dokterstas van die agterste sitplek en knip dit oop. Haar skerp skêrtjie glip maklik deur die syige, glimmende materiaal. Sy skouer en die deel van sy borskas wat sy blootlê, lyk nes dié van ʼn aardse man, behalwe vir die deurskynende, glimmende vel. Sy gaan vinnig en behendig te werk. Hy ril van pyn onder haar hande, veral as sy die ergste rafels met ʼn tangetjie uit die wond haal, en hy kreun diep en pynlik as sy ʼn gaasdepper styf oor die wond druk en dit daar hou tot die bloed ophou vloei, maar hy protesteer nie. Sy oë bly toe.
Wanneer die bloeding gestelp is, verbind sy die wond na die beste van haar vermoë in die beperkte ruimte en kyk dan besluiteloos na haar vreemde pasiënt. Dis duidelik dat hy baie pyn verduur, veel meer as wat sy met die skouerwond sou verwag. Het hy inwendig seergekry? Sy kan egter hier en nou nie veel meer doen nie. Dit sou beide onwetenskaplik en onverantwoordelik wees om sommer verdowing toe te dien voor meer oor sy liggaamlike samestelling en reaksies bekend is. Sy behoort hom na ʼn hospitaal te neem waar toetse gedoen kan word. Maar! Sy weet te veel van die aarde se vrese vir buiteaardse wesens, van wetenskaplikes se dors na kennis, wat sal maak dat hulle waarskynlik nie sal omgee wat aan ʼn buiteaardse wese gedoen word solank dit hul kennis verbreed nie. Sy knip haar tas weer toe. As sy opkyk, is sy oë oop. In die kajuitlig is hulle ʼn ongelooflike, diep, gloeiende smaraggroen, maar oop, eerlik en baie weerloos soos dié van ʼn kind. Dan raak ʼn sweem van ʼn glimlag aan die hoeke van die bleek mond. “Dankie,” fluister hy.
Elana kan haarself nie help nie, sy wat nog altyd ʼn versigtige afstand tussen haar en mansmense hou, sy streel ʼn nat, swart haarsliert van sy voorkop weg. “Dis niks,” verseker sy hom, “ek wil graag help, maar ek behoort jou na ʼn hospitaal te neem.”
Die oomblik dat die woorde uit is, besef sy dit was ʼn fout. Hy ruk van die skok. Sy gesig vertrek opnuut van vrees en hy probeer pynlik regop beur.
“Nee!” rou angs maak die musikale stem skor. “Nee, asseblief, nie ʼn hospitaal nie.”
Die heftigheid van sy protes maak Elana skielik weer bang. Sy is opnuut bewus van sy vreemdheid, van die onbekendheid van sy herkoms en bedoelings. Dis ʼn buiteaardse wese hierdie, daarvan is sy oortuig, en as dit so is, is hy van ʼn ras wat die aarde tegnologies en wetenskaplik ver vooruit is. Hoe anders is ʼn reis van iewers uit die onmeetlike heelal hierheen moontlik? Wat was die doel van die reis? Waarom het hy die moeite gedoen om haar taal te leer? Afrikaans! So ʼn obskure en, in alle eerlikheid, toenemend veragte taaltjie wat deur so min gepraat word? Haar onsekerheid maak haar ietwat driftig.
“Hoekom nie?” vra sy skerp, hoewel sy eintlik weet waarom nie. “Ek weet jy is nie van die aarde nie. As jou bedoelings goed is, waarom is jy bang vir ʼn hospitaal? Wat het jy hier kom soek?”
Hy staar haar aan, sy oë wyd en vreesbevange, dan vul hulle stadig met trane. Hy antwoord nie.
Elana voel iets in haar smelt, maar sy verhard doelbewus haar hart. “Antwoord my,” dring sy aan, “wat soek jy hier?”
Nog ʼn oomblik kyk hy haar so aan. Dan, as hy skynbaar besef dat sy op ʼn antwoord gaan bly aandring, fluister hy: “Mag nie hier wees nie. Kontak verbode.”
Hy klink so eerlik, maar Elana is nie oortuig nie, “Verstaan ek reg? Jy mag nie kontak gemaak het nie. Waarom het jy dan my taal geleer?”
Die vraag vang hom nie onkant soos sy verwag het nie. Sy oë bly net so oop en eerlik: “Nie geleer nie.”
“Ag kom nou,” protesteer Elana skepties, “ek is nie dom nie. Moet my nie probeer wysmaak dat waar jy vandaan kom, julle Afrikaans praat nie. Ek sal jou nie glo nie.”
Hy praat moeilik, in staccato, kort sinne teen die pyn: “Natuurlik nie. Jou kommunikasiepatroon, ingeskakel daarop.”
Hy breek stomp af, byt op sy onderlip en draai sy kop weg: “Mag nie praat nie, asseblief!”
Dis vir Elana duidelik dat hy nie veronderstel is om inligting omtrent homself bekend te maak nie, maar dis net te veel gevra dat sy hom sommerso net op sigwaarde moet aanvaar. Wat hy gesê het, is buitendien net te ongelooflik.
“Wil jy my sê,” vra sy stadig, “dat jy enige mens op aarde sal kan verstaan en in sy eie taal antwoord? Jammer, ek glo dit nie.”
Hy kyk weer na haar, sy oë droewig en eerlik: “Dis die waarheid. Kan jou nie… maak glo nie. Kan nie… verduidelik nie.”
Elana bekyk hom ʼn rukkie ongelowig, dan haal sy haar skouers op: “Dan moet ek jou voorlopig seker maar glo. Maar dis nie die saak nie. Die saak is dat jy beseer is en behandeling nodig het. As jy nie die regte behandeling kry nie, kan jy doodgaan en netnou eis jou makkers jou van ons hande.”
Die blinkheid in sy oë vloei oor in helder traandruppels, “Niemand sal my soek nie. Kan nie teruggaan nie. Het oortree.”
Elana vererg haar: “As dit so is, is julle vreeslike wrede wesens, al is julle hoé gevorderd. Watter soort skepsels is dit wat iemand wat ʼn fout maak só straf?”
Hy skud sy kop. Meteens is daar ʼn vreemde sagtheid en berusting in sy blik: “Jy… verstaan… verkeerd. Oortreding het… gevolge. Ek het geweet ek mag nie, maar ek het die grens oorgesteek. Toe loop alles… verkeerd. Nou kan ek… nooit teruggaan nie. Daarom het ek… gedoen… wat ek moes.”
Skielik is daar ʼn hol kol op Elana se maag: “Wat het jy gedoen?”
Die verskriklike hartseer is terug in sy oë: “My vaartuig was… stukkend. Toe ek besef… uitgeklim… die aarde se lug ingeasem… my vaartuig vernietig.”
Iets in die manier waarop hy dit sê, maak Elana regtig bang: “Ek móét jou by ʼn hospitaal kry,” sê sy gejaagd, “ek is seker jy is besig om dood te gaan. Jy is besig om selfmoord te pleeg.”
“Nee!” weer die kreet, “Asseblief!” ʼn Oomblik se huiwering, dan kom hy tot ʼn pynlike besluit: “Sal… probeer verduidelik. Omdat ek nie… mag teruggaan nie, moet ek… soos die aardmense word… een van julle. Die aarde se lug het… ʼn proses aan die gang gesit. Kan nie gekeer word nie. Ek sal in die volgende ure baie pyn verduur. Behandeling sal dit… erger maak. My laat doodgaan. Het gedink… ek sal êrens wegkruip… tot dit verby is, maar ek weet nie… waarheen nie. Daar’s nêrens ʼn… veilige plek nie.”
Daar is soveel skrynende wanhoop en verlatenheid in die laaste woorde dat Elana skielik trane in haar eie oë voel brand. Sy glo hom. Waarom weet sy nie, maar sy glo hom onvoorwaardelik. Wat meer is, sy is besig om emosioneel geweldig betrokke te raak. Sy, wat as dokter, juis moes leer om nie té betrokke te raak nie, kan haarself skielik glad nie help nie.
“Maar luister,” protesteer sy, “as ons weet ons mag jou nie behandel nie, sal ons dit nie doen nie. Jy sal veilig wees.”
Die uitdrukking in die smaraggroen oë verander. Dit word meteens dringend en vorsend. Elana kry ʼn snaakse gevoel dat hy haar van alle pretensie stroop, alle gordyne wegskeur, indring tot binne-in haar hart.
“Sal ek?” Dis ʼn eenvoudige vraag, maar dit steek eienaardig deur tot die kern tussen waarheid en leuen. “Glo jy dit regtig… Elana?”
Sy skrik haar lam. Vergeet vir ʼn oomblik die strydpunt. “Hoe ken jy my naam?” vra sy vinnig.
“In jou… oë gesien,” antwoord hy eenvoudig. Herhaal dan sy vraag, “Glo jy dit… Elana?”
En skielik is daar niks verder te sê nie, want sy glo dit nie. As hierdie vreemde wonderwese se bestaan bekend word, as die offisiële ratte begin draai, sal hy glad nie veilig wees nie. Inteendeel! En sy weet nog iets, sy kan hom nie verraai of oorlewer nie, onder geen omstandighede nie. Iets ongehoords het met haar gebeur. Sy, die koelkop onbetrokkene, het in ʼn kwessie van minute onherroeplik betrokke geraak. Een dit by ʼn vreemdeling, ʼn buiteaardse wese êrens uit die onbekende sterbesaaide hemele, iemand wat sy eintlik met huiwering moet bejeën, maar snaaks genoeg, nie kan nie. En dit gaan ʼn prys van haar vra. Dit weet sy ook. Sy is besig om haarself in ʼn valstrik vas te draai. As sy hom wegsteek en sy bestaan word later bekend, sou dit as hoogverraad vertolk kon word. Maar dit kan nie verhelp word nie. Sy kan hom nie verraai nie, kan hom nie oorlewer aan gevoellose, en waarskynlik xenofobiese, wetenskaplike hande nie. Sy slaak ʼn diep sug, “Goed, jy wen. Ek sal jou na my huis toe neem. Hoe weet ek dat jy nie op my hande sal doodgaan nie?”
Sy sien hom ontspan asof ʼn ontsaglike las van hom afrol. Sien daarmee saam hoe pyn en vermoeienis hom weer eis noudat hy nie meer desperaat hoef te veg om oorlewing nie. Die swaar wimpers sak half toe oor die gloeiende oë. Sy antwoord is skaars hoorbaar: “Jy’t… my woord.”
Elana skuif haar nat lyf reg agter die stuur. Wonder ʼn oomblik ironies hoe haar feitlik nuwe motor se bekleedsel na dese daar sal uitsien. Gespe haar veiligheidsgordel weer vas: “Dan beter ek jou by die huis kry. Bid net dat hierdie motor vat. Dat dit nie onherroeplik in die modder vasgeval het nie. Dat water nie die enjin beskadig het nie.”
Sy oë gaan weer heeltemal oop. Daar is meteens meer krag in hom. ʼn Sweem van ʼn glimlag raak aan die hoeke van sy bleek mond: “Moenie bang wees nie. Jy sal nie… probleme hê nie.”
Elana is nogmaals verras en glad nie seker dat sy reg verstaan nie: “Hoe kan jy so seker wees?”
Sy glimlag verdiep net. Dan val sy oë weer toe.
Elana skakel die motor aan. Dit vat sonder enige probleme. Dit het skuins teen die grondwal tot stilstand gekom, die een voorste modderskerm en voorwiel diep in die modder. Die water spoel tot teen die deure. Maar as sy dit in trurat gooi, gly dit moeiteloos terug in die pad, byna voordat sy die versneller trap en, as sy oorskakel na eerste rat, kom dit net so moeiteloos in beweging. Die wiele tol nie eers een maal nie en dit gly ook nie in die modder nie.
Elana kyk vinnig na haar vreemde passasier. Hoewel die binnelig van die motor nou afgeskakel is, glim sy bleek gelaatstrekke duidelik sigbaar in hulle eie onaardse lig en sy sien die uitdrukking van stil konsentrasie. Psigokinese, dink sy verwonderd. Goeiste aarde, watter soort wese ís hy? Oor watter vreemde magte beskik hy? En hoe is dit moontlik dat hy so weerbaar én so weerloos kan wees?
Die reën stroom steeds neer, maar sy ondervind geen moeite meer om die motor in die pad te hou nie. Om die waarheid te sê, sy voel ietwat oorbodig agter die stuur. Die motor volg die pad asof vanself. Wanneer hulle egter die teerpad bereik, waar sy weer tuis en in beheer van sake voel, verander die situasie onmiddellik. Skielik het die motor nie meer ʼn wil van sy eie nie en sy is genoodsaak om oor te neem. Terselfdertyd hoor sy die vreemdeling diep en pynlik kreun en as sy vinnig na hom kyk, sien sy sy gesig vertrek van pyn. Wat dit ook al is wat hy gedoen het, dit het sy toestand vererger. Sy byt op haar tande en trap die versneller diep weg. Die pad is nat, maar op teer kan sy dit hanteer. Sy wil hierdie man nou net by haar huis kry. Daar, in haar vertroude omgewing, sal sy miskien weet wat om te doen.
Dis byna middernag wanneer sy die motor eindelik in haar eie oprit tot stilstand bring en die knoppie druk wat die elektroniese motorhuisdeur laat oopgaan en die ligte aanskakel. Met die motor geparkeer en die deur agter hulle toe, slaak sy ʼn sug van verligting. Die laaste paar kilometer van hierdie vreemde nagrit het in ʼn nuwe nagmerrie ontaard terwyl die vreemdeling se toestand letterlik by die sekonde agteruitgegaan het. Sy kyk nou met ʼn gekwelde uitdrukking in haar blou oë na hom. Dit lyk of hy van niks anders meer bewus is as pyn nie. Sy oë is krampagtig toe, sy gesig vertrek, sy mond half oop en hygend terwyl kreungeluide oor die bleek lippe kom. Sy hande is in stywe vuiste gebal. Sy het nog nooit ʼn pasiënt in heeltemal so ʼn slegte toestand gesien nie.
Elana raak versigtig aan sy gesonde regterskouer. Weereens prikkel-kriewel die silwerwit materiaal onder haar hand, maar sy voel ook die sidderende rillings in die vreemdeling se spiere en dis op die oomblik van meer belang. Sy verstewig haar greep op sy boarm. “Luister,” sê sy dringend, “ons is by my huis. Kan jy self uit die motor klim? Ek wil jou in ʼn bed kry, maar ek kan jou nie dra nie.”
ʼn Oomblik lank twyfel sy of hy haar hoor. Dan gaan sy oë oop en sy skrik vir hulle groen vuur. Dis letterlik asof sy in ʼn inferno inkyk, asof hy van binne deur ʼn hoogoondvuur verteer word waarvan die gloed deur sy oë na buite skyn. Dan sien sy ook die smeking, sy hulpeloosheid. Hy staar haar ʼn oomblik so aan. Dan fluister sy wit lippe: “Ek sal… probeer.”
Elana klim uit. Sy loop om die kar en maak die deur aan sy kant oop, buk en glip ʼn arm om sy middel. “Kom,” sê sy.
Met geweldige wilsinspanning gehoorsaam hy, beur met haar hulp uit die sitplek en uit die motor, maar as hy op sy voete kom, struikel-val hy teen die deur vas en vir ʼn oomblik dink sy dat hy heeltemal ineen gaan stort. Dan gryp hy die deurraam vas en klou met wit, deurskynende, glimmende vingers daaraan totdat hy êrens vandaan die krag haal om homself regop te trek.
Met haar arm steeds om sy middel, stuur Elana hom in die gang af na die naaste spaarkamer in haar groot huis. Een of twee keer vrees sy dat hulle dit nie gaan maak nie, maar hy hou tog uit tot hy in ʼn patetiese, sidderende bondel op die bed neersak. Sy staan ʼn wyle besluitloos op hom en neerkyk. Dis moeilik om hierdie algehele gebrokenheid te versoen met die psigokinetiese krag waarmee hy kort tevore haar motor deur die reën en modder gestuur het en sy weet nie so reg wat om nou te doen nie. Sy onthou sy waarskuwing: Ek sal in die volgende ure baie pyn verduur. Behandeling sal dit erger maak. My laat doodgaan.
Die geneesheer in haar kom egter in radikale verset teen die gedagte van glad niks te doen nie. Boonop kwel sy haar oor die lelike wond wat sy so rofweg verbind het. Dit het aandag nodig, anders kan daar ontsteking in kom. Watter weerstand sou hy in elk geval hê teen aardse kieme en infeksie? En wie sê dis die enigste besering? Sy weet nie wat onder sy uniform skuil nie. Kan die skouerwond en die ‘proses’ waarvan hy gepraat het, werklik soveel pyn veroorsaak?
“Luister,” sê sy na ʼn rukkie, “ek belowe ek sal niks doen wat jy nie toelaat nie, maar daardie wond in jou skouer het aandag nodig, anders gaan dit ontsteek en dan het ons groot probleme. Ek weet ook nie of jy nog beserings opgedoen het nie. Sou jy omgee as ek jou uittrek? Jy hoef nie skaam te wees nie. Ek is ʼn dokter.”
Eers lyk dit of hy nie hoor nie. Dan fluister hy: “Maak soos jy wil.”
Elana buk en vat aan die breë metaalgordel wat om sy skraal middel span. Dis ʼn pragtige kunswerk van ʼn wonderlike metaal, silwerig, maar met iets van die deurskynende kwaliteit van die vreemdeling se vel en flonkerend met reënboogligpuntjies soos ʼn kosbare opaal. Dis verwerk in ʼn delikate filigraanpatroon soos ʼn ineenskakeling van sterrespirale. Dit ‘lewe’ selfs meer as die materiaal van sy uniform, maar dis ook baie breed, seker so twaalf sentimeters en dit pas so styf om sy lyf dat sy oortuig is dat hy daarsonder veel gemakliker sal wees. Byna dadelik vind haar gevoelige doktersvingers die eenvoudige knipmeganisme waarmee dit voor vasmaak en sy knip dit los, verwyder dit en plaas dit op die bedtafeltjie. Sy stewels lyk op die oog af asof hulle van dieselfde metaal as die gordel gemaak is en reik tot byna by sy knieë. Sy wonder vir ʼn oomblik hoe sy hulle gaan afkry, maar wanneer sy aan hulle vat, vind sy dat hulle nie van metaal is nie, maar van ʼn soepel, sagte materiaal, veel sagter en buigsamer as leer. Wanneer sy aan die eerste een rem, glip dit maklik, amper moeiteloos af. Sy uniformbroek reik tot by sy enkel. Die voet is kaal binne die stewel. Dis bleek-glimmend soos die res van sy vel. Sy verwyder die ander stewel ook. Die uniform self is ʼn tweestuk. Daar is geen teken van ʼn naat of iets soos ʼn ritssluiter nie, maar die materiaal is soepel en rekbaar. Sy verwyder dit met min moeite, hoewel hy diep kreun as die bostuk oor sy stukkende skouer gly. Hy dra geen onderklere nie. Sy liggaam se skoonheid slaan amper Elana se asem weg.
Hy is ietwat bo die gemiddelde lengte en volmaak gebou. Die glimmende, deurskynende vel span oor die soepel spiere van ʼn Griekse god. Die vreemdste is egter dat hy byna volkome mens is. Dis net die ligtende vel en die té volmaakte proporsies wat hom anders maak. Hoewel sy twyfel of sy delikate gesigsvel al ooit ʼn skeermes gesien het, het hy selfs ʼn bietjie fyn, donker liggaamshare.
Hoe kan hy so menslik wees? wonder sy. Sy moet aan haarself erken dat sy die gedagte aan ʼn buiteaardse wese minder vreemd vind as die ontdekking dat hy bitter min van ʼn mens verskil. Kon ontwikkeling op twee planete so eenders verloop het? Is dit hoegenaamd moontlik?
Sy skud haar kop asof sy opnuut wil sekermaak dat sy nie droom nie. Besluit dan dat dit minstens haar taak as dokter makliker behoort te maak.
Die wond aan sy linkerskouer is die enigste oop wond aan sy liggaam, maar daar is ʼn ligblou kneusing oor die hele linkerkant van sy borskas en ʼn baie meer drastiese donkerblou kneusplek aan sy linkerheup. Die res van sy liggaam lyk ongeskonde. Hy het die slag van die ongeluk waarin hy betrokke was aan die linkerkant van sy liggaam weg.
Elana ondersoek die kneusings en sy buik met versigtig tastende vingers. Haal dan verlig asem. Sy is oortuig dat hier niks ernstig skort nie. Sy ribbes is moontlik gekraak, maar nie gebreek nie en die impak van die ongeluk het nie die onbeskermde en kwesbare buikorgane getref nie. Die skouerwond is egter ʼn ander saak. Sy weet dit het aandag nodig. Sy het dit in die motor slegs rofweg verbind, meer met die idee om die bloeding te stelp as iets anders. Van wat sy gesien het, is dit egter ʼn baie lelike wond, dit was blootgestel aan wind en reën en sy het in onsteriele toestande daarmee gewerk. Sy is seker sy het nie eers al die rafels daaruit verwyder nie. Nou bevind sy haar egter in ʼn yslike dilemma. Hoe gaan sy dit behoorlik skoonmaak en die geskeurde weefsel heg as sy geen medikasie durf toedien nie.
Sy trek ʼn laken oor die glimmende liggaam en hoop maar dat dit nie sy vel sal irriteer nie. Dié is so fyn en delikaat dat dit lyk of enige aardse materiaal dit sommer sal afskuur. Dan vee sy die swart hare weg wat deurmekaar oor sy voorkop lê. Die reënnatheid is reeds aan die wegdroog en sy besef skielik dat hy, ten spyte van sy intense lyding, glad nie sweet nie.
“Nou moet jy help, jong,” sê sy sag, “wat maak ek met daardie skouerwond? Dit moet skoongemaak en geheg word.”
Hy maak nie sy oë oop nie. Fluister net: “Doen dit dan.”
“Kan ek ontsmettingsmiddels gebruik en plaaslike verdowing toedien?”
Die vraag laat hom skrik. Hy hyg na sy asem. Sy oë gaan oop, angstig en gloeiend. Hulle soek oor haar gesig asof vir genade. Dan fluister hy: “Ontsmetting sal seker nie kwaad doen nie. Geen verdowing… asseblief.”
Elana voel haarself koud word. “O nee,” protesteer sy, “wag net so ʼn bietjie. Seker is nie goed genoeg nie. En ek sal die een of ander vorm van verdowing móét gebruik. Dis ʼn lelike skeurwond en die weefsel is gekneus en beskadig. Ek sal waarskynlik stukkies dooie weefsel moet wegknip en baie steke insit. Jy sal dit nie sonder verdowing kan verduur nie.”
Die gloeiende oë verlaat nie haar gesig nie. Hulle pleit en smeek: “Help my.”
“Ek wil,” antwoord sy driftig, “maar ek kan nie só nie.”
Hy bly soebat: “Jy kan! Asseblief.”
En as hy die weiering in haar oë sien, voeg hy by: “Ek is in elk geval… in die hel. Ek sal uithou… belowe.”
Teen haar sin besef Elana dat sy nie veel van ʼn keuse het nie. As die wond langer onversorg gelaat word, gáán daar kwaad in kom. Sy het haar eie opsies verminder deur hom nie na ʼn hospitaal te neem nie. Nou sal sy verplig wees om haar lyf dokter uit ʼn vorige eeu te hou en te bid dat dit werk. Die nare hol kol op haar maag laat haar egter baie duidelik besef dat sy maar ʼn swak vorige eeuse dokter sou gewees het.
“Jy’s onmoontlik!” raas sy in ʼn poging om haar magtelose ontsetting weg te steek, maar terselfdertyd gly haar hand weer asof onwillekeurig oor sy hare, “jy laat my geen keuse nie. Ek gaan my instrumente haal.”
Sy gaan kamer toe, trek vinnig droë klere en sandale aan, skrop haar hande deeglik in die badkamer en gaan haal die nodige in haar tuisapteek.
Wanneer sy terugkom, lê hy weer met toe oë, sy hele liggaam strak en gespanne teen die pyn, sy mond half oop oor styf saamgeklemde tande.
Elana gaan sit langs hom op die bed. Sy plaas steriele doeke versigtig om die wondarea en oor sy bors. Dan verwyder sy haar verband. Tot haar ontsteltenis vind sy dat die wond reeds effens ontsteek het. Daar is inderdaad nie tyd te verspil nie. Dis die swaarste ding wat sy in haar lewe gedoen het, maar sy byt op haar tande en werk doelgerig en bekwaam en so vinnig as sy moontlik kan en, soos hy beloof het, verduur die vreemdeling die behandeling tandeknersend en sonder protes. Sy liggaam sidder net onder haar hande en as sy een keer in sy gesig kyk, sien sy die helder traandruppels oor sy wange rol. Dit ontstel haar só dat sy liefs nie weer na hom kyk nie, maar haar aandag streng by haar werk bepaal.
Dit voel soos ʼn ewigheid voor sy die laaste steek in die glimmende vel kan heg. Gelukkig is daar nie ernstige spierskade nie, of daar sal nie wees nie as sy net daarin kan slaag om die ontsteking hok te slaan. Sy weet dat sy, onder die omstandighede, ʼn knap stukkie werk gedoen het, maar sy weet ook dat ʼn plastiese chirurg, in die hospitaal, in teatertoestande en met die pasiënt onder verdowing dit baie beter sou kon doen. Hy gaan lelike letsels oorhou. Sy sug en verbind die wond versigtig en deeglik. Dan kyk sy eers weer na hom. Hy lyk verskriklik. Sy wange is nat van die trane, sy mond oop en hygend van pyn, maar sy merk dat hy steeds nie sweet nie. Sy vee weer saggies oor sy voorkop. Dis vurig warm.
“Ek is klaar,” sê sy troostend. “Hoe voel jy nou?”
Hy antwoord nie en sy besef dat hy nie kan nie. Dus maak sy maar die instrumente, doeke en verbandmateriaal bymekaar en neem dit weg. Sy gaan drink ʼn lang glas yskoue water terwyl sy veg om haar kalmte te herwin. As sy eindelik teruggaan na sy kamer, kry sy hom met sy gesig in die kussing verberg. Sy hande kramp spasmodies oop en toe in die materiaal van die kussingsloop. Sy liggaam wring van die pyn en hy kerm saggies en aanhoudend.
Dis ʼn onhoudbare situasie en dit duur ure lank voort. Elana dwaal rusteloos deur haar huis. Soms bly sy ʼn rukkie by hom. By een geleentheid, as sy oor hom buk en aan sy voorkop raak om te voel of hy nog so koorsig is, gryp hy haar hand vas en sê pleitend iets in ʼn vreemde musikale taal. In sy ellende, het sy Afrikaans hom skynbaar versaak. Dan draai hy egter weer om met sy gesig in die kussing. Meer as een keer fluister hy met toe oë iets in sy vreemde taal. Dit klink asof hy sag en smekend bid. Elana se hart breek vir hom. Soms streel sy deur sy hare of oor sy rug en gesonde skouer, maar besef dan elke keer weer dat sy hom tog nie kan help nie en loop maar liewer weer. Sy is doodmoeg, maar sy dink nie eers aan slaap nie. Haar binneste is ʼn warboel van emosies en dit alleen is ʼn toedrag van sake waaraan sy glad nie gewoond is nie. Sy was ʼn enigste kind, maar is onafhanklik en volwasse grootgemaak deur koelkop, gebalanseerde ouers. Toe hulle in haar vierde jaar op universiteit saam in ʼn tragiese motorongeluk gesterf het, was sy in staat om gou weer die drade van haar lewe op te tel. Sy het haar baie ruim erfporsie gebruik om ʼn mooi, gerieflike huis en ʼn praktyk te koop. Sy is lief vir haar werk, maar dit sluk nie haar hele lewe in nie. Sy het baie vriende, waaronder ook mans, maar nie ʼn kêrel nie, omdat sy nog nie iemand ontmoet het in wie sy enige sinnigheid het nie. Sy is, of wás, in beheer van haar lewe. Niks of niemand kon haar egter op die gebeure van hierdie nag voorberei nie. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Sinies wonder sy of die wêreld ooit weer dieselfde sal wees. Wat gaan gebeur as die vreemdeling se bestaan bekend word? En hoe op aarde kan sy hom teen xenofobie en die kille wetenskap beskerm?
As die somerdag eindelik breek, loop sy uit op die voorstoep. Dit het opgehou reën. Die son sal weldra opkom oor ʼn skoongewaste aarde – ʼn heel ander wêreld voel dit vir haar, as die een van die vorige dag. Sy is dankbaar dat dit Sondag is en daarby een van haar af-Sondae. Sy het ʼn reëling met drie ander dokters waarvolgens hulle om die beurt Sondae diens doen en na mekaar se pasiënte omsien. Sodoende is hulle verseker van minstens ʼn paar rustige Sondae. Aangesien sy nie vandag aan diens is nie, hoef sy haar minstens nie te kwel oor die moontlikheid dat haar mediese dienste elders benodig sal word nie. Dis een kwelling minder.
Sy staan ʼn geruime tydjie op die stoep asof sy krag probeer put uit die skoonheid en oënskynlike normaliteit van die brekende dag. Eers as die son heeltemal op is, sug sy en gaan weer die huis binne. Die vreemdeling se toestand is steeds onveranderd. Hoe lank? dink sy wanhopig en opstandig. Hoe lank nog hierdie hel? Watter oortreding kan so ʼn onmenslike straf verdien?
Sy streel weer oor sy hare, sy skouers, sy krampende liggaam. Hoor haarself sê: “Toemaar! Toemaar!”
Belaglik! Watter futiele woorde! Tog lyk dit of haar poging tot troos deurdring. Hy fluister: “Elana!” Dan kreun hy egter weer diep en pynlik en keer terug na sy wêreld van lyding waarheen sy hom nie kan volg nie.
Elana vlug. As sy langer by hom bly, gaan sy tjank soos ʼn hond in die maanlig. In die kombuis besef sy dat sy bewerig is van lae bloedsuiker. Die blote gedagte aan kos maak haar naar, maar sy besef dat sy verstandig moet wees. Sy kry darem ʼn glas melk afgewurg. Dan gaan sy sitkamer toe waar sy ʼn CD van haar geliefkoosde Duitse sanger in die hoëtroustel sit, beide vir ontvlugting en om die klank van die vreemdeling se lyding te smoor. Sy gaan sit in ʼn leunstoel en maak haar oë toe, soekend na vrede, sluimer sowaar in.
Sy skrik eers weer met ʼn skok wakker wanneer haar voordeurklokkie lui. Vervaard kyk sy op haar horlosie en merk ongelowig dat dit na agt is. Een oomblik oorweeg sy dit om die klokkie te ignoreer, besluit dan daarteen en gaan maak die deur oop. Sy kyk vas in die glimlaggende gesig van haar beste vriendin, Hermien.
“Is jy gereed, Elana?” vra Hermien as die deur oopgaan. Die volgende oomblik vee skok die glimlag van haar gesig af.
“Genade, mens,” voeg sy by, “wat makeer? Is jy siek? Jy lyk soos iemand wat ʼn spook gesien het?”
Elana se moeë brein kan net een vraag op ʼn slag hanteer. “Gereed?” vra sy verdwaas.
“Elana!” Nou is Hermien eers geskok, “jy ís siek! Jy kon tog nie vergeet het nie. Ons het die afspraak dan net gister gemaak. Ons gaan mos saam met Pieter en Henning by die swembad kuier en vleis braai.”
Elana word yskoud. Sy het inderdaad vergeet. Hoe raak sy nou van Hermien ontslae?
“Ek is jammer, Hermien,” stamel sy, “ek hét vergeet. Julle sal my moet verskoon, asseblief. Ek was heelnag op met ʼn noodgeval. Ek is doodmoeg.”
Terwyl sy nog praat, weet sy dat haar flou verskoning nie slaag nie. Hermien ken haar te goed. Daar is nou ʼn yslike frons op haar sproetgesiggie.
“Dit moes omtrent vir jou ʼn noodgeval gewees het,” sê sy stadig. “Van wanneer af vang so-iets jou so kwaai? Jy ken mos nie jou einde nie. Maar weet jy hoe lyk jy vanmôre? Kompleet asof laasnag se klein, groen mannetjies jou beetgehad het.”
Elana se knieë word lam. Sy vrees dat haar gesigsuitdrukking haar verraai. Dan besef sy dat sy móét reageer as sy haarself nie heeltemal wil weggee nie. “Watse bog praat jy?” vra sy. “Watter klein, groen mannetjies?”
“Jy’t nie gehoor nie?” sê Hermien verbaas. “My liefste ou maat, jy’s rêrig ver heen. Jy’s dan altyd eerste met die nuus. Hierdie vaak ou Bloem van ons is na dese oppie map jong. Dis omtrent riot and rumpus. Daar’s byna niks anders op die radio en TV nie. ʼn Vlieënde piering het skynbaar gisternag op ʼn plaas noordwes van die stad neergestort en ontplof.”
Hermien se grys oë glinster van opgewondenheid oor soveel sensasie. Elana voel soos iemand wat op die rand van ʼn afgrond huiwer. Sy dwing haarself om te protesteer: “Dis nou sommer bog!”
“Nee, njannies!” Hermien steek twee vingers plegtig in die lug. “Dis die reine, heilige waarheid. Gaan skakel gerus maar jou radio en TV aan. Everybody’s guessing.”
“Wat het gebeur?” vra Elana.
“Man, soos ek die ding verstaan, het ʼn boer-oom op ʼn plaas se ligte net skielik doodgegaan. Hy dag nog dis weer die vervlakste Eskom, of die onweer, of so-iets, toe begin die honde tjank en hy hoor hierdie onaardse fluitgeluid. Toe’s die kamer vol van so ʼn queer silwer-groen lig. Die ou storm venster toe, net betyds om die ronde, verligte vaartuig laag oor die huis te sien vlieg. Hy staan nog so oopmond, toe tref dit ʼn koppie so ʼn kilometer of twee van sy huis af dat die aarde dreun van die slag en die vuurvonke spat. Die ou was eers lam van die skok en sy antie half histeries. Teen die tyd dat hy genoegsaam herstel het om daaraan te dink om hulp te ontbied, was dit te laat, want die ding het skielik soos ʼn atoombom ontplof.”
“Ag bog,” sê Elana weer floutjies, “dit was seker maar ʼn weerligstraal. Die weer was baie swaar gisteraand. Of anders was dit ʼn vliegtuig of ʼn helikopter.”
Hermien se oë skitter: “Aikôna! Die ou het die polisie gebel en toe dié op die plaas aankom, seker net so ongelowig soos jy, vind hulle die koppie amper weggeblaas. Geen teken van wrakstukke nie. Sy swart voorman, wat naby sy huis woon, het met familie en al landuit gehardloop. Ek dink hulle soek hulle nog. Dis ʼn affêring, jong. Die army is glo ook nou daar en die plek is afgekordon. Die radio sê die mense moet kalm bly. Die kenners sê daar’s nie radio-aktiewe straling nie. Maar almal soek inligting. Dis dié dat ek wonder. Jou noodgeval was nie dalk in die distrik nie, hè? Jy lyk oes, maat, nes ʼn ontploffing in ʼn matrasfabriek. En nooi jy ʼn mens nie meer in nie? Moet ek die hele môre op die drumpel staan?”
O nee! Dink Elana verskrik. Haastig sê sy: “Luister, Hermien, dis nou alles baie ongelooflik en wonderlik, maar ons kan dit later bespreek. Ek is net te moeg. Ek weet dis lelik om ʼn afspraak op die nippertjie te kanselleer, maar julle sal my móét verskoon. Sê vir Pieter en Henning ek is jammer. Ek sal anderdag goedmaak.”
Een oomblik lyk dit asof Hermien haar bloedig gaan vererg. Dan bedink sy haar. “Elana,” sê sy stadig, “iets baie queer het met jou gebeur, iets wat ek glad nie verstaan nie. Maar as jy dit nie met my wil deel nie, wil jy seker nie. Ek dring my nie in waar ek nie welkom is nie. Laat maar weet as jy weer anders voel.”
Daarmee draai sy in haar spore om en loop weg. Amper roep Elana haar terug. Sy is so alleen en verward en as daar iemand is wat bereid sou wees om te help, is dit Hermien. Dan bedink sy haar. Sy kan Hermien nie hierby betrek nie. In elk geval nie voor sy self meer helderheid het nie. Sy maak die voordeur toe en leun ʼn oomblik met toe oë daarteen. Dan eers is dit asof iets registreer wat al minute lank in haar onderbewussyn krap: die verskriklike stilte in die huis. Vroeër het dit vir haar gevoel asof die vreemdeling se sagte, smartlike gekerm haar in al die vertrekke van die huis agtervolg. Yskoue vrees spoel deur haar en sy storm in die gang af na die spaarkamer.
In die deur steek sy vas. Die vreemdeling lê roerloos, doodstil op die bed. Sy liggaam kramp nie meer nie. Sy gesig is deurskynend, marmerwit. Die bleek vel glim nie meer nie. Die onaardse ligglans is uitgedoof.
Die asem stol in Elana se keel. Hy is dood, dink sy verskrik. Ag, goeie Vader, hy is dood! Nou’s ek behoorlik in die moeilikheid.