Lusmaker – Wagter in die Ruimte

Wagter in die ruimte – A. Marais
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2014)

HOOFSTUK 1
WAGTER

5. Wagter in die Ruimte - VoorbladMET die dalende son wat hul glinsterende metaaldoppe tot goud omskep, staan vyf reusagtige torings naby mekaar op die vaal gelykte van beton wat voor die man uitstrek. Hy is agter ʼn draadversperring, sy oë stip gevestig op die bedrywigheid daar voor hom. Op hierdie afstand lyk die mense wat heen en weer skarrel soos ʼn kolonie miere, swart en klein teen die glimmende reuse.

In sy verbeelding sien die man hulle soos die vingers van ʼn enorme hand, reikend na die ruimte, maar stil nog – geen teken is daar van die sluimerende krag in hul omhulsels nie. Maar hy weet dat daardie krag binne vier-en-twintig uur losgelaat sal word, om hom met die skeurende gedonder van vlammende uitlaatgasse weg te voer. Waarheen?

Onwillekeurig ril die man. Hy wens dat hy die spieëlgladde metaal net een keer kan streel, asof dié aanraking daardie verborge energie deur sy vingerpunte sou laat vloei om hom te sterk vir dit wat voorlê.

Diep in gedagte versonke merk hy nie dat ʼn gewapende soldaat intussen aan die ander kant van die draad nadergekom het en hom nou agterdogtig dophou nie. Hy skrik uit sy mymering toe die soldaat meteens vlak by sy oor praat.

„Wat soek jy?” Die stem is bars en kortaf, onderwyl ʼn masjienpistool dreigend tot op borshoogte gelig word.

Hendrik Reynders draai sy oë weg van die vyf vuurpylskepe op die lanseerterrein. Hy sien dat die soldaat se voorvinger styf om sy wapen se sneller gekrom is, dat dit effens bewe. Ongeduldig word die vraag herhaal.

„Ek kyk maar net ʼn bietjie,” antwoord Hendrik. „Die goed is darem ontsaglik groot. ʼn Mens kan byna nie glo dat hulle ooit van die aarde af sal wegkom nie.”

„Toe maar, hulle sal,” sê die soldaat. Hy beweeg tot reg voor Hendrik, druk die tromp van die geweer vorentoe sodat dit hard teen sy borsbeen stoot. „Maak dat jy wegkom. Ons hou nie veel van nuuskieriges nie.”

Hendrik glimlag, ofskoon die man se aanmatigende houding hom ʼn bietjie ergerlik laat voel. Maar hy kan hom ook nie kwalik neem nie – dis sy werk om die lanseerterrein te bewaak. Hy voel in sy baadjie se binnesak en haal ʼn leertassie uit. Dié slaan hy oop en hou dit voor die soldaat se oë. Oombliklik verstyf die man, kom flink op aandag en salueer.

„Ek is jammer, kaptein Reynders,” stamel hy verontskuldigend, en die rooi van verleentheid stoot onder sy songebruinde wange op. „Ek het nie geweet… ek bedoel…”

„Dis alles reg,” lag Hendrik. „Ek kan nie verwag dat jy my anders moes behandel het nie. Op stuk van sake, ek het nie my uniform aan nie.” Hy knik en die soldaat, wat nog steeds met sy hand aan die rand van sy staalhelm staan, verslap.

„Wil u binnekom, kaptein?” vra hy en maak ʼn beweging asof hy die bos sleutels aan sy lyfband wil afhaal. Hendrik keer hom egter met ʼn handgebaar.

„Nee dankie, dis nie nodig nie. Môre sal ek naby genoeg aan daardie goed wees.” Hy knik met sy kop in die rigting van die vyf vuurpylskepe. „Ek het maar net ʼn draai hier kom maak om aan te teken. Is die ander bemannings al hier?”

„Party van hulle, kaptein. Die meeste kom vannag eers…” Hy sluk die res van sy woorde in toe hy sien dat Hendrik se aandag weer van hom weggedwaal het. ʼn Oomblik aarsel hy, salueer dan weer en draai op sy hak om. Dis beter om die kaptein nou alleen te laat, dink hy onderwyl hy verder langs die draad af marsjeer. Hy kan dink hoe hyself sou gevoel het as dit hy was wat môre voor in die neus van een van die vuurpyle vasgegespe moes word, om ʼn rukkie later sy bewussyn te verloor van die geweldige versnelling waarmee hy die ruimte ingeslinger word.

„Nee dankie,” prewel hy binnensmonds, „nie vir my nie. Laat hulle maar daar bo gaan rondvoeter – ek bly hier waar ek die grond onder my voete kan voel.”

Op daardie oomblik vind sy gedagtes ʼn byna soortgelyke weerklank in Hendrik. Hy tuur na die ruimteskepe, volg hul slanke lyne van die vier stertvinne wat op die betonblad rus tot aan die skerp keëlpunte byna twee-honderd voet bokant die grond. Agter die horison raak die son net weg. Sy laaste strale verf die lang lywe bloedrooi, sodat hulle meteens soos skitterende vlamtonge lyk wat uit die aarde skiet. Dan, geleidelik, vervaag die gloed en die skemering kom vinnig aangekruip om sy kleed oor die toneel te werp.

Hendrik skud sy kop, draai weg en begin haastig aanstryk na sy motor wat ʼn paar honderd tree verder geparkeer staan. Elize wag – en sy tyd is min genoeg om hier te staan en omdroom…

… … … … …