M01E01 – 2014 © Joe Botha

Oefening 1. Ondersoek verskeie definisies van WF en stel ‘n bevredigende definisie vir uself op.

By die eerste oogopslag sou ek wetenskapfiksie (WF) definieer as stories oor die bemeestering van fisieke prosesse deur middel van tegnologie. Vir iets wat beskou word as genre-fiksie, het WF egter reeds verstommend baie definisies – en die laaste ding wat ons nodig het is nóg een. As genre is dit moeilik om daarop peil te trek juis omdat dit so maklik oorvleuel met ‘n verskeidenheid ander genres. Tog is daar ‘n tasbare aanvoeling vir wat WF behels.

Selfs Arthur C. Clarke het hom weerhou van ‘n definisie en eerder die volgende gesê: “Om WF te definieer is amper so moeilik, hoewel minder gewild, as om pornografie te definieer. In albei lê die probleem daarin om te weet presies waar om die lyn te trek.” As selfs dié groot gees van WF katvoet is, moet ‘n mens oppas vir ‘n “bevredigende” definisie van WF.

Definisies wissel van praktiese, operasionele (maar effektief nuttelose!) definisies soos dié van die Galaxy-redakteur Frederik Pohl (“WF is enigiets wat ek kan druk sonder dat te veel intekenare hul subskripsie kanselleer.”) en Damon Knight (“WF is waarna ons verwys wanneer ons dit sê.”) tot meer abstrakte uitlatings soos dié van Farah Mendelsohn (“WF is ‘n argument met die heelal.”) en Gregory Benford (“WF is ‘n beheerde manier om oor die toekoms te dink en te droom, ‘n versmelting van die stemming en houding van die wetenskap (die objektiewe heelal) met die vrees en hoop wat spruit uit die onderbewussyn… enigiets wat die sosiale jy binnestebuite draai. Nagmerries en visioene, altyd in die buitelyne van dit wat nouliks moontlik is.”).

Ek het etlike definisies van WF op ‘n wetenskaplike manier probeer ontleed. Siende dat definisies hulle nie leen tot nougesette kwantifisering nie, is ‘n kwalitatiewe ontleding aangedui.

‘n Oorsig van 16 definisies (aangeheg as Bylaag) lewer die volgende breë temas of trekke op. (‘n Veel meer akkurate toepassing is natuurlik wenslik, maar om álle definisies na te gaan en die temas te rangeer en gewigte toe te sê, kan ‘n leeftyd se werk word.)

Metode:
Die voorgestelde metode behels om
(i) breë trekke of temas in die reeks definisies te identifiseer;
(ii) die gegewe definisies aan die mees algemene trekke te meet; en
(iii) die bondigste oënskynlik sinvolle definisie te verfyn deur die ontbrekende temas by te werk.

Die temas wat voortspruit is die volgende:
1. Behoud van die wetenskaplike metode
2. Bespiegeling of ekstrapolasie vanaf die bekende na die onbekende
3. Verbeeldingselemente
4. Nie-verbreking van natuurwette
5. Gedagte-eksperimente
6. Toekomstige vooruitgang
7. Die wesentlikheid van wetenskaplike inhoud

(Dié trekke spreek almal vanself, behalwe vir die laaste een, wat dalk meer juis verklaar moet word. Dit spruit uit ‘n aanhaling van Theodore Sturgeon: “[WF behels] ‘n storie wat nie [vertel sou kon word]… sonder sy wetenskaplike inhoud nie.”)

Die data is op die x-as van Fig. 1 (onder) georden na gelang van hoeveel van die bogenoemde sewe kriteria by elke definisie ingesluit word. Die y-as verteenwoordig die mate van ooreenstemming tussen ál die gegewe definisies oor daardie spesifieke tema. Ons sien dat amper die helfte van die definisies vyf uit die sewe temas noem. Dié definisies kan verder gerangeer word na gelang van die mate van ooreenstemming.

Joe Botha - M01E01Fig. 1

(Hou in gedagte dat dié metode nie probeer bepaal watter definisie “beter” is nie. Dit is bloot ‘n oefening in semantiese dekonstruksie. Ons sal in die volgende oefening sien dat selfs die meta-definisie wat ons ontwikkel sy tekortkominge het.)

Verbeelding (14/16), Bespiegeling (13/16) en Toekomstige vooruitgang (9/16) is die temas waaroor die meeste kenners van WF op die x-as saamstem. Die definisies van Bailey, Gernsback, Westfahl en Bradbury sluit hulle almal in. Van dié vier toon Bradbury se definisie die hoogste mate van ooreenstemming met die ander kenners op die y-as.

Sy definisie lui as volg:

“Ek definieer WF as die kuns van die moontlike. Fantasie is die kuns van die onmoontlike.WF, weer, is die geskiedenis van idees, en hulle is altyd idees wat hulself uitwerk en realiteit word en in die wêreld gebeur. En fantasie kom in en sê, ‘Ons gaan ál die natuurwette breek.’ …” – Ray Bradbury

Dít is egter nié ‘n oënskynlik sinvolle definisie nie – en beslis nie een wat ek sou gekies het nie! Ek verkies die bondigste definisie in die top-vier: dié van Hugo Gernsback:

“WF…kan gedefinieer word as: Verbeeldingryke ekstrapolasie van ware natuurverskynsels wat reeds bestaan of waarskynlik in die toekoms sal bestaan.” – Hugo Gernsback

Die twee breë temas wat hy nie aanroer nie, is Behoud van die wetenskaplike metode en Gedagte-eksperimente. As ons dié twee bywerk, kry ons die volgende meta-definisie:

“WF is ‘n genre van fiksie wat die moontlikhede verken wat geskep word deur die verbeeldingryke, dog wetenskaplike ekstrapolasie van ware natuurverskynsels wat reeds bestaan of waarskynlik in die toekoms sal bestaan.” Joe Botha, na gelang van Hugo Gernsback

Steeds bondig, maar inklusief van ál sewe die breë temas. Ek kan saamleef daarmee!

*  *  *

BYLAAG

“WF is ‘n wye genre van fiksie wat dikwels op huidige of toekomstige wetenskaplike, mediese en tegnologiese bespiegelinge gebaseer is. Dit maak ook gebruik van kreatiewe en verbeeldingryke elemente wat nie in ons eietydse realiteit gevind kan word nie, maar wat binne die konteks van die storie elemente bevat wat haalbaar kan wees binne die raamwerk van wetenskaplike prosesse en natuurwette.” – VERSKAF (Thompson)

“Science fiction is essentially a kind of fiction in which people learn more about how to live in the real world, visiting imaginary worlds unlike our own, in order to investigate by way of pleasurable thought-experiments how things might be done differently.” – Brian Stableford

“A form of literature which crosses the frontiers of knowledge using imagination, intuition or logic to guide it. At times correct scientific or technical detail is demanded by an exacting readership; where the story goes beyond known facts, the deductions must be feasible or at least not in obvious conflict with accepted theories.” – Ian S. Menzies

“[Science fiction is] that class of prose narrative treating of a situation that could not arise in the world we know, but which is hypothesised on the basis of some innovation in science or technology, or pseudo-science or pseudo-technology, whether human or extra-terrestrial in origin.” – Kingsley Amis

“Science fiction is the branch of literature that deals with the effects of change on people in the real world as it can be projected into the past, the future, or to distant places. It often concerns itself with scientific or technological change, and it usually involves matters whose importance is greater than the individual or the community; often civilization or the race itself is in danger.” – James E. Gunn

“I define science fiction as fiction in which things happen that are not possible today — that depend, for instance, on advanced space travel, time travel, the discovery of green monsters on other planets or galaxies, or that contain various technologies we have not yet developed.” – Margaret Atwood

“A science fiction story is a story built around human beings, with a human problem and a human solution, which would not have happened at all without its scientific content.” – Theodore Sturgeon

It doesn’t really mean anything at all, except that if you use science, you should use it correctly, and if you use your imagination to extend it beyond what we already know, you should do that intelligently.’ – Octavia Butler

“Science-fiction … can be defined as: Imaginative extrapolation of true natural phenomena, existing now, or likely to exist in the future.” – Hugo Gernsback

“I define science fiction as the art of the possible. Fantasy is the art of the impossible. Science fiction, again, is the history of ideas, and they’re always ideas that work themselves out and become real and happen in the world. And fantasy comes along and says, ‘We’re going to break all the laws of physics.’ … Most people don’t realize it, but the series of films which have made more money than any other series of films in the history of the universe is the James Bond series. They’re all science fiction, too — romantic, adventurous, frivolous, fantastic science fiction!” – Ray Bradbury

“Science fiction stories are given as possible, not necessarily here and now, but somewhere, sometime.” – Larry Niven

“Science fiction is a prose narrative which describes or depicts some aspect or development which does not exist at the time of writing; one significant subgroup of science fiction additionally includes language which either describes scientific fact or explains or reflects the process of scientific thought.” – Gary Westfahl

Modern science fiction is the only form of literature that consistently considers the nature of the changes that face us, the possible consequences, and the possible solutions. That branch of literature which is concerned with the impact of scientific advance upon human beings. – Isaac Asimov

Science fiction reflects scientific thought; a fiction of things-to-come based on things-on-hand. – Benjamin Appel

The touchstone for scientific fiction, then, is that it describes an imaginary invention or discovery in the natural sciences. The most serious pieces of this fiction arise from speculation about what may happen if science makes an extraordinary discovery. The romance is an attempt to anticipate this discovery and its impact upon society, and to foresee how mankind may adjust to the new condition. – James O. Bailey

A handy short definition of almost all science fiction might read: realistic speculation about possible future events, based solidly on adequate knowledge of the real world, past and present, and on a thorough understanding of the nature and significance of the scientific method. To make this definition cover all science fiction (instead of “almost all”) it is necessary only to strike out the word “future.” – Robert A. Heinlein

Oefening 2.2. Wat beteken die wetenskapfiksie-genre vir my?

In hierdie opstel beoog ek om sommer ver van die gegewe vraag af te dwaal aan die hand van die definisie wat in Oefening 1 daargestel is. Die betekenis van die genre is so verweef met sy aard dat dit vir my onmoontlik sal wees om die twee afsonderlik te ondersoek. In die proses sal ek nie net my persoonlike begrip van die omvang en betekenis van die WF-genre toets nie, maar ook die praktiese nut van ons verfynde definisie. Om die geheue te verfris, die definisie lui:

“WF is ‘n genre van fiksie wat die moontlikhede verken wat geskep word deur die verbeeldingryke, dog wetenskaplike ekstrapolasie van ware natuurverskynsels wat reeds bestaan of waarskynlik in die toekoms sal bestaan.” – Joe Botha, na gelang van Hugo Gernsback

Omdat die opdrag fokus op wat WF vir my beteken – dus ‘n persoonlike uitkyk – sal ek my beperk tot WF waarmee ek self vertroud is, hetsy in prosavorm, film of TV-reekse. Vir die doel van hierdie oefening sal ek aanneem die bogenoemde definisie verteenwoordig die “kern” van WF (te wete, dit is onmoontlik vir ‘n boek, film of TV-reeks om aan die vereistes van die definisie voldoen sonder om WF te wees).

WF verleen hom grootliks tot vermenging met ander genres, vandaar die magdom subgenres, definisies en argumente oor of sekere tekste WF is of nie. Ek glo ‘n dieper begrip van WF as genre is net moontlik deur die buitewyke van die genre van nader te beskou. Ek sal dus vlugtig twee tekste oorweeg wat tot ‘n redelike mate van die definisie afwyk en een wat tot ‘n groter mate daaraan voldoen.

Oorweeg Stephenie Meyer se boek The Host. Ruimtewesens val die aarde binne en neem dit oor deur die menslike psige te beset. Dus, ‘n tipiese – amper stereotipe – WF-resep. As ons daarna kyk aan die hand van die sewe elemente waaruit ons meta-definisie bestaan, kry ons die volgende:

The Host
Verbeeldingselemente                                 1
Bespiegeling of ekstrapolasie
Toekomstige vooruitgang
Behoud van die wetenskaplike metode
Nie-verbreking van natuurwette                   1
Wesentlikheid van wetenskaplike inhoud
Gedagte-eksperimente                                1
                                                      TOTAAL 3

Hoewel The Host met die eerste oogopslag pure WF is, kan ons sien dat dit in sekere sleutelgebiede nie die aanslag van WF volg nie. Die wetenskaplike inhoud is baie dun gesaai en daar word geensins van bekende wetenskaplike gegewens gebruik gemaak om dié toekomswêreld te ekstrapoleer nie. ‘n Mens kry die gevoel dat die WF-milieu amper toevallig is, eerder as integraal tot die verhaal. Tog kan dit redelik gemaklik pas in WF-subgenres soos tiener-WF, sagte WF of gedagtebeheer.

The Host is vir my “amper-WF”, maar stel in ‘n groter mate die aanvaarde definisie van ‘n romanse-roman tevrede, te wete

fiksie met die primêre fokus op die verhouding en romantiese liefde tussen twee mense, en met ‘n emosioneel bevredigende en optimistiese einde.” – The Romance Genre Overview”, Romance Writers of America

Nog treffender is die betreurenswaardige Transformers-films. Reuse-robots vanuit die buitenste ruimte is gewikkel in die oeroue stryd van die goeie teen die bose. ‘n Storie soos dié blyk op die oog af amper instinktief opregte WF te wees. Dit sou geklassifiseer kon word onder WF-subgenres soos vreemdeling-WF, robot-WF of tiener-WF. En tog, as ‘n mens dit deur een van die films maak, kry ‘n mens nie die gevoel dat jy ‘n WF-film gekyk het nie.

Sover dit my betref is die Transformers-reeks suiwer aksiefilms eerder as WF. Dit wil sê, hulle berus op ‘n vertelling waarin een of meer helde ‘n reeks uitdagings moet trotseer wat tipies kragdade, uitgebreide gevegstonele, geweld en woeste jaagtogte insluit.

Onderworpe aan ons definisie kry ons die volgende:

Transformers
Verbeeldingselemente                                  1
Bespiegeling of ekstrapolasie
Toekomstige vooruitgang
Behoud van die wetenskaplike metode
Nie-verbreking van natuurwette                    1
Wesentlikheid van wetenskaplike inhoud
Gedagte-eksperimente
                                                      TOTAAL 2

Aan die hand van ons definisie blyk dit dus dat Transformers ondanks gewilde klassifikasie grootliks nié WF is nie, hoewel dit ‘n sterk verbeeldingselement insluit – die hoofkenmerk van WF waaroor die meeste kenners saamstem. Die natuurwette word in beginsel nie verbreek nie, al is dit dan met inbegrip van ‘n redelik verdagte kragbron vir die titelkarakters. Die fliekreeks is gebaseer op ‘n eenvoudige kinder-animasiereeks met pratende masjienkaraktertjies wat leef in ‘n wêreld waar hulle óf goed óf boos is na gelang van die faksie waaraan hulle behoort. Dit stel die verhoog vir eindelose aksie sonder die realisme of intriges wat jong kinders net sou verwar of verveel. Vir die doel van ons oefening kon die Transformers self egter net sowel menslike spioene gewees het, of dwergies, of kleimannetjies in verskillende kleure. Dit is amper toevallig dat hulle robots is. Om dié redes val Transformers ondanks sy inhoud buite die kern van ons definisie. Dit is dan ook hoekom die meeste WF-liefhebbers – ek inkluis – die filmreeks liewer vermy. Dit gee WF ‘n slegte naam!

Ek het die bogenoemde voorbeelde juis gekies omdat hulle met die eerste oogopslag so “WF-agtig” voorkom. Dit illustreer die punt dat WF gemeet aan ons meta-definisie in ‘n groot mate onafhanklik is van die inhoud van die verhaal.

Maar genoeg oor flou namaaksels… Kom ons ondersoek die ander kant van die glyskaal.

Soms skets WF nie noodwendig ‘n futuristiese wêreld vol tegnologiese wonders soos robots en ruimteskepe nie, soos in die James Ward Byrkit-film Coherence, wat hom geheel en al afspeel in ‘n doodgewone eietydse huis waar agt vriende ‘n ete saam geniet. ‘n Mens sou sê ‘n dinner party is seker die mees onwaarskynlike omgewing vir ‘n ondersoek na die baie-wêrelde-interpretasie van die kwantumteorie – maar jy sal verkeerd wees!

‘n Uiteensetting gebaseer op ons meta-definisie lyk soos volg:

Coherence
Verbeeldingselemente                                 1
Bespiegeling of ekstrapolasie                      1
Toekomstige vooruitgang
Behoud van die wetenskaplike metode       1
Nie-verbreking van natuurwette                   1
Wesentlikheid van wetenskaplike inhoud    1
Gedagte-eksperimente                                1
                                                      TOTAAL 6

As ons die bogenoemde drie voorbeelde langs mekaar sit, sien ons hoe newelagtig WF as genre eintlik is. Die newelagtigheid word onderstreep daardeur dat wye afwykings van die kerndefinisie, asook afwykings in die veronderstelde inhoud toelaatbaar is. WF is byvoorbeeld nie gekoppel aan tyd of plek nie. Dit kan in die verlede (Leviathan, Scott Westerfeld), hede (Pattern Recognition, William Gibson) of toekoms (The Time Machine, HG Wells) afspeel; op aarde (Arc of the Dream, A. A. Attanasio) of elders in die ruimte (The Algebraist, Iain M. Banks).

Dié diskrepansies beskryf die wortel van die problematiek rondom WF. Waar ‘n mens ander genres (Wilde Weste, spioenasieriller, aksie, hofdrama, liefdesverhaal, Gotiese gruwel ensomeer) elk kan beskou as ‘n grotendeels ongedifferensieerde massa werke binne relatief duidelik afgebakende perke, skets die gegewe van WF tot dusver ‘n diagram van iets wat meer soos ‘n neuron (ons kerndefinisie) lyk, met talle dendriete (die subgenres) wat daaruit voortspruit en in wyd verskillende rigtings groei. Met ‘n struktuur soos dié kan WF enigiets insluit van George Orwell se Nineteen Eighty-Four tot Back to the Future van Robert Zemeckis.

Dit bring egter ons sogenaamde “kerndefinisie” in die gedrang. As ‘n aandete meer WF kan wees as kunsmatig intelligente robots uit die ruimte, beteken dit dan dat énige definisie van WF – insluitend ons kerndefinisie – uiteindelik nutteloos is?

Ek sou sê ja en nee. Aan die een kant lei dit my tot die slotsom dat geen enkele definisie van WF werklik bevredigend kan wees nie. Aan die ander kant is dit te wagte dat die onderskeie definisies uiteenlopend sal wees – dit is ‘n logiese voortvloeiing van wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang. In teenstelling met ander genres (waar ‘n vampier altyd ‘n vampier sal wees, ‘n draak altyd ‘n draak en ‘n spioen altyd ‘n spioen), is daar vooruitgang in ons tegnologie en kennis van natuurwette. Ons kan dus nie verbaas wees as die WF-genre net so dinamies is nie.

Dit is vir my uitstekende nuus, want dit herinner ons dat WF ‘n lewende en lewendige genre is. ‘n Mens hoef net te kyk na die ontploffing van WF- of WF-agtige tekste, insluitende TV-reekse en films, in onlangse tye om dit te besef. Ek vermoed dit is ‘n funksie van die ongelooflike wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang in die laaste twintig jaar en die amper onafwendbare opmars na wat die futuris Ray Kurzweil die Singulariteit noem – ‘n punt waar die eksponensiële vooruitgang van inligtingstelsels en tegnologie die wêreld amper oornag onherkenbaar kan verander.

‘n Kritieke punt om in só ‘n wêreld te oorweeg is dat die meta-definisie van WF dan noodwendig sal verander. Dit lei dan ook tot die besef dat dit eintlik nog altyd die geval was. In Jules Verne se dae was Twenty-Thousand Leagues Under the Sea suiwer wetenskapfiksie. Vandag se kernduikbote oortref die Nautilus by verre. In die Goue Era van WF sou Transformers beslis ook nog die paal gehaal het. Aan vandag se standaarde gemeet het ons reeds gesien die blote idee van duikbote en selfs robots vanuit die ruimte is nie meer genoeg nie.

Dit beteken nie hierdie tekste was nooit WF nie; dit beteken bloot die meta-definisie sluit hulle deesdae uit.

In hierdie stadium word dit duidelik dat my aanvanklike aanslag op die vraag verkeerd was. Die meta-definisie, hoewel tot ‘n mate gepas, moet óf (i) verder verfyn word deur dit te beperk tot ‘n ontleding van eietydse definisies van WF óf (ii) herskryf word as ‘n meta-meta-definisie, te wete

WF is ‘n vorm van fiksie waarvan die definisie verander na gelang van beskikbare tegnologie.

In albei opsigte is die hele oefening ‘n mislukking, want onder opsie (i) is die rou data (die oorspronklike sestien definisies) nie gekeur ten opsigte van die mate van tegnologiese vordering in die wêreld waarin hulle gemaak is nie. Opsie (ii) is bloot paradoksaal.

As ‘n mens wetenskaplik wil probeer wees en alle subgenres van WF wil insluit, sal alle eietydse definisies ondersoek en alle breë temas geïdentifiseer moet word. En selfs dan sal WF aanhou verander namate die wêreld verander. WF is gewikkel in ‘n proses van ewolusie, en daardie proses skep sy eie momentum.

Vir my as liefhebber van WF is dit ‘n opwindende ontdekking!

Slotsom
As ek daaroor nadink, het my eie definisie en ervaring van WF reeds ‘n paar keer verander. Dit het dus vir my verskillende dinge beteken.

Toe ek tien jaar oud was, was Jasper en die Ruimtemanne van CF Beyers-Boshoff my gunsteling-boek. In daardie stadium sou die konsep van ‘n lewendige aksie- Transformers-fliek sekerlik my idee gewees het van die beste WF-fliek denkbaar. Met die tegnologie wat tóé – in 1984 – beskikbaar was, was die bestaan van so ‘n film egter sélf nog wetenskapfiksie! Op hoërskool het ‘n groeiende bewuswording van die limiete van die fisika inslag gevind en my belangstelling het geskuif van “enigiets met robots of aliens” na boeke soos Greg Bear se Eon, wat hierdie limiete ondersoek. Op universiteit is ek bekend gestel aan die onderskeid tussen ontologie (wat is/kan wees?) en epistemologie (wat kan ons weet oor wat is?). In hierdie stadium was WF vir my ‘n manier om vrae oor die aard van die werklikheid en bewussyn te ondersoek. Dit is ook hier waar ek die eerste keer met William Gibson se Neuromancer kennis gemaak het. Met een voet in die herkenbare werklikheid en die ander in ‘n virtuele wêreld waar fisieke prosesse effektief omseil kan word, het sy werk tot so ‘n mate aanklank by my gevind dat hy oornag die standaard geword waaraan ek alle WF meet.

Wat beteken die genre vandag vir my? Namate ons wêreld oënskynlik voortsnel na Kurzweil se Singulariteit is WF nog die kristalbal waarin ons ‘n hoopvolle toekoms sien. As Kurzweil reg is – en ek glo hy het iets beet – is ons op pad na ‘n wêreld waarin enigiets moontlik is. Ek wonder of WF as genre nog in so ‘n wêreld moontlik sal wees en of dit dán, soos ander genre-fiksie, uiteindelik tot rus sal kom. Ek hoop nie so nie.