M01E3 – 2014 © Joe Botha

Oefening 1 (a): Gerrit van Dijk

Foto - Gerrit van DijkGerrit van Dijk is op 5 Mei 1969 in George gebore. Hy en sy jonger suster word groot op die boomryke natuurreservaat Bergplaas, noord van Wildernis en was tot sy 11de jaar ’n leerder aan die Laerskool Bergplaas. In 1981 ruk sy pa se verplasing na die boomlose Swartland hom uit sy vreedsame woudbestaan en tot 1984 leer hy aan die Middelbare Skool Darling, waarna hy sy hoërskoolloopbaan in 1987 aan die Hoërskool Jan van Riebeeck voltooi.

Hy doen sy diensplig oor die volgende twee jaar by die Verdedigingshoofkwartier in Pretoria. Aan die einde van 1989 bekeer hy hom, iets wat die aanslag op sy eerste wetenskapfiksieroman, Ondulan, grootliks verander het. In 1990 skryf hy hom in by die Pretoria Technikon om sy droom na te jaag – om ’n film te maak uit die idees wat hy al sedert sy tienerjare ronddra, en wat uiteindelik Ondulan sou word. Hy skop egter ná ses maande op. Intussen doen hy deeltyds beligtingswerk by die Staatsteater en verwerf in 1994 ’n Nasionale Diploma in Beeldende Kuns met Skilderkuns as hoofvak. In dié tyd woon hy in die Jeugsentrum naby Kerkplein en staan onder sy vriende bekend as “Space”.

Nadat Van Dijk afgestudeer het, kry hy werk in ’n skulpwinkel in Gordonsbaai, en daarna by Federated Timbers, waar sy bosboukennis nuttig te pad gekom het. Hy ontmoet sy vrou, Marita Henning, in 1997, kort nadat hy van Gordonsbaai na die Strand verhuis het. Hulle verklaar hulself in 2001 getroud, maar besluit in 2008 op ’n informele trouseremonie. Die twee het geen kinders saam nie, as gevolg van gewetensbesware aan sy kant. Oor of hy kinders het, het hy die opmerkings gemaak: “Om gebore te word is die ergste ding wat met ’n mens kan gebeur.” En vroeër: “Ek is nie so wreed nie.” Marita het wel twee kinders uit vorige huwelike.

Van die laat 1990’s tot 2010 woon hy in die Helderberg-kom, maar verhuis in Oktober 2010 uiteindelik terug na die stilte en afsondering van Bergplaas, waar hy grootgeword het.

2011 - Ondulan - Gerrit van DijkVan Dijk is bekend vir sy twee wetenskapfiksieromans, Ondulan (CD-verwerking, e-boek via Xlibris-uitgewers en uiteindelik Thompson Boekdrukkery, 2011) en T!nax’u (Thompson Boekdrukkery, 2012), waarin hy Christelike hoëkonsep-wetenskapfiksie met bekende historiese milieus verweef.

In Ondulan, waaraan Van Dijk meer as 23 gewerk het, ontmoet ons die ruimteverkenner Taéll Adanaii Shanidar, wat van ’n missie terug Aarde toe geroep word nadat sy ma en broer in ’n ernstige ongeluk betrokke is. Die gegewens van die ongeluk word egter streng geheim gehou en die enigste een met antwoorde is die An-Jori van die Shanidar-familie, Aregan Shanidar, wat navorsing doen oor die herstel van verlore spesies vir die planetêre ruimteverkenningsliggaam ASTRA.

Die navorsing behels die herwinning van uitgestorwe spesies se DNS deur middel van reise na die verlede, voordat die spesies in die Derde Wêreldoorlog, oftewel die Slag van Armageddon, verlore gegaan het. Daar is egter ernstige gevare hieraan verbonde, omdat die DNS net beskikbaar is in die tyd voor die Slag, toe Lucifer nog nie gebonde was nie.

Die omslag, deur Van Dijk self, is gedoen in die styl van ’n filmplakkaat, soos wat Van Dijk Ondulan nog altyd gesien het.

Van Dijk se tweede roman, T!Nax’u, het agt jaar geneem om te voltooi. Die gebeure in T!Nax’u (’n opgemaakte Khoi-San-woord wat dui op ’n onbekende, maar dreigende onheil) speel hulle af in 2186, veertien jaar ná dié in Ondulan.

Adanaii Shanidar is bevorder tot kaptein van ASTRA se Eksodimensionele Verkenners. Wanneer ’n verkenner ’n skeur in ruimte-tyd ontdek wat lei na ’n parallelle wêreld wat lyk soos die Karoo, word dit duidelik dat ASTRA moet ingryp om die wurmkolk te sluit, omdat demone die skeur teoreties kan gebruik om ASTRA se hede binne te dring. In die Suid-Afrikaanse hede duik vreemde vondse uit verskillende historiese tydperke in die Karoo op, en ’n span van drie wetenskaplikes wat die verskynsel ondersoek, bevind hulle skielik in ’n wêreld waar ’n groep afstammelinge van die Boere-rebelle, bekend as die Wit Jagters, steeds wag op die profetiese terugkoms van hul aartvyand – die Britse koloniale magte. Shanidar se opdrag om die skeur te sluit, die terugkeer van die Britte te keer en te verhinder dat die bose demone vergestalting kry, word amper gepootjie deur ’n gravitasiekolk wat die verkenners se uitweg huis toe afsny.

Die konsep vir T!Nax’u se voorblad beeld die Karoolandskap as ’n gekraakte spieëlbeeld uit wat die onderskeie dimensies voorstel. Die onveranderlike landskap lyk dieselfde of dit nou 1886 of 2186 is, wat die vervloeiing van ruimte en tyd uitbeeld. Volgens Van Dijk was hy nie tevrede met die uitbeelding daarvan in sy skilderkuns nie. Dít, sowel as finansiële oorwegings, het hom genoop om ’n ander aanslag te neem.

Van Dijk is tans besig met ’n derde boek in die reeks, en was ten tyde van hierdie skrywe omtrent halfpad daarmee. Die werkende titel van die derder boek is Dwaalster, en hy beoog ’n omslag soortgelyk aan dié van T!Nax’u om aan te dui dié twee pas by mekaar.

Oor sy invloed op die Afrikaanse wetenskapfiksie is Van Dijk self beskeie en sê daar is nie juis ’n invloed om van te praat nie. Objektief gesproke het hy egter ’n wesentlike eerste tree gegee om die subgenre van Christen-wetenskapfiksie in Afrikaans te vestig, en wel in twee leesbare, dog hoëkonsep-wetenskapfiksieromans wat in gees en vlees Christelik van aard is, waar dit in minder bekwame – en tydsame! – hande alte maklik in godslaster sou kon verval het.

Bronne:

  • Onderhoud gevoer met Van Dijk, 30 Oktober 2014, via vonkpos.
  • https://afrifiksie-nova.com/n-onderhoud-gevoer-met-gerrit-van-dijk/
  • http://af.wikipedia.org/wiki/Gerrit_van_Dijk
  • http://af.wikipedia.org/wiki/T!Nax’u
  • http://www.georgeherald.com/news.aspx?id=58529&h=Van-hardeware-tot-skryf-en-skilder
  • https://www.youtube.com/watch?v=LUEdJUlUTPg

Oefening 1 (b): Dr. François Verster

Foto - François VersterFrançois Verster ontvang in Sept. 2013 met Finuala Dowling by Maskew Miller Longman se Open Book Festival in Kaapstad die toekenning vir Beste Afrikaanse Roman.

Francois Philippus Verster is op 24 Januarie 1962 in Bellville, net buite Kaapstad, gebore. Hy word in Parow groot. Sy oorlede vader, Frans, was ’n drukker by Naspers en sy moeder ’n haarkapper. Hy het ’n broer, Jacques, wat ’n polisieman is, en ’n suster, Sandra, wat by ’n klerehandelaar werk.

Verster matrikuleer in 1979 aan die Hoërskool President en sit sy studies in 1980 aan die Universiteit van Stellenbosch voort. Tydens sy militêre diensplig in 1986-1987 dien hy as onderwyser vir die KhoiSan in die Caprivi-strook.

Hy sluit hom in 1991 aan by die Kaapstad-argieg, waar hy aan die hoof gestaan het van uitreikprogramme. In 1992 trou hy met Charlene van Zyl van Oshikati, Namibië. Hulle het geen kinders nie, maar wel vier katte.

Hy werk onder meer as onderwyser en verwerf in 2003 sy doktorsgraad in Filosofie in Kultuurgeskiedenis in pikturale humor, veral met verwysing na die werk van T.O. Honiball. In 2006 word hy argivaris van Naspers. In 2010 verwerf hy ’n tweede M.Phil., dié keer in Joernalistiek, aan die Universiteit Stellenbosch. Sy fokus is op justisie in die politieke strokies van Zapiro van 2008 tot 2010.

Een teen Adamastor - Voorblad - François VersterDeur sy loopbaan skryf hy vakkundige artikels (geskiedenis, kultuurgeskiedenis, literatuur, kuns, joernalistiek), resensies, rubrieke en essays in koerante en tydskrifte. Hy het gereelde rubrieke in Bolander en Cape Librarian, asook op afrifiksie-nova.com, waar hy sy insae met ander wetenskapfiksie- en fantasie-skrywers deel. Hy skryf ook kortverhale, jeugverhale en gedigte vir die jeug. Hy gee drie boeke en twee e-boeke uit. In 2005 sien sy historiese nie-fiksieboek Op die spore van Simon van der Stel, 1685 -1985 die lig. Sy roman Een teen Adamastor wen in 2013 die Afrikaanse afdeling van Maskew Miller Longman-kompetisie).

Vanweë sy lewenslange belangstelling in grafiese kunste het Verster self ’n behendige skilder geword sedert hy in 1992 ’n seldsame vorm van skoliose opgedoen het wat hom van sport weerhou het. Hy lewers soms sketse en illustrasies vir publikasies.

Verster is bekend vir Deur na Nebula Nege, ’n Afrikaanse wetenskapfiksieroman wat in Februarie 2014 deur Thompson Boekdrukkery uitgegee is. Dit is sy tweede roman, ná Een vir Adamastor.

Die inspirasie vir Deur na Nebula Nege was George Orwell se boeke, veral Animal Farm (1945) met invloede van Jan Rabie se Die Groen Planeet (1961). Die roman speel hom in die nabye toekoms af. Die mensdom op die randjie van ineenstorting en ontsnapping na ’n ander dimensie blyk die enigste uitweg te wees. Die verhaal speel hom af op Aarde en die Drie Susters, die planete Terraduo, Genumo en Aerani in die dimansie Nebula Nege.

Professor Kitakilus, die grootste wetenskaplike van sy era, ontwerp die Transitor, ’n toestel wat ’n portaal na ’n ander dimensie kan oopmaak en ooltlik die mensdom kan red. Wanneer die professor verdwyn, moet Wilf Beaudin en sy beeldskone kameraad Leia Vestra hom opspoor. Aan die ander kant van die portaal wag daar egter drie wêrelde propvol van hul eie persoonlike en politieke intriges. Die parasitiese Gryliks voer skynbaar die botoon, maar daar is spanning nie tussen hulle en ander rasse nie, maar ook onderling. Intussen blyk dit dat die geheimsinnige entiteit bekend as Komistor eintlik die toutjies trek.

Deur na Nebula Nege word beskryf as “die verhaal van die mensdom, saamgevat in een veelvlakkige vertelling wat afspeel op verskillende planete in ’n verre, verbeelde andersoortige dimensie, dog skrikwekkend bekend” (Thompson, 2014).

Verster het self die afbeeldings van die Internet afgetrek en sy vriend en mede-wetenskapfiksieskrywer Charles Stofberg se dogter Anna-Mieke het die samestelling digitaal gedoen. Die figuur is ’n X-straalfoto van ’n pylstertvis wat die intelligente parasiet Grylik in die roman voorstel.

Verster meen dit is nog te vroeg om die invloed van Deur na Nebula Nege te bepaal. Die doel was volgens hom om ’n ras-egte Afrikaanse wetenskapfiksieboek te skryf met die tema van magsmiskbruik en die verskillende tipes verraad wat daaruit vloei.

Bronne:

  • Onderhoude met François Verster, 30/10/2014 – /11/2014, via vonkpos.
  • https://afrifiksie-nova.com/n-onderhoud-gevoer-met-francois-verster/
  • http://www.litnet.co.za/Author/1046/Francois%20Verster
  • http://www.stellenboschwriters.com/versterf.html
  • http://thompsonboeke.com/index.php?id_product=28&controller=product

Oefening 2

In volgorde van geboorte is die groot geeste Shelley, Verne, Wells, Clarke, Heinlein, Asimov, Herbert, Dick, Le Guin en Card. Elk van hulle het ’n reuse-bydrae tot die stand van die genre gelewer en almal van hulle is verskieie kere bekroon vir hul werk. In die lig hiervan is die keuse van skrywer om by dié lys te voeg vir my voor die hand liggend: William Gibson.

As die de facto-vader van die kuberpunk-genre het sy WF-noir roman Neuromancer ’n wesentlike invloed op die genre gehad. Selfs toe dit in 1984 verskyn het, was daar ’n sin dat die genre (wat ná die Goue Era die risiko begin loop het om stoom te verloor) tot ’n mate nuwe dryfkrag gekry het.

Dit is dan ook hoekom Neuromancer die Hugo, Nebula én Philip K. Dick-toekennings verower het, asook die derde plek in die Campbell-toekennings losgeslaan het. Terselfdertyd is dit met die Ditmar- and Seiun-toekennings vereer. Geen ander outeur kan dit sê nie, hoewel Arthur C. Clarke se Rendezvous with Rama (1974), Frederik Pohl se Gateway (1978) en Joe Haldeman se Forever Peace (1998) wel elk die Nebula, Philip K. Dick en Campbell gewen het.

Gibson se vooruitskouing van die kuberruim was akkuraat genoeg dat sy beskrywing daarvan selfs vandag nog as ’n abstraksie geldig is:

“Die kuberruim: ’n Konsensus-hallusinasie wat daagliks deur miljarde regmatige operateurs in elke nasie ervaar word, deur kinders wat wiskundige begrippe leer… ’n Grafiese voorstelling van data geabstraeer van die banke van elke rekenaar in die menslike stelsel. Ondenkbare kompleksiteit. Lyne van lig in die nie-ruimte van die verstand, groepe en konstellasies van data. Soos stadsliggies wat in die verte verdwyn.”

Dié soort gebruikerskoppelvlak kan steeds in ons toekoms wees. Nogal baie gevra van enige voorstelling wat gemaak is 11 jaar voor die eerste kommersiële websnuffelaar, Internet Explorer, saam met Windows 95 uitgekom het! Meer so as ’n mens uitvind Gibson het Neuromancer op ’n 1927-model tikmasjien geskryf – lank voordat hy self op ’n rekenaar gewerk het.

Toe Suid-Afrikaanse universiteite in die vroeë 1990’s die eerste keer toegang gekry het tot interkontinentale IRC-kletskamers, was die konsensus by verstek dat daardie “kamers” in die nie-ruimte van die kuberruim geleë was. Niemand het gestry nie. En steeds stry niemand nie. Woorde soos “verkeer” slaan steeds op hoeveel mense ’n gegewe webblad besoek en niemand dink twee keer oor die ruimtelike analogie nie. Ons kyk in ons “posbus”, “snuffel” op “werwe”, “surf”, en “besoek” virtuele winkels. Gibson se ruimtelike analogie hou tot vandag toe nog. Dalk is dit hoekom kritici soos Jon Cronshaw Gibson se meesterwerk beskryf as “die belangrikste roman in die laaste 30 jaar”.

Sonder Gibson se werk sou ’n invloedryke WF-film soos The Matrix nie moontlik gewees het nie. Afleidings van sy voorstelling van ’n virtuele ruimte kom voor in talle romans, wat die universele aard daarvan onderstreep.

Geen hedendaagse kanon van die WF-genre kan Gibson se werk misken nie. Sy bydrae is egter van so ’n aard dat dit wyer strek as WF en die aanhangers daarvan. Met sy verwewing van popkultuur met WF het hy ’n wesentlike bydrae tot die genre gemaak deur dit toeganklik te maak. Neuromancer pryk byvoorbeeld in die tydskrif Time se top 100 Engelse romans sedert 1923 – let wel, romans, nie WF-romans nie!

Gibson se oevre is ’n profetiese inleiding tot die era van inligtingstelsels – en om daardie rede moet die “profeet van kuberpunk” saam met die ander groot geeste van WF onthou word.