M01E1 – 2016 © Ockert J. du Preez

Oefening 1.
Ondersoek verskeie definisies van WF en stel ‘n bevredigende definisie vir uself op.

Vlieënde pierings, bioniese mensdele, die toekoms waar rekenaars en robotte die wêreld oorneem, superhelde en diere wat kan praat; ek kan aangaan met hierdie lys – maar die punt wat ek wil maak is: Wetenskapfiksie stel mens instaat hetsy met ʼn boek of rolprent om die mensdom se verbeelding aan te gryp, te verbaas, en te druk totdat dit nie meer kan nie! Alles wat onmoontlik is word moontlik. Alles wat moontlik is word onmoontlik, onaanvaarbaar en ongelooflik gemaak tot op die punt dat jy self nie meer weet wat eg is of nie. Dit is wetenskapfiksie

Oefening 2.2.
Wat beteken die wetenskapfiksie genre vir jou?

Dit is moeilik om presies neer te pen waar, wanneer en hoe my passie vir wetenskapfiksie onstaan het. Dit kan wees dat die sterre in die hemelruim elke aand so helder skyn. Dat hulle skyn met die wete dat daar eens lewe was, lewe miskein nou nog is, of lewe kan hê in die toekoms. Miskien is dit net ek – hoekom sal daar nie lewe daar buite wees nie?

Dit kan ook wees dat ek in die middel van die robotrevolusie is as gevolg van my werk. Soos enige storie het my storie maar stadig begin. My lang jare se werk en studier en werk het my hiér gebring. Deur al die jare het tegnologie letterlik elke dag verbeter en slimmer geword. Wie sou kon raai dat jy ʼn video sal kan neem op ʼn foon? Wie sou kon raai dat jy eendag jou yskas, TV en enigiets behalwe jou haardoeër (op hierdie stadium) kan inkoppel aan ʼn network genaamd die internet wat alles beheer?

Miskien het boeke my liefde vir Wetenskafiksie aangewakker? Jules Verne, H.G. Wells, Shakespeare…

Dit kan ook flieks wees. Terminator, Robocop (die ou een), Avatar, Elysium, of kan dit nie?

Miskien is dit eintlik maar net my verbeelding?

Ek dink egter dit is marsmannetjies. Ja, ek is ernstig! Ek glo van harte een van hulle het in my oor ingekruip en beheer van my brein oorgeneem!

Weet nie. Miskien is dit ʼn kombinasie van als wat my só lief gemaak het vir wetenskafiksie?

Maak nie saak wat dit is nie – ek is bly die wetenskapfiksie-gogga het my gebyt!