Hologramme is driedimensionele beelde wat vertoon word en wat gevolglik verskillend gesien (of liewer verskillend waargeneem) word afhangend van die hoek waaruit dit beskou word. Dit is nie dieselfde as ‘n 3D-fliek wat presies dieselfde gesien word ongeag van waar daar in die teater gesit word nie. ‘n 3D-fliek is eenvoudig ‘n tipe illusie van driedimensionaliteit maar wat eintlik in wese steeds ‘n tweedimensionele beeld projekteer wat deur die brein as driedimensioneel waargeneem word.
Die idee van ‘n hologram het ontstaan in 1947 toe daar gepoog was om die resolusie van elektronmikroskope te verbeter. Dit het egter eers moontlik begin raak in 1960 met die ontwikkeling van die laser wat ‘n suiwer genoeg ligbron was om hologramme meer te vervaardig.
In flieks kry ons dikwels te doen met hologramme, en van die bekendstes kom in Star Wars voor. Die eerste is in die eerste fliek, A New Hope, waar Luke die beeld van Leia sien wat deur R2D2 geprojekteer word.
Later in die reeks kom daar selfs meer indrukwekkende voorbeelde van hologramme voor.
In Star Trek kry mens met ‘n selfs meer indrukwekkende vorm hiervan te doen, naamlik ‘n holografiese dek waar iemand interaktief met hologramme interaksie kan hê, en waar die beelde selfs ‘n soliede gevoel het en nie net uit lig bestaan nie. Dít, is egter wel bloot wetenskapfiksie en glad nie in ons tegnologiese vermoëns nie.
Hologramme is egter nie bloot iets wat in wetenskapfiksie opgetoor word nie – hulle bestaan werklik, en raak al meer algemeen en toeganklik. Hierdie voorbeeld wat in ‘n skoolsaal opgestel is, is ‘n uitstekende voorbeeld hiervan.