Mnr. Johan V. van Wyk – 2015 © Evert Pretorius

Johan V. van Wyk, is ʼn Suid-Afrikaanse wetenskapfiksie skrywer.

1. J.V. Van Wyk - Ricky Erasmus en die inter-dimensionele rolstoelJohannes (Johan) van Wyk is gebore op 25 September 1983 in Carletonville, Gauteng, Suid-Afrika. Hy word in Westonaria, ʼn mynersdorpie in die Wesrand groot. Hy is die jongste van 4 kinders (Esther, Markus en Naomi). Van 1990 tot 1996 is hy in Laerskool Gerrit Martiz, en 1997 tot 2001 in Hoërskool Westonaria. Sy moeder Johanna is oorlede in 1990 en word groot gemaak deur sy vader Jan Vorster. In hoërskool speel hy rugby en krieket, maar ontwikkel uiteindelik ʼn liefde vir musiek en begin leer om kitaar te speel en sing. Hy speel in ʼn paar Punk Rock en Christelike orkeste (Dent, Godswill). Na hoërskool sit hy sy studies voort by College Campus en leer vir ʼn Diploma in Grafika en Webwerf Ontwerp.

In 2003 ontmoet hy sy vrou Veronique en op 26 Augustus 2004 word hulle eerste kind Christian gebore. Jahan en Veronique trou op 22 Januarie 2011 en op 11 November 2011 is hulle tweede kind Amoné gebore.

2004 begin hy werk by Imperial Cargo en bly met die maatskappy tot 2012. In 2012 skuif hy oor na die sporingseenheid maatskappy Altech Netstar, waar hy tot vandag toe werk.

2007 begin hy studeer by die Universiteit van Johannesburg waar hy prys as Student van die jaar ontvang.

In 2011 het hy by die Universteit van Johannesburg sy Diploma in Padvervoer Bestuur verwerf.

2015 sit hy sy studies voort aan Unisa vir ʼn Bcom in Informatika wat hy beoog om in 2018 te voltooi.

Johan se passie vir lees begin eers na sy skoolloopbaan. Vanweë sy liefde vir wetenskapfiksie en fantasie, ontdek hy die webwerf ‘Afrifiksie’ in 2014, en begin dadelik met 3 kortverhale getiteld:

  • Die Astrale Kryger (Jeug Fantasie)
  • Die Pad na Pleodora (Volwasse Wetenskapfiksie)
  • Soektog na die laaste Sihuffs (Volwasse Fantasie)

Hy skryf die kortverhale in vir die Jaarlikse Wetenskapfiksie en Fantasie skryfkompetisie waar ‘Die Pad na Pleodora’ eerste plek verwerf in die Volwasse Wetenskapfiksie kategorie.

Daarna skryf Johan ʼn Jeug Wetenskapfiksie roman, ‘Ricky Erasmus en die inter-dimensionele rolstoel’, wat deur Thompson Boekdrukkery in 2015 uitgegee is. Dit is die eerste boek in ʼn reeks wat daarop gemik is om die jong Afrikaanse lesers bloot te stel aan bekende wetenskaplike teorieë.

Johan skryf onder die naam J.V. van Wyk, sy vader se voorletters, die persoon wat eerste die belangrikheid van boeke en kennis in hom opgewakker het.

Ricky Erasmus en die Internationale Rolstoel (Thompson Boekdrukkery, 2015)

5. Ricky Erasmus Rolstoel - Voorblad“Wat is die rede hoekom daar so min Afrikaanse Wetenskapfiksie en Fantasie boeke is? Is dit omdat ons nie ʼn verbeelding het soos al die Engelse skrywers nie. Nee, glad nie! Ek glo die rede hoekom daar sulke min boeke in dié genre is is omdat ons onsself nie in die toekoms sien nie. Ons sien mense met Amerikaanse en Britse aksente, maar ek dink ons is onseker oor wat met ons as ʼn nasie en ʼn land gaan gebeur.”

Ek beoog om met hierdie reeks die jong lesers se belangstelling te prikkel, om hulle te wys dat al die beste stories nie net Engels hoef te wees nie. Dat oor 500 jaar van nou, daar nog Afrikaans gepraat gaan word, en wie weet, dalk is ons nog die wêreldheersers.

Hoe meer jongmense ons kan bewus maak van die feit dat Afrikaans nie agteruit hoef te staan vir geen ander taal nie, sal ons weer kan droom. Ons taal is pragtig! Praat, leef en lees Afrikaans.

Ricky Erasmus ontmoet die eienaardige professor Winterboer met sy asemrowende uitvindings, maar kort voor lank loop dinge skeef. Ricky en sy twee maats moet professor Winterboer gaan red uit ʼn ander dimensie met die hulp van die inter-dimensionele rolstoel.

Gaan saam met Ricky Erasmus op ʼn avontuur wat jy nooit sal vergeet nie!

1 thought on “Mnr. Johan V. van Wyk – 2015 © Evert Pretorius

  1. Die titel van die boek is: “Ricky Erasmus en die interdimensionele rolstoel – J.V. van Wyk.” …. en nie internationale soos op hierdie blad aangedui nie.

Comments are closed.