MOORD IN KAMER 10 – Ilse Goschus

Moord in kamer 10 – 2016 © Ilse Goschus

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (2 050 WOORDE)

 

Die begraafplaas lê in stille afwagting… gereed vir die nag om die inhoud in sy Medusa-boks, met die wat daarvoor bestem is, te deel.

Die maan wat elke nou-en dan agter ʼn wolk skuil, verleen ʼn silwer gryse onvoorspelbaarheid aan die nag. ʼn Uil deel sy wyse insigte van veraf en ʼn vlakvark hardloop die aangrensende mielieland binne. ʼn Onverwagse geweerskoot tref die dier in die nek, maar sy wilskrag om te lewe laat hom al bloeiende voorthardloop.

Die bloedreuk trek egter onaardige wesens met ʼn passie vir vars bloed.

Met ʼn dowwe vlerkgeklap dui hulle hul teenwoordigheid aan. Soos enorme swart arende, kruip hulle geboë en half lomp uit vervalle grafte en tussen omgedopte grafstene met lang doringagtige onkruidplante uit; die roofgediertes van die nag.

Hulle strek hul vlerke uit en vlieg op die vlakvark se vars bloedspoor af. Gulsug suig hulle die bloed uit die nog half lewende dier.

Die VVV’s is ʼn groep gestorwe siele wat dag na dag in ʼn kleed van sielewroeging geklee is. Snags dans hulle as vampiere, hul weerwraaksdans. Dan tree die rusteloosheid .te voorskyn in die vorm van wraakaanvalle; wrede, bloeddorstige aanvalle op hul teikens; vyande tydens ʼn eertydse lewe.

“Hoaaaah! Grumilda, dis Vergeldingsnag!” gil Jasus, leier van die VVV’s in ʼn onaardse toon.

“Ja, ek soek bloed. Weerwraaksbloed.” antwoord die afgestorwe Grumilda.

“Ditto!” beaam haar mede-afgestorwe sielsgenoot, Ruan.

“Ja, ons soek bloed; vars, vergeldingsbloed op Vergeldingsnag!” herhaal ʼn ander die hul visie vir die nag.

Die vlakvark, nou sonder siel, lê eensaam binne sy eie bloederigheid. Die vampiere maak gereed vir hul volgende missie.

Terug by die grafte, terwyl hulle hul gereedmaak vir hul nagtelike eskapades, merk Ruan skeilik op: “Ek blaai nou deur die Vampiere-boek-van-wysheid; ek is by vanaand se padkaart. Die bloedstreep wys na… Hotel Hartlief: Kamer 10.”

ʼn Rot glip skielik by ʼn skeur in een van die grafte uit. Jasus gryp die knaagdier aan die stert en boor sy een dik, krom oogtand deur die sagte rotvleis; die vel bars oop. Jasus slurp die bloed hard en gulsig op.

“Hotel Hartlief is dit dan! Grumilda, jy is verantwoordelik vir die daad. Die teiken is joue. Ons sal deel in die bloedvonds. So, mede-vampiere…. laat die bloedstreep ons lei,” gil Jasus.

“Hoaaaah!’ weerklink die vampiere-kreet deur die onheilspellende nag.

“ʼn Teken van solidariteit,” spring die gedagte onwillekeurig in Grumilda se kop.

“Ek is jou skaduwee; jou bystand,” belowe Ruan met ʼn grynslag om sy mond, terwyl hy sy wrede kloue ʼn stuk hakiesdraad, wat om die begraafplaas gespan is, afruk om sy tande mee te vyl.

“Aksie VVV’s!” beveel Jasus in sy onaardse stem.

Die vampiere styg soos een man op; gereed vir Missie Hartlief Hotel op… Vergeldingsnag.

In die vlieg, kry Grumilda ʼn springhaas aan die ore beet en skeur dit oop met haar lang, krom tande. Die bloed spuit rooi, vars en loperig in haar keel af; sy sluk dit gulsig en tevrede op en  oorhandig al vlieënde, ʼn stuk rou, oopgeskeurde haasvleis aan Ruan. Hy gryp dit in sy kloue, bring dit dan nader aan sy mond en suig en sluk. Die bloed kleef aan sy wange en mond. Beide se oë verander van kleur… dit skyn in skakerings van geel en rooi; aaklig en wreed.

Bloeddorstige vampier-krete breek die nagstilte  Vlerke fladder soos elke vampier in die swerm, neerswiep en ʼn stuk haasvleis uit Grumilda en Ruan se kloue ruk om hul knaende dors na bloed vir ʼn kortstondige tydperk egter, te les.

Meteens word die swart vlieënde vampier-streep geabsorbeer deur die nag

***

202 vampierjare tevore…

Hotel Hartlief se Kry-mekaar-kroeg is propvol.

Die 32-jarige Grumilda dra ʼn swart halternek bostuk, wat haar slanke, songebrande rug blootstel. Sy dra ook ʼn ietwat te kort, nousluitende romp. Haar lang, blonde krullerige hare val laag teen haar rug af. Strategies en ietwat uitlokkerig, kruis sy nou haar goed gevormde bene in die swart net-sykouse..

Sy bespied die omgewing met ʼn geoefende oog; net vir die wis en die onwis.

Die sigaretrook hang in dik, grys walms oor die kroeggangers wat glasies tequila en ander alkoholiese drankies soos water in hul kele laat afgly, tussen luide gelag en geklets heen.

“Jaloersbokkie,” speel in die agtergrond.

Die aantreklike, donker man oorkant haar, kyk haar stip aan, met ʼn vonkel in die oë.

Grumilda fladder haar vals wimpers, en lek met haar tong oor haar vol en rooi lippe, terwyl sy hom stip in die oë kyk.

Sy geniet die voorspel.

(Sy is egter onbewus van die feit dat iemand anders in die vertrek ook elke beweging van haar in erns dophou.)

Die aantreklike man staan skielik op en kom glimlaggend na haar toe aangestap; drankie-in-die-hand.

“Boa Noite, ” groet hy dan in Brasiliaanse Porutgees.

Dis asof daar ʼn enorme swerm skoenlappers diep in haar maag rondfladder. Haar hart klop vinnig en ʼn rooi blos sprei oor haar ligte vel.

“Boa Noite Huan!” antwoord sy amper soos ʼn nagedagte, in haar heserige sensuele stem.

*Boa Noite – Goeienaand

(Sy naam word eintlik gespel: Ruan, maar die ‘R’ aan die begin van ʼn woord, word vervang deur ʼn H-klank. Sy het Brasiliaanse Portugees aangeleer tydens haar vyf jare in Brasilië, waartydens sy as ʼn Engelse onderwyseres by ʼn Taalskool gewerk het. Ook het sy Ruan daar ontmoet: dit was tien jaar gelede. Hulle het ʼn passievolle verhouding gehad, maar haar ouers was daarteen gekant. Hulle het egter kontak behou, ten spyte van die teenkanting. Hul liefde vir mekaar was en is soos ʼn onuitblusbare vuur. Met haar huwelik so te sê op die rotse, het sy ingestem om hom, haar sielsgenoot, te ontmoet tydens sy eerste besoek aan Suid-Afrika.)

Die volgende oomblik druk hy haar styf teen hom vas. Hy streel haar blonde krulle, terwyl hy liefdeswoordjies in haar ore fluister. Sy druk haar lyf stywer teen syne en vryf met haar vingers oor sy digte bos swart hare. Blertse grys kruip reeds teen die slape op. Sy duur naskeermiddel ruik lekker. Sy lippe sluit warm oor hare en hulle soen mekaar innig en met passie.

“Pasop! Gee pad!” skree ʼn beangste stem waarskuwend.

 “Hy gaan skiet!” waarsku ʼn ander histeries.

Bottels en glase begin vlieg terwyl ʼn manlike figuur sy pad kronkelend na die paartjie forseer en verskriktes in alle rigtingss spat.

 Geskok breek Ruan en Grumilda los uit hul vurige omhelsing. Grumilda probeer fokus op dit wat nou aan die gebeur is. Dan kyk sy op in die koue, hartseer oë van haar man, Anthony. Die pistool bewe in sy sweterige hande.

“Jou… jou goedkoop straatvrou,” onderbreek sy woedende, ontnugterde stem, hul oomblik van passie.

Ruan dink vinnig en gryp die pistool by Anthony.

“Ieeeee!” skree paniekbevange kroeggangers. “Ieeeee!”

ʼn Gestoeiery begin en… dan knal die geweerskoot.

“Hy’t geskiet!” gil iemand geskok. “Hy’t geskiet!”

Grumilda se oë rek groot van angs en skok.

“Nee! O Nee!” skree sy, maar dan val sy roggelend neer in ʼn groter-wordende plas bloed; ʼn stille hopie.

“ʼn Fratsongeluk,” fluister nog ʼn geskokte stem.

“Ek kan dit nie glo nie! My liefste Grumilda…” snik Ruan hartogtelik terwyl hy oor haar buk, geweer steeds in die hande. “Praat met my. Maak oop jou oë, Por Favor!”

Sy groot, manlike liggaam ruk soos hy snik oor die onverwagte dood van sy geliefde. Skielik doen hy die onverwagte Hy rig die pistool op homself. Als gebeur binne die bestek van ʼn paar sekondes.

““Ieeeee!”!” skree die kroeggangers.

“Wat ʼn treurspel!” roep ʼn ander.

Nou lê daar twee stille hopies.

 “Romeo en Juliet,” fluister nog ʼn stem.

Groot geboude polisiemanne met strak gesigte en opgeleide honde met skerp, geel tande, bars die Kry-mekaar-kroeg binne en doen wat hulle moet doen.

***

Die skoomaakmiddels ruik skerp en klinies.

“As hierdie kamer maar kon praat,” dink Bekkie die 55-jarige kamerbediende (Kamer 10 is die wittebroodskamer.Hotel Hartlief se tariewe is redeik billik vergelykende met die ander hotelle in die omgewing. Hulle roem hul daarop dat hulle ʼn kwaliteitsdiens lewer aan diegene binne die middel- en laer inkomstegroepe.)

Bekkie trek die koningsbed met vars, wit linne oor. Sy druk die kussings in die slope en slaan dit so effe in om reg te pas. Dan rangskik sy die kussings vanpas op die bed. Sy neem twee wit handdoeke. Haar hande werk vinnig en binne enkele oomblikke pryk twee handdoek-swane op die bed. Sy maak hulle sit aan die onderkant van die bed, so half in die middel. (Die vou-van-die-swane is ʼn tegniek wat sy in ʼn hotel in Hua Hin, Thailand, geleer het, toe sy as kamerbediende daar gewerk het.)

Sy skuif die trollies nader en maak die yskassie vol met sjokolades, koeldrank, neute, aartappelskyfies en water. Sy glip gou by die kamer uit en kom dan terug met ʼn pragtige ruiker rooi en wit angeliere Die plaas sy tussen die wit yskassie en tafellamp wat op die toonbankerige tafel voor die spieël staan. Haar hand glip dan in haar wit voorskootsak in en haal die ‘Met-komplimente-van’ kaarjie uit. Die laat sy so skuins teen die ruiker balanseer.)

“O gits! Die roosblare,” herinner sy haarself. “Ek het skoon van die roosblare vergeet.”

Sy sprinkel die sagte rooi blare oor die bed.

 Bekkie gee nou ʼn paar treë agtertoe en bestudeer haar handewerk krities. ʼn Glimlag van voldoening speel om haar mondhoeke as sy Kamer 10 se deur agter haar toetrek.

***

Vergeldingsnag: Hartief Hotel…

Dis ʼn warm somersaand. Die hitte se spore kleef nog met mening aan die nanag wat oor die Karoodorpie hang. Die sterre blink helder en ver.

ʼn Rilling hardloop teen Grumilda se lyf af.

“Vanaand word uitgedeel wat ontvang is; 202 vampierjare gelede,,” dink sy.

“Kamofleer! Infiltreer!” gee Jasus die opdrag, sodra die vampiere die einde van die bloedstreep, (deur die padkaart aangedui), te lande kom.

 “Grumilda, die daad is jou opdrag. Sodra jy jou missie vervul het, sal ons toeslaan. Die vars reuk van bloed.. ons geheime kode!”

“Hoaaaah!” beaam hulle voor die spreekwoordelike uur van vergelding aanbreek.

(Die historiese kerk oorkant die kroeg is verlate… helderkleurige roosblare is al teken van die troue vrooër die aand.)

Die musiek blêr oorverdowend. In die Kry-mekaar-kroeg.

Die VVV’s tree die kroeg binne in menslike vorm.

Grumilda bestel vir haar ʼn mengeldrankie. Ruan sit skuins oorkant haar, net soos op die aand van die skietvoorval; 202 vampierjare gelede; met ʼn vonkel in die oë.

“Boa Noite!” herhaal hy sy groet van daardie aand.

Presies dit, laat die vampierweerwraaksin soos ʼn aankomende tsunamie in haar vampiersiel toeneem en oorneem.

“’Bestel vir my ʼn dubbel brandewyn,” beveel sy bars aan Ruan. “Vanaand meng ek my drank. Dit help om atmosfeer te bou.”

Beide herleef die kru gebeure, daardie nag van hul gans te vroeë sterwensuur wat virewig in hul DNA vasgevang is.

“Ek ruik vars bloed,” laat Grumilda skielik van haar hoor.

“Dis toeslaantyd!” fluister Jasus in haar oor as hy ongemerk verbystap met ʼn drankie in sy hand.

“Sy irisse is getint in ekstra skakerings van geel en rooi. Ek wonder waar hy nou bloed in die hande gekry het,” dink Grumilda stil.

Sy en Ruan beweeg vinnig en stil buitentoe. Hulle gaan staan agter die dik stam van ʼn oeroue Fikus Netida boom. Daar verander hul van vorm. ʼn Paar vampiergenote sluit by hulle aan, terwyl ander in die agtergrond die verloop van die gebeure daar, dophou.

Grumilda en Ruan vlieg teen die agterkant van die hotel op; Kamer 10 se kant toe. Die gordyne is effe oop; die vensters is egter wawydoop.

In die wittebroodskamer slaap die pasgetroudes; die 82-jarige Timothy (haar eertydse man) en sy jong, 32-jarige bruid, Elsa.

“Jou vloeksel,” gil Grumilda. (Slegs die VVV’s kan haar hoor.)

Haar opgewelde woede dwing haar deur die glasvenster. (Sy ignoreer die oop venster.) Glasskerwe spat. Nou is sy op hom. Haar geel, skerp krom tande, breek deur sy oumensvel. Aan die keel kry sy hom beet. Die bloed syfer deur die dun vel en vlek die lakens. Dan skeur sy sy hoofslagaar oop. Die bloed spuit soos ʼn gebarste waterpyp in alle rigtings.

Haar mede-vampiere sak toe. Hulle geniet elke druppel bloed tydens die vergeldingsfees.

Ruan takel die jong bruid.

En dan verdwyn hulle die Karoonag in. Slegs een bly vir ʼn wyle agter.

Die musiek blêr steeds oorverdowend. In die Kry-mekaar-kroeg.

Die telefoon lui. Die kroegman tel op.

“Moord in kamer 10!” fluister ʼn vrou in ʼn heserige sensuele stem…