’n Onderhoud gevoer met Anna van der Walt

Afrifiksie het die voorreg gehad om op die 14de Januarie 2016 met die skrywer Anna van der Walt oor haar eerste Afrikaanse wetenskapfiksieverhaal “LEO” te gesels. Afrifiksie deel dit graag met u.

2016 - Foto - OnderhoudAF: Hoe lank skryf jy al?
AvdW: Ek het as kind storietjies geskryf, sommer vir my eie vermaak, maar in die tagtigs die eerste keer probeer om boeke te skryf. Dit het nie geslaag nie.

AF: Hoe kom jy aan jou karakters?
AvdW: Dis nie maklik om te verklaar nie. Ek begin ’n karakter eenvoudig in my verbeelding sien en dan neem die karakter oor en begin amper self sy of haar storie skryf. Hulle word later vir my so werklik dat ek amper verwag om hulle in die gang van my huis raak te loop.

AF: Waarvandaan kry jy jou idees?
AvdW: Ek dink Dean Koontz het nogal ’n invloed op my idees vir wetenskapsfiksie gehad. Vreemdeling het egter ontstaan voor ek Koontz begin lees het. Beide my pa en my man het baie in sterrekunde belanggestel en ek het dikwels gewonder of daar werklik geen ander intelligente lewe in die heelal is nie. En as daar is, hoe hou dit verband met sondeval en verlossing hier op aarde? Het die bewoners van ander planete ook in sonde geval of is hulle dalk nog sondeloos en volmaak? Dan was daar ook die ruimtereekse op TV.

AF: Waar sien jy jouself oor vyf jaar?
AvdW: Tyd is ’n bietjie teen my. Op my ouderdom is daar nie veel oor nie. Ek hoop om nog ’n paar boeke te skryf wat ek aan my kinders en kleinkinders kan nalaat en waarin hulle iets van my sal ontdek.

AF: Waarom het jy hierdie boek geskryf?
AvdW: Die boek is geskryf in ’n poging om die gedagte van sondeval en verlossing te versoen met die idee van moontlike volmaakte wesens elders in die heelal. Ek het begin wonder hoe dit so ’n volmaakte wese sou beïnvloed as hy ook in sonde sou val en of hy verlossing sou kon vind.

AF: Hoe het jy op hierdie titel van jou afgekom.
AvdW: Die titel van die oorspronklike verhaal in die tagtigs was Vreemdeling. ’n Oudkollega van my oorlede man, ds. Jaco Thom, het egter later ook ’n boek onder dieselfde titel geskryf oor Abraham van die Bybel. Ek kon dus nie weer die titel gebruik nie en het op die naam besluit wat die vroulike hoofkarakter die vreemdeling gegee het. Die naam het baie te met die idee van ’n karakter wie se hart enersyds te sag is om hom toe te laat om ’n gruwelmoord op die aarde te aanskou sonder om, teen die reël in, in te meng, maar wat, andersyds, die hart van ’n leeu het wat hom die moed gee om deur al sy verlies en pyn terug te veg na verlossing.

AF: Wat sien jy as jou beste kwaliteit?
AvdW: Die vermoë om vir myself te lag.

AF: Het jy al aan ’n ander boek begin skryf?
AvdW: Ek het reeds ’n opvolgverhaal oor Leo geskryf onder die titel Stellamarie. Dit gaan grootliks oor sy dogtertjie, wie se naam sy eindelose verlange na sy verlore, volmaakte wêreld anderkant die sterre verwoord. Sal maar moet sien wat daarvan word en of Thompson Boekdrukkery weer sal belangstel.

AF: Vertel ons ʼn bietjie van jou kinderjare.
AvdW: My kinderjare was enersyds besonder bevoorreg omdat ek grootgeword het onder die prediking van ’n man wat die Bybel geken en verstaan het soos min ander en kon preek met die hart van ’n digter. Andersyds, het ek maar ’n moeilike kindertyd gehad. My ma was ’n mishandelde kind wie se stiefpa die erfenis van haar eie pa in twee jaar se tyd deurgebring het. Sy het in armoede grootgeword en die belangrikste ding in haar lewe was later dat sy altyd eerste gestaan het op skool. Ek is te jonk skool toe gestuur en kon, veral op hoërskool, nie sosiaal aanpas nie. Ek moes van ’n klein plattelandse laerskool oorskuif na ’n groot hoërskool (Sentraal) in die stad en kon nie my voete weer vind nie. Daar is ’n onoorbrugbare kloof tussen ’n dogtertjie van 10 en een van 13, veral as die jonger kind nog droom van feetjies en kaboutertjies en die ouer kinders besorg is oor hulle kêrels. Boonop kon ek ook nie voldoen aan my ma se vereistes nie. Dit was nie goed genoeg om in die 90% gemiddeld te kry nie. Ek moes eerste staan uit die meer as 200 kinders in std. 6 en kon dit nie regkry nie. Ek het dus ’n redelike swak selfbeeld ontwikkel. Dit was miskien die rede waarom ek opgegee het om te skryf nadat my eerste manuskripte afgewys is.

AF: Watter boeke lê tans op jou bedkassie?
AvdW: Barend Vos se Die ewigheid in my hart. Ek is dol oor die man se skryfwerk en sy pastoriestories.
Dean Koontz se Cold Fire, waar die hoofkarakter ook ’n getraumatiseerde persoon is met baie sterk psigiese vermoëns.
Deon Meyer se Ikarus

AF: Hoe het jou opvoeding jou skryfwerk beïnvloed?
AvdW: Dis seker my Christelike opvoeding en veral my pa se nalatenskap wat dit vir my onmoontlik maak om te skryf sonder godsdienstige ondertone.

AF: Hoe het die sosiale media jou gehelp as skrywer?
AvdW: Ek is nie juis iemand vir die sosiale media nie. Waarvan ek wel hou, is die internet met sy baie inligting wat so maklik verkry kan word. Die feit dat ek kon “google” vir inligting het my baie gehelp.

AF: Wat was jou gunsteling slaaptydstorie as ’n kind?
AvdW: Daar is nie veel slaaptydstories aan my vertel of voorgelees nie. My ma het die manier gehad om ’n storie vir ’n mens te begin lees en dit dan neer te sit en te weier om verder te lees sodat jy verplig was om dit self te ontsyfer en so beter te leer lees. ’n Storie wat ek goed onthou, se naam was Droomhartjie oor ’n elfie. Dan was daar die sprokies van Grimm en gedigte. Ek het die ou digters oor en oor gelees en my moeg gehuil oor Totius se Passieblomme. Ek het maar meestal self gelees.

AF: Waaraan is jou belangstelling in wetenskapfiksie te danke?
AvdW: Fiksie en wetenskapsfiksie laat ’n mens toe om jou verbeelding vrye teuels te gee. Jy is nie noodwendig gebonde aan die gewone alledaagse nie. As ek in die nag opkyk na die sterre dan wonder ek. Ek is nie ’n persoon wat graag na gewone “soapies” kyk nie, maar het baie gehou van reekse soos Star Trek en Battlestar Galactica. Dit het ook moontlik tot my belangstelling gelei, hoewel my verhaal op die aarde afspeel eerder as in die ruimtes.

AF: Hoe belangrik dink jy is die skurke in jou verhaal?
AvdW: Nie vreeslik belangrik nie. In die huidige verhaal is daar slegs die voornemende moordenaars in die proloog, wat tot die val van die hoofkarakter lei, en dan die bomplanter aan die einde, maar dit gaan maar weer meer oor hoe sy optrede die lewensloop van die hoofkarakters beïnvloed. In die opvolgverhaal, wat ek reeds geskryf het, is daar ’n baie lelike psigopatiese kindermoordenaar, maar dit gaan maar weereens meer oor hoe sy optrede die hoofkarakter beïnvloed. Ek dink my maar moeilik in die psige van ’n skurk in. Wat my meer interesseer, is hoe mense die swaarkry en probleme van die lewe, ook dié wat deur skurke veroorsaak word, hanteer.

AF: Hoe voel dit om ’n gepubliseerde skrywer te wees?
AvdW: My boek moet eintlik nog gepubliseer word. Dan moet ’n mens wag op kritiek en reaksie. Dit kan baie bemoedigend of ontmoedigend wees. As ek dit sou regkry om ’n volgende boek te publiseer, sal dit baie vir my beteken. Dis asof ’n mens op dié manier iets van jouself aan die wêreld kan nalaat. Weens my agtergrond is ek nie baie sosiaal nie en ek probeer nie myself aan die wêreld verkoop op Facebook nie. Dit sal egter baie beteken as mense my boek lees.

AF: Is jy die soort skrywer wat presies weet wat jy in elke hoofstuk gaan skryf of laat jy die storie jou lei?
AvdW: Ek het gewoonlik ’n oorkoepelende idee en weet min of meer hoe die storie gaan eindig, maar dan sien ek verskillende tonele in my verbeelding en werk hulle aanmekaar soos ’n laslappiekombers. Ek weet waarheen ek uiteindelik mik. In die opvolgverhaal Stellamarie het ek geskryf tot by hoofstuk 4 en toe die laaste hoofstuk geskryf voordat ek teruggegaan het om die res in te vul. My dogter se kommentaar: “Ma, ’n mens begin by die begin en eindig by die einde.” Dit werk nie altyd so vir my nie. As ek die laaste hoofstuk sien, moet ek dit neerskryf voordat belangrike aspekte my dalk ontglip. Ek laat my wel in ’n sekere sin deur die storie en veral deur die karakters lei.

AF: Wat is jou gunsteling aanhaling, deur wie en waarom?
AvdW: Die woorde van Shakespeare se Hamlet: There are more things in heaven and earth, Horatio, than are dreamt of in your philosophy. Daar is tog so baie mense in ons moderne tyd, en veral onder ateïste, wat presies weet wat moontlik is en wat nie, en wat net glo wat die so beperkte wetenskap verkondig. Vir my werk dit nie so nie. Hoe kan ’n mens na hierdie grootse skepping kyk en werklik glo dit het maar sommer toevallig so ontwikkel? Evolusie? Ja. Evolusie sonder ’n intelligente almagtige Skepper wat dit stuur? Nee!

AF: Kan jy ons ’n bietjie meer vertel van jou hoofkarakter?
AvdW: Ten spyte van die kommentaar op my eerste weergawe van die verhaal, naamlik dat die hoofkarakter te maklik huil, dink ek hy is ’n heroïese karakter, wat ’n verskriklike ramp met moed en selfs humor te bowe kom. (Ek hou daarvan om hartseer en humor te meng.) As ’n mens jou werklik probeer indink in die situasie van iemand wat uit ’n volmaakte wêreld kom en dan skielik met die beste bedoelings in sonde val; hom voëlvry, beseer en alleen op ’n planeet vol gruwels bevind; wat alles verloor: sy onsterflikheid (in ’n uiters pynlike proses), sy mense sy wêreld, en boonop met ’n verskriklike skuldgevoel worstel, maar nogtans moedig voortgaan en meer bekommerd is oor die lot van ander mense as sy eie, dan kan jy nie anders as hom as heroïes te beskou nie – al huil hy soms. Ek hou van sulke karakters, met ’n sagte hart en ’n fyn gees, wat maklik seerkry, maar tog voortveg en aangaan. Dit was dieselfde met die skilderkarakter in die twee ander stories wat ek in die tagtigs geskryf het, maar wat ook nie gepubliseer is nie.

AF: Wie sou jy sê is jou grootste ondersteuner of kritikus?
AvdW: My dogter, Tina, van wie baie eienskappe in die karakter, Hermien weerspieël word, hoewel Tina beslis nie ’n sproetgesiggie het nie.