Afrifiksie het onlangs (2012-11-12) ‘n onderhoud gevoer met dr. Charles F. Stofberg die skrywer van Brug na Eden (Lapa Uitgewers) oor sy nuwe wetenskapfiksieverhaal “Een Biljoen Jaar n.C.” wat eersdaags deur Thompson Boekdrukkery uitgegee gaan word, en ons deel dit graag met u.
AF: Hoe het jy aan jou hoofkarakters gekom?
C.F.S: Die HK’s het saam met die storie ontwikkel. In WF is dit nogal maklik om ‘n karakter te skep, want die kan ‘enigiets’ wees – moet net geloofwaardig wees.
AF: Wat het jou inspireer om Een Biljoen Jaar n.C. te skryf?
C.F.S: Arthur C Clarke het beweer hy het aan alles reeds gedink, en niemand kan iets in WF byvoeg waaraan hy nog nie gedink het nie. Toe reken ek saam met dié stelling, (en ek het iets waaraan hy nog nie gedink het nie) wat sal gebeur as ons mense se voetspore saam met dié van Dinosoursse vind en toe die hele storie i.p.v. die verlede na die toekoms geprojekteer.
AF: Wat is jou doelwit(te) as ‘n wetenskapfiksieskrywer?
C.F.S: Dis ‘n genre wat onuitputlik is en daar sal altyd iets nuuts wees om oor te skryf – soos ek Clarke verkeerd bewys het.
AF: Wat is die moeilikste deel van skryf vir jou?
C.F.S: Die moeilikste is om aan ‘n oorspronklike tema te dink. Skryf self gaan baie maklik.
AF: Hoe het jou opvoeding jou skryfwerk beïnvloed?
C.F.S: Ek lees van kleintyd af al byna sonder ophou. En dikwels gedink as ek ‘n swak boek gelees het, ek kan veel beter as dit doen.
AF: Waaraan is jou belangstelling in wetenskapfiksie te danke?
C.F.S: Regtig baie WF boeke maar gelees. Die genre wat geen grense het nie.
AF: Is daar enige verborge boodskappe in jou stories?
C.F.S: Dat ons nie die aarde moet vernietig nie – dis al tuiste tans en ek steek dalk ‘n bietjie draak met homoseksuele mense hoewel dit nie ‘kosher’ is om te doen nie. Daarby wil ek die ongelooflike liefde/aantrekking wat tussen mans en vroue kan wees, beliggaam. En laastens; ja, die aarde gaan ons woning nog vir baie miljoene jare wees – dit gaan nie soos met die Maja-kalender sommer op ‘n dag stop nie.
AF: Wie sou jy sê is jou grootste ondersteuner of kritikus?
C.F.S: Dalk die publiek – nog nie veel hieroor gedink nie. Dog in die WF omgewing my broer.
AF: Kan ons verwag om meer van jou te lees in die toekoms?
C.F.S: Ja, dog ek werk tans aan ‘n historiese roman (HR).
AF: Watter raad het jy vir ander aspirant-Afrikaanse wetenskapfiksieskrywers?
C.F.S: Ons kan in Afrikaans net so goed en oorspronklik wees.
AF: Watter navorsing het jy onderneem om jou karakters en wêrelde te skep?
C.F.S: In die geval, ‘n bietjie gewonder hoe die aarde oor soveel jare sal lyk. En as iets van vooraf moet ontwikkel sal dit weer so wees soos ons dit ken? – dus nie regtige navorsing nie, maar baie spekulasie. Met ‘Brug na Eden’ moes ek heelwat meer navorsing doen- soveel so dat ek ‘n bronverwysing moes invoeg.
AF: As jy die keuse gegee word, verkies jy om die boek te lees of om die film te kyk?
C.F.S: ‘n Boek vertel net soveel meer, dog in ‘n film kan visuele effekte geskep word wat net eenvoudig nie op papier so kan wees nie.
AF: Wat dink jy van Afrikaans se reputasie en teenwoordigheid in die WF industrie?
C.F.S: Dis nog min, maar ek dink die belangsteling is groot dog ek sal ook dink die persone sal ‘onnodiglik’ dit in Engels gaan skryf as hulle kan en dis jammer.
AF: Wat was jou eerste wetenskapfiksieverhaal wat jy ooit gepubliseer het?
C.F.S: Brug na Eden
AF: Is daar ‘n opvolg in die nabye toekoms op Een Biljoen Jaar n.C. of is jy tans besig met ‘n nuwe boek?
C.F.S: Nee, EBNC is ‘n eenmalige werk en soos ek sê, tans besig met ‘n HR.
AF: Is jy die soort skrywer wat presies weet wat jy in elke hoofstuk gaan skryf of laat jy die storie jou lei?
C.F.S: Jy kan breedweg beplan, maar die storie lei jou al te dikwels – en op vreemde paaie wat jy nie kan voorsien nie.
AF: As jy net een boek kon kies om na ‘n verlate eiland, planeet of woud te neem, wat sou dit wees en hoekom?
C.F.S: Daar kan in my lewe nooit net een boek wees nie – ook nie een fliek of een liedjie nie, maar ek het wel ‘n top 100 vir al drie.
AF: Dink jy ons sal meer Afrikaanse wetenskapfiksie skrywers in die nabye toekoms sien? Waarom of waarom nie?
C.F.S: Nie baie op hoogte wat dit betref nie. Mens sien min resensies in die koerante hieroor. Tans is die fokus nogal op HR en misdaad.
AF: Wat dink jy van die stand van die Afrikaanse wetenskapfiksie genre en sou jy sê dat dit enigsins ‘n toekoms het?
C.F.S: Daar kan seker meer geskryf word, hoewel ek dink Uitgewers is nie gewillig om dit te publiseer nie. Maar waarom nie daaroor skryf nie – as die boek goed is sal dit uitgegee word.
AF: Sou jy dalk in die toekoms dit oorweeg om saam met ‘n ander Afrikaanse wetenskapfiksie skrywer te werk?
C.F.S: Nie binne die afsienbare toekoms nie, want ek’s baie besig met die HR-projek.
AF: Wie is jou gunsteling skrywer en hoekom?
C.F.S: Nie spesifiek nie. Hoewel die groot name se boeke soms teleurstel en ek dikwels minder bekendes se werk lees en dit baie geniet.
AF: Hoe hanteer jy verwerpingsbriewe van uitgewers?
C.F.S: Voel ‘n paar dae maar afgehaal, maar geleer dit is net inspirasie om weer aan te gaan.
AF: Is daar enige nuwe Afrikaanse wetenskapfiksieskrywers wat jou belangstelling geniet?
C.F.S: Ken nie tans iemand nie.
AF: Wat is ‘n paar van die beste “gereedskapstukke” wat vandag vir ‘n skrywer beskikbaar is om te begin skryf?
C.F.S: Google- ongetwyfeld.
AF: As jy jou lesers kan laat met bietjie wysheid, wat sal dit wees?
C.F.S: Hou aan lees, hou aan skryf – veral in Afrikaans. Die taal is ongelooflik buigbaar – ook in die ruimte en die toekoms.