‘n Onderhoud gevoer met Johan V. van Wyk

Afrifiksie het op 6 Maart 2015 met Johan V. van Wyk gaan gesels oor sy nuwe Afrikaanse wetenskapfiksie-boek vir die jongspan gititeld: Ricky Erasmus en die inter-dimensionele rolstoel wat deur Thompson Boekdrukkery in 2015 uitgegee gaan word. Afrifiksie deel dit graag met u.

AF: Hoe lank skryf jy al?1. J.V. Van Wyk - Ricky Erasmus en die inter-dimensionele rolstoel
J.V.vW: Ek is maar nog redelik nuut met die skryfkuns. Vir jare skryf ek al ʼn hoofstuk hier en ʼn hoofstuk daar, maar ek het in 2014 my eerste voltooide kortverhale in Afrifiksie se Wetenskapfiksie Skryfkompetisie ingehandig.

AF: Hoe het jy aan jou karakters gekom?
J.V.vW: Ek vertel al baie jare vir my seun, Christian, slaaptyd stories wat ek opmaak met karakters wat hom verteenwoordig. Ek het besluit dat ek ʼn verhaal wil skryf wat hom op ʼn fantastiese avontuur sal neem.

AF: Hoe het jy op die titel van jou boek gekom?
J.V.vW: Dit was tyd om ʼn nuwe tipe inter-dimensionele masjien te ontwikkel – my keuses was tussen ʼn mikrogolfoond, skaatsplank, wasmasjien of ʼn rolstoel. Ek het besluit om die laasgenoemde te gebruik.

AF: Het jy ʼn spesifieke skryfstyl ontwikkel?
J.V.vW: Weet nie of dit ʼn spesifieke styl is nie, maar ek skryf graag wat ek op die televisie sal wil sien.

AF: Het jy al aan ʼn ander boek begin skryf?
J.V.vW: Daar lê seker ʼn dosyn onvoltooide manuskripte vêr weggebêre in ʼn lêer op my rekenaar. Dit wissel van aksie tot liefdesverhale. Miskien moet ek weer bietjie na dit gaan kyk.

AF: Hoe dikwels skryf jy en hoeveel ure op ʼn slag/per dag?
J.V.vW: Lewe vandag is so besig, en dit gaan ongelukkig so bly totdat ek eendag ʼn voltydse skrywer kan wees. Ek skryf ʼn uur voor werk, en miskien ʼn uur na werk – dit is omtrent al. Dit is seker die rede waarom dit so lank vir my vat om ʼn storie te skryf, maar die positiewe kant daaraan is dat ek deur die dag mooi kan nadink oor wat ek die oggend getik het.

AF: Waaraan is jou belangstelling in Wetenskapfiksie te danke?
J.V.vW: Vir jare lees ek al wetenskapfiksie, maar ek het nooit besef dit is wetenskapfiksie nie. Michael Crighton se boeke, Eoin Colfer. Ek het altyd gedink ʼn wetenskapfiksie boek is net metaal en “pop-rivets”, maar was baie verras om uit te vind dat ek nog al die jare ʼn “sci-fi geek” is.

AF: Kan jy ons bietjie meer vertel van jou hoofkarakter?
J.V.vW: Ricky Erasmus – nie ʼn bang haar op sy kop nie. Alhoewel die kleinste Graad 5 outjie in sy groep, vat hy die grootste boelies in die skool aan wanneer hulle iets verkeerd doen. Ook is hy die een wat voorstel dat hulle Professor Winterboer moet gaan red uit dimensie 9-7-komma-3-3.

AF: Wie sou jy sê is jou grootste ondersteuner of kritikus?
J.V.vW: Seker my vrou, Veronique. Sy sal sommer vinnig vir my vertel dat hierdie karakter te eendimensioneel is, en dat daardie ding teen Ricky se karakter is. Ek is so dankbaar vir al haar insette.

AF: Wat is jou gunsteling aanhaling, deur wie en waarom?
J.V.vW: Martin Luther – “Jy is nie net verantwoordelik vir dit wat jy sê nie, maar ook vir dit wat jy nie sê nie.”

AF: Hoe balanseer jy jou skryfwerk met werk, huis en familie?
J.V.vW: Elke huis het sy kruis, en ʼn mens moet hard werk aan jou drome. Ek probeer so min moontlik ontwrigting vir my gesin veroorsaak (my vrou lag baie hard oor die kommentaar), maar soms is dit maar moeilik om ʼn aksie belaaide hoofstuk te tik met Barney die Dinosourus wat in die agtergrond speel.

AF: Ken jy enige ander Afrikaanse WF skrywers persoonlik?
J.V.vW: Ek vra maar altyd raad van die mense wat weet hoe om dit te doen, ek gesels gereeld met die volgende mense via vonkposse:
– Eben Van Renen;
– Koos Kombuis;
– Fanie Viljoen;

– Francois Bloemhof.

AF: Met watter karakters het jy gestoei om hulle net reg te kry?
J.V.vW: Ricky se vriende, Amoryn en Theunis, het vir my die grootste uitdaging gebied. Hulle moes elkeen hulle eie unieke persoonlikheid hê en hulle moes nie net soos poppe daar staan nie. Theunis en Amoryn speel ʼn groot rol in die aksie van die storie.

AF: Watter proses het jy gevolg om jou boek gepubliseer te kry?
J.V.vW: Ek dink ek is baie gelukkig. Thompson Boekdrukkery het my genader en gevra, aangesien ek twee afdelings in die skryfkompetisie gewen het of ek nie dalk belang sal stel om ʼn wetenskapfiksie boek te skryf nie. Ek het hom verduidelik dat ek glo dat die toekoms van Wetenskapfiksie by ons kinders en jeug lê. Hy het toe die kans gewaag en my die geleentheid gegee om so ʼn verhaal te skryf.

AF: Is jy ʼn aanhanger van Afrikaanse WF en of F kortverhale? Hoekom of hoekom nie?
J.V.vW: Kortverhale is beslis ʼn gunsteling van my – ek voel dit is die broeiplek van goeie skrywers. Met hierdie styl kan jy jou idees toets en kyk of dit op wit en swart sal werk.

AF: Watter navorsing het jy onderneem om jou karakters en wêrelde te skep?
J.V.vW: Om my karakters te skep het ek al my jare se ondervinding in tekenprente en 3D-flieks kyk gebruik om lekker opwindende persoonlikhede tot stand te bring.
Die wêreld was bietjie moeiliker, ek moes ondersoek instel oor die inter-dimensionele hipotese en ook as dit suksesvol sou wees, watter tipe kreature aan ‘daai-kant’ sou woon.

AF: Wat of wie het jou geïnspireer om Ricky Erasmus en die inter-dimensionele rolstoel te skryf?
J.V.vW: Christian, my tienjarige seun is beslis die inspirasie agter die karakter. Ricky, was ʼn goeie vriend van my in skool, en ek wou hom ook vasvang op papier.

AF: As jy een van jou boek se karakters kon wees, wie sou dit wees en hoekom?
J.V.vW: Professor Winterboer, ek dink dit moet fantasties wees om al hierdie merkwaardige uitvindsels te kan maak.

AF: Watter uitdagings, dink jy het Christen skrywers in vandag se uitgewer wêreld?
J.V.vW: Dit is baie maklik om meegevoer te raak met al die wêreld se dinge. Ek glo dat as ʼn Christen skrywer, die onderliggende tema altyd ons Christelike waardes sal weerspieël. Soos in Ricky se geval – waarheid, opregtheid en deursetting.

AF: Wat dink jy van Afrikaans se reputasie en teenwoordigheid in die WF en F industrie?
J.V.vW: Wetenskapfiksie is noodsaaklik vir Afrikaans – Ons Afrikaanse lesers moet besef dat daar meer is in Afrikaans as net Deon Meyer.

AF: Wat wil jy bereik met Ricky Erasmus en die inter-dimensionele rolstoel?
J.V.vW: Ek wil hê dat jong lesers ʼn liefde vir hierdie genre en vir Afrikaans moet ontwikkel. Daar is soveel Engelse boeke wat ons jeug se aandag trek, en as ons Afrikaanse skrywers nie skouer-aan-wiel sit nie, gaan hulle almal eerder na die Engelse afdeling in die boekwinkel of biblioteek beweeg.

AF: Is daar ʼn opvolg in die nabye toekoms op Ricky Erasmus en die inter-dimensionele rolstoel of is jy besig met ʼn heel nuwe boek?
J.V.vW: Ricky Erasmus is ʼn reeks en die volgende een waaraan ek werk is getiteld – Ricky Erasmus en die Toksak-tydmasjien.

AF: Verkies jy ʼn gelukkige einde of ʼn onverwagse draai aan die einde van ʼn WF of F verhaal?
J.V.vW: ʼn Mens hou maar altyd van ʼn gelukkige einde, maar ek het al ʼn fliek gekyk met ʼn slegte einde, en daai verhaal bly nog al die jare by my – 12 Monkeys.

AF: Is jy ʼn biblioteek-besoeker of ʼn boek versamelaar (koop jy boeke of neem jy eerder boeke uit)?
J.V.vW: Ja, beslis. Ek en my gesin is baie in die biblioteek… ek moet sê ek dra ook baie by tot die staf se bonusse met al die boetes op my naam.
Ek koop graag boeke, wil net tyd kry om hulle almal te lees.

AF: Het jy al enige kortverhale geskryf? Kan jy ʼn paar van hulle vir ons noem.
J.V.vW: Ja op Afrifiksie is daar so paar:
Pad na Pleodora;

Soektog na die laaste Sihuffs;
Die Avonture van Dirk Deyzel en Zet: Die Juffusis debakel;
Die Astrale kryger;
Ruimte-punks.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui