Afrifiksie het die voorreg gehad om op die 26ste Oktober 2015 met die nuwe skrywer Louise Viljoen oor haar eerste Afrikaanse wetenskapfiksieverhaal “Die Roofdier” wat deur Thompson Boekdrukkery uitgegee gaan word. Afrifiksie deel dit graag met u.
AF: Wie is jou gunsteling skrywer?
LV: Ek het nie ’n gunsteling skrywer of gunsteling genre nie. Ek lees heeltemal te wyd om myself tot een skrywer of genre te beperk.
AF: Verkies jy om fiksie of niefiksie te lees?
LV: Ek lees graag beide. My werk vereis dat ek weekliks groot hoeveelhede niefiksie kafdraf, want ek moet baie navorsing doen om die artikels te skryf wat ek aan verskeie webtuistes lewer. Verder proeflees en redigeer ek fiksie vir ‘n uitgewer en ook in my private hoedanigheid, maar ek beskou dit as ‘werk’. Vir ontspanning lees ek graag tydskrifte en swerf in die kuberruim rond.
AF: Waar het jou belangstelling in wetenskapfiksie vandaan gekom?
LV: Ek het Leon Rousseau se Fritz Deelman en die Skepe van Mars as kind gelees en dit het my verbeelding op loop laat gaan. My oorlede Oupa het ook sy belangstelling in die sterre en planete met my gedeel en ek het menigmaal as klein dogtertjie saans langs hom op die tuinbankie gesit en deur ‘n verkyker na die kraters op die maan se oppervlak gekyk en gedroom oor die onmoontlike.
Ek het ook al ’n paar Vreemde Vlieënde Voorwerpe gesien, maar dis ’n storie vir ’n ander keer.
AF: Waar het jou belangstelling in fantasie vandaan gekom?
LV: Ek was as kind mal oor sprokies en het veral die sprokies van Grimm verslind. Ek glo mens moenie jou verbeelding hokslaan nie. Menige nasies se volksoorleweringe (folklore) is deurspek met fantasiekarakters en -gebeure. Die mens is geseën met ‘n ryke verbeelding.
Dis ’n wonderlike voorreg om jou verbeelding vrye teuels te gee en deur die grense van normaliteit te breek en jou drome in kleur en klank voor jou geestesoog te sien afspeel… én dan kan jy nog jou storielyn en karakters se doen en late na willekeur verander! Watter wonderlike ‘tegnologie’ dra die mens nie in sy brein rond nie!
AF: Wat is die grootste les wat jy al geleer het wanneer dit by die skryf van wetenskapfiksie en fantasie kom?
LV: Jou lesers is mense. Jou storie moet ‘n sterk menslike element bevat. Lesers moet iets van hulleself in jou karakters herken – slegs dán kan wetenskapfiksie werklik geslaagd weergegee word. Raak ’n leser se emosies aan en hy sal weer van jou werk wil lees.
AF: Dink jy daar is ‘n toekoms vir wetenskapfiksie en fantasie in Afrikaans?
LV: Ek dink beide genres huiwer op die rand van baie groot dinge. Ek dink enige skrywer wat sy sout werd is, behoort hom te posisioneer om voordeel te trek uit die mark wat, volgens my, net groter gaan word.
Ons kort oorspronklike en vreesloos-verbeeldingryke wetenskapfiksie- en fantasieverhale wat in Afrikaans geskryf word vir die Afrikaanse leser.
Ons kort stories wat die leser moeiteloos buite sy ervaringsveld en buite sy begrip van die vervelige en voorspelbare hier en nou sal neem.
Ons kort stories wat die leser op mallemeule reise kan neem na ander wêrelde en hom kan voorstel aan diegene wat nie soos hy is nie, maar wat tog gekonfronteer word, soos hy, met universele vraagstukke en probleme.
Ons kort stories wat oop-oë droom en ‘sê nou maar’ weer aanvaarbaar sal maak.
Wetenskapfiksie en fantasie laat die skrywer toe om buite die raamwerk van vooropgestelde idees te funksioneer. Dit laat die skrywer toe om te rebelleer teen die enigste en einste realme wat aan hom voorgehou word as die werklike en die aanvaarbare. Dit verskuif grense. Verder moedig dit die skrywer én leser aan om ontdekkers te wees en die woord ‘onmoontlik’ uit hul woordeskat te haal.
Lank leef Afrikaanse wetenskapfiksie en fantasie!