‘n Onderhoud gevoer met Mike Leach

Afrifiksie het die voorreg gehad om op die 5de Januarie 2016 met die skrywer Mike Leach oor sy eerste Afrikaanse wetenskapfiksieverhaal “Axion” te gesels. Afrifiksie deel dit graag met u.

2016 - Foto - Mike Leach - OnderhoudAF: Hoe lank skryf jy al?
ML: Dit is my eerse (en heelwaarskynlik laaste) poging. Ek is nie werklik ʼn skrywer nie. Ek het byna 20 jaar aan hierdie verhaal gewerskaf en verander. Intussen het ek verskeie uitgewers genader maar hulle (as uitgewers) hou nie van Wetenskap Fiksie verhale nie “want daar is nie ʼn mark daarvoor nie”

AF: Waar kom jy oorspronklik vandaan?
ML: Ek is ʼn Pietersburger, skoolgegaan in Tom Naude Tegniese Hoërskool en gematrikuleer in 1962.

AF: Waarom het jy Axion geskryf?
ML: Dit het naastenby 20 jaar gelede gebeur. Ons was op nagskof in die kragstasie en dit was seker so een uur die oggend. Ons het gesit en koffie drink. Ons het begin gesels oor watter interesante video’s iemand al na gekyk het en oor watter nuwe soort video’s op die rakke was.

Ek noem toe van ʼn storie wat ek self graag sou wou sien of lees wat oor tydsgrense kan kom en gaan en die kollega’s vra toe om ʼn bietjie oor so ʼn storie uit te brei. Daar wat toe ʼn baie goeie storie van Arnold Swartzenegger in die “Terminator” reeks gewees wat ek baie geniet het.

Ek gaan aan met die vertelling van ʼn heel gewone person wat ʼn nuwe teorie die lig ingebring het, waar die tydsgrens van ligspoed absolute veranderinge veroorsaak. Die manne wou weet wat die naam van die video was wat hulle het die trant van die storie regtig geniet.

Dis toe ek noem dat dit eintlik die sooort video wat ek nog graag self sou wou sien en die kollegas merk toe ook sommer op dat dit regtig ʼn baie interesante storie sou kon wees, selfs in boekvorm.

AF: Wat is jou gunsteling kleur en waarom?
ML: My gunsteling basiese hoofsaaklike kleure is rooi, bruin, groen, Geel, oranje met die verskillende ligte / donker skakerings.

AF: Het jy al ooit iemand gehad as ’n mentor?
ML: Ek het van my “noue” kollegas se opinies gevra wat en hoe hulle van die verhaal hou en daar volgens ander lesers se kies en keuring gebruik.

AF: Hoe lank het jy aan Axion se titel gewerk?
ML: Ek het van die begin af die boektitel gekies want dit is absoluut verwant aan die verhaal.

AF: Is daar enige verborge boodskappe in Axion?
ML: Die mens kan ʼn wonderlike ding wees met sy ingeboude geaardhede. Dit moet net gebruik word en almal mens dier en plant sal gelukkig wees.

AF: Hoeveel van Axion sou jy sê is realisties of moontlik?
ML: Die boektitel beskryf die doel en resultaat van gebeure in die verhaal om ʼn lewesverloop te beskou en beproef, en dan dit te verander na die beste sake verloop.

AF: Watter proses het jy gevolg om jou boek gepubliseer te kry?
ML: Ek het een aand op die “web” gegaan om te sien of daar dalk nuwe uitgewers is en toe kom ek op KONTAK@thompsonboeke.com af.

AF: As jy die keuse gegee word, verkies jy om die boek te lees of om die film te kyk?
ML: Ek wil dink dat om ʼn boek te lees is volgens die leser self se eie verbeelding. Daar is gevalle waar stories na “films” toe verander is, en toe nie die verwagtinge bereik het nie. Maar met inligting in die boek waarmee die leser nie bekend is nie, kan dit dalk hom/haar teleurstel. Maar as dit met deesdae se nuwe t.v. tegnologie en met die regte regie, kan dit ʼn fantastiese DVS genimeerde storie wees. Soos Lion King en andere met kwaliteit gedoen.

AF: Is daar ’n opvolg in die nabye toekoms op [boek se titel] of is jy besig met ’n nuwe boek?
ML: Ek betwyfel dit vir ʼn opvolg. Hierdie huidige verhaal het 20 jaar geneem!

AF: Is jy die soort skrywer wat presies weet wat jy in elke hoofstuk gaan skryf of laat jy die storie jou lei?
ML: Die storie het my werkklik gelei. ʼn Hele aantal kere het ek by ʼn punt gekom en gewonder wat sou nou moet kon plaasvind. Die volgende word is soos ʼn deur wat oopgegaan en die storie ontwikkel byna vanself.

AF: Kies jy ’n WF/F boek deur na die omslag te kyk of oordeel jy die boek deur na die beskrywing agterop te lees?
ML: Ja, ek kyk self na die buiteblad illustrasies. Persone wat in W.F. belangstel sal ʼn idee kry van wat “binne aangaan”. In hierdie geval van Axion met die grepe uit die verhaal, die “Einstein Vergelykings” en die parabool grafiek wat die rugsteun van die verhaal is, gaan mense sekerlik nuuskierig wees. Die illusteerder “Flip” met sy illustrasies sketse op die buite blad gee dadelik van watter “storie-aard” hulle kan verwag.

AF: As jy jou lesers kan laat met bietjie wysheid, wat sal dit wees?
ML: Die mens is ʼn wonderlike ding…, as hy wil.