‘n Onderhoud gevoer met Quintin Ellis

Afrifiksie het die voorreg gehad om op die 24ste Januarie 2013 met die Afrikaanse fantasie skrywer Quintin Ellis te gesels oor sy nuwe boek getiteld: Die Oplossing: Valhalla. Afrifiksie deel dit graag met u.

AF: Hoe lank skryf jy al?
QE: Ek het my eerste kortverhaal voltooi toe ek twaalf jaar oud was . Daarna het ek begin gedigte skryf. In my dertigs het ek weer begin skryf, maar nie een boek was goed genoeg om gepubliseer te word nie.

AF: Wie is jou uitgewer?
QE: Thompson Boekdrukkery. Iemand het op Wysboek gesien ek mor oor ek nie my Fantasie verhaal gepubliseer kon kry nie, en het my na hulle verwys.

AF: Wat is jou gunsteling kos?
QE: Ek is baie lief vir kook en het ‘n paar resepte wat vriende aandring op. Die een is ‘n Libiese lam en bone bredie en my aartappelslaai. Ek het ook ‘n interessante paar pasta geregte.

AF: Wat doen jy om te ontspan?
QE: Ek stap baie, en geniet my pyp. Verder hou ek van varswater hengel maar kry nie regtig tyd daarvoor nie. Ek luister musiek en versamel klippe. Ek probeer ook om wanneer ek by die see is ‘n paar golwe te ry.

AF: Hoe kom jy aan jou karakters?
QE: Hulle loop oral in die strate. Marjoris is geskoei op ‘n bosslaper wat ek in Robertson raakgeloop het. Ek is baie lief vir sosiologie en bestudeer mense, probeer hulle gedrag ontleed en vorm dan ‘n karakter rondom my bevindings.

AF: Waarvandaan kry jy jou idees?
QE: My idees is baie geskoei op persoonlike ervaringe en emosies. Ek sal kwaad voel en dan sit en dink hoe sal my karakter sy woede betoon en wat in sy wêreld dieselfde emosie sou ontlok.

AF: Waar kom jy oorspronklik vandaan?
QE: Ek is ‘n gebore in Springs en het my skoolloopbaan daar voltooi. My oorlede Pa het vir die Suid Afrikaanse Spoordienste gewerk wat beteken het ons het baie rondgetrek.

AF: Waarom het jy Die Oplossing: Vlahalla geskryf?
QE: Die Oplossing: Valhalla het begin in ‘n  baie donker tyd in my lewe. Ek het ‘n senuwee ineenstorting gehad en het op aandrang van ‘n sielkundige begin gedagtes neerskryf. Hy het my ‘n boek gegee om te lees oor hoe om ‘n stryd teen jouself te voer. Ek het begin dink oor die Die Kryger en eers net los gedagtes geskribbel en een more het Die Oplossing begin vorm aanneem.

AF: Hoe bevorder of bemark jy jou boek?
QE: Ek gebruik sosiale netwerke en vriende. Ek verwys ook waar ek kan mense na Afriksie se webwerf.

AF: Hoe het jy op die titel Die Oplossing: Valhalla gekom?
QE: Vreemd genoeg was dit geïnspireer deur The Hitchikers Guide to the Galaxy.  In die boek word die vraag gevra: “Wat is die betekenis van ons lewens? Die antwoord wat hulle kry is 42. Ek  het besef dat die lewe nie maklike oplossings bied nie. Die Vikings het my altyd aangegryp weens hulle strydlus. Hulle krygskreet was eers die titel van die boek maar ek het besef dit mag verwarrend wees.

AF: Wie het die omslag van jou boek ontwerp?
QE: Braam Coetsee ‘n bekende skilder en vriend wat hier op Robertson woonagtig is.

AF: Wat is die moeilikste deel van skryf vir jou?
QE: Ek voel soms skuldig omdat ek vriende het wat my in staat stel om voltyds te skryf. Baie min Afrikaanse het die geleentheid om hulle passie uit te leef. Baie mense dink jy gaan sit en skryf. Die moeilikste deel is om genoemsame spasie te kry om al die materiaal waarmee ek werk op neer te sit sonder dat my katte daarop nes maak.

AF: Watter boek(e) lê nou tans op jou bedkassie?
QE: My dagboek en notaboek. World Of Myths. Gyspy Folk Tales. Die HAT. ‘n Tweetalige Woordeboek. Lord of the Rings. The Hobbit. Art of War. Narnia. The Iliad deur Homer. Steven King se Dark Tower series. Ek kry egter nie tyd om baie te lees nie.

AF: Wat is jou gunsteling deel van die skryfproses?
QE: Die karakter ontwikkeling. Elke karakter moet sy eie persoonlikheid hê en nie mekaar naboots of dupliseer nie.

AF: Hoe dikwels skryf jy en hoeveel ure op ‘n slag?
QE: Ek kan soms tot twintig ure ‘n dag skryf.

AF: Vertel ons bietjie meer oor jou nuutste projekte?
QE: Ek is besig met Die Oplossing: Die Pelgrim, asook om ‘n skryfskool program te ontwikkel. Verder beplan ek om The Pilgrim’s Progress van John Bunyan te vertaal in Afrikaans. In my agterkop is ek ook besig om Die Oplossing: Die Seun en Die Oplossing: Die Dogter te ontwikkel.

AF: Is daar enige verborge boodskappe in jou stories?
QE: Alle fantasie het volgens my dieper betekenis. Ek verwys veral na die stryd met die innerlike stryd en die soeke na selfaanvaarding.

AF: Hoe voel dit om ‘n gepubliseerde skrywer te wees?
QE: Dit voel onwerklik, ek het geweet Die Oplossing is ‘n goeie verhaal ten spyte van vele mense wat my probeer ontmoedig het om ‘n skrywer te word.

AF: Kan jy ons bietjie meer vertel van jou hoofkarakter in Die Oplossing: Valhalla?
QE: Die Kryger is nie ‘n held nie. Hy het wel baie heldhaftige avonture maar dit word oordonder deur sy egosentriese houding en hardkoppigheid.  Hy sukkel om in te pas by die samelewing en om reëls te volg. Ten spyte van sy tekortkominge word hy gekies om ‘n leër te lei. Hy is kort van draad en voortvarend en dink nie altyd aan die gevolge van sy dade nie. Wanneer hy foute maak is hy blatant eerlik daaroor maar dit beteken nie dat hy enigsins ‘n poging aanwend om te verbeter nie.

AF: Wat is jou gunsteling aanhaling, deur wie en waarom?
QE: “But here is one evil we must fear most, and that is, the indifference of good men.” – Boondock Saints. Die feit dat ongeregtigheid in die wêreld gebeur kan nie weg geredeneer word nie. Persoonlik voel ek in plaas van om daaroor te kla sal ek eerder iets daaromtrent doen.

AF: Hoe het jy jou Christelike geloof ‘n invloed op jou skryfwerk?
QE: Ek vermei enige onnodige geweld. Nêrens in my boek sal enige verwysing na geslagsgemeenskap gevind word nie. Daar is ook geen misbruik van God se Naam of karakter nie.  Verder gebruik ek geen uitdruklike vloekwoorde nie. My talent kom van God af en moet Sy Naam verheerlik.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui