NAGBESOEKERS – Bettie Burger

NAGBESOEKERS – 2016 © Bettie Burger

VOLWASSE FANTASIE (2 489 WOORDE)

 

Oom Japie is ʼn baie bekommerde man. Hier is iets bitter eienaardig aan die gang: hy is óf besig om heeltemal gek te word óf dit toor hier op sy plaas. Hy het sélf die sluis oopgemaak toe sy leibeurt begin het en het dit sélf weer toegemaak toe sy toegelate tyd verstreke was – al het die water toe reeds lankal net onverklaarbaar verdwyn. Hy sal egter baie graag wil weet waar die water heen is, want dit is definitief nie by die lusernlande in nie. Hy is heeltemal dronkgeslaan en skud sy kop onwillekeurig heen-en-weer terwyl hy loop en rondsoek om te kyk of hy nie êrens ʼn teken kan kry wat van die water geword het nie.

Oom Japie vat altyd self die laaste sloot tydens sy leibeurt, want die sloot kom eers laat in die aand op die afkeerskedule en die werksmense moet die volgende dag alweer vroegoggend inval met hulle gewone take. Eintlik geniet hy dit – die nagstilte hier in die Karoo is vir hom lekker na die dag se normale plaasgeluide en die werksmense se geselsery en laggery die hele dag lank. Hy weet tot vandag toe nog nie waar hulle al hulle gesels vandaan kry nie: wat kon dan van gisteraand af tot vanoggend toe gebeur dat hulle die hele dag lank daaroor kan gesels?

Hier kan hy rustig onder die helder sterrehemel bo hom sit. So deur die jare het hy homself al lekker gemaklik hier langs die afkeersluis ingerig, wat stiptelik op die tye wat deur die waterfiskaal verskaf word, moet oop- en toegemaak word. Party nagte is dit pikdonker, maar as die maan vol is, kan hy amper alles in die omtrek sien. Hy sit maar net daar en wag vir die tyd om verby te gaan: die enigste geluid is die geklots van die water soos dit in sy sementvoor afloop, by die kleiner sluise vertak en dan die lusernlande instroom. Hy dink aan baie dinge terwyl hy daar sit en so nou-en-dan ʼn  behaaglike slukkie neem uit sy botteltjie vertroosting: aan die plaas en die dinge wat daar gedoen word; aan die kinders wat aldrie al hulle eie nesse gebou het daar in die groot stad en deesdae dink hy veral aan die ouderdom: wat gaan van die plaas word as hy en Liefie dit nie meer kan behartig nie en nog meer, wat gaan hy en Liefie dan doen? Nie een van die kinders stel belang in die boerdery nie – die plaas is vir hulle net ʼn lekker vakansieplek.

Eers het hy gedink dat hy miskien vanaand effe te veel gesluk het aan sy vertroostinkie en het ook, soos gewoonlik, maar so ʼn bietjie ingedut. ʼn Man kan ook tog net sóveel dink. Hy onthou ook hoe hy so half gedroom het van die water wat wegraak: dat hy ʼn helder lig gesien het wat die hele sementvoor verlig – amper soos ʼn reusagtige flits wat sy hele sementvoor vanaf die inkeersluis tot by die heel laaste afkeer-sluis in sy straal verlig – en die water in die voor het in daardie lig gelyk asof dit agterstevoor om reën: in die lug op in plaas van af grond toe. Dis toe hy sy oë oopmaak en na die wekker kyk om te sien hoe lank daar nog oor is voor hy weer moet toemaak dat hy besef het dat hy ook nie meer die water hoor loop nie: dis net ʼn absolute doodse nagstilte rondom hom.

Hy spring vervaard uit sy ou riempiestoel en kyk verdwaas na die sluis – dis steeds oop, maar daar kom nie ʼn druppel water af in sy sementvoor nie, die water is net weg. So ver op as wat hy in die sentrale toevoersloot kan sien in die maanlig, is daar ook niks; net die nat sementvoor – dolleeg.

Oom Japie staan vir ʼn baie lang minuut onbeholpe en staar na die totale onverklaarbaarheid wat hy hier voor hom aanskou. Toe maak hy die afkeersluis weer stewig toe, maar in stede van om huis se kant toe te begin stap, trek hy die verslete ou jas waarmee hy al dekades sy nagdiens doen styf om sy boude, gaan sit weer op sy riempiestoel en haal die ou botteltjie vertroosting weer uit sy sak uit en neem ingedagte ʼn diep teug –  en hy dink baie diep; tot láát in die na-nag sit hy daar en dink.

Hy besluit om liewer niks van die eienaardige gedrag van die water vir enige iemand te vertel nie; nie eers vir Liefie nie. Die kinders kom weer almal een-van-die-dae vir Kersfees kuier en dan gaan sy dit net aan hulle oorvertel en die hele lot gaan hom dan weer die hele vakansie terg oor sy wonderlike verbeelding en al die spoke wat hier op Kromvlakte woon.

Die volgende oggend is oom Japie nog half aan die slaap na die lang nag buite by die leivoor toe die waterfiskaal se bakkie met ʼn ongekende spoed die plaaspad opkom en voor die huis stilhou – hy is nie eers verbaas nie; hy het hom verwag.

“Ons het ʼn probleem oom Japie: van die lesingmeters uit die hoofvoor moes laasnag onklaar geraak het en nou kan ek die water se verdelings nie so lekker uitgewerk kry nie. Die hoeveelheid wat bo by die dam uit is en die hoeveelhede wat afgekeer is na die boere wil nou nie lekker balanseer nie, en dit lyk my die probleem is net by Oom se meter.”

Die arme ou mannetjie lyk heeltemal paniekerig terwyl hy na sy “laptop” masjien op die kombuistafel sit en staar. Hoewel hy glad nie die nuwe tegnologie verstaan nie, weet oom Japie dat dit die manier is hoe almal deesdae hulle werk doen: al sy kleinkinders het ook sulke masjiene en hulle sit saans vasgenael voor die goed en knoppies druk terwyl hulle na die verligte skerms daarvan staar. Wat hy wél weet is dat dit wonderlike slim masjiene is: klein Jaap van sy oudste seun Kobus, het dit al ʼn paar keer vir hom probeer verduidelik en gedemonstreer.

“Toe Oupa, vra my enige vraag wat Oupa wil, dan wys ek vir Oupa.”

“Waar is die Karoo,” is die eerste vraag wat sy kop binnegeskiet het. Klein Jaap het getik, knoppies gedruk en gerol en die blink skerm na sy Oupa gedraai. Hy kon sy oë glo nie: daar voor hom is ʼn hele beskrywing van die Karoo én die landstreek – en dit binne net ʼn paar sekondes.

Dis daardie aand dat hy besluit het om nooit weer die waterfiskaal se lesings op die masjien se skerm te bevraagteken nie.

“Nou hoe kan dit dan wees Boet? Daardie masjien maak mos nie foute nie.” Oom Japie kan aan niks anders dink om te sê nie.

“Nee, ek weet ook nie oom Japie… maar die rekenaar sê vandag vir my iets wat heeltemal onmoontlik is: dat daar ʼn hengse klomp water weg is… net eenvoudig skoonveld! En Oom hoef nie bekommerd te wees nie, ek het Oom se meter gecheck, hy werk presies reg en ek weet Oom het nie gisternag se laaste afkeer gekry nie al wys dit dat die sluis oop was. Maar díe rekenaar wys dis wel bo by die dam uit – Oom se laaste water en nóg ʼn klomp – maar niemand anders het dit afgekeer nie en dis ook nie in die onderste oorloopdammetjie in nie.”

Die arme manntjie lyk bekommerd, sy rekords moet balanseer, dit weet oom Japie; nog van die ou dae af toe alles nog op papier geskryf is en die meters elkeen apart, en by al die afkeerpunte, deur die fiskaal gelees moes word. Die syfers het daardie dae nie sommer so deur die lug vanaf die meters na die mannetjie se rekenaarmasjien gehol nie.

“Ek sal my verslag saam met die syfers instuur en die departement moet dan maar ʼn ekspert of iemand stuur om die fout te kom soek, want ek weet nie meer hoe of waar nie – en hulle moet my rekenaar ook sommer kom check, miskien lê die fout daar.” Met die woorde is hy mompelend daar weg.

Oom Japie is self ʼn bekommerde man en hy gaan diepdenkend deur sy dag se take. Toe hy Liefie se vrae oor wat dan nou met hom verkeerd is na aandete nie meer kan vermy nie, vat hy sy jas en val in die pad terug na die lusernlande. Dis ook een van sy bekommernisse: met die dat hy nou die leibeurt niks water op die lusern gekry het nie, is sy kanse op ʼn goeie lusernoes vanjaar maar bra skraal en dit gaan beteken dat hy vir sy melkkoeie ten duurste sal moet voer aankoop. Dis ʼn besondere warm en droë somer en die lusern het elke druppel water uit die leibeurte nodig om te oorleef.

Nadat hy hom lekker gemaklik in sy stoeltjie tuisgemaak het en ʼn sidderende lekker groot sluk van sy vertroosting geneem het, sien hy meteens weer die massiewe lig oor die leivoor, maar voordat hy kan besluit of hy weer droom, sien hy ook twee figure. Die een is heelwat langer en groter van bou as die ander: dit lyk soos mense, maar ook nie heeltemal nie, want dit lyk of hulle gloei: asof ʼn wit lig vanuit hulle binnestes straal. Hy maak onwillekeurig ʼn onderdrukte wurggeluid: na al die jare, so waaragtig lewendige spoke!

Die twee figure draai skielik na sy kant toe en begin dan nader beweeg, die kleiner een so half agter die grote.

“Moenie bang wees nie… ons sal jou geen kwaad of skade aandoen nie. Ons bring net jou lewensvog – water soos julle dit hier noem – vir jou terug.”

“W… w… wie is j… j… julle? W… w… wat soek julle?” Stotter oom Japie, hy, ʼn man wat nog nooit op sy bek geval was nie.

“U kan regtig gerus wees, ons gaan net die vog terug plaas wat my kind sonder toestemming geneem het. En hy moet U ook om verskoning vra daaroor, want hy weet goed dat hy niks onregmatig van ʼn ander wese mag neem nie en ook glad nie mag inmeng met enige iets in enige wêreld waar ons werk nie.”

Intussen het oom Japie besef dat, hoewel die figuur met hom praat, hy geen mondbewegings sien óf enige stem of geluide hoor nie.

“Praat jy met my of dink jy met my?”

“Ons kommunikeer altyd op hierdie manier met die wesens van al die ander wêrelde in die Kosmos – ek meen dit word hier ‘telepatie’ genoem, hoewel dit hier nog heeltemal onontwikkeld is.”

“Waar kom julle vandaan? Wat doen julle hier? Hoekom het jy jou kind ook by jou – wil julle hier kom woon?” Na sy eerste skrik nou verby is, is hy bitter nuuskierig. Hy voel gemaklik en voel ook geen vrees vir die eienaardige wesens nie.

Die wese antwoord sy vrae geduldig: “Van baie ver af; ons doen allerhande wetenskalike toetse op al die bekende wêrelde in die Kosmos; die opleidingsinstituut vir kinders se rusfase het met hierdie ekspedisie van my ooreengestem en omdat hy ook later ʼn wetenskaplike wil word, het ek besluit om hom hierdie keer saam te bring.”

“Maar hy raak gou verveeld. Toe het ek een van die klein eksplorasie voertuie vir hom beskikbaar gestel om self ʼn bietjie hier onder te kom rondkyk. Maar hy het nou soveel reëls verbreek dat die voorreg opgeskort word.”

Oom Japie let nou eers op dat daar water in sy sloot is; dat die water presies binne in die sloot val, soos ʼn lang, dun ry reën. Ongelooflik: die water reën uit die lug uit in sy voor en loop daarin af om by die sysluise in die lusernlande afgekeer te word soos gewoonlik tydens ʼn leibeurt.

“Dit spyt my regtig dat ek oortree het teen U en die vloeistof onregmatig geneem het. Maar ek het groot vreugde daarvan gehad… al was dit net vir so ʼn kort rukkie.”

“Maar Boet, wat wou jy met so baie water doen? Julle mense drink tog sekerlik ook water, so dan moet daar tog mos water op julle skip wees?”

“Ek het gesien hoe die kleiner wesens daar anderkant in ʼn ronde poel van dieselfde materiaal as hierdie sloot, in die vloeistof spring en bons en dit het só lekker gelyk en hulle was só vol vreugde. Toe bou ek vir my ook so ʼn poel van kunsvesel op ons moederskip en kom haal die vloeistof.”

“ʼn Swembad op ʼn vliegtuig of ruimteskip – hoe is dit moontlik?”

Die man verduidelik dat die Moederskip baie groot is: “Amper iets soos wat julle ʼn ‘dorpie’ noem, want ons is amper een duisend entiteite wat aan so ʼn ekspedisie deelneem.”

“Ja Broer, en kinders wil mos ʼn bietjie speel ook nê?” Hierdie woorde van hom begin ʼn gesprek oor kinders en kinders grootmaak wat oom Japie laat voel asof dit maar net hy en neef Kosie is wat húlle kinders sit en bespreek. Sekere dinge is maar oral dieselfde, dink hy.

“Speel… verduidelik die begrip asseblief.” Terwyl hy dit doen, vliet die gedagte in sy agterkop dat geen mens ooit gaan glo dat hy met ʼn regte marsmannetjie gepraat het nie.

Hulle gesprek vat vlam en hulle bespreek nog ʼn horde ander dinge. Albei vra uit en antwoord vrae oor allerhande dinge, ook die kind: oom Japie hoor van verskillende tydmetings in ander wêrelde; hy hoor mooi goed en hy hoor lelike goed van die wesens van daardie ander wêrelde. Sy kop is later suf van die nuwe goed wat hy hoor, maar hy kan nie ophou vra nie. Die ure vlieg verby, maar oom Japie kom dit nie eers agter nie.

Dis al amper dagbreek toe die man sê dat hulle nou sal moet gaan, maar dat hulle gereeld daar op sy grond se ko-ordinate kom toetse doen en hulle hom weer sal kom besoek omdat hy: “…die nuwe ervaring om persoonlik met ʼn wese van ʼn ander wêreld te kommunikeer uiters interessant gevind het.”

Die laaste ding wat oom Japie aan hom sê, is dat hy enige tyd vir die kind uit die see kan gaan water trek vir sy swembad, want die see behoort aan niemand nie en tog ook aan almal, so dit sal niemand skade aandoen nie; en bowendien het hulle ook geen permissie daarvoor nodig nie. Toe is hulle weg; net so skielik soos hulle voor hom verskyn het, net so skielik is hulle ook weer weg.

Dié storie sal maar sy geheim moet bly, besluit oon Japie terwyl hy ingedagte huistoe stap. Hierdie een gaan niemand glo nie, nie eers Liefie nie: al lê die lusernland nou voor hom in die vroeë oggendskemerte – deurdrenk van die water. Hy wonder hoe die waterfiskaal dit gaan verklaar.

Iets anders begin egter ook in sy kop maal: sy spoke waarvan hy altyd vir almal vertel… hy wonder darem… het hy hulle gedroom… of miskien sommer in sy verbeelding opgemaak… of kan hulle dalk ook waar wees?