LITERÊRE TERME IS SOOS KUNSMIS: oppas vir die misbruik

19 November 2014
© dr. François P. Verster

François se foto - Afrifiksie & ThompsonBoekeHiermee ’n stukkie post-moderne skryfwerk – ’n gesprek tussen twee mense wat oor skryfdinge dink.

Maar eers, die rede vir die ongewone aanslag: Vandag, soos wyle Hennie Aucamp gelamenteer het, bestaan die kuns van briefskryf nie meer nie, want mense stuur e-posse en vee dit dan af – dit beland in die virtuele asblik en verdwyn soos as uit daardie blik: weg met die eerste bries wat verbykom. Om hierdie verlies te besweer bewaar ek e-posse wat iets méér as net alledaagse temas aanspreek, en hoop ek hierdie spesifieke een mag vir skrywers van nut wees.

(Ek het Dana Snyman se e-pos aan my weggelaat, ter wille van sy privaatheid, maar die leser kan aflei waaroor gepraat is).

From: Francois Verster
Sent: 19 November 2014 08:23 AM
To: ‘dana snyman’
Subject: RE: Moor-e se2

More Dana

Ek dink ook vandag aan skryfdinge, nadat ek Danie Botha se stuk oor Charles Fryer in Die Burger van vandag [*19 November 2014] gelees het. Ek dink bv. aan sekere aanvaarde gebruike, soos “skryf gestroop” en “karakterontwikkeling.”

Dis twee onteenseglik nuttige ingesteldhede/mikpunte, maar ek dink dit het soos “demokrasie” modewoorde geword wat gebruik word deur mense wat dit nie verstaan nie. Ons het al oor karakterontwikkeling gepraat, en jy weet al ek glo dis een element van skryfwerk wat bestaansreg het, maar nie altyd realisties is nie – as ek met skoolmaats praat, sien ek hulle het net grootmens-weergawes van hulle kinder-selwe geword: waar is die ontwikkeling? Dikwels is daar eerder regressie!

So, om “geronde karakters” te skep (mense wat reageer op veranderlikes van binne en buite) is meer realisties, teenoor karikature, wat tog ook bestaan – daarsonder sou daar geen spotprentkuns wees nie.

François Bloemhof beskryf in ’n e-pos aan my die soort arty antie wat jy in elke klein dorp kry: met die bulderende-lag, die vrot kuns wat sy probeer verkwansel, die kostuum (’n kaftan gewoonlik) wat sy dra om die publiek te oortuig van haar “roeping” (vra haar en sy sal dink Rembrandt se Nagwag is ’n kaklorrie wat deur ’n sigaretmaatskappy geborg word), ens. – tot by die uitgetrapte sandale beskryf hy haar. So ja, karikature lééf! Dog, hulle kan op die buitewyke leef, waar hulle hoort – veral in romans.

Maar, om by “gestroopte” styl te kom: min mense kan dit reg toepas – om die minimum te trompetteer, om te beskryf met een of twee treffende woorde – ’n Kuns op sy eie! En net so kan min mense ook die teenoorgestelde reg toepas: dink aan hoe elegante liriese uitdrukkings deur skryfkwakke tot ’n soort tjoklitboksie-kuns vervlak word. Eerstens moet mens dink waarom “gestroopte” styl nodig is – vir joernaliste natuurlik ook weens gebrek aan ruimte, en vir romansiers om clichés en ander sondes te vermy. Ja, dis oorvereenvoudig gestel, maar dis dalk die essensie van die ding…

My punt is dat mens moet weet wat jy doen en waarom jy dit doen. Wat is jou boodskap en aan wie – wie is jou teikenmark, wat kan hulle verteer en wat soek jou uitgewer van jou? As jy reeds bekend is en aanvaar word vir wat jy doen, soos om in ’n skerere eksentrieke of minstens unieke styl te skryf (dink aan Hemingway), waarom verander – gaan jy dan begin om literêre voorskrifte (rigied) toe te pas? Hoe gaan daar dan “grensverskuiwings” wees?

Ek glo reëls is daar vir diegene wat nog leer, soos ekstra wiele aan jou fietsie, of soos ’n padkaart vir iemand wat nog nie die pad ken nie. As jy kan wegkom met ’n variasie daarvan, soos ’n “kortpad”, hoekom die ou nasionale pad aanhou gebruik? Gebruik Bretyen Breytenbach altyd erkende spelreëls? Nee, want hy hoef nie, en hy is reeds bekend daarvoor, so hy kán maar. En so laat hy ’n mens weer dink oor die nut van spelreëls (ens.) en verander jou perspektiewe. En jy besef daar is in die literatuur ook klavierspelers en klavierskuiwers. Jy moet egter wis wat jy is… en hoeveel van ons het die insig en die moed om dit te erken?

Let wel: ek sê nie ’n mens moet die reëlboek verbrand nie; ek herinner net dat dit ’n riglyn is en nie ’n kliptablet wat van Sinaï afgebring is nie. Hulle sê deesdae bv. dat misdaadfiksieskrywers nie te veel tyd moet spandeer aan milieu-beskrywings nie – die lesers soek aksie teen ’n vinnige tempo – vyfde rat is meer pret as derde rat. Hoeveel kans is daar dan vir karakterontwikkeling (Gaan die boef hervorm? Nee, juis nie: hy moet boet!), dog om “gestroop” te skryf sal hier help – minder byvoeglike naamwoorde en opgestapelde metafore wat soos torings van Pisa in die plot-pad opduik en die leser laat moer trek.

Ek vermoed dis dalk waar die verskil tussen “literêre” romans en “genre-” romans sigbaar raak – die een verveel lesers al van skooldae af (voorgeskryf deur taalkoei-herders) en die ander bied vermaak in die hoogste rat. Hang dus af wie die teikenmark is. Miskien wil ons altyd alles hê; vermaak én suiwer kuns. Dit is egter min skrywers beskore om te vermag. Eendag skryf iemand dalk so ’n boek. Die Groot Afrikaanse Roman. Intussen hou sommige van ons die “volk” besig en ander skryf boeke wat baie mense voorgee om te lees, maar min mense verstaan en regtig waardeer. Helaas, maar ’n mens wonder tog hoekom.

Nietemin, ek dog ek sê maar net. Danie Botha se stuk het my aan die dink gesit.

So: “Gestroop” is goed, “Karakterontwikkeling” is goed, maar nie ingeforseer soos saagsels in die splete van ’n swak houtvoeg nie. Dit moet natuurlik voorkom en reg aangewend word.

Mooi dag op Jacobsbaai!

Francois

Dana aan't lees op Jacobsbaai. Sy hond Vlooi hou hom geselskap. © François Verster

Dana aan’t lees op Jacobsbaai. Sy hond Vlooi hou hom geselskap. © François Verster

PS: Diegene wat belangstel in die vraag wat word van webwerwe en artikels op die Internet, en wat is argiewe, asook oor die spanning tussen argiewe en digitalisasie, kan my artikel op Litnet lees: Word ook die Afrikaanse letterkunde in ’n toekomsblik gedruk?

Tik my naam en van in op die soekblokkie, of kyk onder ”Pasgelaai”- dit mag nog daar wees. Abraham de Vries het daarop gereageer in die stuk “Orwell aan die stuur?”

1 thought on “LITERÊRE TERME IS SOOS KUNSMIS: oppas vir die misbruik

  1. Maggies, hoe laat die gedoente van karakterontwikkeling my nou dink… Ek dink dis veral in die wetenskapfiksie ‘n moerse tameletjie. Hoe ontwikkel ‘n mens die karakter van ‘n superintelligente skakering van blou? Of van ‘n masjienbewussyn? Is dit selfs sinvol om so iets te vra? Of is karakterontwikkeling ‘n eg menslike verskynsel wat aan die heup verbind is met die menslike kondisie?

    Die geneigdheid om te antropomorfiseer is moeilik om te weerstaan, veral gegewe die algemene druk uit die literêre peanut gallery dat daar karakterontwikkeling móét plaasvind vir ‘n karakter om gerond te wees. Daarom is ek bly daar’s katte soos Gabriel Garcia Marquez, wat in 100 Years of Solitude bewys dat die idee van ‘n karakter net sowel deur opeenvolgende generasies kan ontwikkel; en William Gibson, wie se masjienbewussyn Wintermute in Neuromancer daarvan weerhou word om ‘n stabiele persoonlike identiteit te vestig.

    As selfs natuurwette geloofwaardig verbreek kan word soos in The Matrix en Inception, is daar tog sekerlik maniere om die sogenaamde “wet van karakterontwikkeling” ewe kunstig te omseil.

    Maar soos jy sê, solank jy weet wat jy doen en waarom jy dit doen. Dit help nie jy maak die ektra wieletjies aan die fiets se voorwiel vas pleks van agter nie. Dan gaan jy jou des moers val.

Comments are closed.