SKRYFSKOLE: OM TE LEER OF OM TE SKRYF (DEEL I)

8 Mei 2015
© dr. François P. Verster

2015 - Skrywersfoto - François VersterDie gewildheid van skryfskole het my lankal laat dink om daaroor ’n eier (of twee) te lê. So baie hoopvolles neem hieraan deel en daar is heelwat om uit te kies: dis blykbaar nie ’n verbygaande mode nie en dit speel wel ’n rol in die boekebedryf… eventueel.

Die literator Leti Kleyn het ’n interessante opname oor die geskiedenis van sulke skole/kursusse gemaak, en ek sal in die tweede deel van hierdie esssay oor skryfskole iets daaroor sê – nou wil ek eers ’n paar persoonlike ervarings hieroor det met julle deel: ’n mens behoort immers nie te veel sê oor dinge waarvan jy nét gelees het nie!

In elk geval, ek het meer sulke geleenthede bygewoon as wat ek beplan het om te doen, maar ek is nie spyt nie – in retropsek het ek veel geleer, veel om oor te reflekteer, en les bes om mee te deel aan diegene wat sou belangstel. Maar voordat ek te veel na Langenhoven begin klink (dit sou aanmatigend wees – ek drink nie so baie as hy nie, rook glad nie en het ook nog nooit my vrou verneuk nie ☺) laat ek vertel…

In 2006 – ek vergeet hoe ek hierby ingesleep was – gaan woon ek ’n weeklange skryfskool op die pragtige plaas, De Compagnie, waar Johan en Riana Scheepers tot kort gelede gewoon het. Dit was ’n waterskeidingsgeleentheid vir my, want ek het werklik besield daar weggegaan. Meeste lede van die groep (van 10 leerlingskrywers) was ook aangename, leergierige mense en ek het kontak behou met sommiges – nog steeds. Hierdie kontakte wat ’n mens by sulke kursusse maak is juis een van die groot voordele daarvan. Jy kan ’n ondersteunersgroep opbou, en met e-pos en Facebook idees uitruil en in jou mislukkings en suksesse deel. Van my beste vriende het ek by Riana se 2006-kursus ontmoet.

Drie jaar later was ek weer daar, ook vir ’n week, vir die sogenaamde meesterskurus, wat basies ’n opvolg van die eerste was, maar daar en dan besef ek dis weer ’n waterskeidingstyd: ek het nou genoeg gehad van kursusse; ek moet nou self vlieg, soos Riana juis aan ons in 2006 gesê het: gaan nou en skryf, kyk of jy self verder kan regkom.

Net daar moes ek besef het dat ’n terugkeer na De Compagnie se lowerryke omtes nie ’n goeie idee sou wees nie. My verwagtinge van die tweede kursus was ook gebaseer op die ervaring van die eerste en dit was eenvoudig te hoog – ek het gedink daar sal meer wees van hoe ’n skrywer uitgewers benader, ens. Daarvan sou ek wel later iets hoor by ’n ander geleentheid, naamlik Potch se skryfskool, maar dis ’n ander storie daai.

Die chronologie van watter kursus ek wanneer geloop het, is al vergete, en dis onbelangrik, maar een ding staan vas, by elkeen het ek iets geleer en mense ontmoet wat iets vir my beteken het – positief of negatief. En van negatief gepraat; ’n belangrike aspek van sulke kursusse is dat jy geleer word wat om níé te doen nie. Dit is essensieel, want skryf is soos ’n dieet: jy gaan dalk te stadig vorder om te wil volhou en dus móét tydverspilling ingeperk word. Jy leer om cliché’s te vermy, om mooiskrywery te verafsku, om vas te byt en om jou nie as verhewe bo sekere genres te beskou nie – as jy ’n geleentheid kry, gryp dit aan; dis deel van jou vakleerlingskap om kleiner projekte te voltooi.

Bowenal leer jy dat die enigste manier om (regtig) te leer skryf, juis is om (self) te skryf. Dalk neem dit vir jou tweemaal langeras vir jou vriend, maar hy of sy mag dalk gouer ’n plato bereik. Buitendien, skryf is nie ’n kompetisie nie, jy is die grootste teenstandervan jou vordering, vergeet van ander.

Al hierdie pitkossies tel jy op by skryfskole/kursusse en jy bou hulle mettertyd in jou skryfpatrone in, maak goeie gewoontes jou eie. Selwers skryf ek elke dag, artikels en essays en wat ook al nodig is om te skryf en die honderde kort stukke wat ek al gepubliseer het, het meegehelp dat ek kans gesien het om langer stukke aan te durf. Elke genre het natuurlike eiesoortige uitdagings, maar skryf is skryf. Oefening help jou om jou eie herkenbare stem te vind – om jou praatstem en jou skryfstem bymekaar te bing. Ek glo goeie skrywers skryf baie soos hulle praat, en dit het ek juis by Riana Scheepers geleer – as jy haar al hoor praat het, sal jy dit weer hoor as jy haar werk lees. Ritme, intonasie, gunsteling sinonieme… dis alles daar, veral in kortverhale en rubrieke.

’n Mens kan ellelange stukke oor skryfkursusse vertel, hulle vergelyk, en dink oor watter van hulle op watter tye in jou skryfloopbaan die nuttigste was – dit is waarom ek genoem het dat ’n kursus in 2006 onvergelykbaar was met een wat ek in 2009 geloop het. So nuttig as wat sulke kursusse kan wees, so kan jy ook te lank aanhou daarmee, terwyl jy lankal self moes gevlieg het. Daarom het ek op die laaste dag van my laaste kursus ’n klein houtboksie aan Riana gegee. Binne-in was ’n donsveer. Simbolies het ek afskeid geneem van my leermeester. Dit was tyd om self te vlieg. Of val.

Sommige “beroepskursuslopers” styg nooit eens op nie, want hulle is dalk te bang om te val. As jy egter ’n Ikarus is, sorg dat jy daarna ’n Feniks word. Val is soos met fietsry sekerlik deel van skryf en van die lewe. Dis jou besluit of jy sal opstaan en weer vlieg. En skryfkursusse kan jou minstens leer hoe om op te styg. Wees soos Boerneef se berggans, los net ’n donsie agter. Verder niks.

Jý skryf jou eie roeteplan.