20 Mei 2015
© dr. François P. Verster
In die vorige stuk oor skryfskole het ek op positiewe aspekte gefokus en dat ’n suksesvolle skrywer hom/haarself so goed as moontlik moet toerus vir ’n baie veeleisende loopbaan, want daar sal beslis teleurstellings wees. Hopelik tog, kan ’n mens die teleurstellings wel beperk – daarom wil jy nie onnodig tyd mors deur manuskripte in te stuur wat jy beter kon voorberei het nie.
Persoonlik het ek ’n halfdosyn verskillende kursusse gevolg. Twee weeklange kursusse by Riana Scheepers, twee weekkursusse by The Centre for the Book in Kaapstad (spesifiek oor kinderboeke), ’n dagkursus aangebied deur Rachelle Greeff wat by Kunstekaap gehou was, en nog ’n weekkursus by die Potchefstroomse (ATKV) Skryfskool (oor essays en artikels). Almal het skynbaar op spesifieke tydstipte na logiese en nuttige tydbesteding gelyk – en ek is nie spyt daaroor nie.
Dit het my egter ook laat wonder oor die geskiedenis van skryfskole en watter variante bestaan het. En dit was by laasgenoemde skryfskool waar ek ’n lesing deur dr. Leti Kleyn bygewoon het, juis hieroor. Sy het die chronologiese ontwikkeling van skryfopleiding in Suid-Afrika as volg uiteengesit:
- 1938 – Pienaar & Langenhoven se Hoe om te skrywe: Hulpboekie by die Studie van die Stelkuns.
- 1941 – S. Ignatius Mocke se Dienaar van die woord: ʼn Handleiding vir studente en aspirant beoefenaars van die skryfkuns.
- 1948 – P.C. Schoonees se Verskeidenhede: ʼn Bundel opstelle en gedagtes.
- 1960 – D.J. Opperman se Letterkundige laboratorium
- 1985 – ATKV-skryfskole (referaatbundel)
- 1986 & 1994 – Hennie Aucamp se Die blote storie I en II
- 1987 – Johann Lodewyk Marais se SENSAL-ondersoek na skryfopleiding
- 1993 – Hans du Plessis se Skryf ’n storie
- 1995 – Skryfskole as nagraadse kwalifikasies
- 2003 – Martie Preller se Eendag was daar ʼn storie!: ʼn Praktiese storiemaakkursus.
- 2012 – Die nuttige boeke Die Afrikaanse Skryfgids (Penguin) en Om te skryf (Van Schaik).
Daarna lys sy die volgende benaderingswyses:
- i) aanlynwebtuistes wat skryfopleiding bied (bv. LitNet se aanlynskryfskool), sowel as aanlynskryfskole met manuskripontwikkelingsdienste (bv. SA Vryskutskrywers);
- (ii) uitgewers as ontwikkelaars van debuutskrywers deur publikasies en werksessies;
- (iii) skrywers wat dag- of week lange skryfkursusse aanbied (bv. Harry Kalmer, Martie Preller en Riana Scheepers);
- (iv) handleidings vir skryfontwikkeling (bv. Die Afrikaanse Skryfgids en Om te skryf);
- (v) nie-formele opleiding deur skryfkursusse aan ’n universiteit (bv. Die ATKV se Skryfskool en die Universiteit van Pretoria se Winterskool);
- (vi) formele tersiêre onderrig aan universiteite (voor- en nagraads).
Tot dusver Dr. Kleyn se navorsing. Daar is natuurlik nog etlike instansies wat betrokke is by allelei kursusse en kompetisies, sommige geïnisieer en gefinansier deur uitgewers, soos Tafelberg en Sanlam se jaarlikse skryfkompetie vir jeugboeke, en so ook Maskew Miller Longman/Pearson se soortgelyke kompetisie. En die een deur Thompson Drukkers. Om dié blad aan te haal: “Thompson Boekdrukkery, in samewerking met Afrifiksie, bied tans ’n gratis Afrikaanse Wetenskapfiksie Skryfkursus aan met die doel om aspirant Afrikaanse Wetenskapfiksie-skrywers toe te rus met die nodige kennis om opwindende Afrikaanse WF romanse vir die volwasse mark te skryf.”
Boonop speel die verskillende boek- of skrywerspryse wat skrywers aanmoedig natuurlik ook ’n rol, bv. die nuwe KykNET- Rapport Boekprys, wat groot prysgeld aanbied. So, myns insiens was daar vir skrywers in Afrikaans waarskynlik nog nooit ’n beter tyd om te leer en te produseer nie, ten spyte van die groter kompetisie en neerdrukkende politieke klimaat. Maar struikelblokke was daar altyd, en hoekom sal dit nou anders wees?
Om saam te vat: van voornemende of ontluikende skrywers word verwag om hom/haar voor te berei om skrywers te word wat realisties-publiseerbare manuskripte lewer. Hoe moeilik is dit? Die antwoord: nooit so maklik as wat dit lyk nie. Dog, die Internet is ’n groot hulp – daarop is aanlyn-kursusse beskikbaar, of die kontakdetail van klasloop-kursusse, daar is baie informasie beskikbaar (jy hoef kwalik te reis of biblioteke te besoek) om agtergrond-informasie te bekom, en draagbare rekenaars, met woordverwerkers, elektroniese speltoetsers (soos die een wat Potch ontwikkel het), gekoppel aan jou eie drukker, en les bes ook inligting oor uitgewers … dit alles is bloot ’n vingerdruk ver.
Skryfkursusse, skryftoerusting, en hopelik skrywers ook, het al ’n lang pad geloop. Mag dit nog lank so aanhou.