Aanval op Soma

J.F. de Waal (2013)

In die jaar 2145 skrik ‘n jong man wakker. Hy is erg verward. En so begin die verhaal van Aanval op Soma …

Dit is die wêreld van die toekoms. Menseregte seevier. Die Anonieme Mens is die model waarna elke burger streef. Na ‘n reeks verwoestende oorloë en natuurrampe heers vrede op Aarde. En tog is alles nie pluis nie.

Tom Calitz is die protagonis. Oftewel, dit is wat ons glo. Moontlik is hy ‘n unieke mens, in hierdie wêreld waarin die Nuwe Mens alles van die Ou Mens oorwin het en homself so tot iets ordentliks en moois herskep het. Unieke mense is egter nie hier geliefd nie. Of dalk is hulle.

Aanval op Soma is ‘n utopiese verhaal wat ‘n menslike toekoms uitbeeld in ‘n post-apokaliptiese Aarde waar ‘n stelsel bestaan wat nie weer sal toelaat dat die foute van die verlede herhaal word nie. Dit skep ‘n interessante agtergrond vir ‘n verhaal wat die leser intrek en laat wonder oor die leidrade wat telkens opduik.

Die Afrikaans is baie goed en die skrywer het moeite gedoen om geen Engels te gebruik nie, maar die vloei van die storie nie te belemmer nie.