Clint Eastwood van Wyk en die Moordenaarsklok

Pieter Verwey (2015)

‘n Unieke boek in Afrikaans. Vir die eerste keer word die genre van Stoompunk in Afrikaans bekend gestel. Die storie is besonder boeiend en baie vroeg reeds raak dit ‘n probleem om die boek neer te sit.

Die skrywer neem jou deur ‘n eg Afrikaanse landskap van ‘n huisgesin met tieners, Karoo-dorpies en plattelandse omstandighede wat heerlik bekend en komies is. Met genoeg intrige en verrassings wat jou tot die einde boei vir ‘n ontknoping wat die leser laat met ‘n hoop dat daar spoedig ‘n opvolg van hierdie karakters se verdere avonture sal wees.

Tog is die Engelse inhoud, hoewel tipies van vele Afrikaanse boeke van ons tyd, teleurstellend. Die skrywer het ‘n kans gemis om baie nuwe woorde in Afrikaans te definieer, van ‘n genre wat grootliks gebou is op eksklusief-Engelse woorde.

Ten spyte van die kritiek, is Clint Eastwood van Wyk en die Moordenaarsklok ‘n besonderse toevoeging tot die Afrikaanse versameling van wetenskapfiksie en fantasie en word dit sterk aanbeveel. Pieter Verwey is ‘n besonderse nuwe Afrikaanse skrywer wat na verwagting nog ‘n groot bydrae gaan maak tot Afrikaanse fiksie.