Wanneer dit reën

deur J.F. de Waal

 

Daar is relatief min wetenskapfiksie in Afrikaans wat met ‘n alternatiewe geskiedenis eksperimenteer. Dit kom nogal dikwels in Engels voor, maar dit wil nie regtig vatplek in Afrikaans kry nie. Dis dalk omdat ons geskiedenis reeds so ongelooflik is dat dit in elk geval vir ons so onwerklik of onwaarskynlik voorkom dat dit net so wel wetenskapfiksie kon wees – so waarom nou nog daaraan gaan torring om dit selfs meer verbysterend te maak?

Tog is dit lekker om wel so ‘n verbeeldingreis te onderneem en wel te wonder wat ‘n alternatiewe hede vir ons kon wees indien die reis van die mens wel een of twee ander wendings in die verlede sou neem. Dis vir dié rede dat J.F. de Waal se e-boek Wanneer dit reën so ‘n welkome toevoeging is tot die wetenskapfiksie in Afrikaans.

Die Maritz-rebellie van 1914 was suksesvol. Die Afrikaner Republiek, ook die Nuwe Republiek genoem, kom daardeur tot stand. Die gevolge is verreikend. Die Tweede Wêreldoorlog eindig met Adolf Hitler steeds aan die stuur van ‘n nasionaal-sosialistiese Duitse Ryk. Geen atoombom ontplof oor Japan nie. Die Verenigde State van Amerika verbrokkel. Skotland wen sy onafhanklikheid. En die Engelse regeer deur middel van ‘n swart poppekas-regering oor die Unie van Suid-Afrika.

Wanneer dit reën is die verhaal van twee oud-soldate en jeugvriende soos hulle ses jaar na die beëindiging van die laaste grensoorlog steeds worstel om hulle voete binne ‘n vinnig veranderende wêreld te vind. Met die aanvang van die verhaal is die een speurder, die ander diplomaat, en die persoonlikhede en oortuigings van die twee kan nie meer uiteenlopend wees nie. 

Oor ‘n periode van vyf dae, waartydens die Duitse kansellier besoek aan die land aflê en ‘n reeksmoordenaar ‘n string verminkte lyke agterlaat, ontdek die twee hulself elk in vergelyking met die ander. En word elkeen om die beurt deur sy liefde vir ‘n vrou geïnspireer om sy lewe onherroeplik te verander.

Let wel, hierdie boek bevat temas, dialoog en handelinge wat oorwegend van ‘n volwasse aard is. Bogenoemde sluit in, maar is nie beperk nie tot, uitbeeldings van volwasse verhoudings, ‘n verskeidenheid, soms teenstrydige politieke en filosofiese oortuigings, en ‘n kritiese benadering teenoor gewisse maatskaplike en godsdienstige konvensies. Die voornemende leser word gemaan om goeie oordeel by die aankoop, promovering en bespreking van hierdie boek te gebruik.