4 Julie 2015
© dr. François P. Verster
Ek krap in bokse vol notas en kies ’n juweeltjie. Dis oor die ou kwessie van “Inspirasie wat is jou naam?” wat nogmaals in Die Burger van 16 Januarie 2012 opduik, in Pieter-Dirk Uys se artikel: “Die geeste van inspirasie sweef rond soos mis om die aarde.” Uys skryf dat mense soms vir hom sê: “Ek weet nie waaroor om te skryf nie.” En dan dink hy: “Dankie Vader, ons het genoeg skrywers.”
Uys se reaksie is lagwekkend, nie belaglik nie – dis snaaks, maar waar. Hy beskryf sy irritasie heel sagkens, en noem dan net dat sulke mense iets meer prakties toepasbaar soos onderwys kan aangryp; hy vaar nie uit teen hulle onnosel houding of wat ook al soos Oscar Wilde byvoorbeeld sou nie (Hoewel Uys genoeg wapens in sy satiriese arsenaal het om dít goed te kan doen).
En dan sê hy: “Maar as jy wil skryf, ontspan.” Volgens hom sal inspirasie jou vind, jy gaan soek dit nie – “Dis nie jou keuse nie.” Daar kan hy sy betoog gestaak het, want dit is so dat die Heilige Graal van Skryf nie bestaan nie. Daar is geen Alladin se grot of Pandora se boks nie. Jy ontdek dit nie. Dit ontdek jou. So, beteken dit iemand of iets – “The power lies in you, Luke Skywalker/Hary Potter/Frodo Boggins,” ens. Uys spot natuurlik as hy sê “Die draak van ontginning het jou klein hik van talent bespeur en sal jou verslind, jou in sy bloedige bekdeur die donker gange van sweet en drang sleep, totdat jy eendag uitgeput en oorgewig sit met ’n boek in jou hand en die naam op die voorblad is joune”. Goed gestel.Terloops; het dáái draak hierdie goue sin in Uys se mond kom lê?
Wat hy sê is wel metafories, maar steeds baie na aan die waarheid – almal gaan nie uiteindelik oorgewig met ’n boek in die hand sit nie – meeste gaan dalk ook oorgewig met bokkerol in die bank sit, soos ek. Maar die geswoeg-en-gewroeg-deel is ongelukkig waar. Ai, gisteraand vra ’n goedbedoelende vriend weer, asof hy ’n briljante ingewing gekry het en my ’n hengse guns doen om dit aan my oor te dra: “Francois have you considered writing a blockbuster for the American market?” My antwoord was ’n sug, en ek kon ook daar gestop het, maar die goeie bedoelings van die vriend skeld hom vry van my frustrasie, so ek verduidelik toe ja, ek het, en so het 1000 000 ander wannabe skrywers ook – om die waarheid te sê, nog elke dag kry uitgewers derduisende sulke potensiële Nobelpryswenners of net lagalliepadnadiebanktoe-manuskripte. Helaas.
Dit herinner my ook aan ’n skilder wat my vertel het dat sy suster hom gereeld meedeel dat sy seker is sy is eintlik die een in hulle familie met die werklike talent: sy kan gereeld “sien” hoe sy ’n ongelooflike skildery kan doen. Sy weet net nie hoe om dit op die doek te kry nie. Mmm… goeie omskrywing van “ek het zerokreatiewe talente nie, maar weet die nie.” En so pla sy haar broer soos die mense Uys pla oor hulle sogenaamde latente talente. Uys sê oor hulle: “Jy wil skryf. Jy dink jy kan skryf” (dog, jy behoort van beter te weet).
Dis natuurlik so dat elke mens minstens een storie in hom/haar het. Maar soos een skerpsinnige persoon al gesê het: “En dis beter dat dié storie daar binne bly.” Hiermee wil ek nie sê mens moenie probeer nie – want dan volg ek nie my eie raad nie hoewel ek dikwels oorweeg om dit tog te doen – the curse of mediocrity, of “My… naam… is… Mid-del… moot”, is ’n sware kruis om te dra. Ek besef ook nou eers, met 50 jaar op die planeet op hande, hoekom sommige skrywers “vir hulle self skryf.” Of laat ek dit so stel: daar is diegene wat dit vir altyd doen en daar is ander wat op ’n stadium voel hulle is gereed om hulle koppe uit te steek. Laasgenoemde groep is slim – hulle doen die verstandige ding. Uiteraard is die gevaar daar dat mens te laat moed bymekaarskraap om tot die daad oor te gaan en ‘n uitgewer nader. Maar liewer te laat as nooit, of liewer laat as te vroeg, as jou werk eers substandaard was. Mens dink aan Opperman wat sy leerders, soos Sheila Cussons, soms jare laat wag het voordat hulle mog publiseer. Reg of verkeerd, mens neem aan hy wou hulle beskerm, want mense meet jou meer aan jou flops as aan jou suksesse, en skryfwerk is nié soos pannekoeke nie: skryf-flops “smaak” nooit beter as die meer welgeskape produkte nie. Sommige Facebookdigters byvoorbeeld, behoort liewer met sampioene te gaan boer, waar dit stil en donker is en hulle muwwe produkte goed sal aard.
Die eersgenoemde groep, die vir-die-self-skrywers, wat altyd hulle meesterstukke/al dan nie, in die laai wegsteek, en dalk heimlik hoop dit word daar ontdek? Wel, ek dink steeds hulle is wagtend op ruggraatskenkers, so ons laat hulle ook agter in hulle donker hoekies, waar Uys se draak hulle waarskynlik sal vaskeer: collateral damage… as jy nie omelette wil maak nie, wees gereed om self een te word.
So hoe gemaak? Dan sê Uys: “Daar is meer inspirasie daar buite as olie, gas, goud, uraan, humor, hulp of heiligheid.” En daar is baie om te put uit hierdie, weereens welgeskape, sin. Want, kyk hoe hy dit stel – die stylkenmerke: hy noem skaars sekere kommoditeite, maar heel verskillende tipes, en hoe: Hy slaan skielik oor na kontraste, en gebruik alliterasie om dit welluidend af te rond. Oulik! Maar, hoe kom hy hieraan? Deur baie te lees, teaterstukke by te woon, flieks te kyk – allerhande skryfwerk, dus waar taal as “kunstoestel” ingespan word. So leer mens mos allerhande tegnieke, en jy behou dié waarvan jy hou, verfyn sekeres, ontwerp nuwe variasies, ens. Verder sê hy ook daarmee – die inhoud/betekenis – dat ja, jy kry inspirasie iewers, maar nie deur klippe op te lig of deure in te skop nie.
Inspirasie is ’n eksterne invloed, wat níé in donker hoekies wag nie. Jy kan net sowel die Illustrated Shakespeare onder jou kussing sit en glo môre-oggend is jy ’n literêre genie. Inteendeel: jy sal erge nekpyn hê, want daai ding is beslis duisendmaal dikker as ’n daalder; selfs dikker as meeste Statebybels! Shakespeare is tog wel ’n goeie voorbeeld van inspirasie – hy het nie in ’n ivoortoring gaan wag vir die Muses nie: hy het volksverhale, mitologie, ook Bybelverhale, gebruik as inspirasie – m.a.w. as fondamente vir sy eie variasies op die betrokke temas. Uys sê jy kan jou eie familie as karakters in stories gebruik, of mense wat jy skaars ken, maar dan jou eie kenmerke aan hulle toedig. Dan, as jy werklik iets te sê het; een of ander lewenswaarheid óf pet hate wat jy wil loslaat op jou medemens, dan slaan jy die spulletjie aanmekaar en “maak ’n storie op.”
Selwers het ek vir my wetenskapfantasie Inversium (hopelik verskyn dit teen Desember 2015) juis in die newelagtige, spelonkerige dieptes van die mitologie gaan delf om ’n storie te spin, ’n web van intrige en intertekstuele verwysings, hopelik nie te lomp en ooglopend nie, andersins soms weer het ek direk daarna verwys, met ’n doel. Ek wou iets soos ’n alternatiewe geskiedenis van mites en legendes aanbied, verbeelde verklarings vir ou, onsterflike verhale. Ons weet dat sulke verhale gewoonlik op feite gebaseer is, en dis waarop ek gesinspeel het. Die skatkis van die mensdom se verbeelding is daar vir ons om te plunder. Solank jy ’n “eerbare” dief is en dit verwerk, nie kopieer nie.
Uys sê ook: “Daar is biljoene inspirasies wat elke sekonde van jou lewe by jou venster verbyvlieg.” En dit laat my dink dat inspirasie nie die grootste probleem is nie, maar konsentrasie. Fokus, commitment, opoffering, slaap-depridasie… moed, selfgeloof, selfkennis (of is laasgenoemde twee teenoorgesteldes?) en geduld en stamina. Talent of vaardigheid is natuurlik ook nodig, algemene kennis (as ’n verwysingsraamwerk), ’n redelike taalvernuf (waaraan jy altyd moet slyp), en so aan, maar dit lyk my asof inspirasie eintlik die minste van alles is; dat jy sukses sal behaal as jy werklik iets het om te sê en dit goed genoeg kan sê.
Wat “sukses” is, hang van jou af – hoe ver jy wil gaan, en of die laaste bestanddeel in die resep, naamlik geluk, ook aanwesig is.
Vandag was Uys my inspirasie.