Gruwels is ‘n baie spesifieke vertakking in die spekulatiewe fiksie wat deel uitmaak van òf fantasie òf wetenskapfiksie – afhangend van die spesifieke elemente waaruit die storie saamgestel is. Maar alle gruwels is nie deel van spekulatiewe fiksie nie – dink maar aan ‘n verhaal waar ‘n wrede booswig by mense se huise inbreek en hul vermoor. Hoewel dit inderdaad ‘n gruwel kan wees, bevat dit geen elemente van fantastika nie.
Ons, hier by Afrifiksie, stel egter slegs belang in gruwels wat deel uitmaak van spekulatiewe fiksie. Daar is hordes sulke stories – kyk bloot deur ‘n lys van flieks op ‘n videokanaal om te sien hoeveel daarvan beskikbaar is. Vampiere, weerwolwe, zombies en vele ander is al te volop…
Maar daar is werklik besondere skrywers wat uitstaan tussen die massas wat ons probeer skok met hul spesifieke vorms van geweld en spanning. Een van die mees indrukwekkende skrywers in dié verband is HP Lovecraft (1890 tot 1937). Interessant genoeg was hy nooit ‘n baie bekende skrywer in sy tyd nie en die meeste van sy werke was gepubliseer in pulptydskrifte wat baie gewild was tot omtrent die 1960s (baie van die fotoverhaal- en strokiesprentboekies wat in Suid-Afrika verkoop was, was voorbeelde hiervan en is op goedkoop koerantpapier gedruk).
Hy het egter wel ‘n tipe aanhang geniet onder die lesers van die pulptydskrifte. Lovecraft het sy lewe lank gesukkel met sy gesondheid en met sy finansiële situasie. Hy sterf uiteindelik op 46 in redelike armoede en onbekendheid, maar sy werke word herontdek en herleef in die 1970s tot in stand van groot gewildheid met ‘n reuse aanhang deur volger-fanatici wat aan hom kultusstatus verleen.
Een van die mees vername kenmerke van sy werk is die Cthulhu Mitos wat hy tot stand gebring het is wat oor en oor in sy werke na vore kom. Hierdie mitos is ‘n uitgebreide tipe mitologie wat hy verdig het, van talle oeroue wesens wat van die vroegste tye af reeds in die heelal bestaan het – baie groot, baie oud en baie magtige wesens waarvan baie inherent boos is. Baie van hierdie wesens is al vir millenniums lank in ‘n diepe slaap wat aan hibernasie (of die dood self) herinner. Die bekendste van hierdie wesens is Cthulhu self – ‘n monster met eienskappe van ‘n seekat en ‘n draak en wat (soos Satan) na die aarde verban en in die aarde as gevangene gebind en gedoem is, om die ewigheid daar te sluit.
In Lovecraft se werke is die mens nie bloot nietig en onbenullig nie, maar absoluut irrelevant. Die mens is in die algemeen nie bewus van die bestaan van die wesens in die mitos nie, en sou iemand bewus word van die bestaan daarvan is die psigologiese dissonansie wat dit tot gevolg het so erg, dat dit noodwendig lei tot kranksinnigheid van die individu – die grootsheid daarvan in kontras tot die absolute niksheid van die mensdom oorweldig die eindige verstand van die mens.
Die Netflix reeks van kort films Love, Death & Robots bevat ‘n episode in die derde seisoen getiteld “In Vaulted Halls Entombed”, waarin mens ‘n kykie kan kry in dié raaiselagtige mitos – ons beveel dit sterk aan.
Die mitos wat Lovecraft geskep het was so aangrypend dat baie skrywers daarna van hierdie Cthulhu Mitos karakters in hul eie verhale gebruik het en die mitos uitbrei met talle toevoegings – die proses van mito-poësis. Hierdie wêreld, Lovecraft se Cthulhu Mitos, is so aangrypend dat daar tans talle sirkels vir toor- en heksery bestaan wat die Cthulhu Mitos aangeneem het as deel van hul eie kanon in hul aanbidding en rituele.
Sover ons kennis strek is daar ongelukkig geen van Lovecraft se werke wat in Afrikaans vertaal is nie wat werklik betreurenswaardig is. Miskien neem iemand dié taak op – wie weet?
Daar is bloedweinig min skrywers wat die sukses en aansien geniet wat Lovecraft uiteindelik bereik het – al het dit dekades na sy dood eers plaasgevind.