Jules Verne

Die vader van Wetenskapfiksie
________________________________

Jules Verne was sonder twyfel die vader van wetenskapfiksie! Dié Franse skrywer is in 1828 gebore en is in 1905 oorlede. Hy was opgelei as regsgeleerde maar het uiteindelik as ‘n joernalis gewerk.  Sy storieboeke wat dikwels op die jeug gemik was, was opvoedkundig van aard en het gepoog om die wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang van die 19de eeu toeganklik te maak vir die algemene publiek en spesifiek onder die jeug.

Oor die jare was daar al talle skrywers voorgestel vir die eer om as die vader (of miskien die moeder) was van wetenskapfiksie bekend te staan.  Maar, met alles in ag genome, is dit Jules Verne wat die ander die loef afsteek.  Dit is waar dat verskeie skrywers reeds wetenskapfiksiestories geskryf het voor Jules Verne, maar dit was maar enkele stories in elke geval.  Maar dit was hy wat hierdie tipe stories gepopulariseer het en ‘n baie groot versameling daarvan geskep het – met ‘n groot verskeidenheid van temas.

Die naam van H G Wells word dikwels aangehaal as die vader van wetenskapfiksie, maar dit is bloot omdat hy ‘n Amerikaanse skrywer was – Jules Verne was veel meer produktief as skrywer maar sy werke was in Frans en baie van die Engelse vertalings van sy werk was maar swak en daarom was sy werk nie na waarde geskat in die Engelse gemeenskap nie.

Vandag is Jules Verne die fiksie skrywer wat, naas Agatha Christie, in die meeste tale vertaal is.  Baie van die elemente wat hy in sy werke gebruik het en wat suiwer wetenskapfiksie was, het later bewaarheid geword – amper asof hy die toekoms kon sien.  Só, byvoorbeeld, het hy oor warmlugballonne geskryf voor dit ‘n realiteit geword het.

‘n Hele aantal van Jules Verne se wetenskapfiksiewerke is oor tyd in Afrikaans vertaal, insluitend:
Die geheimsinnige eiland (1950)
‘n Reis na die middelpunt van die aarde (1958)
20 000 myl onder die see (1961)
Om die wêreld in 80 dae (1982)
Veertien seuns op ‘n eiland
Kaptein Grant se kinders

Baie van sy werke is ook oor tyd in strokiesprente omskep en selfs in Afrikaans uitgegee.

Jules Verne is voorwaar een van die grootste skeppers van die genre van wetenskapfiksie en dus een van die grondleggers van Afrifiksie self…