Afrifiksie het die voorreg gehad om op die 22ste April 2014 bietjie te gaan gesels met Mnr. Nico Smit oor sy debuut Afrikaanse wetenskapfiksieverhaal “Die Jagter Kronieke: Die Halfbloed” wat deur Thompson Boekdrukkery uitgegee gaan word. Afrifiksie deel dit graag met u.
AF: Hoekom het jy Thompson Boekdrukkery gekies om Die Jagter Kronieke: Die Halfbloed te publiseer?
N.S: Ek het verskriklik gesukkel om die manuskrip gepubliseer te kry. Al die groot uitgewers was vol lof daarvoor, maar het reguit gesê dat wetenskapfiksie in Afrikaans nie winsgewend genoeg is nie en daarom sien hulle nie kans om dit uit te gee nie. Die verhaal het seker vir 2 jaar of meer in my kas gelê. Uiteindelik en heel toevallig het ek toe op die Internet op Thompson Boekdrukkery se webtuiste afgekom en besluit om dit vir hulle aan te stuur.
AF: Waarom het jy Afrikaanse wetenskapfiksie vir volwassenes gekies om te skryf eerder as die gewone speur- of spanningsverhaal?
N.S: As kind was ek versot op wetenskapfiksie en fantasie verhale. Alles wat daar moontlik was in Afrikaans het ek gelees. Later oorgeskakel na Engels toe die Afrikaanse mark opgedroog het. Ek kon nooit verstaan waarom niemand in Afrikaans wou fantasie of wetenskapfiksie skryf nie. Vir my was dit wonderlik. Ons hoef geensins terug te staan vir die Engelse mark nie. En waarom is die meeste Afrikaanse skrywers slegs gefokus op speurverhale of dramatiese trane trekkers? Ek dink daardie deel van die mark is nou al tot die dood toe moeg vir die tipe verhale. Waarom sal ons Afrikaans in perk?
AF: Waar het jy jou inspirasie gekry vir jou karakters in Die Jagter Kronieke: Die Halfbloed?
N.S: Die verhaal van die Halfbloed sluimer al vir baie jare in my gedagtes. As enigste kind was boeke en my eie verbeeldingswêreld maar my manier om aan die werklikheid te ontsnap. Ek het nog altyd die begeerte gehad om te skryf, om ’n wêreld en karakters te skep. Die karakter van die Halfbloed het ontstaan toe ek nog op laerskool was. Ek het eendag in die plaaslike biblioteek deur ’n boek geblaai wat die moontlikheid bespiegel het van lewe op ander planete. Daar was kunstenaar voorstellings in die boek van hoe lewe op ander planete sou lyk. Ek hierdie prentjie van ‘n jagter gesien… en net daar en dan is die Halfbloed gebore.
AF: Wanneer het jy begin skryf?
N.S: Ek het in Desember 2008 begin skryf aan die Halfbloed. Sederdien het ek nog 3 ander nie wetenskapfiksie werke ook voltooi. Dit neem my gewoonlik so 4 – 6 maande om ’n boek te skryf.
AF: Wat was jou gunsteling genre om te lees as kind?
N.S: Wetenskapfiksie.
AF: Kry jy soms ’n skrywersblok en hoe oorkom jy dit?
N.S: Het nog nooit so iets ervaar nie. Ek kan basies enige plek gaan sit en net begin skryf.
AF: Enige advies aan jong Afrikaanse wetenskapfiksie skrywers en het jy enige ontvang en indien wel van wie?
N.S: Moet nooit moed opgee nie. Hou aan skryf, al doen jy dit ook net vir jouself. Om ’n verhaal te skryf is baie, baie harde werk. Maak geen fout nie. Dit is 99% perspirasie en 1% inspirasie, maar as dit klaar is, is daar geen groter satisfaksie nie.
AF: Was daar enige navorsing betrokke by die skryf van Die Jagter Kronieke: Die Halfbloed en watter medium het jy gebruik?
N.S: Ja, alhoewel baie min. Die Internet is ’n wonderlike medium om die meeste inligting te bekom wat jy mag benodig.
AF: Wat doen jy op Vrydagaande?
N.S: Fliek en pop corn!
AF: Wat doen jy vir onspanning?
N.S: Ek is baie aktief en draf gereeld en oefen 4 tot 5 dae in die week. Ek glo in ’n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees.
AF: Wie is jou gunsteling skrywer en watter boek is jou gunsteling – waarom?
N.S: Ek is mal oor die Dune reeks van Frank Herbert. Die wetenskapfiksie skrywer Alistair Reynolds se reeks Revelation Space, Redemption Ark en Absolution Gap is my gunstelinge. Hierdie ou kan skryf!
AF: Wat is die boodskap wat jy by die lesers wil tuisbring as hulle Die Jagter Kronieke: Die Halfbloed lees?
N.S: Die Halfbloed se dieper betekenis gaan oor die innerlike stryd wat elkeen van ons elke dag ervaar. Die stryd tussen goed en kwaad. Die stryd wat jy in jouself moet voer en wat jou keuses en optrede beinvloed.
AF: Wat hou die toekoms vir jou in na Die Jagter Kronieke: Halfbloed (ander boeke, ’n opvolg of ’n reeks)?
N.S: Die Jagter Kronieke is ’n reeks van 5 boeke wat ek beplan.
AF: Lees jou vrou en/of familie jou boeke en wat dink sy of hulle daarvan?
N.S: Vreemd genoeg het my vrou nog nie juis die moeite gedoen om my verhale te lees nie. Sy is veels te besig, maar sy ondersteun my al die pad. My kollegas en vriende wie dit al gelees het, het dit vreeslik geniet en vra vir nog.
AF: Wat was die moeilikste deel om te skryf aan Die Jagter Kronieke: Die Halfbroed?
N.S: Sjoe, daardie eerste 5 hoofstukke. Wat ’n worsteling!
AF: Dink jy dit is belangrik vir ’n Afrikaanse wetenskapfiksie skrywer om wetenskapfiksie te lees?
N.S: Natuurlik. Daar is byna geen oorspronklike idee meer oor in die wêreld nie. Alle skrywers leen op ’n manier bymekaar wat idees aan betref. Indien jy nie lees nie, verloor jy tred. Wetenskap is ’n dinamiese gebied en alhoewel wetenskapfiksie slegs fiksie is, is dit gebasseer op die wetenskap self en wat kan wees.
AF: Is daar enige verskuilde boodskappe in Die Jagter Kronieke: Die Halfbroed en indien wel kan jy vir ons ’n leidraad gee?
N.S: Verskuilde boodskap? Ja, beslis. Niemand is volmaak nie. Jy sal ook nooit weet wat jou impak en menswees het op die wêreld rondom jou nie. Slegs eendag wanneer jy terugkyk oor jou lewe en let op die keuses wat jy uitgeoefen het, sal jy weet of jou bydrae positief of negatief was tot die wêreld waarin ons woon. Basies dit… jou keuses in die lewe definieer wie jy is. Nie jou agtergrond, ras, geloof of opvoeding nie.
AF: Gedrukte boek of eBoek (en waarom)?
N.S: Gedrukte boeke. Wat is nou lekkerder as om met ’n boek in die hand te ontspan op die gemakstoel, of buite onder ’n boom. ’n Boek gee waarde, lewe aan ’n verhaal. E-boeke, nee dankie… dit is darem te ‘dood’ vir my. ’n Boek het mos ’n reuk aan hom! Jy kan dit voel, vat daaraan, ruik, dit het gewig, substansie.
AF: Wat stel jy voor kan ons as Afrikaanse WF aanhangers doen om die wetenskapfiksie onder jong Afrikaanse lesers te bevorder?
N.S: Vat ’n kans en publiseer. Bemark dit op skoolvlak reeds. Wys die jongmense dit is nie net Engelse boeke wat ‘cool’ is nie. Afrikaans is net so ’n lekker vertel taal.
AF: Waar sien jy jouself oor vyf jaar t.o.v. jou skryfwerk?
N.S: Indien daar ’n honderd mense is wie my boeke lees, is ek in die wolke. Ek hou daarvan om te skryf solank daar net iemand is, wat dit sal lees en vir my vra vir nog… ja dan is ek gelukkig.