‘n Onderhoud gevoer met Rachelle du Bois

Afrifiksie het die voorreg gehad om op die 7de Januarie 2016 met die talentvolle skrywer Rachelle du Bois oor haar eerste Afrikaanse fantasieverhaal “Die Vita Faktor” te gesels. Afrifiksie deel dit graag met u.

2016 - Foto - Afrifiksie - OnderhoudAF: Hoe lank skryf jy al?
RDB: Ek het my eerste boek geskryf en voltooi in 2012. Daarna het 12 ander gevolg.

AF: Wie is jou uitgewer?
RDB: Ek is ’n onafhanklike skrywer en self-publiseerder van 12 e-boeke.

AF: Hoe kom jy aan jou karakters?
RDB: Die tegnologie neem mens op verbeeldingsvlugte waar die mees onwaarskynlike karakters tot lewe geroep kan word. Bring hulle aarde toe, klee hulle met beide menslike en bo-aardse eienskappe en laat hulle in ʼn denkbeeldige plek weg van die aarde af woon. En daar begin jou karakter ontwikkel in iemand wat jy later soos die palm van jou hand ken.

AF: Waarvandaan kry jy jou idees?
RDB: Ek het ʼn goeie verbeelding – soos enige skrywer. Ek lees en kyk wyd en is oop vir nuwe idees en konsepte. Daar is natuurlik onbeperkte beweegruimte in die fantasie genre om my verbeelding vrye teuels te gee. Enigiets kan werk, enigiets is moontlik, al die inligting en kennis is daar buite. Ek moet dit net vat en saamsnoer in ʼn lekker storie gevul met interessante karakters, gebeurlikhede en ook ʼn goeie skoot humor.

AF: Waarom het jy hierdie fantasie boek geskryf?
RDB: Ek het Die Vita Faktor geskryf omdat ek gereed was vir iets nuuts na 12 liefdesromans uit my pen. Ek het besluit dis tyd om my skryf- en storievaardigheid uit te brei en die fantasiewêreld was ʼn aantreklike alternatief.

AF: Hoe het jy op die titel van jou boek gekom?
RDB: Die titel het eers werklik in my gedagtes gevestig na ek Die Vita Faktor klaar geskryf het. My vraag aan myself was: waaroor gaan die boek werklik? Die naam het daarna vanself gekom.

AF: Wat is jou doelwitte as ’n fantasie skrywer?
RDB: Ek hoop om in 2016 te groei in hierdie genre en my doelwit vir hierdie jaar is ten minste vier boeke in Die Faktor reeks. Die Vita Faktor is die eerste.

AF: Hoe het jy jou intrige en karakters ontwikkel?
RDB: Ek begin deur die sinopsis te skryf en dan die spieëloomblik waar die hoofkarakter teen homself te staan kom reg in die middel van die boek. Van daar af weet ek waaroor die boek handel en wie die karakters is. Ek gebruik ʼn raamwerk met mylpale waartussen die intrige ontvou en die karakters ontwikkel. Ek het geweet Marcus de Winter is meer as waarvan hy bewus is en het die storie dus uit hierdie kernvraag ontwikkel: “Is hy van sy sinne beroof of is daar waarlik iets meer, iets buite hierdie oomblik, asemteug, plek en tyd?”

AF: Hoe belangrik dink jy is die skurke in jou verhaal?
RDB: Sonder die skurk is daar nie ʼn storie nie. In Die Vita Faktor speel Timor ʼn sleutelrol met sy onheiligheid. Hy span ook saam om die humor te laat werk.

AF: Hoe voel dit om ’n gepubliseerde skrywer te wees?
RDB: Elke boek bring sy eie vreugde. Die Vita Faktor is die eerste in die fantasie genre en dit het nuwe deure vir my oopgemaak. Ek is baie dankbaar en so opgewonde oor hierdie sprong na ʼn heeltemal nuwe wêreld.

AF: Kan jy ons bietjie meer vertel van jou hoofkarakter?
RDB: Marcus de Winter is ʼn koppige man wat weet wat hy wil hê en hy weet hy wil niks te doen hê met die vreemde dinge wat skielik met hom gebeur nie. Hy laat hom nie gebruik nie en hy laat hom nie voorsê nie. Hy bied hewig weerstand teen die gedagte dat hy van elders afkomstig is, tot die bewyse van ʼn ander bestaan op ʼn ander plek nie meer ontken kan word nie. Toe hy eers besef dat hy vir groter dinge bestem is, werp hy hom hart en siel in sy taak. Hy is immers die Opperbeskermer van die Ryk van Sapientia.

AF: Kan ons verwag om meer van jou te lees in die toekoms?
RDB: Ja, ek hoop so. Daar is nog baie stories in Die Faktor reeks wat reeds begin vatplek kry in my gedagtes. Die Vita Faktor was die eerste.

AF: Het jy ’n skrywersblog waar mense meer van jou kan lees?
RDB: Belangstellendes kan my webtuiste besoek by http://rachelledubois.com.