Hoewel Afrikaans goed verteenwoordig is in die geskrewe wetenskapfiksie, is dit tog jammer dat daar so min bestaan in die vorm van Afrikaanse televisie of flieks. Enkele voorbeelde kan genoem word soos Interster en Manemarak. Of die verskeie oorklankings wat beide professioneel deur die SAUK gemaak was of deur entoesiaste soos Johan van Wyk se bydraes soos die Onbekende en Mech – Proefkonyn.
En dan is daar natuurlik die inisiatief om ‘n Afrikaanse WF-kortfilm te skep, naamlik Siklus.
Maar Afrikaans, en selfs Suid-Afrika, suig maar aan die agterspeen wanneer dit by visuele wetenskapfiksie kom.
Tog bestaan daar iemand soos Neill Blomkamp wat wel Suid-Afrikaanse bande het, en wat tog baie sukses in die wêreld van visuele wetenskapfiksie maak.
Neill is op 17 September 1979 in Johannesburg gebore en het op Redhill hoërskool sy skoolopleiding vlotooi. Op 18-jarige ouderdom emigreer hy egter saam met sy familie na Kanada waar hy opleiding ontvang aan die Vancouver-filmskool. Hy het reeds van vroegs af ‘n belangstelling getoon in 3D-spesiale effekte en animasie, en vind spoedig werk in die produksie van Stargate SG-1 (1998), First Wave (1998), Mercy Point (1998) en Aftershock: Earthquake in New York (1999) voor hy as hoofanimeerder aangestel word vir die televisiereeks Dark Angel (2000).
Weens sy bewese vaardighede vervaardig hy ‘n aantal kortfilms, onderneem hy die vervaardiging van drie kortfilms as deel van die bemarkinsverdtog vir die uitreiking van ‘n nuwe weergawe van die Halo videospeletjie – wat hier gekyk kan word.
[Total_Soft_Gallery_Video id=”15″]
En toe, na groot suksesse met kortfilms word sy eerste vollengte fliek in 2009 vrygestel – District 9, te midde van baie politieke sensitiwiteit. Buiten vir hierdie politieke sentimente, was die fliek ‘n reuse sukses. Met die Suid-Afrikaanse agtergrond van Johannesburg en die Engels wat gepraat word deur mense met ‘n sterk Afrikaanse aksent is die bekendheid daarvan heerlik en besonder toeganklik vir die deursnee Suid-Afrikaanse kyker.
En buiten vir die bekendheid, is daar talle ander elemente van die fliek wat nuut en interessant is wat dit grootskaalse byval laat vind het by internasionale gehore.
Daarna vervaardig hy Elysium in 2013 en Chappie in 2015 – elk ‘n distopie in eie reg, met baie van die visuele vistas wat so bekend is in Suid-Afrika.
Die Antwoord verleen natuurlik ook ‘n unieke agterlike en dekadente element aan Chappie, wat kwalik meer effektief deur iemand anders nagedoen sou kon word.
En natuurlik, in al drie vollengte flieks is daar klein stukkies Afrikaans, of slegs enkele woorde, te hoor – baie lekker.
Ons volg met agting en opgewondenheid die toekoms van Neill Blomkamp en hoop dat daar nog hordes skeppings uit sy pen (en kamera) sal voortvloei…