Arthur E Bleksley

Die skrywer van Reisigers in die Ruim, Arthur Edward Herbert Bleksley is in 1908 op Matatiele in Kaapstad gebore.  Aanvanklik het hy aan die Universiteit Stellenbosch die graad M.Sc. in Wiskunde en Fisika afgelê, waarna hy aan die Universiteit Witwatersrand D.Sc. in Sterrekunde behaal het.  Daarna studeer hy in Cambridge, Göttingen en Leiden.

Vroeër was hy navorsing-assistent aan die Smithsonian Instituut te Washington.  Sedertdien professor in Toegepaste Wetenskap en ook Direkteur van die Planetarium aan die Universiteit Witwatersrand.  Hy is ook die voormalige president van die Suid-Afrikaanse Genootskap vir die Bevordering van die Wetenskap, Suid-Afrikaanse Sterrekundige Genootskap, Suid-Afrikaanse Interplanetêre Genootskap, Suid-Afrikaanse Wetenskapskrywers-Genootskap, Suid-Afrikaanse Genootskap vir Psigiese Navorsing, Genoot van die Britse Vereeniging vir Suid-Afrika, en ook Lid van die Fakulteit Wetenskap van die Suid-Afrikaanse Akademie.

Professor Bleksley het meer as 60 wetenskaplike verhandelings en boeke geskryf, meer as 500 populêr-wetenskaplike artikels en om en by 1 000 radio-praatjies en 50 radio-drama’s.

Hy was Suid-Afrika se verteenwoordiger by internasionale kongresse oor Son-energie en oor Ruimtevaart.

In 1961 verskyn sy wetenskapfiksieboek Reisigers in die Ruim, en ‘n wetenskaplike avontuurverhaal, Skatte van die Suidpool in 1963.

Hy is in 1931 getroud en het een dogter gehad wat later ‘n narkotiseur geword het.

Hy sterf in 1984 in Johannesburg.