Leon Rousseau

Leon Gerdener Rousseau is in Kaapstad op 5 Maart 1931 gebore. In 1950 behaal hy sy BA-graad en werk vir vyf jaar lank in joernalistiek by Die Burger. In 1959, na ‘n paar jaar van vryskutwerk stig hy en Koos Human die boekuitgewery Human & Rousseau.

Reeds in 1956 word sy eerste boek, die eerste in ‘n reeks fiksie vir die jeug, uitgegee – op 25 jarige ouderdom, nl. Fritz Deelman en die Swart Eiland. Uiteindelik, oor ‘n tydperk van agt jaar, skryf hy agt boeke in hierdie reeks. Fritz Deelman is ‘n fiktiewe geheime agent van die Internasionale Veligheidspolisie se tak in Suid-Afrika, en baie van dieselfde karakters word in al die boeke aangetref, soos die liefde in sy lewe – Loeki de Klerk. Die boeke is meestal wetenskapfiksie en toekomsverhale en is baie gewild. Meeste het al verskeie kere herdruke ondergaan.

Selfs meer verstommend is die feit dat vyf van die agt boeke later in Nederlands vertaal is en self meer as een keer in Nederlands herdruk is.

Fritz Deelman en die Swart Eiland (1956)

En in Nederlands: Fritz Deelman en de Zwarte Atoomduikboot

 Fritz Deelman en die Skepe van Mars (1957)

   

En in Nederlands: Fritz Deelman en de Ruimteschepen van Mars

 

Fritz Deelman en die Suidpoolbende (1957)

 

En in Nederlands: Fritz Deelman en de Verborgen Zuidpoolbasis

Fritz Deelman en die Diepsee-Duikbol (1958)

 

En in Nederlands: Fritz Deelman en de Diepzeeduikers

 Fritz Deelman en die Groen Dood (1958)

En in Nederlands: Fritz Deelman en de Groene Hel

Fritz Deelman en die Gori Lama (1959)

Fritz Deelman en die Wostynrowers (1960)

 

Fritz Deelman en die Onderseese Myn (1963)

 

‘n Negende verhaal in die reeks volg later maar word nie as ‘n aparte boek uitgegee nie. Dit vorm deel van een van die Storieman-samestellings, nl. Frits Deelman en die Verlate Tuin.

Nog ‘n beduidende bydrae deur Leon Rousseau tot wetenskapfiksie, is die vertaling van ‘n Jules Verne werk in Afrikaans – ‘n Reis na die Middelpunt van die Aarde.

In totaal skryf hy 65 boeke, stel hy nege saam en vertaal hy meer as 90 boeke – baie vir die jeug of vir kinders.

Op 24 Februarie 2016 sterf Leon Rousseau in Jeffreysbaai, en word oorleef deur vyf kinders en agt kleinkinders – en soveel Afrikaanssprekende persone wat oral op hierdie planeet voorkom en wie se verbeeldings vlerke gekry het as gevolg van die feit dat Leon Rousseau pen op papier gesit het.

Dankie Leon. Eer aan jou – een van die grootstes in die WF. Mag jou avonture voortleef vir ewig…

Trivia: Leon Rousseau

Broer Pierre Etienne Rousseau – stigter van SASOL

Sy naam Leon kom van kmdt. Lion Cachet wat bevel gevoer het oor sy pa in die Anglo-Boereoorlog.

Ontvang CNA-prys vir sy biografiese werk Die Groot Verlange oor Eugène Marais, wat ook in Engels vertaal is.

Ontvang die Recht Malan-prys vir Die Groot Avontuur wat evolusie op Aarde beskou en wat filosoiese en godsdienstige aspekte aanraak.