RELEVANSIE

16 Maart 2015
© dr. François P. Verster

2015 - Skrywersfoto - François Verster

Onlangs het ’n bekende in literatuurkringe (ek noem hom hierna “Skrywer”) die vraag gestel of geskiedenis nog relevant is in die hedendaagse literatuur. Dit het my laat dink oor die indruk wat skrywers maak. Dit sluit my in – en dit noop my tot introspeksie.

Kom ons hou eers by geskiedenis: Ek is ’n korporatiewe historikus/argivaris van beroep – mediageskiedenis is waarmee ek daagliks werk – maar ek waag my ook op ander terreine, byvoorbeeld as vryskutjoernalis, onder meer om ’n rubriek “Geskiedenis vandag” in ’n streekskoerant (Bolander) te skryf. Ek doen dit weekliks sedert 2007.

Hoekom doen ek dit? Hoofsaaklik ter wille van bewusmaking. Vir my is geskiedenis beslis relevant, en die manier wat ek dit oordra is om ’n storie te maak van die gekose tema van die dag, op ’n informele geselstrant. Omdat dit ook die beste werkswyse vir streekskoerante (teenoor die hoofstroomkoerante soos Die Burger is), werk dit goed vir my en het ek nou al ’n groot gevolg – mense kom gereeld na my by bv. boekefeeste en sê: “Ek lees Bolander omdat jy daarin skryf.” Die redakteur is al geïrriteerd as sy dit hoor, maar sy besef tog dat die groeiende aantal lojale lesers goed is vir die omset van die koerant. Veral om Afrikaanse leser ste lok, want die koerant is tweetalig.

Behalwe vir die ego-streling vir die skrywer – natuurlik is dit lekker om te hoor mense lees jou skryfsels, jy wil nie jaar in en jaar uit vir jouself skryf nie – beteken dit jou mening raak relevant en dat die temas wat jy aanspreek dan ook relevant word: jy raak ’n meningsvormer, en word deel van die kollektiewe impak wat die media op mense het. Dít dan, is een voorbeeld van ’n skrywer se invloed, sy relevansie en hoe hy ’n gekose tema relevant kan maak.

Relevansie? Wat is dit? My Spellcheck – om ’n voorbeeld te gee – se sinonieme vir “relevant” is o.a. “tersaaklik,” “belangrik,” “gewigtig.” Ek twyfel of “tersaaklik” en “belangrik/gewigtig” noodwendig dieselfde beteken – kennis van ons veranderende omgewing en ons plek in die groter prentjie is deel van Geskiedenis as wetenskap, so hoe kan dit ooit onbelangrik wees? Iets soos dit is dan ook outomaties “tersaaklik.”

Ter wille van objektiwiteit (Ek glo daar bestaan so iets! Jy kán daarvoor mik!) kan ons kyk na voorbeelde van wat al buite ons grense gebeur het: politici kan mense bedrieg en meevoer en miljoene lewens verwoes, soos bv. die Nazi’s en kommuniste rondom die helfte van die vorige eeu. Ook in Afrika het goedgeskoolde despote ook chaos veroorsaak omdat hulle ongeskoolde massas gemanipuleer het. Duidelik is kennis van die verlede se foute essensieel vir ons welstand, om ingeligte besluite, soos by die stembus, te kan maak.

Die belangrikheid van sodanige kennis wissel wel soms afhangende van waar die mens hom bevind in die ewige siklus van konflik en relatiewe vrede wat afhang van faktore soos die ontwikkelingsposisie van die betrokke nasie, onderlinge verhoudings, ens. Plaaslik is ons in ’n fase wat volg ná ’n oorlogsituasie (op die Grens, in die townships, sommer oral) en talle vrae en menings, dikwels propagandisties van aard, word daagliks in koerante gepubliseer. Daar is lewendige debat, soms onverantwoordelik en selfs uiters kinderagtig, en gelukkig ook mense wat in staat is om onpartydig die feite, soos meestal in primêre bronne te vinde, aan te bied.

Miskien is die frase “soos nog nooit tevore” al holrug gery, maar dit behoort duidelik te wees dat daar huidiglik baie mense is wat sin probeer maak uit die verwarrende politieke situasie – die onsekerheid van/oor die toekoms wil hulle besweer deur die verlede te verstaan. Enige historikus sal jou verseker dat dit juis die doel van geskiedenisstudies is: dat jy weet waar jy vandaan kom, sodat jy ’n idee kry van waarheen jy op pad is. Geen toekomsstudies is ook moontlik as daar nie ’n vergelykbare patroon bestaan om afleidings van te maak nie.

Mense soos Alan Paton en Nadine Gordimer het hulle loopbane gebou op een tema, nl. apartheid, André Brink en J.M. Coetzee in ’n mate ook, want politiek, en daarmee ook geskiedenis, is relevant in die algemeen, en daarom ook in die hedendaagse literatuur. “Skrywer” praat in sy artikel van Dan Sleigh se Eilande. Hoekom is die boek so gewild? Omdat hy so maklik of lekker lees? Eerder omdat die onderwerp so relevant is. Ook boeke deur mense soos Dalene Matthee en Karel Schoeman is steeds baie gewild – genoemde outeurs se algemeen-aanvaarde talente ter syde – is Pieternella/ Armosyn van die Kaap en dies meer nóú relevant. Ongelukkig voel dit vir my, lees meer ouer mense hierdie boeke en te min jonges (die verleidelikheid van tegnologie…) – mens kan raai dat ouer mense ook wil weet of hulle dan so verkeerd was, of waar het dinge dan begin verkeerd gaan en so aan.

Skuldgevoelens, ontkenning, nuuskierigheid, gesonde belangstelling – wat ook al die motief; baie mense (ek hoef seker nie eens te sê “veral Afrikaners” nie; dis amper vanselfsprekend) is nou baie geïnteresseerd in histories romans. Selfs James Michener se The covenant,1980, ’n swak nagevorsde, eensydige relaas van ons geskiedenis (in teenstelling met bv. sy epiese Hawaii,1960), word nou “herontdek.”

Dis wel goed indien mens kontrasterende menings in ag neem – veral as jy dan die feite kan toets deur navorsing in argiefbronne te doen. Vooroordele en subjektiwiteit is aaklige apies op elke mens se skouers, insluitende bona fide historici. So, wat is die historiese roman se relevansie vandag? Beslis niks minder as tevore nie. Inteendeel. Mense was altyd teësinnig om dik, vervelig-geskryfde geskiedenis(hand)boeke te lees. Die historiese roman darenteen, is soos ’n lekker blink toffie-appel; opge-dress en duidelik sappiger as die normale ou model, die soort appel wat onder baie bome lê en vrot..

Ek het hierbo ook gepraat van toekomsstudies. Dis waar wetenskapfiksie dan inkom: Die skrywer van WF steun swaar op tradisie, op WF-geskiedenis én op algmeen-bekende wêreldgeskiedenis – anders sal lesers geen verwysingsraamwerk hê nie, en selfs op eie lewenservaring. Geen skrywer kan hom- of haarself losmaak van sy/haar stories nie, want jy delf uit jou ervaring: dialoog wat jy al gehoor het, menseverhoudings, karakterisering… noem maar op. Hoofsaaklik skryf jy oor dinge wat al skeefgeloop het, want daar moet immers konflik wees, en wat jy daarvan kan aflei wat vorentoe kan skeefloop.

Verder kan ’n skrywer sy of haar gunsteling onderwerpe in stories inbou. Magmisbruik, verraad, egbreuk, óf hoop en optimisme vir die toekoms, verwondering oor tegnologiese wonderwerke, en die mens se aanpasbaarheid en onblusbare avontuurlus… só beïnvloed jy as skrywer talle lesers. Só maak jy jou gekose temas relevant.

Soos Eilande, word klassieke WF soos 2001:a Space Oddyssey, Stranger in a strange land, reekse soos Dune en bundels soos Hyperion ook herontdek deur nuwe generasies WF-lesers. En word nuwe geslagte opnuut beïnvloed deur idees wat lankal ontstaan het en deur latere skrywers verder uitgebou is. Daarom is WF nie minder relevant as historiese romans nie. Ook Fantasie kan elemente van geskiedenis bevat – Tolkien het Lord of the Rings glo gebaseer op die Eerste Wêreldoorlog.

Aan “Skrywer” kan ’n mens antwoord: Geskiedenis is die Storie van die Mens. Hoe kan dit ooit irrelevant wees? WF en F is dan ook gebaseer op bestaande stories van mense, waarvan nuwe stories gemaak word. As hierdie nuwe stories die produk van goeie skryfwerk is, sal hulle net so relevant wees as goeie ou stories. En sal jy as skrywer óók relevant wees.