Ghkag

Ghkag is ‘n dis waarmee ons in die Star Trek heelal te doen kry, en is een van die tradisionele disse van die Klingon-wêreld.  Dit word lewend bedien indien dit vars genoeg aan die hande gekry kan word.

Dit bestaan uit ‘n tipe reptielagtige wurm wat op een van die planete van die Klingon-ryk voorkom.  Die dis kom gereeld voor wanneer die Klingons eet of fees vier.

In een episode vind die volgende gesprek plaas tussen kommandeur Reiker en een van die Klingons op ‘n Klingon skip – Reiker was tydelik gesekondeer na die Klingon-skip as tweede-in-bevel op ‘n tipe uitruilooreenkoms tussen die Federasie en die Klingon-ryk.

Klingon: “Wil jy eerder iets ligter hê vir ete?”

Reiker: “Ligter?”

Klingon: “Ja.  As die kos te erg is vir jou, kan ons altyd een van die vroue vra om jou te borsvoed.”

Dié voorhammerhumor van die Klingons is te verstane, want dié dis is behoorlik afskuwelik…

By ‘n ander geleentheid sê een van die Klingons vir Reiker: “Ek het nog nooit gehoor van ‘n Klingon wat op sy eie ruimtetuig van die honger gesterf het nie – maar JÝ mag dalk.”

Die bestanddele vir een porsie van die dis, is as volg.

4½ koppies water

1 koppie gedroogte seegras (kelp)

250 mg vars swart sampioene

1 groenrissie

10 heel peperkorrels

1 middelslag ui

1 ster-anys

½ stokkie kaneel

1 eetlepel tamatiepasta

4 eetlepels agar (of ongegeurde gelatien)

Sojasous

Sesamsaad

Plastiek partytjie strooitjies

In ‘n diep pan oor ‘n matige hitte, kry die water aan die kook met die peperkorrels, seegras, sampioene, anys, tamatiepasta en kaneel.  Sodra dit kook, verminder die hitte tot dit prut, en laat dit vir 30 tot 40 minute prut.

Gooi die brousel deur ‘n sif sodat die groter dele daaruit verwyder is. Skep sowat 2 koppies van die brousel af en gooi dit saam met die agar en 2 eetlepels sojasous terug in die pan. Kook dit vir enkele minute oor ‘n matige hitte tot al die agar opgelos het en die brousel begin verdik.

Verwyder dadelik van die plaat af en skink dit in ‘n inmaakbottel of drinkglas met regop kante.  Druk soveel strooitjies in die bottel as wat kan inpas.  Let wel: die konsertina gedeeltes van die strooitjies moet liefs onder wees in die brousel.  Sodra dit redelik afgekoel het, plaas in die yskas tot die volgende dag.

Onttrek die wurmagtige stringe uit die strooitjies deur dit met ‘n dun pen uit te druk (of welke manier ook al).

Voor die dis opgedien word, berei ‘n bed van lank gesnyde groenrissie en ui wat vir ‘n paar minute in ‘n bietjie olie geroerbraai is tot dit net-net sag word.  Plaas die wurms op die groen bed en sprinkel sojasous en ‘n bietjie sesamsaad daaroor.

Geniet die gesigsuitdrukking op die slagoffer se gesig terwyl die Ghkag verorber word….