Rommulim

Die Rommulaanse ryk speel ‘n belangrike rol in die Star Trek handelsmerk – en daar kan baie goeie én slegte dinge oor hulle gesê word.  Maar die een ding waaroor almal hulle komplimenteer is ‘n alkoholiese drankie waarvoor hul maar net té bekend is – Rommulim.  Dis ‘n gefermenteerde tipe bier wat deur die ganse alfa-kwadrant van die Melkwegstelsel bekendheid geniet.

Hoewel dit onwettig is om dit op aarde te verkoop, het ‘n resep daarvoor gelukkig uitgelek wat ons in staat stel om dié eksotiese drankie nou saam met ons vriende te kan geniet.  Die bestanddele hiervoor is as volg.

400 ml blou Curacao

200 ml deurskynende rum – doelbewus nie ‘n spesifieke geur nie

100 ml wodka

150 ml Powerade – Jagged Ice

10 ml aromatiese bitter

(al hierdie bestanddele kan geredelik in Suid-Afrika verkry word)

Meng die bestanddele saam, en verkoel in die vrieskas – dit moet yskoud bedien word.  Skink die koue vloeistof in ‘n indrukwekkende glasbottel en bedien aan die gaste – drink dít wat oorbly skelmpies.

Let Wel: Rommulus is nie ‘n planeet vir sussies nie.  Indien jy nie ‘n sterk gestel het nie en nie gewoond is aan alkohol nie, moet jy liefs nie hierdie probeer nie.  Die gebruik hiervan kan lei tot ernstige orgaanskade, geheueverlies, swangerskap, oordrewe dapperheid en selfvertroue, ingeperkte moraliteit, verwerping deur die gemeenskap en hewige blootstelling aan die hoë kostestrukture van rehabilitasie-inrigtings.