Satanskind, die vuurheks en die weerwolwe – 2016 © Ilse Goschus
JEUG WETENSKAPFIKSIE (2 093 WOORDE)
Ma het ʼn veraf uitdrukking in haar amper pikswart oë. In haar hande hou sy ʼn spierwit, gebleikte skilpaddop. Daar is ʼn eienaardige kode op die dop-gedeelte uitgegraveer.
“Waar op dees aarde kry sy dit?” wonder ek.
Die iris-gedeeltes van haar oë verander meteens in onvoorspelbare, silwer sirkels wat reg deur jou kyk. Ook die vorm van haar oë ondergaan skielik ʼn metamorfose. Haar vel is nou silwer; ʼn syagtigheid of liewer, ʼn pelserigheid kom lê oor haar gesig, haar arms ene bene. Sy kyk na die maan…
“Waaaouuuuuu” huil sy saggies en ietwat geïnhibeerd.
Ek skrik; ek voel uiters ongemaklik, maar soos ʼn reeds gebreekte brander, is als binne enkele oomblikke terug na normaliteit.
“Ek’t seker my verbeel,” dink ek.
Haar vel is skielik weer haar vel. Haar stem is kalm en warm en dwing my om na haar te luister.
“Evert my kind, luister aandagtig. Dis ʼn storie vir jou nageslag, en hulle nageslag en vir die geslagte na hulle.”
“Nageslagte meen ek moet doodgaan,” dink ek ontsteld
Ek ruk my skielik reg en luister aandagtig. Sy kyk na die dopgedeelte van die gebleikte skilpaddop wat sy nou ekstra styf tussen haar hande vasklem. Haar storie ontvou….
“Maanjare gelede, in ʼn vorige lewe, op ʼn volmaannag, het dit plaasgevind… die geveg tussen Satanskind, die vuurheks en die weerwolwe,” verduidelik Ma.
“Ek was toe elf jaar oud; ʼn natuurkind en effens van ʼn rebel, ten spyte van my lang naam toe… Bretina Aliencia Electrica Algra. Ek’t nie altyd na die wyse woorde van die ouer geslag geluister nie. Dis egter hoe die gebeure daardie nag ontvou het, volgens die alomteenwoordige entiteit, Amare, wat ook daardie nag die gebeure dopgehou het en in kode-vorm vasgelê het; op die skilpaddop.”
***
Die nag lê donker, soel en stil oor die Noordwes-Kaapse vlaktes en die rivier. Die volmaan wys die pad aan. Die 11-jarige Bretina drafstap rivier se kant toe; deur die gate en bo-oor die hobbels in die pad. So in die stap, vee sy die sweetdruppels vernuftig met haar een hand van haar gesig af. ʼn Verskrikte blinkoog springhaas spring skielik reg voor haar in. Sy skrik haar lam.
Donkergrys wolke skuif vir etlike oomblike voor die maan verby en verleen ʼn spookagtige atmosfeer aan die nag.
“Die nag voorspel onheil,” besef Bretina. “Te laat egter om terug te draai.”
Sy lig haar lang, witterige rok so effe op, sodat dit nie totaal in skakerings van bruin verander nie en beweeg omkyk-omkyk vorentoe
ʼn Onaardse gekreun, breek meteens die nagstilte. Koue rillings kruip teen haar ruggraat af.
“Sal ek tog terugdraai?” worstel sy met haar gedagtes.
ʼn Dikkerige, maar vars bloedstreep trek skielik haar aandag, asook vars bloedpoele. Die bebloede karkas van ʼn nog lewendige, half-gevrete kudubul lê in die pad voor haar. Bretina probeer die grusame toneel uit haar brein vee en stap aan.
Sy bevind haar nou tussen die gruishope waar die delwers bedags diamante myn. Sy versteek haar agter een van die hope en gaan sit op haar hurke.
“Waaaouuuuuu! Waaaouuuuuu!” weerklink dit ekstra luid oor die vlaktes.
Die hartseer gehuil na, vir of oor die maan, is hoorbaar; nou reg agter haar. Sy is yskoud van die skrik.
Dan gewaar sy hulle… ʼn pak weerwolwe; ongeveer vyftig pelsagtige gediertes. Hulle sit ongeveer tien meter van haar af en kyk peinsend na haar. Hul pelse is ʼn silwergrys; hul oë is rooi en hul tande skerp en geel. In die donker grond voor haar, gewaar sy verdere, vars bloedstrepe; dit loop kronkelend na die weerwolwe se kant toe.
“My wegglippery vanaand was beslis nie ʼn goeie idee nie,” dink sy. “Pa gaan maalvleis van my maak as hy agterkom ek het weereens nie na sy waarskuwings geluister nie.”
Haar oë vang die volheid van die maan; en dan gebeur die onverwagse. ʼn Onbeplande “Waaaouuuuuu” wil-wil net oor haar lippe glip,
Die bloedreuk trek haar nader en nader aan die pak. Haar vel is nou syagtig; sy’t ʼn sagte wolwe-pels. Instinktief lek sy met haar tong oor haar silwer pels. Onwillekeurig skuif sy op haar boude nader. Haar lang stert is egter in die pad. Sy verander stratgie en sluip saggies op vier pote nader met haar stert onder haar lyf ingevou. Die pak staar haar nou stil aan; hulle hou haar blik gevange. Intuïtief voel sy die atmosfeer aan. Daar is totaal geen vyandigheid van die ander weerwolwe te bespeur nie. Skielik besef Bretina… sy’s deel van die weerwolf-pak.
Saam met die ander hou sy haar oë gevestig op die toneeltje wat voor hulle afspeel…
***
Haar oë is helder poele bloue wysheid, versteek binne haar rimpelvel. Vinnig beweeg haar eelterige oumenshande, nog steeds egter met vernuf en… ten spyte van die oudgeid en die rumatiek.
“Gee vir my nog ʼn paar dun stokkies,” vra sy vir die lang, dun, bleek tiener langs haar.
Hy buk af; vroetel in die sand voor hom, skuifel dan op sy hurke vorentoe totdat hy ʼn bundel droë stokkies in sy hande het; die druk hy dan in haar hande.
Sy druk dit vaardig onder die dikker stompe in.
“Nou die vuurklippe,” prewel sy.
Die kind steek sy hand in sy broeksak en bring die klippe te voorskyn. Die klippe is wit met ʼn effense bruinerigheid en hulle is yskoud.
Die ou vrou vryf die klippe met mening teen mekaar. Vonkies skiet-skiet tussen die twee vuurklippe uit. Sy hou dit nou teenaan die stompe en fyn stokkies. Skielik is daar ʼn rokie en binne minute bars die vlamme in oranje-rooi skakerings teen die swarte hemel uit.
Sy oorhandig aan die seun ʼn beker met taaierige vloeistof. Hy hou die beker voor sy mond, tilt sy kop en sluk die bitter inhoud. Sy het haar eie beker. Ook sy, laat die bittergeid in haar keel afgly met slegs een sluk. Bloedstrepe klou aan haar lippe en wange. Haar bloue oë het nou ʼn ekstra vonkel.
Ritmies begin sy haar hande klap. Die kind, ook nou met bloedstrepe om sy mond oor die bitter bloed wat hy moes drink, val in langs haar. Hul voete begin die ritme volg. Hulle dans in ʼn sirkel, reg om die vuur. Vinniger en vinniger trap hul die ritme met hul voete uit. Hulle spring hoër en die dans raak wilder en woester. Geleidelik beweeg hul nader aan die vuur, terwyl hul sing; ʼn lied vir die wat verstaan. Die ou een en die jonge kyk mekaar reguit en lank in die oë; hulle vat hande. Hulle dans en dans en dans… nog nader aan die vuur.
Die ou vrou ruk haarself skielik los en… skielik raak sy deel van die vuur. Sy dans saam met die vlamme, ʼn vuurdans; simbolies van verandering en ʼn nuwe begin.
Die lang dun, bleek kind, reik sy tienerarms uit na haar; onwillig om afskeid te neem. Haar oënskynlike roggellag weerklink hol en aardig oor die vlaktes, maar die wat toekyk, sien die geboorte… ʼn metamorfose… ʼn nuwe lewe.
“n Silweragtige wese verskyn reg daar in die kern van die vuur, waar die ou vrou met haar roggellag gegroet het.
Verbaas kyk die seun na dit wat voor hom aan die gebeur is.
“Magiese kragte,” glip die gedagte deur sy kop.
Die, silweragtige ligwese (of ligstraal), beweeg reguit na die kind toe en kommunikeer in ligkodes.
“ʼn Manlike een,” spring die gedagte in die lang, bleek seun se kop.”
“My naam is Elektronus,” flits die wese in ligkode-vorm. “Jou naam is Satanskind.”
“Hierdie geskenk is ʼn gesamentlike geskenk van Serefina, die vuurheks en Satan, die heerser van vernietiging; jou vader. Dis die teken waarvoor jy al die jare gewag het. Elektronus druk iets in Satanskind se hand.
“Eina!” skree Satanskind en kyk verontwaardig na die brandmerk in sy hand, terwyl sy geskenk eenkant rol.
“Die brandmerk verdwyn onmiddellik. Dis die teken. Jy is die uitverkore een. Vernietig die weerwolwe. Dis die opdrag van Satan,” kode-flits die silwer entiteit.
Verbaas staar die seun na die silwer ene wat weer terugspring in die vuur en soos die vuurheks, een word met die vuur en die nag.
Onder ʼn droë bossie vind hy sy Satansgeskenk. Dis spierwit en ovaal en ongeveer die grootte van ʼn hoendereier, maar soveel swaarder.
***
“Die reuk van nog vars bloed, trek my soos ʼn magneet,” kondig Krojan die leier van die weerwolwe aan.
“Slaan toe!” moedig Shoekrini, sy lewensmaat aan.
“Kamoefleer!” roep Krojan, ʼn ander.
***
Satanskind trap sy eie dans uit. Hy buk af na die kruik en skink nog van die vars, taaierige bloederigheid in sy beker; in slegs een teug drink hy dit uit. Sy voete trap nou alleen ʼn ritmiese dans uit. Die vlamme skiet steeds hoër en hoër.
Skielik hoor hy ʼn geskuifel agter hom.
“Deur Serefina, die vuurheks gestuur,” besef hy.
Vyftig pare voete trap die ritme saam met hom uit. Soepel lywe; vanuit nêrens… oues en jonges.
Een, egter, neem nie deel aan die dans nie; Bretina. Sy’t weggeglip van die pak af en skuil nou in ʼn groot, uitgeholde jakkalsgat. Dis oor Amare.
(Die het op die wieke van ʼn ligte rivierwind, ʼn boodskap in haar oor gefluister: “Jy is uitverkies om die weerwolwe se voortbestaan te verseker. Gaan terug huis toe. Nou!”)
Satanskind druk sy beker weereens in die bloedeige drank in die kruik. Elke danser neem ʼn sluk van die bitter, vars bloed.
Hulle dans raak woester en wilder. Die bleek ene, die voordanser, is egter onbewus van die metamorfose wat agter hom aan’t gebeur is.
“Waaaouuuuuu”, “Waaaouuuuuu” kloof die weerwolwe se gehuil die nagstilte, as hulle met bloedbelope oë, uitgestrekte kloue en lang, geel tande, op Satanskind afstorm.
Die bleek kind kyk verskrik om en raak skielik nog bleker, ten spyte van al die vars, bitter bloed wat hy tot dusver gesluk het.
“Hy sukkel nog met sy intuïsie,” merk Serefina op aan haar mede-vuurgenote.
“My dansers het in weerwolwe verander. Wat nou?” dink hy vir ʼn wyle paniekerig.
Die vuur spring onverwags hoër die lug in op.Serefina en die silwer ene dans skielik saam binne-in die vlamme.
“Gebruik dit wat jy het,” skree Serefina.
“Die geskenk! Onthou die geskenk!” kode-flits Elektronus, die silwer ene.
Die tiener onthou meteens. Hy buk skielik af en gryp dit dankbaar uit onder die droë, donker bossie.
“Dis dan ʼn eier,” dink hy verward, “maar…. dis ietwat swaarder.”
Weer brand die sogenaamde geskenk sy hand. Instinktief gooi hy dit hard op die grond langs hom neer. Die eier bars oop en honderde silweragtige, laser-wesens sak toe op die eens gekamoefleerde dansers; die weerwolwe.
Die weerwolwe huil vir die maan om te help: “Waaaouuuuuu”, “Waaaouuuuuu.”
***
Bretina kyk na haar nou-weer mensevel, die wit rok, wat nou heeltemal bruin is en die ou bloed wat op die grond voor haar lê. Sy kyk op na die maan wat baie hoog en ver hang en die sterre wat minder geraak het, oor die dag wat nader skuif.
Sy tel ʼn paar gruisklippe in haar hand op en laat hul weer terug op die een gruishoop val. Dan vat sy die pad terug huis toe; bang dat haar pa haar die pak slae van haar lewe sal gee, maar verheug oor die boodskap, wat Amare, saggies in haar oor gefluister het, (voor die weerwolwe se dans en hul amperse uitwissing).
***
Die res van die weerwolwe se bloedbelope oë, lang, geel tande en vreesaanjaende kloue, hou nie rekening met die mag van tegnologie en ʼn ander, meer ontwikkelde dimensie nie. Die laserligte vernietig almal, behalwe die uitverkore een, deur hul gesofistikeerde brandtegniek.
Satanskind neem skielik beheer van sy eie magiese kragte. Sy gelaatstrekke is rooi van die baie bloed en die geskenk van Satan, sy bloedvader. Sy tans opgeswelde gesig vertrek in wreedheid en ʼn onversadigbare lus vir… oorwinning.
Met selfvertroue en geloof in dit wat mens nie kan sien nie, stap hy die vuur tegemoet. Hy dans sy tydelike afskeidsdans saam met die alomteenwoordige Serefina, die vuurheks, die silwer ene en… Amare, die alomteenwoordige bekermer van die… weerwolwe.
Die vlamme spring skielik hoër en breër. Dit vernietig alle spore van dit wat daardie aand tussen die gruishope gebeur het.
***
“Dit was een van die mooiste verhale, ooit Ma,” bedank Evert.
Hy kyk af. ʼn Syagtigheid of pelserigheid lê nou oor sy gesig, arms en bene. Ook sy ma het weereens ʼn verandering ondergaan. Hy kyk uit by die venster. Die silwer- en volgeid van die maan, veroorsaak ʼn tinteling in sy liggaam. Sy ma glimlag stil en tevrede.
“Waaaouuuuuu”… “Waaaouuuuuu” huil Bretina en Evert saam; met begrip vir dit wat is, terwyl die maan van hoog bo die uitspansel na hulle loer.