SEISMO – Ockert J. Du Preez

Seismo – 2016 © Ockert J. Du Preez

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (1 514 WOORDE)

 

“Nommer drie is aktief.”

“Welgedaan span!”

Die groep van dertig begin juig en omhels mekaar.

“Begin Fase 2”

Stelselmatig word die kakofonie kalmer en meeste van die mense keer terug na hul werkstasies.

Magda Engelbrecht, hoofontwerper van die SEISMO rekenaarstelsel se trots straal uit haar oë uit. Sy het hard gewerk en gebid vir hierdie oomblik.

Magda het dit reggekry om mens met natuur te verbind deur middel van tegnologie. Die Dokters sal baie tevrede wees…

* * *

“Fantastiese show boys! Hel, Josef kan jy my ʼn bietjie drom lesse gee?”

Josef Kriel hou die jong fanatiese aanhanger se CD vas en ʼn merker pen in sy ander hand. Hy glimlag breed en sit die pen en CD neer. Hy maak ʼn bietjie spasie oop op die tafel vol torings van sy CD’s foto’s en DVD’s.

“Seker ou tjom!” sê hy vriendelik, “die basics gaan so: Die twee-slag-roffel. Jy vat die twee stokkies,” hy rol die stokkies deur sy vingers asof dit deel vorm van hom, “dan slaan jy met een stokkie twee keer. Ta-ta, dan doen jy dieselfde met die ander hand – ta-ta. Nou gaan jy vinniger en vinniger en so vorm jy ʼn ritme lyn.

“Vat dit dan ʼn stap verder: slaan drie keer per hand, dan vier keer, dan vyf. Sodra jy hierdie kan doen, dan kan jy die res leer.”

Die oopgesig mannetjie se mond hang oop. ʼn Opgewonde meisietjie agter die man wil hê Josef moet dit weer demonstreer. Josef skud maar net sy kop en teken beskeie verder CD’s. “Ek wil nie hê dat julle eers laatnag moet tuis kom nie!” grap hy.

Eventueel word die geraas stil en die lede van Cantus Firmus sit rustig en drink ʼn bier of twee soos oudergewoonte. Dit is ʼn instelling om na elke optrede die hees kele bietjie met ʼn lafenis te vertroos.

“Lewendige crowd vanaand huh?”

“Ja, nee Bakkies, wild maar lekker! Skrikkerig geraak toe ʼn verdwaalde bierbottel my amper tref!”

“Wat praat jy Louw? Hulle mik altyd vir jou, maar dan word ek papsopnat gespat. Pleks staan jy vir ʼn slag stil man!”

“Ja Josef, ek sweer jy betaal daai ou om my elke keer te probeer raak gooi. Is ek so slegte basspeler?”

“Jip. Hierdie ronde is op jou. Kom laat jy die barman betaal!” Josef gryp sy kleinboet vas en vryf sy lang krulhare deurmekaar. “Trots op jou boet! Barman, maak sy sak léég!”

“Kirstenbosch is altyd great nè? Bakkies se genot is oral op sy ronde gesiggie geskryf. “Net die vibe, die mense, lekker!” voltooi hy sy sin terwyl hy sy soveelste sigaret aansteek.

“Raak jy weer filosofies? Jy moet net sê, dan sal ek jou doppe vir jou klaarmaak!”

Josef is in ʼn tergende bui vir ʼn slag.

“Dis lekker om jou terug te hê, Josef!”

“Hoe bedoel jy Bullebak?”

“Ag, jou lanklaas so gelukkig gesien.”

“Jip, ek dink jy’t te veel bloed in jou alkohol-stroom…”

“Nee man, hoe lank is ons al tjommas? Twintig, vyf-en-twintig jaar?”

“Josef, hier kom die doeke-en-kleuterskool-stories al weer! Hy het beslis té veel gedrink!”

“Ek weet Bakkies, ek weet.”

“Net bly jy is weer Josef Kriel en nie Josef niemand nie.”

“Waardeer tjom. Was nie maklik nie, maar weet jy wat?”

“Wat?” Bakkies is klaar spyt dat hy Josef nog ʼn gekskeer kans gegee het.

“Daar is niks, hoegenaamd niks wat alkohol nie kan regmaak nie! Nóg een barman, my kleinboet betaal vanaand!”

“Wat, jy’t gesê net een ronde…” mompel Louw onderlangs.

* * *

“Ons het pas verneem dat daar ʼn massiewe aardskudding in die Kirstenbosch botaniese tuine plaasgevind het. Magnus Jordaan is op die toneel. Magnus?”

“Goeie naand kykers. Soos julle agter my kan sien, het ʼn aardskudding ʼn uur terug plaasgevind. Sewe-punt-vyf op die Richterskaal. Dit blyk die skudding se episenter onder die Boomslang plaasgevind het. Dis op hierdie stadium redelik moeilik om die hele impak op die natuur en omliggende gebiede op te som.

“Wat wel vreemd is, is die feit dat daar nie breeklyne in hierdie omgewing is nie. Vir diegene wat nie weet wat ʼn breeklyn is nie, ʼn breeklyn is ʼn ondergrondse lyn of liewer, ʼn plaat wat elke dan-en-wan skuif en sodoende ʼn aardbewing veroorsaak. Wel, klaar met die les… Ek hoop om binnekort meer besonderhede te hê. Tot dan, totsiens.”

“Dankie, Magnus. Nou in verdere nuus…”

* * *

“Gehoor van die aardbewing?”

“Nee,” sê Josef verbaas.

“Nogal blerrie hectic! Agt-punt-nege op die Fujita-skaal!”

“Jinne Louw, jy oordryf ook altyd! Terloops, die Fujita-skaal word gebruik om tornado’s se windspoed te neem. Die Rich-ter-skaal word gebruik vir aard-be-wings…”

“Ag, oukei Bakkies! Ek het nie twee grade agter my naam nie! Maar het jy gehoor Josef?”

“Nee. Waar?”

“Hier in Kaapstad.”

“Hel.”

“Dis seker weer op die nuus.”

“Sal maar later kyk.”

“Hel, so by die pad, jy lyk asof die bloutrein drie keer oor jou gery het.”

“Ag, seker maar omdat ek lank laas so ge-gig het.”

“Seker. Hoor hier, ek gaan laat wees vir Jennifer, sien later!”

Josef wuif half sinnig en skink ʼn glas water. Hy sluk dit vinnig af en skink nog een. Bakkies tel hul geld wat hulle gisteraand gemaak het, by die sitkamer tafel.

“Het jy dit gevoel?”

“Wat?”

“Ek sweer daar was nou net ʼn klein aardbewing! Het jy dit nie gevoel nie?”

“Wat is dit met julle en aardbewings vandag?”

Die aarde skud hierdie keer erger.

“Komaan, jy moes dít gevoel het!”

“Ek gaan lê. Ek is op. Nie gedink ek sou so moeg voel na ʼn paar biere nie.”

“Agt biere, agt. Sien dan later.”

Josef voel naar en sy kop is besig om te bars. Die sweet op sy voorkop voel yskoud maar dit bring slegs ʼn bietjie verligting. Sy spiere word stadig uit sy lyf geruk en hy sukkel skielik om te loop. Sy kamer voel vêr.

Het ek regtig so baie gedrink?

Hy val op die bed neer wat om insluk en raak summier aan die slaap.

* * *

Die kamer skud en ruk. Die vensters en al die glasware bars. Die boeke en portrette spring van die mure af en Bakkies word weg van die tafel geslinger in ʼn woedende ruk.

“Help! H-h-help! Josef!”

Die meubels skommel lukraak rond. Koppies en glase val grond toe. Bakkies probeer tevergeefs skuiling soek maar alles valnet neer. Die plafon skeur oop en van die dakbalke kraak los. Bakkies hou sy kop tussen sy bene en gaan sit op ʼn hopie in die hoek van die kamer.

“Josef!” Josef antwoord nie.

Dit ruk-en-pluk en Bakkies raak al hoe meer paniekerig.

“Josef!”

ʼn Vaas land op Bakkies se kop en hy is summier katswink.

* * *

Josef word wakker. Sy kop is selfs nog seerder. Hy probeer orent kom, maar sukkel om sy balans te hou. Hy val lomp om en sy lyf kan nie die energie bymekaarskraap om regop te kom nie. Hy kruip op sy maag, stadig, uit sy kamer.

“Bakkies, Bakkies is jy oukei tjom?” Bakkies maak sy oë stadig oop.

“Josef.”

“Ek is hier buddy, is jy oukei?” Josef sit met sy rug teen die muur.

“Hmmm.”

“Wat het gebeur?”

“Aardbewing.”

“Ag, asseblief! Waar!” Elke woord ontplof in Josef se kop.

“Hier.”

“Kan nie wees nie!” Josef begin eintlik Bakkies se stories glo, maar hy wonder eintlik meer oor hoekom hy so sleg voel.

“Is!”

“Reg, verduidelik vir my hoekom daar niks fout is binne my kamer nie?”

Bakkies loer deur een oog en sien dat daar niks onvanpas is aan Josef se kamer nie.

“Ek verstaan dit nie, “ Bakkies kom orent, “daar was regtig iets Josef, jy moet my glo! Hel, jy lyk sleg, Josef, is jy oukei?”

Josef troos sy desperate vriend. Hoekom sal hy dan aanhoudend lieg? Meer belangrik: hoekom het hy nie die geraas gehoor nie?

“Louw?”

“Ek bel hom”

* * *

“Dokter Brummer, dis tyd.”

* * *

Josef hoor homself stadiger praat met Bakkies. Soos hy sy hande beweeg raak dit moeiliker en dit voel asof hy sy hande, arms en bene onder water beweeg. Sy vel voel kielierig en Bakkies beweeg in stadige mosie totdat Bakkies vries. Josef beweeg sy vingers en dit lyk soos golwe waardeur hy druk. Alles staan stil behalwe hyself.

“Middag Josef.”

“Middag. Wat?”

“Jy wonder seker waarvandaan ek gekom het”

Die man se spraak en bewegings is normaal nes syne.

“Nee, ek wonder net wat de hel hier aangaan!”

“Nie nodig om daardie kwaai humeurtjie van jou op hol te jaag nie. Dis hoekom jy hier is. Dis hoekom jy gekies is. Dis as gevolg van jou humeur wat jy nie meer ʼn vrou en kind het nie, nie waar nie?”

Josef hou glad nie van hierdie man nie en dink klaar aan maniere om hierdie man ʼn behoorlike les te leer. Watse nonsens praat hy?

“Aardbewings. Dis hoekom ek hier is.”

“Wat de hel het dit met my uit te waai?”

“Alles. Jy veroorsaak hulle wanneer jou harttempo vinniger as normaal klop. So, wanneer jy ʼn nagmerrie het, soos vroeër, of wanneer jy kwaad word, soos nou. Sien jy wat jy nou gedoen het?”

“Ag, jy kyk te veel flieks en speel te veel videospeletjies man!”

“Nee, ons speel nou met jou.”