Rolprente word dikwels gesien as die eindpunt van wat geskep was op papier of doek. Die meeste geskrewe werke wat ‘n hoë vlak van sukses en aanhang verwerf, word uiteindelik verwerk na ‘n draaiboek wat uiteindelik as grondslag dien vir die maak van ‘n rolprent of fliek. En hierdie eindpunt is grootliks onafhaklik van wat die beginpunt was, hoewel dit daarop gebasseer is.
Daar bestaan voorbeelde van boeke, strokiesprente en selfs radio-dramas wat uiteindelik verder ontwikkel is tot by ‘n rolprent wat in ‘n teater uitgereik is. Selfs televisiereekse en videospletjies wat populêr genoeg raak, bereik dikwels hul finale wasdom as ‘n rolprent.
Weens die potensiaal van groot winste wat by die loket gemaak kan word, word groot begrotings gebruik om rolprente te vervaardig – en dit is nêrens meer ooglopend as in fantasie of wetenskapfiksie nie. Juis die skepping van nuwe wêrelde verg baie spesiale effekte wat natuurlik geld kos, en hoe meer vaardig die effekte aangewend is, hoe meer oortuiegend die nuwe werklikheid wat na vore kom.
Daar is nie juis veel om te sê oor WF+F se Afrikaanse realiteit nie. Hopelik sal dit oor tyd wel verander. Die rolprentgeskiedenis in Afrikaans is baie indrukwekkend en steeds baie lewendig. Om die een of ander rede is die WF+F-wêreld nie ‘n aantreklike doelwit vir Afrikaanse rolprentmakers nie. Hierdie deel fokus dus nie as sodanig op Afrikaans as rolprenttaal nie, maar oor die WF+F-rolprentwêreld waarvan Afrikaanssprekendes wel deel is – meestal met Engels as taal…