TANNIE MARIE SE TUISKOMS – Anna van der Walt

TANNIE MARIE SE TUISKOMS – 2016 © Anna van der Walt

VOLWASSE FANTASIE (2 290 WOORDE)

 

Tannie Nita van Deventer staan in die middel van die klein leefvertrek, sitkamer/eetkamer en die klein aangrensende kombuis. Die meubels wat sy met sorg uit haar plaashuis gekies en saamgebring het, het nogal mooi ingepas. Die plek lyk regtig knus en aantreklik, maar tannie Nita is alles behalwe gelukkig.

Sy was so bly oor hierdie mooi aftreehuisie wat sy met die plaas se geld kon bekostig en selfs nog iets kon oorhou. Wat sy nooit verwag het nie, is nog iemand anders in die huis. Haar buurvrou oorkant die smal straatjie het haar vertel van die vorige inwoner, tannie Marie de Villiers, so ʼn goeie en gelowige mens, wat onverwags in haar slaap gesterf het. Haar Bybel was nog oop op die bedtafeltjie langs haar. Wat niemand haar gesê het nie, en wat sy glad nie verwag het nie, is dat tannie Marie nog steeds hier is, en tannie Marie is kwaad. Sy sien haar soms net so skrams uit die hoek van haar oog: ʼn klein, maer ou vroutjie met ʼn boggelrug en kwaai verwarde oë. Sy hoor kort-kort haar temerige, skril stemmetjie protesteer: “Wat soek jy in my huis? Dis mý huis! Gaan weg.”

Wat op aarde gaan sy tog doen? Sy was nog nooit ʼn bang mens nie, maar verstandig genoeg om te besef dat sy nie alleen op die plaas kon bly woon na Herman se dood nie. Sy het bitter swaar van die mooi plaas afskeid geneem. En hier sit sy nou met hierdie kwaai teenwoordigheid en vir dié sien sy regtig nie kans nie. Die koue rillings loop langs haar rug af telkens as sy van haar bewus word en die temerige stem hoor. En hoe moet sy die plek weer verkoop as sy weet dit spook hier? Sy was nog altyd ʼn eerlike mens, sy kan nie haar probleem op iemand anders afskuif nie. Vir ʼn Slamaaier of ander spookvanger sien sy ook nie kans nie.

Dan dink sy skielik aan haar vorige predikant, dierbare groot doktor Pieter van Blerk – so ʼn rustige, onversteurbare mens. Hulle het lekker saamgewerk in die gemeente waar sy altyd een van die voorvroue was, en doktor Pieter en sy oulike, snaakse vroutjie, Hermien, het beloof om haar te kom besoek as hulle in die stad kom. Miskien sal doktor Pieter nie omgee as sy hom bel en raad vra nie.

Sy skakel die bekende nommer, hoor die diep rustige stem, “Hallo, tannie Nita.”

Hy ken nog haar selfoonnommer. Dit registreer nog op sy foon. In die verligting van sy stem te hoor, begin sy sommer huil, “Doktor Pieter, help my tog asseblief. Dit spook in hierdie huis van my.”

“Spook, Tannie?” Sy hoor die effense ongeloof en, ja, miskien ʼn bietjie geamuseerdheid. Hy moet net nie vir haar lag nie. Nie haar dierbare doktor Pieter nie!

“Asseblief, doktor Pieter, ek is ernstig. Ek het nie mal geword nie en ek ly nog nie aan Alzheimer-siekte nie, maar die vorige inwoner is nog hier en sy’s kwaad. Sy sê dis haar huis en ek moet padgee.”

Pieter van Blerk huiwer ʼn oomblik. Hy is geen spookvanger nie en weet nie of hy aan so-iets glo nie, maar tannie Nita het so hard gewerk in die gemeente en sy is duidelik in groot nood. Hy sal móét gaan, maar wat op aarde gaan hy doen?

“Ek kom, tannie Nita,” beloof hy, “Ek sal oor so ʼn uur en ʼn half by jou wees.”

As hy die foon dooddruk, kyk sy sproetgesig vroutjie vraend na hom, “Waar gaan jy heen, my Lief?”

Hy vertel haar. Tipies Hermien protesteer sy: “Oh no, my Lief. Jy’s gʼn ghostbuster nie. Wil jy nou ʼn spook gaan verwilder?”

Hy huiwer, “Ek het so half gedink ek moet Leo vra om te help.”

“Leo? Daardie verbrande Marsman van Elana? Wil jy hóm nou betrek? En sê nou hy word weer mal daarvan? Jy moes hom een maal tevore uit sy malligheid gaan trek.”

Die Leo van wie hulle praat, is geen gewone mens nie. Hy was ʼn buiteaardse ruimteverkenner wat in sonde geval het nadat hy die reël om nie met die aarde kontak te maak nie, oortree het en so ʼn aardse mens geword het. Hulle het ʼn lang pad saamgeloop. Hulle weet van die baie pyn wat hy al op die aarde verduur het, van die skuldgevoel waarmee hy so lank geworstel het, tot die dag dat hy byna gesterf het om sy dogtertjie te red en sy ma, van anderkant die sterre, kontak gemaak en die skuldlas van hom afgehaal het. Hulle weet van sy psigiese vermoëns, wat na die laaste, byna rampspoedige, gebeure sterker is as ooit tevore. Maar hulle weet ook hoe uiters sensitief hy is. Pieter moes hom by geleentheid uit ʼn sielestryd gaan trek nadat hy met ʼn psigopatiese kindermoordenaar te doen gekry, die man in woede met sy psigiese vermoëns gebrand het, en nie vrede kon maak met sy verterende haat vir die moordenaar nie. Elana, sy doktervrou, is baie beskermend wat haar vreemde man betref.

“Elana maak jou dood as jy daardie swaap van haar weer in in ʼn sielestryd dompel. Jy kan dit nie doen nie, my Lief.”

“Ek kan net probeer, Hermien. Ek dink Leo is sterker as wat enigeen van ons vermoed en – deesdae – hy kan ook net nee sê. Ek weet glad nie wat om anders te doen nie.”

Hy skakel Elana se nommer en as sy antwoord vra hy, “Elana, waar is Leo? Is hy nog by die vliegveld?”

Leo en sy swart medevlieënier, Cebo, doen dikwels soek- en reddingswerk met helikopters.

“Nee, Pieter. Hy en Cebo het vanoggend vroeg klaargemaak. Hy los deesdae probleme so blitsig op. Hy en Stellamarie sit in die tuin en voer die voëltjies.”

Stellamarie is Leo en Elana se dogtertjie, die een wat hy gered het.

“Ek het Leo nodig, Elana. Ek kom soontoe.”

“Waarvoor?”

Sy klink nou huiwerig.

“Ek sal hom sê as ek daar kom. Hy kan nee sê as hy wil.”

ʼn Uur later loop hy in die groot tuin na Leo en Stellamarie toe. Leo staan vinnig op as hy hom sien. Sy ongelooflike smaraggroen oë verhelder, “Pieter! Ek is so bly om jou te sien.”

“Ek dink nie jy gaan lank bly wees nie, Leo. Ek het ʼn groot probleem.”

Die uitdrukking in die groen oë verander. Hy probeer nie Pieter se gedagtes lees nie – iets wat hy wel kan doen – dis eerder asof hy op ʼn eienaardige wyse in homself inkyk. Dan sê hy: “Dis oor die spook by die Welgedacht-aftreeoord, nie waar nie?”

Ten spyte van wat Pieter weet van Leo se deesdae soveel sterker psigiese vermoëns, snak hy half na sy asem. Dat hy so onmiddellik kan weet! “Ja, Leo.”

“En jy wil hê ek moet help? Ek weet nie of ek kan nie, Pieter.”

ʼn Kwaai klein dogtertjie met ʼn elfiegesiggie en groot groen oë onder ʼn bos glansende koper krulle raas skielik: “Los my pappa uit, oom Pieter.”

Leo lag en vryf oor die koper krulle, “Toemaar, Sterretjie, niks sal met pappa gebeur nie. Kom ons ry, Pieter. Maar ek kan niks belowe nie.”

ʼn Rukkie later klop hulle aan tannie Nita se deur. Leo het waarderend rondgekyk na die goedversorgde kompleks en hy hou sommer onmiddellik van die goedige, moederlike ou tannie wat die deur oopmaak. Sy sien hom blykbaar nie dadelik agter Pieter raak nie, maar val haar eertydse predikant om die hals, al moet sy strek om by te kom.

“Ag, doktor Pieter, ek is so bly jy’t gekom. Ek gaan van my verstand af raak.”

Dan sien sy eers die kleiner man agter Pieter raak, “Ekskuus, ek het nie dadelik gesien hier is nog iemand nie.” Sy steek ʼn hand uit, “Wie is jy?”

Hy glimlag. Hy’s die mooiste man wat sy in haar lewe gesien het en sy glimlag is nog mooier as hy. Daardie oë! So ʼn ongelooflike kleur. En eienaardig, dis enersyds die oë van ʼn onskuldige kind, maar daar is ook ʼn vreemde gelouterdheid in die groen kykers.

“My naam is Leo, Tannie.” Hy vat haar hand. Syne is skraal vir ʼn man, maar daar straal ʼn vreemde warmte uit hom, ook uit die greep van sy hand, “Kan ons inkom?”

“Ja, asseblief. Iemand moet my tog net help. Ek weet nie wat om te doen nie,”

As hy die vertrek binnegaan, sien Leo dadelik die skim van die ander ou vroutjie – klein en verskrompeld, kromgetrek deur rumatiek en met die verwarde kwaai uitdrukking van Alzheimers in haar oë. Hy het dit te doen met ʼn astrale wese, maar dit maak nie haar behoefte aan hulp minder nie. ʼn Oorweldigende deernis neem van hom besit. Sy weet nie sy is dood nie, besef hy. Dis die Alzheimers wat haar verwar het. Hy kyk na Pieter en tannie Nita, “Ek sien haar,” sê hy sag, “Julle moet asseblief stilbly. Moet niks sê nie.”

Hy gaan sit in ʼn groot leunstoel en maak sy oë toe. Pieter sien die uitdrukking van stil strak konsentrasie op sy gesig.

Ou tannie Marie sien hom ook, maar sy sien hom nie in die stoel nie, want hy het geestelik oorbeweeg na waar sy haar bevind. Vir haar is dit of hy reg voor haar staan en sy kyk in die mees begrypende, deernisvolle paar oë wat sy nog ooit gesien het. Sy vertrou hom nogtans nie.

“Wat soek julle in my huis,” teem sy, “Julle neem net oor, Wie gee julle die reg?”

Hy antwoord haar in woorde wat die ander twee mense nie hoor nie, maar sy wel in haar dimensie. Hy het so ʼn mooi stem, diep en warm maar met ʼn eienaardige musikale aksent. ‘Hy’s nie ʼn boerseun nie,’ dink sy, ‘Van watter nasie is hy?’ Teen haar sin luister sy.

“Jy wil graag vir oom Andries weer sien, tannie Marie, nie waar nie? En jy wil ons Verlosser ontmoet.”

“Ja, ek wil,” sê sy nors, “maar Andries is dood en nou neem hierdie mense net my huis oor.”

“Kom loop ʼn entjie saam met my, tannie Marie,” hy steek sy hand na haar uit en onwillig neem sy dit. Die ander twee mense sien net dat Leo sy hand uitsteek en iemand anders sʼn vasvat.

“Ek wil nie,” protesteer sy, “Dis so warm en droog buite. Ek wil nie uitgaan nie.”

“Toemaar, Tannie, ons sal netnou in die koelte wees.”

Hulle loop uit – twee astrale wesens. Pieter en tannie Nita sien Leo steeds in die stoel sit. Dit lyk asof hy in ʼn beswyming is. Buite is dit snikheet warm en die rooi stowwe waai al weer. Die ou tannie deins ʼn bietjie terug, maar die warm hand hou haar steeds vas, “Kom, Tannie, net ʼn entjie.”

Hy stuur haar saggies oor ʼn grens. En skielik is die hitte en rooi stowwe weg. Hulle bevind hulle op ʼn groen weiveld, so groen, so groen, amper soos sy oë. Daar is oral veldblomme in die gras en ʼn soet blomreuk in die lug. Die lug is blou en voëltjies sing.

“Kom, Tannie,” en meteens besef sy dat haar knie nie meer pyn nie, dat die seer van die rumatiek weg is. Sy kyk af na haar voete. Hulle is nie meer geswel nie. Haar voete en bene lyk soos dié van ʼn jong meisie. Daar is ander mense op die weiveld. Hulle beweeg almal doelgerig in dieselfde rigting. Sy kyk waarheen. Daar is ʼn kabbelende rivier met helder water, ʼn brug oor die rivier waaroor die mense loop en anderkant dit – sy snak na haar asem – ʼn stad: ʼn stad met hoë goue mure, ʼn poort soos ʼn pêrel en so baie lig. Sy sien vaagweg Iemand in die poort wat die mense verwelkom, so ʼn stralende Teenwoordigheid! Sy loop gemaklik langs hierdie vreemde man – tot by die brug. Dan steek hy vas. Sy ongelooflike oë glimlag vir haar, “Ek kan nie verder gaan nie, Tannie. Dis nog nie my tyd nie. Maar moenie bang wees nie. Kyk, niemand anders is bang nie. Gaan net saam met hulle.”

Sy huiwer, “Sal jy nie saamkom nie?”

“Nee, Tannie, ek kan nie. Nie nou-al nie. Moet net nie bang wees nie. Jy’t tog altyd geglo, het jy nie?”

En skielik verstaan sy wat was en wat is, en die verwarring van die Alzheimers is weg, “Ek is dood, nie waar nie?”

“Ja, Tannie, maar dis niks om voor bang te wees nie. Beweeg net aan.”

Sy kyk lank na hom, “Wie is jy? Is jy ʼn engel?”

“Nee, Tannie. Ek is ʼn gewone sondaar, net soos almal wat hier op pad is na verlossing toe. Gaan nou. Dit sal baie goed wees.”

Dan loop sy maar, al vinniger en vinniger, want sy sien al beter, die ongelooflikheid, of is dit geloofbaarheid, wat op haar wag.

Leo kyk haar agterna. Daar is ʼn diep, pynlike verlange in sy hart. Tweespalt! Sy dierbares van die planeet waarvandaan hy weggeval het, het beloof om by daardie poort op hom te wag en hom te verwelkom. As hy oor die brug sou gaan, die silwer draad sou breek! Maar dit sal weer oortreding wees, ongemagtigde oorsteek van ʼn grens, want die oproep het nog nie gekom nie. En aan hierdie kant het hy ook nog geliefdes en werk wat op hom wag. Daar is Stellamarie en sy belofte aan haar dat niks met hom sal gebeur. Eendag! Hy draai ʼn bietjie teësinnig om.

In tannie Nita se sitkamer sien Pieter en tannie Nita sy oë oopgaan. Hy lyk moeg en bleek. “Sy is weg,” sê hy vir hulle, “Sy’s veilig tuis. Sy sal jou nie weer pla nie, tannie Nita. Ek is baie moeg. Ek het ver geloop. Kan ek ʼn bietjie rooibostee kry, asseblief?”