Vlieënde Pierings: Agter die kap van die byl. – Gerrit van Dijk

Foto - Gerrit van DijkEk was ʼn paar maande out toe die krapperige woorde oor die radio geklink het-

“A small step for man, one giant leap for mankind.”

Dit was die dae van die Verwoerd- en Byekorfhaarstyle, parmantige swartraam brille, daai met die buitehoeke wat so effens oplig. In later jare sou ek selfs leer en afwag wanneer die radiosteuring op op Neil Armstrong se woorde val. Dis op die ‘mankind’.

Pa was ʼn tegniese ou, en ek onthou sy pakke en pakke Popular science en Popular mechanic-tydskrifte met daai klassieke 1950’s kleurillustrasies waarin almal soos dokters lyk. Buiten dit, het hy ʼn ry van hulle gehad wat in ʼn soort ensiklopedie-formaat was. Ek dink tien van hulle, waarin een ʼn ‘vraag-artikel’ oor vlieënde pierings in gehad het.

Voor skool al het ek die planete se name in ʼn ry opgesê. Gewone modelvliegtuigies en ma se breitolle was my ruimteskepe tussen my ‘ruimtebasisse’ in die rotstuin en die rooi voorstoep, so die ruimte was van kleins af my metgesel.

En die maan. O, die maan!

Dis seker die naaste ding wat ek gehad het aan ʼn ander planeet, en as pa my wou trakteer, het hy sy skyfsiet teleskoop uitgehaal en het ons op Bergplaas se rooi stoep gesit en die maan bekyk. Toe het ek die maan vir die eerste keer as rond ervaar. Veral waar die skadulyn loop, en jy die kan sien hoe die hoë bergpieke van die nagkant aan die opkomende son raak.

Die ruimte was daar, en ek was hier, maar ek het vroeg al gewonder waar sou jy opeindig as jy vir ʼn lang tyd ʼn miljoen ligjaar per sekonde kan beweeg.

Hoe sal dinge dan lyk? Bereik jy ʼn muur? Is die ruimte steeds swart?

Die ruimte het ʼn ander dimensie begin kry toe ek een vakansie by my nefies gespeel het, en ek voor die (pas in die land) TV verby gehardloop het-

“Kom kyk, hier is ʼn maan-storie,” het ma geroep. Dit was Alpha 1999, of Space 1999 soos dit onvertaald geheet het. Ek het my verwonder aan die ouens in hulle oranje ruimtepakke in daai stadige aksie op die maan. Maar ek het nie baie daarvan gehou nie, want daar was altyd een of ander bedreiging. Hullle was nie net besig met hulle gereedskap en om stadig rond te hop soos die Apollo-manne nie.

Omtrent daardie tyd het Suid-Afrika sy eerste vlieënde pierings begin aanteken. Dis nou waarvan ék weet, of kennis geneem het. En dit het my getref hoe dieselfde bedreiging, of ruimtemannetjies wat op TV was, ons nou begin ‘opsoek’.

Man, dit was werklik!

In die Huisgenoot was daar een week ʼn swart en wit foto van ʼn man wat by gate in ʼn tennisbaan gestaan het. Daardie gate was veroorsaak deur ʼn vlieënde piering. Pa moes eenkeer ʼn weermagkamp daar gaan doen. Ek kan glad nie nie die plekkie se naam onthou nie, maar ek het geweet pa gaan na daai dorp toe. Amper soos om te weet iemand wat jy ken gaan Hollywood Boulevard toe!

En om nog petrol op die vuur te gooi, volg ʼn vertaalde TV-program omtrent 1978 omtrent vlieënde pierings. Ek het dit nooit gemis nie, en gou skaar jy jou by die program, en leer hulle jou neersien op die ‘ongelowiges’.

Ouma wou nie daaraan byt nie, en het my baie vies gemaak daaroor. Het ʼn yslike sillindervormige skip uit die lug uit gedaal, maak ek seker ouma sien dit om haar te oortuig. Sy sou net kamma-vies kommentaar-

“Man, dis ʼn patatwurm!” en dan lag begin kry vir haarself, en net so af en toe opgekyk terwyl sy sit en hekel.

Die koeël was deur die kerk. Op 9-jarige leeftyd was ek bekeer. Die fondasie was gelê. Ek was ʼn Trekkie, ʼn Star Wars-getuie. Ek was die hele pakket, en ek was gewapen met die ‘woord’ om van almal dissipels te maak. Het ek gehoor van ʼn boer wat op ʼn piering geskiet het, het ek behoorlik skuim om die mond gekry en almal probeer oortuig dat daar lewe op ander planete is en hulle desperaat met ons probeer kontak maak.

Baie later, eenkeer in 1988 tel ek ʼn boek in ʼn bekende studentehandboekwinkel in Pretoria op omtrent hierdie Britse gesin wat deur die bemanning van ʼn skip genader is, natúúrlik op ʼn verlate pad. En hierdie (natuurlik báie menslike) wesens, rig ʼn dringende pleidooi-

Hulle planeet het opgeblaas en ʼn klompie van hulle skepe hang buite die Aarde vir toestemming om te te mag land. (Asof iemand hulle nou gaan keer!) Vra asseblief julle regerings!

Natuurlik vreet ek dit hoek lyn en sinker op, en skryf ʼn brief vir… PW!

Ten minste het ek sy dag opgevrolik, en onnodig om te sê, het niemand teruggekom na my toe nie. Maar die skoot was hoog-deur!

Persoonlike tragedie tref egter in die somer van 1989, wat my wêreld totaal in duie laat stort het. Alles was swart en reënerig soos ná ʼn begrafnis. Hier kan jy Talk Talk se trekkerigste melodieë hoor speel.

Alleen in Pretoria om te begin studeer, wend ek my tot my enigste vriend op daardie stadium by wie ek reeds in my matriekejare ʼn sielsgenoot gevind het. Hy vra my toe om saam met hom kerk toe te kom. Nou moet jy weet dat die New Age-sade van Star Trek en Star Wars lánk reeds in my gesaai was-

The Force, kristalle, energieë, chakras, piramides, vreemde priestersfigure…

Maar ek het dit nie eens oorweeg nie. Alles, net om nie alleen te wees nie.

Dit was ʼn Charismatiese kerk. Die grootste in Pretoria, en my eerste keer as ʼn NG-‘verraaier’. Die skok en die skande! –Veral met gerugte dat ʼn ‘tugkommitee’ jou voorland is, sou iemand uitvind! Maar my ouers het nie geweet nie, en daar begin my eerste insig op die Bybel soos nog nooit tevore aan my openbaar is nie. Baie soos priesters en monnike die woord van almal weerhou het in die Middel-eeue.

-Al was dit Engels.

Maar vir die eerste keer het ek ʼn blik gehad op waarom dinge gebeur, hoe dit werk, wat is die nagevolge… -Verál omtrent demone en geeste.

Daar begin dit. ʼn Heel nuwe heelal het vir my oopgegaan. Maar dit was nie die kroon nie. Eers nadat ek Jesus aangeneem het as Saligmaker en Verlosser, tóé begin die sports-

Vervulling met die Heilige Gees, wat jou leer in álle waarheid.

Nou hoe werk dit? Verdien jy dit met toewyding? Gaan bly jy in ʼn berghut saam met ʼn ou genaamd ‘Yogi’ en mediteer, terwyl hy ʼn halwe meter bo die grond dryf? En as jy daar die berg afkom is jy… (ʼn gong slaan) The chosen one?!

Toe nie.

Jy vra net die Heilige Gees om in jou in te kom, en in alles te leer en te lei. Eenvoudig.

En jy word gedoop.

Nou daai een was taai, want ek kon net dink íemand,íewers wat gaan uitvind, gaan iets oorkom. Ơf die dominee, óf my familie. Ơf jy word onterf, of iets.

Dit het my opgeval dat die ‘dominees’ so ʼn ver trek in die oë kry vir dinge wat wél in die Bybel staan. Waarom? Later moes ek uitvind dat tagtig persent van hulle aan geheime ordes behoort en hulle word gyselaar gehou deur hulle pensioene en medies as hulle nie spring vir húlle ‘base’ nie.

Maar ek het dit net gedoen. Veral om dit te doen waar daar eensgesindheid is soos jou gemeente, en nie ʼn “bring jou eie kat”-Satanistiese braai nie, help nogal.

As jy daar onder daai water uitkom…

Kyk, daar is niks soos tragedie wat jou by God uitkry nie. Ek het dit beleef, en gesien hoe dit ander mense ook tref. Sonder dit kan jy maar ‘gee jou hart vir Jesus’, jy sal seker net weer opeindig waar jy was. Want gou genoeg gaan dit goed en jy vergeet van God. Maar as jy vir dood uitgespoel lê op die strand, gryp jy God met naels wat jy nie geweet het daar is nie.

Goed, ek dink ek is nou klaar met die gedeelte wat meeste mense warm om die kraag laat. Die punt is-

Ek was onder beheer van ʼn núwe entiteit. Die een waaronder ek gebore is, en op ingeent was, is afgesny. Soos Neo van Matrix, kon ek nou dinge begin sien vir wat dit werklik is!

Vars in die Here, was ek deel van ʼn baie gemalike Bybelstudiegroep, of noem dit ‘geselsgroep’. Wat ookal, dit was iets waarna ons regtig uitgesien het. Ons was maar ʼn paar studente tussen volwassenes en ou mense, maar interresante dinge is geleer. Ek het alles ingeprop omtrent God, Jesus, die Heilige Gees, engele, demone. En ek het gefókus, want soveel keer het ek vantevore probeer by God bly, maar altyd afgeval.

So kom dit dan toe dat ek op ʼn dag oppad koshuis toe van die klas af, by ʼn Pretoria’se CNA instap. Dis nou daai sentrum tussen Sunnyside en Gesina. As dit nog daar is.

Vandat ek kan onthou, is ek altyd by ʼn CNA in as ek die kans kry, en daar het ek ure verwyl. Deur boeke geblaai, prentjies gekyk…

Oudergewoonte tel ek toe ʼn eksemplaar van UFO magazine op, blaai daardeur, en neem in wat is die jongste is oor vlieënde piering-landings, ens.

Skielik tref iets my-

Dit val my meteens op dat byna ál die advertensies daarin iets met die okkulte te doen het. Alles te doen met towerkragte, persoonlike mag en vermoeës, gelukbringers, tarotkaarte en al hierdie ‘innerlike self’-‘kruisbeen-sit-terwyl-jy-jou-voorvingers-bymekaar-hou’-goed wat jou as mens op die troon sit, meestal in die hierdie ‘ek is volmaak’-posisies, derde oog, piramides, en ander lankvergete volke se wonderlike tegnieke en formules.

En dit gaan vir my oop-

Ligte in die lug, wesens wat aarde toe kom. Fantastiese skepe. Wesens wat hulleself nooit werklik wys nie. En dis altyd hulle wat na ons ‘in-vrede-kom-en-hulle-tegnologie-met-ons-wil-deel-maar-ons-is-nog- nie-gereed-daarvoor-nie-oor-ons-oorloë-en-onvolwassenheid’, ensovoorts. Tot vervelens toe, ʼn beter lewe van welvaart, sonder siekte…

En omtrent daardie tyd, iewers daardie jaar van 1990, ondek ek die heilige graal van alle vlieënde piering boeke, naamlik Elizabeth Clarer se Beyond the Light Barrier. Uit eie bodem! En ek begin lees.

Alles was goed en wel, en daar word gespog met hulle perfekte, hoogs tegnologiese samelweing, tot die kaptein van die sterskip, ene ‘Akon’, aan Elizabeth verduidelik van een of ander ingewikkelde universele konsep wat ons ‘God’ noem.

Ons armsaliges. Ons primitiewes, met ons steentyd konsep van ʼn God. En net daar maak ek die boek toe.

Baie dankie Akon! Ek ken jou naam. Want Satan kom as ʼn engel van lig!

My kop het gelui soos ʼn klok van openabring wat my soos glasskerwe van alle kante af tref.

En moenie vergeet van die inwoners van ʼn planeet in die Seti Reticuli-stesel nie, wat ʼnougeset met die Amerikaanse regering saamwerk’. Interressant, met Engelend as die okkultiese hoofstad van die wêreld, met sy buitepos, die VSA, moeder van alle vlieende piering stories, die oerbors waraan almal suig en hulleself meet.

Hierdie ‘Greys’ van Seti Reticuli aanbid weer die héélal as ʼn opperwese. Weereens is daar nie ʼn direkte persoon aan wie hulle verslag doen nie. Hulle is basies god. En hierdie dingetjies tel die mens op-

Aanbid iets. Al is dit ʼn boom, moeder natuur, Gaia, ʼn energie…

Foto’s van hierdie wesens is, soos die skepe, altyd dof en greinerig. Hulle kom nooit na ʼn massa mense nie, maar altyd net as daar ʼn paar is.

Die eerste ding wat nodig is vir ʼn massa-besigtiging, is eensgesindheid. Vir geloof word dieselfde benodig. So as jy ʼn klomp gelowiges vir een bepaalde doel bymekaarkry, gaan hulle resultate hê. Toe Jesus een bepaalde kind wou gesondmaak, het Hy eers die dorpsidiote uitgejaag en dié behou wat glo en afwagtend is. Net so gaan jy tien teen een ʼn vreemde wese of ʼn vlieënde piering te siene kry as ʼn klomp bymekaarkom, en afwagtend is.

Dis nou die sogenaamde wesens sélf, maar die skepe is wel al gesien deur baie, maar dan is dit net ʼn lig, of ʼn skip self.

Nou, die skepe self is nie ʼn probleem nie. Want dis ons eie.

Wat?! Jip! Ván hulle. Hemelwesens, gevalle of nie, kan twee vorms aanneem om ʼn piering weer te gee-

Dis óf ʼn lig, soos die Bybel hulle beskryf, wat die beskrywings van meeste ‘skepe’ is, of deur ʼn bietjie meer energie in te sit, kan hulle die optiese illusie van ʼn oordentlike skip skep, volledig met ʼn metaal-afwerking, liggies, ensovoorts.

Wat ‘ons eie’ skepe betref, glo ek persoonlik dat die mens se tegnologiese peil baie verder is as wat ons dink, of meegedeel word, maar dit word geheim gehou. Terwyl ons nog as die groter publiek hier onder rond ploeter, word baie hoër tegnologie ingespan om die massas in toom te hou.

En waarom al hierdie selfoon tegnologie, Facebook, en dies meer? Dis om deeglike profiele van alles en almal op te bou, tot dit eendag in werking gestel word. -As dit nie alreeds ís nie! Die lokmiddels om alles oor jouself te deel is verbysterend en onweerstaanbaar. Lucifer weet ons is sosiale wesens met ʼn diep begeerte om onsself met ander te deel.

Die merk van die dier is ook reeds daar-

Piepklein mikroskyfies waarmee jy ingespuit gaan word sodat hulle alles van jou weet, die hele tyd, waar jy ookal is. En jy wonder waarom word selfone soveel aantrekliker by die dag? Beter, sodat jy al jou persoonlike inligting wíl uitstort.

ʼn Sekere superrekenaar wat verdiepings beslaan word reeds ‘Die dier’ genoem.

So ons tegnologie is verder?

Gaan lees maar Nicola Tesla se verhaal, hoe ons tegnologies baie verder sou wees, was dit nie vir die geldmagte van JP Morgan en Kie nie, wat seker maak die oliemarkte word beskerm, net oor geld. Hulle geld, en hulle rykdomme. So is daai tegnologie weggegooi? Neewat. Dis in veilige bewaring vir eendag, en word heel moontlik reeds geïsoleerd ingespan, maar een ding is seker- Tesla het niks daarvan gekry nie.

En wat het geword van die elektriese motor? Dit werk, maar is dood. Tata het nou onlangs die nuus gebreek van ʼn enjin wat net op gekompresserde lug werk. Sterkte Tata. Dis tata vir daai een, want die geldmagte gaan seker maak ons bly by olie.

Goed, alles gaan nou kamma ekovriendelik, en dis sonkrag en windkrag, maar dis net ʼn front om ons te laat glo daar word wel vordering gemaak. Waarom groei plante weliger langs paaie waar petrolmotors ry? Gaan dink maar.

So vlieënde pierings is daar, maar hulle styg sommer hier op, terwyl ons nog motors bestuur en duur vliegtuigkaartjies koop. Dit gaan oor beheer, en die publiek wat niks weet nie. Want daar kom ʼn dag waarin ons, die breëre gepeupel met die koms van die Antichris soos beeste in kampe gedruk gaan word. The X-files is ʼn baie akkurate uitbeelding van die duistere magte, maar ons gaan dit nie glo nie, want X-files tel as wetenskapsfiksie!

En as hulle wat aan Christus behoort skielik weggeneem word soos die Bybel noem, raai wat gaan die verduideliking wees?

Vlieënde pierings!

Verskeie Hollywood reekse, soos byoorbeeld The Leftovers, maak die publiek reeds mak dat so-iets wel gaan gebeur.

Vlieënde pierings het nie net by Roswell begin nie. My persoonlike gunsteling is die twee magte se onderskeie skepe wat mekaar in die lug getakel het oor Duitsland, aldus die domumentêre reeks Ancient Aliens op DSTV. Dit moes omtrent in die 15de eeu gebeur het. Sillindriese skepe wat op mekaar gevuur het, en hulle het seker gemaak daar is ʼn gehoor!

Reg deur tyd was daar allerhande goedjies, allerhande saadjies en gebeurtenisse geplant en gelê om die mense te laat wonder, vrae te vra, en bowenal om die mens die Woord van God in twyfel te laat trek. Die grootste slag was Darwin se The Origin of Species. Baie mense is Ateïste vandag deur sy werk alleen, al sê hulle Darwin het sy werk op sy sterfbed ontken. Baie mense word skielik Christene op hulle sterfbed, want dan is die dood werklik en die gees self weet wie trek die toutjies!

Verbasend dat daar géén konkrete bewys vir evolusie is nie, glo mense dit steeds. Selfs die hoogste priesters van evolusie erken dit is hóógs onwaarskynlik, maar klou daaraan vas net omdat God nie klein genoeg is om in ʼn proefbuis te kan prop nie!

Dit was die reeks Ancient Aliens op DSTV se History-kanaal wat my nou eers laat dink het om hieroor te skryf. Baie interressant, moet ek sê, as jy weet hoe om daarna te kyk.

Hulle wys heelwat fondasies van antieke stede wat vandag onder water is. Wat natuurlik verwoes is tydens die groot vloed. Daaityd was daar nie oseane nie, net groot mere, want die Aarde was bedek met ʼn water sfeer, in stand gehou deur die Aarde se magneetvelde en rotasiesnelheid, wat alle sonstrale uitfiltreer het. Daarom dat die eerste reënboog eers ná die vloed was! So toe al daai water afkom van dié ‘dop’ wat in mekaar stort, en ondergrondse waterliggame wat oopbreek, is daar vandag water waar daar toe droë land was.

Elkgeval-

In hierdie program het jy die een kundige na die ander wat elkeen in die donker tas. So dis Adam Tas, Koos Tas, Jan Tas, elkeen tas. Almal verwys na die ‘gode’ wat hier was, en eendag gaan terugkeer. Nee meneer Tas, hulle gaan nie terugkeer nie- Hulle is steeds hier!

As engele, was hulle wel gode. Die boek Henog wat so sorgvuldig uit die Bybel weggelaat is, getuig daarvan. Nou kyk, Henog is bykans net so duister soos Openbaring, maar vertel duidelik waar ons tegnologie vandaan kom ná die sondeval. Daarin word vertel hoe die engele die mens kom leer het hoe om metaal te bewerk, te plant, met hout te werk… Noem dit op.

En toe? Toe gaan hulle.

Ek kan wed hulle het seker gemaak hulle gaan in die lug op, met soveel ‘oemf’ as moontlik sodat daar kennis geneem moet word hulle gaan óp, sódat daar rotstekeninge gemaak kon word en allerhande antieke rekords wat ‘marsmanne’ uitbeeld.

Die Bybel maak verskeie male melding hoe ons engele ontvang, vermom as gewone mense. Van hulle het selfs geslagsomgang met vroue! En dit gebeur vandag nog. Vra maar mense wat gereeld deur sogenaamde ‘tokkelosies’ geteister word! So hierdie wesens, beide goed en sleg, kan enige vorm aannneem. Mét baie liggies en toertjies. Satan het Jesus al die koninkryke van die Aarde ín die woestyn gewys. Nie prentjies nie, maar óf deur ‘dimensionele projeksies’, óf deur self daarheen te ‘verplaas’.

Ek kan dit eenvoudig nie genoeg beklemtoon nie- Ons word daagliks omring deur hierdie wesens. Ván hulle voordelig, ván hule nadelig. Ons kom daagliks met hulle in aanraking sonder dat ons dit weet. Hulle kan fisies met ons skakel, en vir duiselingwekkede illusies sorg.

Baie engele wat aan mense verskyn, kom met ʼn geweldige drama, soos ʼn ontsaglike ligglans. Vat daai selfde ligglans, en laat ʼn gevalle engel ʼn paar S’e kap teen die sterre, en jy het ‘the return of the gods’!

In dieselfde reeks word Werner von Braun gevra waar baie van NASA se tegnologie vandaan kom, en sy antwoord was, aldus Ancient Aliens– “From thém.” Dis nou volgens die TV-reeks. As hy dit nié werklik gesê het nie, en dis ʼn aandiksel vir sensasie, wat is die doel daarvan?

Sodat jy kan… gló.

Glo, glo ,glo. Glo is alles. Dis die kern van die Bybel, en ons bestaan.

So wat demone eerste doen, is gee die tegnologie van teengravitasie, bied hulleself aan as vlees en bloed wesens wat dalk so ʼn bietjie anders lyk as ons, of baie anders, en die bal is aan die rol. Die ‘gode’ het gekom ons ons tegnologie te bring, net soos in Henog se tyd.

En met hierdie ‘helde’ met hulle wonders, teenoor God wat baie op die agtergrond is, raai wie vat die prys?

So hierdie ouens val baie in plek met die New Age-beweging wat die mens nou ‘restoureer’ om hom sy ‘plek in die sterre’ te besorg. Alles gaan basies oor die verheerliking van die mens. Ơf dat hy ʼn soort god is, óf omdat ʼn god van bo kom om hulle te besoek.

De hel met Jesus wat gekom het ons in ons plek vervloek te word, kyk na die fantastiese wesens in hulle ruimteskepe!

En hierdie wesens gaan niks noem van ons huidige toestand nie. Nie bekering of sonde nie. Waar alle ‘gelowe’ praat van boosheid of sonde, is hulle arms oop. Dis nou as hulle jou nie op ʼn tafel vasbind en goeters in jou opsteek nie!

Met daardie bekende kleurfoto van ʼn paar Britte wat ‘leviteer’ voor etlike kameras, raai wat gebeur daar? Geestelike wesens isoleer hulle teen die Aarde se graviatsieveld, en hulle dryf. Dieselfde beginsel van die pierings. Dis nie hulle sogenaamde breinkrag, of tyd wat hulle kruisbeentjies spandeer nie. Dit gaan oor hoe diep jy in die okkulte is. In Exodus het die Farao se towenaars ook kunsies uitgehaal wat met God se gesant, Moses, kon kers vashou.

Sommige mense meen The Matrix is van die Christelikste flieks wat ooit gemaak is. Wel, op ʼn manier.

Gaan kyk dit weer. Dis nou die eerste een-

Jy het die hoofkarakter wat iets moet inneem voor sy oë sal oopgaan. Hy moet kíés- Wil hy, of wil hy nie. Vervulling met die Heilige Gees. Waar sy koppelings loskom in sy ‘broeikas’ is waar jy jou bande sny met jou wêreld, wat jou verblind. Waar hulle hom uit die water opskep, is die doop, en dan begin sy programmering- Die Heilige Gees wat jou toerus en leer in alle waarheid.

“Am I dead?”

“Far from it!”

Nou is hy gemerk vir die manne met die Raybans, en lê hulle hom voor, verniel hom, totdat hy daai koeëls een dag in midvlug stuit en hy besef wie hy is (wie jy is in Christus). Interressant ook hoe Matrix wys hoe die bose enige-iemand op straat teen jou kan draai wat nie ‘losgemaak’ is nie. Dis werklik soos dit is. Satan het toegang tot enige-iemand en kan hom gebruik soos hy wil, wat nie in Christus is nie. Dis net die persentasies wat verskil.

Kort nadat ek Jesus aangeneem het as Verlosser, het ʼn man by ons groep aangesluit wat pas uit Satanisme kom. Soos gewoonlik, is almal altyd hoëpriesters. Ek het hom nooit werklik vertrou nie want hy het altyd ʼn ‘streep’ in hom gehad wat net nie wou skiet gee nie. Maar in die ure wat ek met hom tyd spandeer het, het hy dinge (wat jy met ʼn knippie sout moet vat) ontsluier wat hulle as Sataniste ‘eksklusief’ weet. Buiten dat hy die name verstrek het van hoë openbare figure wat saam met hom in sy Satanistiese dienste was, het hy ook aan my toevertrou dat die Yeti, of Sasquatch of Bigfoot, demoniese manifestasies is. Daarom dat slegs voetspore van hulle ooit gekry word, en dat hulle erg stink na verottende vleis. ʼn Vrot vleis-reuk is ʼn algemene karaktertrek van ʼn demoniese teenwoordigheid wat duiwel-uitdrywers mee te doen kry.

Ook het hy my meegedeel dat weerwolwe wel bestaan. Volgens hom is weerwolwe gewone Sataniste wat baie diep in hul toewyding en aanbidding gaan. Só diep, dat hulle demone van hulle besit neem en hulle fisies verander na half-wolf, half-mens wesens. Soms net gewone monsters, want demone probeer gewoonlik ʼn afgryslike, vreesaanjaende voorkoms aanneem, so die wese self bloei deur die fisieke menslike vorm. Vrees is nie van God af nie, so die vorm wat hulle sal aanneem is dié van Vrees self. Tydens so ʼn vormveranderig is die mens daarin se bewussyn totaal afwesig en is hy nie eens bewus van wat met hom gebeur nie. Die Voodoo-geloof is so ʼn voorbeeld.

Daarom dat Hollywood so knaend hamer op Vampiere en Weerwolwe. Dis ʼn subtiele verheerliking van Satanisme, ʼn bewusmaking, om dit fabelagtig en avontuurlik te maak sodat jy dit wél gaan vind eendag. Kyk maar na die Highlander-reeks.

Want vampiere en weerwolwe het ‘magte’, word gewys, en die belofte van ‘mag’ of ‘magte’ is al wat mense in Satanisme laat beland. Wat hulle níé vertel word nie, is dat daardie ‘magte’ onsigbare demoniese werkesels is wat maar net saamspeel. Die Satanis sélf het geen beheer oor hulle nie. Hulle kan die Satanis self enige oomblik wurg of verskeur. En teen ʼn wedergebore, Geesvervulde kind van God, is daardie demone magteloos.

Sodra jy die Heilige Gees het, gaan jy dinge begin agter kom-

Jy is nie meer so gewild nie. En hoe dieper jou wandel met God, hoe banger is ‘die ander kant’ vir jou. Net soos die Matrix-hoofspeler op die ou einde aangesien is vir ʼn gloeiende lig, met toegang tot die hoof kragbron van alles, net soos hulle in Christus, losgekoppel van die wêreld, want alles is basies illusies.

Op ʼn molekulere vlak is alles solied omdat die molekules ʼn seker stadige spoed beweeg, maar versnel daardie molekules, en materie kan deur mekaar beweeg en selfs onsigbaar word. –Baie soos waterdamp wat water kan word, wat ys kan word.

Ek praat per e-pos nou die dag met ʼn ou in een van ons bekendste poniekoerante, en vra hom om vir my artikels op te diep omtrent die Tokkelossie. Maar hy laat my wel verstaan hy glo nie in sulke goed nie. Ek sê vir hom-

“Kan ek jou skok?”

“Seker.”

“Daar is!”

“Jy’s nie ernstig nie.”

O ek is! En vra maar enige inwoner van ʼn informele nedersetting, waar hulle geil voorkom.

Kom ek sê hoe dit werk-

Almal, alle mense is geeste. Ons is liggaam, siel en gees, maar die liggaam-gedeelte is om ons massa te gee, anders het swaartekrag geen uitwerking op ons nie. Engele is minus die liggaam gedeelte, en kan net swaartekrag naboots. Of hulle siele ook het, weet nie. Siel en gees moet dieselfde digtheid hê op die ‘universele periodieke tabel’, want dis slegs energie.

Nou het jy die engele wat ‘suurgetrek’ het, hulle wat gerebelleer het teen God onder leiding van Lucifer wat die hoofhond was wat musiek betref. Ons is omring deur hulle. Omswerm. Die hele tyd lyk dit soos ʼn duiker op die bodem van ʼn koraalrif. Al is jy alleen, engele en demone is oral om jou.

Nou, jou gemiddelde Tokkelos is maar ʼn basiese perverse gees in landelike gemeenskappe waar daar baie seksuele perversie is, maar hulle word ook getrek deur alkoholmisbruik. ʼn Tokkelos is gewoonlik nie ver van ʼn sangoma af nie, so hulle is algemeen in bruin en swart plakkersgemeenskappe. Hulle kan enige vorm aanneem maar ‘verkies’ die gedaante waarin hulle altyd gesien word want hulle soek erkenning-

Kort swart mannetjies. Soms half aangetrek, altyd met snaakse gewoontetjies soos frustrasie en onmin skep deur goed in die huis te laat wegraak. Hulle lelikste kenmerk is om vroue te verkrag en mense se bene te krap met hulle vlymskerp naels. Hulle ‘laat’ hulleself beheer deur bygelowe soos bedpote op bakstene sit, sout, rooirissies brand, noem maar op, want hulle wil die mense op ʼn dwaalspoor hou sodat hulle met reg kan terugkeer. So, soos enige demoon, is hulle lief vir valsheid en dwaalspore. Maar die enigste ding wat werklik teen hulle werk, is die Bloed van Jesus.

Nou wat is dit? In watter mate bottels kan jy dit koop?

Nee. Dit koop jy nie. Dis reeds gekoop en betaal. Jy wend dit net aan.

Is jy reeds ín Jesus Christus, het jy volle toegang, en is jy gewortel in Sy outoriteit óór hierdie dinge. Belangsrikste van alles, werk jy nie volgens resultate nie. Daai ding kan jou dalk uitlag in jou gesig as hy so braaf sal wees, maar jy voer dit uit, en draai weg en gaan aan. Dis nou afgesien van die tipe wat jy net hanteer deur te ‘vas’, maar ek het nog nie een van hulle teëgekom nie. Redelik raar, net soos demonies-besetenheid.

Nou die Bloed van Jesus ‘pleit’ jy oor jou huis, jouself, ensovoorts. Jy gesels maar net met God en ‘spreek’ dit oor jou besittings.

Andersins, wat ek sou aanbeveel vir Tokkelos-geteisterde huise, is om jou huis te ‘salf’. Dis nou die aanwending van merkies Olyfolie aan deur- en vensterrame terwyl jy bid, maar dis gewoonlik volgens hoe die Gees met jou praat. Weereens die Heilige gees. Jy het Hom nodig.

Maar ʼn Tokkelos sal nie in ʼn Geesvervulde huis kan vertoef nie. En as daar is, is daar iets wat hom aantrek en in die huis welkom maak. So areas waar Tokkelosse voorkom is baie tuis daar, en as jy die toestande in ʼn plakkerskamp in aanmerking neem, weet jy waarvan hulle hou om ʼn plek sy tuiste te maak-

Sedeloosheid, alkohol, daai kombinasie van bygeloof en skinder. In ʼn opregte wandel van God gaan ʼn Tokkelos nie kan uithou nie, tensy daar ʼn bastion onder daardie dak is wat hom magtiging gee om te mag bly. Byvoorbeeld- Iets wat willend en wetend weggesteek word in ʼn huis wat probeer ‘skoonkom’.

–ʼn Weggesteekte bottel drank in ʼn ou se huis wat probeer vrykom. Weggesteekte pornografie in die huis van iemand wat probeer skoonkom…

Wat ek onduidelik oor is, is of demone hierdie gevalle engele is, want of hulle is neergewerp op die aarde. Of is hulle gevange geneem, sonder Lucifer?

Een ding is seker-

Demone is geeste, en geeste het die vermoeë om hul molekules te vertraag om soliede materie te word. Jakob in die Bybel het met ʼn engel gestoei! Hierdie twee kêrels kon mekaar fisiek blinkvryf, totdat die engel genoeg gehad het. Gees het geen vorm juis nie, daarom kan hulle enige vorm aannneem, voordat hulle solidifiseer.

Soos reeds genoem, vertel die Bybel van hoe mense al saam met engele aan tafel gesit het, sonder om te weet hulle is engele. Dit kom jy gewoonlik agter met daai klassieke omdraai, en jy is skielik alleen.

Dit het eenkeer met my gebeur.

Dan is hulle reeds net onsigbaar, maar steeds daar. Jesus het ook na sy opstanding deur ʼn soliede muur beweeg, saam met die dissipels geëet, en weer net so uitgegaan. So wat van die kos wat hulle saam met jou geëet het? Ek kan net dink dis geaard met daai versnelde molekulere veld. So om soos rykes vir hierdie tydelike wêreld te leef, met sy tydelike materiële patrone, wat eintlik met die regte kosmiese sleutel na enige patroon gerangskik kan word, is nutteloos.

Jy sien, wanneer jou kop die eerste keer lug kry, (soos my ma botweg geantwoord het toe ek haar klein-klein gevra het wat is geboorte) is hierdie gevalle engele of demone daar. En hulle soek net een ding, en dit is die kern van jou wese. Die deel van jou menswees wat verby ruimte en tyd strek- Jou siel en gees.

So van dag een af word hierdie wesens deur hulle bevelhebber ingespan om jou persepsie van die heelal waarin jy lewe, te vorm. En vir demone is dit baie belangrik om alles se beeld vir jou te verongeluk.

Lucifer kan niks skep nie, hy kan net verwring-

Gesondheid word siekte.

Vreudge word hartseer, ensovoorts.

Hy kan net iets herrangskik en perversifiseer, met ander woorde, verongeluk waar daar skoonheid en struktuur is. Dit spruit uit sy onderonsie met God, daarom wil hy alles wat uit God se hande kom, verongeluk, oor sy haat vir Hom.

Dit sluit ons in, wat na Sy beeld gemaak is. Nie God na óns beeld, soos Jethro Tull dit stel nie. Klassieke voorbeeld, wat wys waar húlle wortels onweerlegbaar lê!

Met Adam en Eva se swak oorddeel is die deurgang na God gesluit. Nou met die eerste Adam wat alles vir ons befoeter het, het die tweede Adam gekom, soos daar na Jesus verwys is, om die poort weer oop te stel. Met hierdie poort weer oop moet Lucifer ekstra hard werk om mense van God af te keer, weerstand teen hom, en maak dat hulle niks met Hom te doen wil hê nie.

Die metodes is legio. Die skaking van ons sintuie, is primêr, en daar is geen beter voorbeeld as Hollywood se invloed op die internasionale gemeenskap nie. Flieks, modes, karre, huise, alles wat die oog kan begeer. Musiek, Lucifer se forté, waarmee ons buie en gemoedere enige manier verstel kan word. Kosse. Dranke. Met ons wat voortdurend gebombardeer word deur alles wat ons nie het nie, wie gaan aan God dink? Geld word voor ons neuse gehou, want so kry jy toegang tot al hierdie goetertjies. Terwyl God beloof om ons alles te gee wat ons nódig sal hê.

Baiemaal wonder ek wat Suid-Afrika sou wees as ons nie een ding van Amerika af laat inkom het nie, en terwyl ons ʼn miljoen gode het wat ons almal uitnooi, weet niemand meer watter kant toe nie.

As ek die Suid-Afrika onthou van voor daar TV was, teenoor nou, is ons nie meer dieselfde mense nie. Ons het Amerikansers geword. Ons gebruik daagliks Amerikaanse terme, en dis die hele idee. Lucifer wil die hele wêreld op dieselfde vlak bring sodat ons almal met mekaar kan integreer. Presies wat hy met die Toring van Babel mee besig was, en hy lelik gefnuik is.

So die hele punt is misleiding, en alles wat in die stryd gewerp word deur een verbitterde entiteit, Lucifer, algemeen bekend as Satan.

Jy dra die merk, die simbool, die verpersoonliking van God, en Lucifer wil dit vernietig. Hy wil jóú vernietig, so alles wat jy om jou sien, is ontwerp om jou aandag vas te hou sodat jy nie interaksie met God kan hê nie.

En vlieënde pierings, soos Evolusie, is ontwerp om jou te laat vra-

‘Wie is God?’ as daar soveel dinge is wat nie klop nie? Wat is die Bybel as die ‘wetenskap’ anders bewys? Jy sien, as dit kom by ‘bewyse’ teen die Woord van God, is die stryd vurig. Maar dis altyd ʼn bombardering van ‘feite’. Al gesien as jy met iemand stry oor God? Dis altyd so ʼn opwelling van sogenaamde feite dat daar byna niks uitgemaak kan word wat die ou sê nie. Maar gaan grawe dieper in die bodem van elke ‘feit’, en jy kry ʼn leuen.

Wetenskaplik is daar geen been vir evolusie om op te staan nie. Geen. Daar is ʼn beter kans vir ʼn onploffing in ʼn drukkery en ʼn volledige eksiklopedie kom daaruit. Of dieselfde gebeur in ʼn skrootwerf, en jy het ʼn munt-kondisie 747! Maak nie saak hoeveel ‘biljoene’ jare is nodig nie.

Die teiken, is jou geloof en jou persepsie.

As daar bewys kan word daar is nie ʼn God nie, moet jy dit glo. As God eendag bewys kan word, sal die teenbewyse net so vinnig opslaan. Glo, is die stryd. Glo is die aanvaarding sonder enige tasbare bewyse. Ons realiteit en die ander, is onbewyslik aan mekaar. Soos om ʼn blindgebore mens te beskryf hoe lyk kleur, kan ʼn mol hom nooit voorstel daar is iets soos ʼn vis, en die wêreld waarin hy leef nie.

As jy na die hele vlieënde piering pakket kyk, het jy byna hierdie geloof op sy eie, uit die aard van die hele atmosfeer daarvan, en die hele ding stink na New Age. Reënboogligte, kleurvolle kristalle, beter beloftes van eksotiese wonders. Jy het hierdie eggos en gerugte van ‘ou waarhede’, teenoor die Bybel se skyn van ‘oudmodeiese reëls’, soos die breëre persepsie lui.

Die vlieënde piering ‘kerk’ doen homself voor met hierdie gevorderde wesens met hulle allesoortreffende kennis, tegnologie, wysheid en verwysings na die ou fabelagtige beskawings, ensovoorts, ontwerp om die Bybel baie vaal te laat lyk.

Een van die tydlose treffers, is daardie stuk film van ʼn outopsie op ʼn vreemde wese. Goed, die wese lyk baie menslik, met swart-en-wit film wat nie van die beste gehalte is nie. So terwyl hulle deur die lyk kerf, sien jy net swart in die wond, met geen aanduiding of dit rooi bloed is, of nie. Die horlosie bly in die agtergrond asof dit iets aan die egtheid van die film self gaan doen. Verder lê die lyk in die verskiet in en staar terwyl die patoloë aankarring.

Met Ridley Scott se eerste Alien-rolprent in die sewentigs, is dieselfde vermag deur werklike diereorgane te gebruik waar die androïed sy outopsie op die lewensvorm uitvoer. ʼn Sekere kultus doen dieselfde om mense te ‘genees’ deur stukkies organe uit ʼn wondlose opening in die pasiónt se liggaam te grawe. Die ‘kwaad’ word dan vlugtig uit die weg geruim voor iemand dalk iets agterkom. En dan werk hierdie genesings vele keer, want die pasiënt gló!

Geloof is soos klippe in ʼn rivier- Saam maak hulle ʼn roete, ʼn fondasie waarop ʼn geloof gebou word.

As wetenskapsfiksie skrywer en –aanhanger was ek baie teleurgesteld met die besef en aanvaarding dat hierdie vlieënde piering-vreemde wesens nie bestaan nie.

–Wel, nie in die breëre sin van wetenskapsfiksie nie.

Wetenskapsfiksie sonder ruimtewesens wat aanval? Ek was verpletter, maar dis egter nie te sê daar is nie ander lewensvorme daar buite nie. Waarom sou God die geweldige ruim met sy tallose planete daarbuite skep? Dis net ʼn kwessie van tyd voor ons die onmeetbare afstande van die skepping gaan systap vir verkenning. Dink net aan die fantastiese lewensvorms wat ons sal aantref, as hierdie planeet alleen verbyster en verstom!

Maar hierdie vlieënde pierings met hulle fabelagtige genieë wat ‘kom in vrede’, en nooit amptelik kontak maak nie, is nie wat dit op die oog-af is nie. Dis ʼn láng manipulasie vir ʼn sekere doelwit doer in die nabye toekoms.