VRYBURGER – Dr. John C. Strydom

VRYBURGER – 2011 © Dr. John C. Strydom

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (4 984 woorde)

 

John Strydom - WennerfotoStipu sit nog half oorbluf in die stoel waar hy ’n paar tydsfere (benaderde aardse ure) gelede kom rus het. Hy het grootgeword met ’n redelike mate van akademiese en lewensvryheid, omdat die stelsel van “vrye studie” reeds lankal gegeld het. Hierdie stelsel het voorsiening gemaak dat ’n sekere gedeelte van opgroeiende jeugdiges ’n geleentheid gegun is om vrydenkend ’n tydperk van hulle opvoedingstyd aan enige onderwerp te wy sonder voorskrifte, roetine of voorwaardes.

Wat hom nou meegedeel is, breek egter nuwe sfere oop! Hy wonder hoe wyd hierdie reëling geld, en hoeveel ander burgers hierdie nuus gekry het. Hy het, soos ander burgers, baie min insae in die werking en besluite van die Opperraad ten spyte van die feit dat kommunikasie een van die besontwikkelde en nagevorste entiteite van moderne tye is. Die Opperraad bestaan uit uitgesoekte jongelinge wat vir twee semesters (Centaur semesters is soortgelyk aan aardse jare) opgelei word en daarna gekeur word, en dan lewenslank op Besamu, wat die hoofsetel van die sterrewyk se gesag is, gaan woon. Daar is bitter min bekend van die uiters intensiewe opleiding en toegewyde lewe van hierdie leiers. Slegs besluite word deurgegee na burgers en die uitvoerende magte. Geen verduideliking of agtergrond word verskaf nie, en elkeen wat begerig is om meer te verstaan, kan beskikbare inligting per leposkoop verkry van sentrale data, en dan naamloos voorstelle, kritiek en idees deurgee. Daar word egter geen erkenning of terugvoer gegee nie, en selfs wanneer van hierdie voorstelle gebruik word, sien die voorsteller dit vir die eerste maal as ’n “universele reël vir kennisname”.

Stipu wil sy opwindende nuus graag met iemand deel, en liasseer ’n “gespreksversoek” met Peto. Hy weet instinktief dat Labi binnekort nuuskierig sal verneem wat hy dink! Sy gedagtes gaan terug na die opwindende gebeure van enkele tydsfere gelede.

Hy is na Besamu ontbied en opdrag gegee om niks in sy pad te laat staan om die afspraak na te kom nie. In hierdie sterrewyk word baie selde persoonlik vanaf Besamu met enkelinge gekommunikeer, en ’n opdrag uit daardie kwartiere dra gewig! Hy was, soos sy gewoonte is, vroeg vir sy afspraak en die roetebot (roete robot) was nog onontvanklik. Toe hy uiteindelik sy DNS-kode kon invoer vir erkenning, was dit duidelik dat sy afspraak voorkeur geniet! Hy is onverwags by verskeie wisselaars voorkeur gegee en die rit na die eenheid 6 meter onder die oppervlak was besonder voorspoedig. Toe hy sy hand op die laaste seneel (sensoriese paneel) druk, was die Opperraad reg om hom te ontvang. Soos wat hy bewus was, verskyn geen Raadslid volledig in persoon nie: sommige praat deur elektroniese stemmoduleerders, en andere deur ’n skerm sonder dat hulle gesigte gesien word. Die rangorde van elke lid bepaal hoeveel van hom of haar openbaar mag wees. Hierdie maatreëls word geneem om persoonlike en owerheidsekerheid te verseker, aangesien baie tyd en waarde in leiers belê word, en die verlies van leiers ’n dramatiese invloed kan hê op stabiliteit en vordering.

Dit was vir Stipu ’n nuwe ondervinding: min burgers kom ooit hier, en allerlei legendes en aangedikte verhale word gehoor oor die Opperraad en hulle setel. Die wyse van kommunikasie is nie vreemd nie, maar die atmosfeer is besonders. Baie moeite is gedoen om die perseel en lokaal gerieflik, stimulerend en selfs verheffend te maak. Lasergramme van geskiedkundige tonele of tydperke versier die lokaal, en agtergrondgolwe verskerp aandag en konsentrasie. Elke sintuig word gestimuleer: kleure, klanke en selfs reuke word gebruik om die vloei van senuprikkels te bevorder.

Die afspraak was kort en saaklik: een van die hoofraadslede identifiseer homself, bevestig Stipu se identiteit en geskiedenis (al is dit herhaaldelik deur die roetebot se databasis gedoen), en kondig saaklik aan dat Stipu gevra word om ’n pos te aanvaar. Die voorstel behels ’n nuwe “klas” burger: dié van “vryburger”! Dit is ’n dramatiese uitbreiding van die konsep van “vrye student” en behels ’n waarborg van volledige sorg in alle opsigte tot met sy eie dood, sy eggenoot tot by haar dood, en enige kinders tot by momentum (’n begrip van onafhanklikheid wat jeugdiges op verskillende ouderdomme bereik). Die voordele is besonder ruim, maar die res van die aanbod is verstommend: Stipu verkry totale onafhanklikheid om met sy tyd te doen net wat hy wil, en enige voordeel wat uit sy werk, navorsing of idees kom, moet beskikbaar gemaak word aan sy sterrewyk. Maar selfs in die geval van GEEN uitsette nie bly hy ’n vry man. Hy verkry voorkeurtoegang tot ALLE rekords van uitvindings, idees, argiewe, ens, en voorkeurtoegang tot elke beskikbare fisiese of chemiese gerief tov navorsing. Hy kry toegang tot kundiges van sy keuse vir tot twee Centaur semesters per keer.

Die seneel brom langs hom en hy sien Peto se gesig op die skerm.

“Peto, as jy iets weet van dit waaroor ek nou dink, noem ek jou heldersiende!”

“Stipu, ek ken jou en ek ken jou manier om in die middel van die dag buite skedules versoeke in te sit: is jy by Labi in die moeilikheid?”

“Labi kan haar bevoorreg noem dat sy my ken! Was jy al ooit op Besami?”

“’n Mens gaan net daarheen as hulle jou uitgevang het met die misbruik van tuie, of as jy met die Opperstes se dogters lol….wag, wil jy vir my sê dat jy daar was?”

“Peto, ek was nie net daar nie, ek was ingeroep om te hoor of ek HULLE die eer sal aandoen om ’n Vryburger te word!”

“Stipu, ek dink jy het bestraling opgedoen! Wat is ’n Vrybuger?”

“Dis ’n nuwe konsep wat ’n dramatiese uitbreiding is van die konsep van vrye studente, en lyk my ek is een van die eerste proefkonyne!”

“Seker oor jy nie veel skade kan doen nie…!”

“Peto, ek gebruik nog my invloed op Besami om jou landingsreg op my planeet te weier!”

“Ek gee oor: vertel my ASSEBLIEF van hierdie mylpaal op jou vaal bestaan!”

“Wel, dis vir my ook nog nuut, en ek weet daarvan slegs maar wat ek netnou gehoor het: daar is NIKS op die leposkoop beskikbaar nie omdat die Opperstes dit nog nie formeel geboekstaaf het nie-hulle wil eers kyk hoe dit werk en sal dit na drie proeftydperke finaal oorweeg. Dit kom egter daarop neer dat ek TOTALE VRYHEID het om te doen wat ek wil terwyl hulle volledig vir my sorg op elke gebied. Hulle het my trouens BEVEEL om eers 20 dae af te vat, daarna na Isobel te reis vir ’n 14 dae-kursus in “wit ontspanning” in hulle alfa-kolonie, en daarna my eie kop te volg tot ek iets te rapporteer het.”

“O, ek het al daarvan gehoor, hulle het dit eers ‘vakansie’ genoem”.

“Peto, jaloesie gaan jou ondergang beteken. Kom ons gaan vier dit met ’n sosiale sessie by Virtue”.

Die twee vriende was nog nie behoorlik op pad Virtue toe nie, toe die seneel brom. Labi! Met ’n nuuskierige toon in haar stem wou sy weet waarheen hulle op pad was. Stipu wis maar te goed dat hy nie die nuus van haar sal kan weerhou nie. Hulle kommunikasie is eenvoudig te goed! Hy bring haar op die hoogte en hulle beloof mekaar ’n kuier sodra Labi weer in die omgewing is. Dan begin die vriende met ’n stimulerende kuier op Virtue.

Stipu was ’n hele paar dae later in ’n totaal ontspanne bui op Isobel toe hy die eerste maal skuldig begin voel het oor sy “vryheid”. Dit was die eerste maal in die moderne geskiedenis dat iemand versorg is JUIS om niks te doen nie! Wat sou hy vir die mensdom kon beteken? Hoe lank gaan dit neem om tasbare resultate te lewer? Sou hy die Opperstes kon oortuig om die plan uit te brei, of sou hy die einde daarvan beteken weens te min “rente” op hulle “belegging”?

Labi was gedurig met hom in kontak en kon hom bemoedig. Sy was, soos die Opperstes, oortuig dat die poging suksesvol sou wees. Sy was trouens hoogs opgewonde oor die konsep en het geglo dat dit veelvoudig dividende sou lewer. Dit het Stipu gaandeweg bemoedig en gerusgestel, sodat hy genoegsaam kon ontspan om hom ontvanklik te maak vir dit wat die eksperiment aanvanklik bedoel het.

Die uniekheid van die idee het Stipu pligsgetrou laat dink dat sekere “protokolle” nodig was, en hy het sy moedelose tye gebruik om daaraan aandag te gee. Om net “niks” te doen nie, was vrugteloos! Hy het gou agtergekom dat dit veel meer baat om sy gedagtes te “programmeer”; om die brein uit te daag met ’n probleem. Hoe groter die uitdaging, des te groter die hoogtes waartoe sy intellek gereageer het! Nog ’n feit het gou duidelik geword: mensalleen was sy produksie beperk: hy het gevind dat om sy vriende en kennisse te daag met al groterwordende probleme, en dit in groepsverband te bespreek, veel meer stimulasie gebring het. Die Opperstes het dus veel meer waarde gekry as waarvoor hulle betaal!

Stipu moes ook wyer dink. Wat hy ookal voortbring, moes iets werd wees vir die mensdom, nodig wees in wyer terme, en uitvoerbaar wees. Hy het Labi se fenominale “doopkoorde” bedink wat energie goedkoop gemaak het, en gewonder of hy dit kon verbeter. Hy het oor vervoer gedink, en besef dat die kerngedrewe tuie moeilik verbeter kon word. Hy het gedink oor die mens se beperkte lewensduur, en of kwaliteit of kwantiteit verbeter kon word, en eindelik ook oor misdaad (in die beperkte mate waartoe dit nog voorgekom het), maar dit was meesal sonder veel groot probleme. Kommunikasie was maklik, vinnig en goedkoop, en had min uitdagings.

Verdere “protokol”-ontwikkeling het gevolg toe Stipu besluit het om bestaande kennis te oorweeg as bron van stimulasie. “Ruimte” was reeds goed verken, oorwin in terme van die onvriendelike eienskappe daarvan, maar hy het weer bewus geword van een eienskap wat nog vlak verken is: die heelal was ontsettend groot, en die mens kon weens die fisiese beperkinge van reis eenvoudig nie by die verste hoeke daarvan uitkom nie. Dit het beteken dat ander maniere van “vervoer” of “transportasie” bedink moes word. Hier was beslis moontlikhede, en Stipu het dit geliasseer.
Na sy ontspannende verblyf op Isobel het Stipu homself gedryf om ten minste net rigting te kry, en informeel besluit om ’n indeling te maak van hoe hy die proses wil sien. Hy het gereken dat die Opperstes sekerlik minstens drie groot deurbrake in sy lewenstyd van hom sal verwag, en dat minstens een of twee prakties uitgevoer moet word voor hy sterf. Hy het daarom gereken om een projek per semester te dra tot by die stadium waar besluit kon word of dit kan werk: dit behoort ’n suksessyfer van so een uit tien te gee, en dus rofweg 30 projekte, met drie uitvoerbares in sy leeftyd. Dus kon hy nou begin konsentreer op die eerste!

’n Hele paar projekte het nou nes geskrop in sy gedagtes, maar anders as sy aanvanklike gedagterigting, het Stipu nou besluit om die eerste ’n “maklike” projek te maak sodat hy die baanbrekerswerk daarop kon toets. En watter beter projek as om iets wat voorheen gedeeltelik nagevors is, weer op te diep en verder te neem – daardeur kon hy ook die infra-struktuur toets wat bestaande kennis betref. Hy kon aanvanklik die sintelbronne gebruik, en het ure voor die leposkoop spandeer. Hy kon nou “werk” volgens sy eie tyd. Dit was vroeg een oggend, lank voor sy kant van die planeet die son se strale gevang het, dat hy afgekom het op navorsing oor maniere om aan die mens suurstof te voorsien tydens veral reise deur die ruimtes buite planete se atmosfere. Om water te gebruik om op te splyt tot waterstof en suurstof was baie maklik en elegant, omdat beide die produkte uiters bruikbaar was. Met lang reise moes groter hoeveelhede water egter saamgedra word, en as daar een of ander probleem daarmee gekom het, was daar GROOT probleme! Hoogwyse Hams het ’n teorie ontwikkel dat sekere lewensvorme in die buitenste ruim waarskynlik kon oorleef as hulle die temperature kon oorleef, en dat sekeres met, en sekeres sonder suurstof sou kon oorleef. Hy het toe begin soek na organismes in die ruimte deur op tuie “vangruimtes” te monteer. Daar is na lang soeke agtergekom dat sekere bakterieë wel in die “hokke” voorkom, maar dat almal dood was. Dit was dus dalk kontaminasie! Daar is toe besluit om mikroskopiese studies TYDENS die reise te onderneem, en lewende organismes is wel gevind. Daar is later vermoed dat die metale in die romp van die tuig die organismes gedood het, maar die belang van die bevinding was groter: sekere van die organismes het suurstof PRODUSEER, al had hulle dit nie self nodig vir lewe nie.

Stipu het besluit om Ham te gaan besoek. Hy was op Elda gestasioneer, en was ’n aangename middeljarige opvoedkundige. Maar Stipu het gou besef dat hy geen groot dryfkrag had om sy eie werk verder te neem nie. Hy was die ontvanger van ’n aanmoedigingstoekenning, en dit was die enigste rede vir sy navorsing. Dit het Stipu weer laat dink aan sy eie “bevordering”, en hoekom die Opperstes hom daarvoor gekies het. Hy het ’n ondersoek na hierdie verskynsel geliasseer vir wanneer hy ’n sukses of twee agter die blad het!

Ham het vryelik vertel van sy eksperimente, en Stipu kon hom sover kry om verder te dink. Wat sou gebeur as ’n kolonie suurstof produserende organismes kon saamkoek in die middel van nêrens? Waarvan sou hulle leef?

Dit was duidelik dat Ham na Stipu se vrae verder gedink het as ooit! Hy was selfs matig opgewonde oor moontikhede wat Stipu namens hom raakgesien het. Wat sou die kolonie se grootste probleem wees? Ham het na vele gesprekke vertel dat hy baie van sy inligting met ’n fisikus bespreek het wat veel ouer was, maar ’n passie gehad het vir die fisika van die ruimte. Hy het Stipu verwys na Hoogwyse Esbo en dit was drie dae later toe Stipu (via leposkoop) kontak gemaak het.

Esbo was bejaard in voorkoms, maar vurig van karakter! Hy het ook meer geweet van wat in die buitenste ruim aangaan as enige wyse wat Stipu ooit ontmoet het. Hy het die fisika geken, verstaan, en meesal self beleef. Hy was ’n jong verkenner toe die halfmetaal Bisa ontdek is en aangewend is as skerm teen bestraling. Hy was self betrokke (as konsultant) by die eerste reis na ’n sonnestelsel buite die bekende sonnestelsel; hy het navorsing gedoen oor versnelling tot naby die geagte fisiese limiet (die snelheid van lig), en hy was lid van die paneel wat nuwe data oor die heelal gesif het vir opname in die sinteldatabasis.

Esbo het op ’n afgeleë maar interessante planeet gewoon, en sy kolonie was 30 meter onder die oppervlak in ’n spesiaal geïsoleerde buis met sintetiese sisteme vir alle fasette van hulle bestaan. Dit kon net sowel in die ruimte gewees het, behalwe dat hulle geen probleme met bestraling gehad het nie. Die planeet se atmosfeer was uiters skraal en het ideale toestande gebied vir waarneming deur elektronteleskope. Stipu het ’n hele paar dae by hom deurgebring en was buitengewoon beïndruk met die man se passie. Dit was trouens tydens hierdie besoek dat Stipu sy beplanning vir die res van sy lewe aangepas het: waar hy aanvanklik bedoel het om ’n paar besliste resultate te lewer, het hy nou besef dat goedbeplande navorsing, wat geen direkte doel tydens ’n leeftyd behaal nie, net so belangrik is vir die vooruitgang van die mensdom. Navorsing word dikwels vir lang tye gelaat om “ryp” te word, of vir die res van die kennisterreine om “op te vang”, voordat dit werklik waardeer word vir wat dit werd is. Sy eie leeftyd was dus nie noodwendig ’n beperking op wat gedoen behoort te word nie.

Een van die rigtings waarin Esbo hom gaandeweg gerig het, is die “maksimum bereikbare snelheid”. Hy het geleer dat snelheid self, al is dit ’n goed beskrewe fisiese entiteit met akkurate meting, al hierdie aandag nie werd is nie. Dit is slegs waardevol in die sin van fisiese berekenings tov verhoudings tussen die posisies wat objekte inneem: waar mense betrokke is, maak dit min verskil hoe vinnig daar tussen posisies “gereis” word: die enigste werklike beperking wat dit meegebring het, was die tyd wat dit geneem het om verre sterrestelsels te verken. Die meeste van die heelal was eenvoudig te ver om, selfs teen die spoed van lig, in een leeftyd te bereik. Selfs vir onbemande verkenning was dit te ver. Navorsers het selfs twee geslagte later nog dieselfde verkenning gevolg, maar dan was die tuie dikwels buite kontak, of eenvoudig gedaan! Hier het Stipu nou die stimulerende uitdaging gehad wat hy gesoek het! Hy het egter geglo dat dit onoplosbaar was en het dit onverwerk gelaat tot met slapenstyd.

Daardie nag het twee dinge gebeur: die probleem het in Stipu se gemoed gevorder van “onmoontlik” tot “werd om te oordink”, en hy het ook besluit om probleem-oplossing te promoveer tot projek: hy het so ’n helder droom gehad oor die rigting waarin dit aangepak kon word dat hy besluit het om die oplos van probleme dikwels deur middel van sy onderbewussyn aan te pak. Maar as die wyse van oordenking hom getref het, het die probleem van “posisie in tyd” hom AANGEGRYP! Om anders oor dieselfde probleem te dink, het oplossings binne bereik gebring. Hy wou oordink of dit moontlik was om “elders” te wees sonder om fisies daar te wees. Dit was reeds moontlik om per leposkoop alles “elders” te beleef asof jy daar was, maar kon jy in jou kop DAAR WEES? Kon jy mense SIEN asof jy hulle voor jou had? En dit selfs sonder om die skoop te konsulteer? Mens het tog ’n geheue wat mense se voorkoms, reuk en stemklank kon stoor? Selfs hulle gevoel? Kon dit opgeroep en versterk word? Watter ander rede was daar om fisies op ’n plek te wees? Mens kon probeer om toenemend staties te bly in selfs “sintetiese” omgewings wat alle eienskappe van ander, “ware” omgewings kon weerspieël. Reis het weens die tyd wat dit neem, gevare daaraan verbonde en geringe voordeel (bo die byna ongelooflike kommunikasietegnologie) min voordele. Aan die ander kant kon hy die verkenning van onbekende gebiede anders aanpak: reisende gemeenskappe wat volledig self-onderhoudend was, snelhede wat huidige fisika uitdaag. Op hierdie maniere het hy uiteindelik uitgekom by ’n begrip wat hom later dae lank wakker sou hou. As lig self beperk was in snelheid, kon dit moontlik wees om in veelvoude van ligspoed te reis? Soos branderplankryers “bo-op” water reis en die medium gebruik sonder om “daarin” te wees? Soos ’n tou in die rondte geswaai kon word met verskillende punte op die tou wat teen verskillende snelhede deur ruimte beweeg (afhangend van hulle posisie op die tou en afstand van die middelpunt), moes materie teen onbeperkte “snelhede” kon beweeg tsv die beperkings van die medium self (die tou se rotasie snelheid). Hierdie konsep het hom een nag laat droom dat lae-energie lanserings vanaf planete gedoen kon word deur ligter as lug tuie (“balonne”) aan baie lang ankertoue saam met die planeet te laat wentel (roteer) totdat die tuig buite die atmosfeer beweeg teen dieselfde rotasiespoed as die planeet, maar teen geweldige relatiewe snelhede: selfs genoeg om hulle te laat wegtrek teen snelhede hoog genoeg om interplanetêre reise te laat begin. Die enigste beperking was die geweldige gewig van die ankertou, maar dit kon met magnetiese verbindings oorkom word. Die geringe voordeel van hierdie metode het hom egter laat besluit dat dit nie navolging werd was nie: daarvoor was energie te maklik en goedkoop bekombaar.

Sy grootste probleem was egter die “klim” tot by die volgende veelvoud van ligsnelheid. Tot by die snelheid van lig was Einstein se teorie oor die verhouding tussen massa en snelheid geldig: wat sou verby hierdie punt geld? Voor hy hierdie probleem kon oplos, het hy vermoed dat die fisiese samestelling van die menslike liggaam hom sou beperk, en sou hy “volgende” samestellings van die elemente van lewe moes navors. Dieselfde sou natuurlik geld vir tuie waarin gereis word: geen materie sou die beperkings van daardie toestand oorleef sonder een of ander verandering nie.

Stipu het kwalik gedink dat “vakansie” nodig was in sy posisie, maar hy het besef dat Labi aansienlik kon bydra tot sy vordering, en afgesien daarvan het hy haar ’n besoek geskuld. Hy het daarom gereël om 10 dae tuis deur te bring, maar met die wete dat hy bevoorreg was in dié sin dat sy veel sou bydra tot beide sy ontspanning en ook tot sy akademiese stimulasie. Hy was reg: haar vermoë om by hom “in te skakel” en haar agtergrond in wetenskap het sy gedagtes gelei na die doopkoorde wat sy in tussenruimte gehad het om energie te versamel. Behalwe dat hulle gebruik kon word om navorsing te doen oor organismes wat op hulle voorkom, kon daar ook gekyk word na die invloed van magnetiese fluks in hierdie koorde weens die vloei van elektrone (elektrisiteit). Die opgewekte energie is juis as pakkies teen die spoed van lig gesein na planete toe.

Stipu was drie dae tuis voor hy rusteloos geword het. Daar was egter klein roetinetakies wat hy eers moes afhandel. Omdat die mens se fisiese bou weens ’n minimum stimulasie erg agteruitgegaan het (ook weens baie nadelige prosesse oor die laaste jare) het dit verpligtend geword om alternatiewe prosesse te gebruik om die mensdom se voortbestaan te verseker. Dit was gemaklik moontlik om kloning en ander maniere van voortplanting te sintetiseer, maar die Opperstes het verkies om steeds interpersoonlike verhoudings te bevorder. Dit was dus verpligtend vir alle egpare om jaarliks ’n proses te ondergaan wat “hernuwing” genoem is. Dit het bestaan uit ’n deeglike mediese ondersoek wat as roetine beskou is, plus ’n gerigte stimulasie van sekere areas van die brein wat ten doel gehad het om verhoudings in stand te hou. Dit is gedoen deur egpare gesamentlik aan ’n toestel te koppel en terwyl hulle na mekaar en na beelde uit hulle verlede kyk, areas van die brein te stimuleer om sinteties verhoudings te versterk. Dieselfde het gegeld vir ander groepe soos gesinne en werkers in maatskappye, maar verskillende areas van die brein is gestimuleer om die onderskeie emosies in stand te hou. Stipu en Labi het hulle roetine-ondersoeke laat doen, en slegs algemene stimulasie ondergaan om hulle pligsbesef te versterk – asof hulle dit nodig gehad het!

Na hierdie prosedure het hulle besluit om ’n uitgebreide reis te onderneem direk nadat hulle dieselfde areas per leposkoop uit die sintel volledig “besoek” het, met die oog op Stipu se teorie van “plaaslike besoeke”. Die sintelbasis het baie volledige inligting bevat oor elke moontlike variasie van elke toneel op al die nabygeleë planete. Oor al die planete en sonnestelsels wat buite gemaklike bereik geleë was, was daar ook genoegsame inligting, maar nie so uitgebreid nie. Dan was die toerusting van so ’n aard dat mens in jou wooneenheid kon sit en elke gebied en toneel op ’n hologram kon bekyk, of daardeur stap, vlieg of blaai. Met die regte toerusting kon daar selfs interaksie wees met die geboue of plante, die geluide van daardie gebied kon gehoor word, en die temperatuur of atmosfeer was maklik om na te boots. Om eerlik te wees kon dit selfs meer indrukwekkend wees weens die vergrote beelde wat moontlik was, en die mate van beheer wat mens oor die toneel had, met verstellings van klank, en dies meer.

Na die virtuele reis het Stipu en Labi die werklike terreine besoek wat hulle pas virtueel verken het, en dit deurgaans meer moeite, duurder en tydrowend gevind. Dit was egter meer opwindend en stimulerend, en Stipu het gewonder oor die aanwending van sulke tegnologie, en hoe die voordele van albei gekombineer kon word. Kon die “gedagtewêreld” en sintuie van ’n organisme “weggevoer” word na fisiese bestemmings sonder dat die liggaam saamgaan? Die eerste eksperiment wat hy in hierdie verband gedoen het, was om ’n apparaat soortgelyk aan die toestel wat gebruik word vir die jaarlikse “vernuwing” op te stel met hulp van die stroewe kundiges van die gesondheids- en opvoedkundige departement. Daar is uitgewys dat emosies in sekere gebiede van die brein “tuis” is, en dat kunsmatige stimulasie van hierdie breinsentra sterk emosies en ervarings soos honger, verwondering, bewondering, woede en geheue kan uitbring. Wanneer virtuele reise onderneem word, kan gepaardgaande emosies of reaksies dus “gekies” word om die tonele te beïnvloed. Stipu het skalks gewonder of hy nie een of twee van die wyses daar ook op so ’n reis moes stuur nie!

Verskeie “reisigers” is so op virtuele reise geneem, en daar is onomwonde gevind dat hulle, afhangend van die area wat gestimuleer is, veel lekkerder (of slegter) ervarings gehad het as wat met ’n werklike reis ondervind is. Hieruit is dus die eerste resultaat van Stipu se baanbrekersloopbaan gebore: alhoewel energie maklik beskikbaar was (en relatief goedkoop) was dit nogtans wys om versigtig daarmee om te gaan. Nou kon lang reise verminder word, met kwaliteit van besoeke wat byna so goed, en soms beter as ware reise kon wees.

Stipu was dankbaar om darem iets agter sy naam te hê, maar dit was ver van bevredigend! Die volgende taak kon hy nou effe meer ontspanne aanpak!

Die volgende taak was die verste uithoeke van die heelal! Hy het weer met Esbo ’n afspraak gemaak en hierdie slag moes hy die Opperstes se gesag voorhou om tyd met die wyse te verkry. Esbo was nie geneë om te lank van sy geliefde eksperimente weggehou te word nie! Gelukkig was hy later oortuig dat Stipu dit eerlik met sy navorsing bedoel, en hulle het na die derde dag saamgewerk asof hulle ou vennote is. Die teorie van reis naby die snelheid van lig was goed ontwikkel, maar daar was op hierdie stadium net een manier om BY die snelheid van lig navorsing te doen, en dit was BY DIE SNELHEID VAN LIG! Baie dae se gesprekke met Esbo het die besef gebring dat daar ’n moontlikheid MOET bestaan om “bane te spring” wat snelheid betref, en hulle het ’n teorie ontwikkel dat daar ’n soort van “heuwel” van energiebehoefte bestaan met ’n piek by die spoed van lig. As mens dit kon bereik, hoe moeilik ookal, mog daar ’n gebied aan die ander kant van die snelheid van lig bestaan van “maklike” verdere versnelling, heel moontlik met een of ander vorm van beïnvloeding van massa daarby betrokke. Esbo se fisika-teorie het dit as een van vele moontlikhede in ag geneem, maar daar was geen inligting om dit te bevestig nie!

Stipu het die sintelbronne gaan deursoek en uitgevind dat daar geen vaste navorsingsresultate was wat gehelp het nie! Ook presies wat die snelheid van lig is, was nie so vas en seker nie. Versnellers het deeltjies versnel tot 99.8874 % van die snelheid van lig, maar kon dit nie oorskry nie. Die volgende stap was om in die ruimte te probeer om dit met ’n vuurpyl te verbeter, omdat daar geen weerstand was nie, met genoeg “ruimte” (en tyd) om te versnel. Die idee was om dan op een of ander manier daarby verby te versnel. Stipu was vasberade om hierdie langstaande “hekkie” te oorkom, en het na dae van navorsing ’n maatskappy gekry wat so ’n eksperiment kon opstel. Die Opperstes se motivering het veroorsaak dat hulle die gewone produksie (van ruimteskepe) gestaak het, en binne dae ’n konsepsatelliet ontwerp het. Daarna het die bou daarvan relatief vinnig gegaan. Die enigste twee groot struikelblokke was die buitengewoon ruim toelating vir aandrywingsenergie, en die tallose meetinstrumente wat ingebou moes word.

Dit het twee Centaur semesters geneem waarin Stipu heelwat ander werk kon afhandel (en aanpak!) voor die Esbach gereed was. Die lansering was roetine en sonder voorval. Die senutergende deel het heelwat later aangebreek toe ongeveer 90% van ligsnelheid bereik is. Energieverbruik was geweldig groot met min voordeel aan snelheidsfront, en Stipu en Esbo het begin vrees dat hulle eksperiment nie geslaag sou wees nie. Hulle toets het relatief stadig verloop en ongelooflike afstande is afgelê, sodat kommunikasie moeilik geword het, en daar op sintelverwerkers gereken moes word om die projek te bestuur. Beide die navorsers het die pynlike proses lank dopgehou en met min slaap klaargekom. Terwyl hulle een môre moedverlore die monitors dopgehou het by 99.993%, het hulle ’n stadige toename in versnelling waargeneem. Dit het vinnig duidelik geword dat daar ’n soort “smelting” was van probleme in snelheidstoename, met versnelling wat begin toeneem het asof daar skielik minder “weerstand” was. By 99.99999999% was die toename beduidend, en is die drywing afgeskakel. Omdat snelheid in die buitenste ruim nie “wegbloei” nie, is vermoed dat momentum genoegsaam sou wees om tot by ligsnelheid te vorder sonder verdere drywing. Hulle was na baie dae nou helder wakker, en het al die monitors gereed gemaak. 100% ligsnelheid het onverwags en vinnig gebeur, maar daarna het dit vinnig en dramaties toegeneem tot by 115% en daarna geleidelik stadiger. Maar daar was ander, meer verbasende lesings. Alle videoseine het verlore geraak. Massameters het skielik vreemde lesings begin gee.

Die navorsers het die drywing weer probeer aanskakel, en die snelheid het gemaklik gevorder tot by 150% asof daar ’n “afdraende” was, en weer stadig moeiliker begin toeneem tot by 195%, en daar het die drywingsenergie eindelik uitgeloop. Die voertuig kon ook nie gerem word nie, en was waarskynlik verlore. Hulle het nog van die instrumente se data gehad wat teoreties vir nog lank kon terugkom, maar die betekenis daarvan sou moeilik interpreteerbaar wees.

Stipu was effe afgehaal: die deurbraak was selfs makliker as verwag, maar daar was heelwat onverklaarbare gebeure. Hy het dus nou ’n enkele sukses of twee behaal, maar dit was óf onbeduidend, óf onvoltooid! Hy was nog ver van sy eie teikens, en die Opperraad sou sekerlik hulle eie eksperiment as slegs gedeeltelik suksesvol beskou.
Die Vryburger se werk het maar pas begin!