Sekere elemente van die wetenskapfiksie is só naverwant aan mekaar, dat dit nie altyd moontlik is om maklik die verskille tussen dié elemente uit te ken nie. Een so ‘n element is die konsep van ‘n eksoskelet.
Hierdie idee kom eintlik uit die biologie waar sekere organismes se vorm en struktuur gevorm en ondersteun word deur ‘n meganiese harde buitekant wat in verskillende gedeeltes (of segmente) verdeel is, en wat aan die binnekant deur spiere beheer word. Hierdie harde buitekant staan dan bekend as ‘n eksoskelet. In die geval van baie ander lewensvorme, onder andere die mens, word die vorm meestal bepaal deur ‘n endoskelet waar ‘n interne geraamte deur spiere en ‘n buitenste huid oordek is – mense is dus sagte wesens… 🙂
Die eerste vorme van ‘n beskermende laag buite om mense was in die vorm van ‘n harnas wat ‘n kryger aangetrek het om beskerming te bied – ‘n element wat nog steeds redelik algemeen in fantasie voorkom en wat byvoorbeeld deur ridders gedra word.
Die wetenskapfiksie ekwivalent hiervan is die mondering van die stormtroepe in Star Wars wat tot ‘n mate beskerming bied teen energiewapens.
Nou waar kom die moontlike verwarring dan in? Wel, in die eerste plek sou hierdie tipe harnasse nie werklik as ‘n eksoskelet in wetenskapfiksie bekend staan nie, maar eerder as ‘n harnas of persoonlike pantser. Selfs die pantser wat gesien word in die fliek Lost in Space (1998) is nie werklik ‘n eksoskelet nie – hoewel dit tegnies tog wel so geklassifiseer kan word.
‘n Eksoskelet, as ‘n element in wetenskapfiksie is ‘n meganiese mondering met toerusting daarin wat bedoel is om die draer daarvan se vermoë te verbeter deur die persoon sterker, vinniger of meer geskik te maak vir ‘n spesifieke doel. Só ‘n mondering is gewoonlik toegerus met ‘n eie kragbron wat die draer se eie energie en krag aanvul.
Dit is dus nie fisiese inplantings wat iemand ontvang om sy vermoë te verbeter nie – dít sou eerder as ‘n kuborg bekend staan. Dit is ook nie ‘n tipe voertuig wat dalk self kan loop nie, wat op sy beurt eerder as ‘n vorm van mekka geklassifiseer sou word – soos hierdie laaikraan uit Kill Command (2016).
‘n Goeie voorbeeld van ‘n eksoskelet, vir ‘n kryger spesifiek, sien ons in The Edge of Tomorrow (2014) – wat ‘n gewone soldaat in ‘n formidabele kryger omskep.
In District 9 (2009) kry ons met ‘n eksoskelet te doen wat deur buiteaardse wesens vervaardig is, soos in die volgende kiekie gesien kan word.
In Matrix Revolutions (2003) word reuse eksoskelette gebruik om teen ‘n oorweldigende inval van outomate te veg.
In Avatar (2009) is dit nodig vir die mense om groter en sterker te wees omdat die plaaslike bevolking veel groter is as mense, en gevolglik is ‘n geskikte eksoskelet die aangewese toerusting vir dié doel.
Selfs onder superhelde is die eksoskelet niks snaaks nie – die gewilde YsterMan word omskep van ‘n arrogante, ryk persoon tot iemand wat van die magtigste wesens kan teëstaan.
Die eksoskelet as WF-element kom ook in Afrikaanse wetenskapfiksie voor. In die 2011 boek van Eben van Renen, Arwantië 2953, kry ons hiermee te doen, en later ook in die opvolg op hierdie boek, Die Skoppensboer (2018).
Ons sal sekerlik nog baie met die eksoskelet te doen kry in die wêreld van fantastika, maar wie weet – miskien is daar kere wat ‘n eksoskelet nie vir jou die beste kans op oorlewing gee nie… 😮