Dit waarvan uitgewers jou nooit vertel nie

Jy stap deur jou gunsteling boekwinkel op soek na ’n wetenskapfiksie of fantasie boek om te lees. Nie te dik nie, nie te dun nie; net die regte dikte – want jy ken immers jou eie leesspoed. As jy is op vakansie is soek jy ’n lekker dik een, of dalk het jy niks beplan vir die komende naweek nie en dan sal ’n dun een die regte een wees.

Jy is by die werk en glad nie lus om te werk nie en daarom seil jy rustig deur webtuistes (met die hoop die baas sal dit nie opmerk nie) op soek na inligting rakende jou gunsteling skrywer wie se boek jy op jou laaste vakansie geniet het of die een wat jy verlede naweek klaar gelees gekry het.

Al ooit gewonder wat ’n lang en moeisame pad daardie besonderse wetenskapfiksie of fantasie boek moes stap om by jou ’n tuiste te vind? Of wie verantwoordelik was om al daardie besonderse klein detail, wat ek en jy geniet om te lees van ons gunsteling skrywer, op ’n webblad te plaas?

As skrywer, het jy al ooit gaan sit en wonder waarom uitgewers nie jou verhaal wil publiseer nie, terwyl hulle jou werk met lof besing en wat ’n groot impak jou keuse het as jy besluit jy wil ’n woord of ’n sin verander?

Dit bring my by Edward Norton Lorenz (23/05/1917 – 16/04/2008) se skoenlapper-effek: die chaos teorie, wat daarop dui dat ’n klein verandering op ’n sekere tydstip in ’n deterministiese lineêre stelsel groot verskille op ’n latere stadium kan meebring…

Hierdie artikel is geskryf met die doel om vir jou (die wetenskapfiksie en fantasie leser) te vertel van die wonderlike pad wat jou gunsteling boek gestap het om by jou uit te kom en wie almal betrokke was en deur watter prosesse of stelsel jou boek moes deurgaan. Maar hierdie artikel is juis vir jou, die Afrikaanse wetenskapfiksie en/of fantasie skrywer, wat moet weet wat ’n groot taak op jou skouers rus om jóú werke ’n leser se gunsteling te maak.
Kom ek staak my geklets en begin:

Die lang en moeisame pad van ’n Afrikaanse wetenskapfiksie en/of fantasie boek.

Die skrywer (die persoon wat iets skep) sit vir dae en dink aan karakters se persoonlikhede, besonderse en unieke name, die wêreld waarin die storie gaan afspeel, die verloop en intriges (knoop) van die verhaal. Hy/sy is deeglik daarvan bewus dat wetenskapfiksie en fantasie lesers weet dat die aarde nie plat is nie, geskiedenis ken en elke dag omring is met tegnologie, en dat ’n vreemdeling uit die ruimte nie meer sommer net groen of blou bloed kan hê nie, want die lesers is bewus van mediese en biologiese fisiologie van spesies. Notas word gemaak en lang ure word gespandeer om navorsing te doen. Die nuutste HAT is aangekoop, die nuwe Afrikaanse spelreëls word nadergetrek.
Koffie/tee/wyn, of wat ook al gereed, die rekenaar is aan en die skrywer se man/vrou en kinders gaan die skrywer vir die komende dae, weke of maande nie gereeld sien nie.

Die manuskrip (teks wat ingedien word ter voorbereiding vir publikasie) is ná maande en laat nagte voltooi. Sonder (in die meeste gevalle) om die manuskrip vir “oulaas” na te gaan word dit in die koevert geprop en weggestuur na ’n uitgewer. Dan word ander kopieë gedruk en na vriende en familie gestuur. Die nuus kom in: dit is besonders, ’n wonderlike stuk werk, ek het nie geweet jy skryf nie, ens… (maar nie een van jou dierbare vriende of familie vertel jou van die spelfoute, die verkeerde sinskonstruksies of die gebrek aan kontinuïteit nie – waarskynlik omdat hulle dit nog nie gelees het nie, of net hier en daar ’n hoofstuk gelees het of om jou brose skrywersiel te spaar).
Hier wil ek nou ernstig met jou praat, indien jy ernstig is oor skryf, lees jou manuskrip ten minste twee keer deur en belê in ’n goeie Afrikaanse speltoetser soos www.speltoetser.co.za of www.wspel.wordpress.com voordat jy jou meesterstuk wegstuur. Indien jy dit vir vriende of familie gaan gee om te lees, laat hulle dit lees met voortgesette doelwitte. Koos, kan jy asseblief vir my al die leestekens (mense hierdie ‘n is verkeerd hier is die regte een ’n.) nagaan. Sannie, kan jy my help om al die spelfoute te vind (en watter woorde vas en los geskryf moet word). Hennie, kyk asseblief na my sinskonstruksies en enige advies is welkom. Marie, wil jy nie asseblief let op my kontinuïteit let nie.

Nou is jy gereed om dit voor te lê.
Die uitgewer laat weet jou hulle stel belang. Wat nou?

  • ’n Kontrak word aangebied. Jy en die uitgewer bespreek die kontrak en veranderings word daarvolgens gedoen tot julle ’n ooreenkoms bereik het;Die redakteur gaan deur jou manuskrip en maak seker dat dit vry is van tikfoute, grammatikale foute, ens. (die dinge waarmee Koos, Sannie, Hennie en Marie jou mee gehelp het);
  • Kopie redigering word gedoen deur ’n persoon wat verantwoordelik is om die uitleg, styl en akkuraatheid van die teks te verbeter, maar maak geen verandering aan die inhoud van die werk nie. ISBN aansoeke en kopiereg word geregistreer. Dit alles geskied voordat beide die redakteur en die kopie-redigeerder dit saam proeflees.
  • Die grafiese ontwerper ontwerp die omslag en doen ook die bladuitleg van die boek.
  • Die drukker is verantwoordelik om te skakel met beskikbare boekdrukkers om sodoende die beste prys te bekom vir die druk van jou boek. Tradisioneel mag skrywers nie direk skakel met hierdie persoon nie.
  • Die produksie assistent maak seker dat al die stukke van die publikasie proses glad, op schedule, verloop en dít alles binne die begroting.
  • Die bemarker se werk is om seker te maak dat verskeie media-netwerke bewus is van jou werk, en dat jou werk onder die aandag van lesers kom.
  • Die verspreider is verantwoordelik om jou boek in die interne en boekhandelaar stelsels te kry en boeke beskikbaar te hê vir groot- en kleinhandelaars.
  • Die koper is die persoon wat die span hierbo oortuig het om jou boek aan te koop, ongeag of die koper ’n leser of aanhanger is van Afrikaanse wetenskapfiksie en/of fantasie of nie.
  • Die Afrikaanse WF en/of F aanhanger (leser) is die mense wat jy moet liefhê, bekerm en bevriend want hulle deel jou passie, maar net deur te lees eerder as om te skryf. En hulle kan nie wag vir jou volgende opoffering nie.

My gunsteling skrywer het sy/haar eie webtuiste. Wie het dit alles oor my geskryf?

Vir enige Afrikaanse wetenskapfiksie en/of fantasie leser is daar geen groter vreugde as om “hulle gunsteling skrywer” of “Afrikaanse WF en/of F boek” te gaan intik op die reeds Engelse soekenjin en dan ’n resultaat te sien nie. Bekende skrywers het ’n span mense wat dit vir hulle doen. Ander weer word deur hulle aanhangers gedoen.
Maar wat van as jy die boodskap “0 resultate is gevind nie” op die skerm sien (in Engels natuurlik) en jy wonder wanneer die “iemand” dit vir jou gaan doen. Jammer, om te sê, maar daardie “iemand” waarna jy soek is nou besig om hierdie artikel te lees. Ons kyk graag na die sukses van die Amerikaners, die Britte of Europeërs en wonder soms hoekom ons nie soos hulle kan wees nie. Wel, dit is beslis jou gelukkige dag! Want as ons soos “hulle” wil wees moet jy:

  • Meer Afrikaanse wetenskapfiksie en/of fantasie boeke lees;
  • Jou boekhandelaar gereeld gaan pla om Afrikaanse WF en/of F boeke aan te hou;
  • Ernstige literêre gesprekke op die internet, op webtuistes en met vriende hê rakende die Afrikaanse WF en/of F;
  • Aan te sluit by bestaande Afrikaanse WF en/of F groepe en as daar nie is nie… ja, jy dink reg… jy skep dit self;
  • En wat waarskynlik die grootste vereiste is, is om jou Afrikaanse WF en/of F skrywer te kontak en oor sy of haar werk te gesels of hulle net te laat weet wat hulle skryfwerk vir jou beteken. En “vra is vry en vry is tog mos lekker” so lui die spreekwoord, so vra jou skrywer vir inligting en vra of jy ’n webtuiste vir hulle kan skep.

So, die mense wat dit vir jou op die internet plaas om te geniet, is mense wat moeg gewag is vir “hulle” of “iemand” en dit hul taak gemaak het om dit self te doen. So, as jy op so ’n webtuiste afkom, sê dankie vir hulle werk – dit is immers die heel minste wat jy kan doen.

Het jy al gewonder waarom uitgewers nie jou verhaal wil publiseer nie?

Kan jy vir een oomblik sit en daaroor nadink? Stel jou voor jy ontvang 100 manuskripte in ’n maand wat gelees moet word om te bepaal of daar ’n mark is en jy merk 2 spelfoute, 3 leesteken-foute en 5 skryfteken-foute op in die eerste bladsy.
Dan dink jy net een ding: Hoe lank gaan dit neem om hierdie verhaal deur te gaan en om al hierdie foute reg te maak?

Ek kan natuurlik nie met oortuiging sê waarom ander uitgewers nie jou manuskrip wil aanvaar nie, maar die bogenoemde is die eerste waarna Thompson Boekdrukkery kyk, tweede is die oormatige gebruik van Engelse woorde (die meeste van jou lesers weet jy kan Engels praat en dit is nie nodig om dit te bewys nie) en laastens is die swak gebruik van direkte en indirekte rede gevolg met die plasing van die werkwoord in ’n sin. Oormatige herhaling en die gebrek aan kontinuïteit.

So, liewe skrywer, sterkte met jou skryfloopbaan. En as jy ’n leser is van Afrikaanse wetenskapfiksie en/of fantasie, moedig jou gunsteling skrywer aan om nog te skryf want, ai tog, hulle wil eers sien of daar ’n aanvraag is. Nou hoe kan ons die uitgewers kwalik neem as daar nie ’n mark is nie, terwyl die skrywers van Afrikaanse WF en F nie ’n mark wil skep nie. Soos om te gaan stem om jou regering aan bewind te bring, so moet jy ook hier jou deel doen, al is dit net om WF en F boeke in Afrikaans te koop. Maar hopelik ook ’n WF of F boek te skryf. In Afrikaans…

2 thoughts on “Dit waarvan uitgewers jou nooit vertel nie

  1. Baie dankie vir die inligting Seun Thompson! Dit help baie skrywers om die hele proses te kan verstaan! Ek verstaan wat jy bedoel, want laas jaar, toe ek my twee e-boeke by Smashwords selfgepubliseer het, moes ek self 117 bladsye deurlees om my digbundel en kortverhaal in e-boeke te verander. En dit was nie vir sussies nie! Daarna moes ek ‘n manier uitvind hoe om my eie grafiese ontwerp vir my voorblad maak. Dit was nog moeiliker! So, ek verstaan wat jy bedoel. Dit is harde werk en elke ‘detail is so belangrik. Dankie vir die goeie webblad!’

  2. Dankie vir die inligting op hierdie skrywe. Ek het egter dringend hulp en advies nodig. Ons het regte op iemand anders se boek en dit is n boek wat regtig baie mense se lewens impakteer en verander. Daar is egter nou iemand wat ons toestemming wil kry om die boek op E-Books te versprei. Hulle het n verspreider en ook n behoefte om hier en daar iets te verander op die boek.

    Hulle praat van n paar taal regstellings Skrifte uit die Bybel wat verkeerd aangehaal is en ook om die naam van die Boek te verander. Verder praat hulle van n tantieme kontrak met geen aanduidings nie.

    Ek is nie eens heeltemal seker wie die drukker regte het nie behalwe dat ons wel vroeer meer as 5000 van die boeke reeds gedruk het.
    Wat is veilig in hierdie geval en hoe beskerm ons onsself wat is die “loopholes”
    jy kan my kontak by freddie@wia.org.za

Laat 'n boodskap na Chantal Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui