ARWANTIË 2953 – Eben van Renen

UITTREKSEL (bl. 1 – 30)

1 Mei 2953

Goue Driehoek Distrik, Bassonstad (Hoofstad van die Noorde).

Kobus Steyn vee die sweet van sy voorkop af.  Vandag is Gelykheidsdag 4, en hy moet ‘n toespraak oor ‘biodiversiteit binne die Goue Driehoek’ maak. Sy mentor, Dr. Pieterse, glimlag goedhartig in die gehoor, maar al weet Kobus dat niemand hom eintlik sou verkwalik as hy foute sou begaan nie, sluk hy swaar.

Op elke dag van Gelykheidsweek kry ‘n verskillende seksie van die bevolking kans om in iemand anders se skoene te gaan staan. Padwerkers verruil hul gereedskap en harde hoede vir skootrekenaars en grys pakke. Ingenieurs gaan ploeg in die velde, en die bestuurders van maatskappye maak gewoonlik toilette skoon. Kobus, wat as jong rekruut in die Arwantynse Ruimtekorps eintlik hierdie rolverruiling vryspring, se pa het aangedring dat hy en sy hele opleidingsvleuel Gelykheidsweek tog moet deurmaak. Al het Kobus probeer om teen hierdie besluit te redeneer, het die kommandant en onderbevelvoerder van Arwantië se groot vlagskip – AR de Wet – soos altyd sy besluit onwrikbaar laat staan. Kobus se gewildheid onder sy makkers het heelwat onder hierdie besluit getaan.

Nou staan Kobus voor ‘n aantal wetenskaplikes van Goue Driehoek Distrik se Landbou Komitee.

“Geagte kollegas,” begin hy. ‘n Paar mense lag, en Kobus gaan ‘n bietjie meer vrymoedigheid voort, “die voorbereidings wat getref sal word vir die opkomende Woestyn Siklus sal baie staatmaak op ons bevindinge aangaande ons distrik se biodiversiteit. Verskeie vrae bly by ons spook. Waarom gebeur hierdie siklus? Waarom sak die watertafel so skielik gedurende hierdie tydperk? Is daar enige ander boerderye waarop ons kan staatmaak gedurende die Woestyn Siklus?”

Kobus kyk weer na sy mentor, en dié gee vir hom ‘n bemoedigende knik. Nee, hy vaar nie te sleg nie.

Later die middag groet hy sy mentor.

“Dankie Dr. Pieterse, dit was ‘n waardevolle ondervinding gewees.”

“Geen probleem nie, Kobus. Jy het glad nie te sleg gevaar nie. Ek is bly jy kon so bietjie waardering aanleer vir die witjasse,” voeg die agriwetenskaplike by.

Kobus fluit en skud sy kop, “En hoe! Ek het nooit kon droom dat julle soveel probleme elke dag die hoof moet bied nie. Nee, ek is bly dat my verantwoordelikheid by planetêre beskerming berus, en nie planetêre oorlewing nie. Julle werk is veels te tegnies!”

“En julle s’n is veels te opwindend vir ons ou manne. Goed gaan!”

Hulle skud blad en Kobus stap weer na die transpunt toe. ‘n Groep mense wag reeds daar. Meeste lyk maar moeg. Gelykheidsweek kan nogal uitputtend wees, besef Kobus weereens.

“Haai, Kobus? Is dit werklik jy?”

‘n Skralerige jong man wat heel komieklik in sy oorgrote plaasklere lyk, kom hinkepink na hom toe aangeskuif.

“Barry? Jinne ou! Lank laas gesien. Was jy ook ‘n Dag 4?”

Barry Le Fleur lag moeg.

“Ja-nee, dis nie moeilik om te sien dat ek beter agter ‘n Krap-2 Superkomper pas as ‘n elektroniese ploeg nie”

Kobus se ou skoolmaat werk nou vir Volkstek, op die Federale Netwerk.

“So hoe gaan dinge? Ek hoor jy en Nina Smit is nog ‘n item. Is dit nie moeilik noudat julle albei in die Arwantynse Ruimtekorps is nie?” Vis Barry uit.

Kobus lig sy skouers.

“Ja jong, ons moet maar die hofmakery stil hou. Jy weet mos hoe haar pa soms kan wees.”

“Dink só daaraan – as jy ‘n dogter soos Nina gehad het, sou jy haar ooit die huis laat verlaat het?”

Kobus knik verleë.

“Ja, ja…”

“Toemaar, ou maat. As daar een persoon is wat kan opstaan teenoor die Generaal, is dit sy dogter. Ek bedoel, is daar enige vak of sport of… enigiets wat Nina nie ‘n A voor gekry het op skool nie?! Dit was vir ons ander ouens bra intimiderend gewees.”

“Dis juis hoekom ek ‘n kans gehad het,” lag Kobus. “Almal was te bang om haar uit te vra.”

“Jy’s te nederig, soos gewoonlik. Kyk, almal weet julle twee is vir mekaar bedoel. Nou…” en hy neem Kobus so bietjie weg van die transpunt af waar meer en meer mense begin saamdrom, “… as jy my ‘n guns wil doen, sal jy my met Nina se mooi sussie help.”

“Karien? Arme Barry! Die kans om by háár reg te kom is selfs minder as om in Generaal Smit se goeie boekies te beland. As jy miskien ‘n wetenskap boek was, kon ek jou nog miskien gehelp het.”

Barry sug.

“Ja, lyk my sy is dan nog steeds dieselfde nooi. Ek het haar mos drie keer uitgevra op Hoërskool Erasmus. Sy’t elke keer weggehardloop. Letterlik.”

“Klink soos Karien,” grinnik Kobus simpatiek.

In die verte hoor hulle die sweefbus aankom, maar toe Kobus met ‘n simpatieke glimlag op sy gesig omdraai om na die transpunt toe te gaan, gryp Barry hom weereens aan die arm.

“Wat is fout, Barry?”

“Voor ons opklim, het ek vir jou ‘n interessante brokkie nuus. Streng geheim! Ek het nou die dag ‘n boodskap onderskep en…” Hy kyk oor Kobus se skouer, en toe hy weer praat fluister hy. “… het jy ooit gewonder hoekom daar ‘n sekuriteitsgebied in die middel van die Ewige Woestyn is?”

Kobus knik stadig. Hy het al drie keer tydens oefenvlugte amper oor die verbode gebied gevlieg.

“Ja, hulle sê dis ‘n brose ekologiese gebied. Maar, dit klink nie na die waarheid vir my nie.”

“Hulle het iets in die Ewige Woestyn gevind, Kobus. ‘n Murasie, bouvalle van ‘n vorige beskawing.”

Barry Le Fleur kon nie meer daarop uitbrei nie. Die laaste mense was besig om op te klim. Hulle kom net betyds op die bus. Soos dit brommend die lug in vaar, bly albei jong mans stilswyend langs mekaar sit. Kobus voel hoe ‘n mismoedigheid weereens oor sy gemoed begin toesak. ‘n Mismoedigheid wat nie sommer self sal verdwyn nie. Hy sal vanaand weer met sy pa moet gaan praat.

7 Mei 2953

Volksraad Gebou, Bassonstad.

Die Arwantynse Volksraad is in sitting. Hulle is pas in kennis gestel van die vermiste wetenskaplike span van Doktor Lourens Lombaard, wat spesiale geomorfologiese toetse gedoen het in die Ewige Woestyn.

“Generaal Smit, het julle dan geen spoor van die span tot dusver gekry nie?” vra Hoofadviseur Adaan Snyman.

“Nee, Meneer Snyman. Die boorgereedskap staan ongeskonde, maar daar is geen teken van Doktor Lombaard en sy mense nie. Daar is egter ook geen teken, moet ek haastig bylas, van ‘n skermutseling nie. Dus moet ons op hierdie stadium nie te opgewonde raak nie,” antwoord Generaal Smit met sy duidelike, diep stem.

Die Raad lyk nie op hul gemak nie. Ongelukke gebeur wel, en het veral gebeur in die eerste vestigingsjare. Maar hierdie operasie was maar ‘n roetine veldtoets, en Doktor Lombaard is een van hulle kosbaarste wetenskaplikes. Boonop voel baie raadslede dat die generaal se satelliete nog nie genoegsame dekking kan bied om die moontlikheid van ‘n Tar strooptog uit te skakel nie.

“Ek weet wat julle dink, maar julle is verkeerd. Ons sou die Tar onderskep het, en boonop is hierdie tipe aksie net nie hulle… styl nie.”

Weer ontstaan daar ‘n gebrom tussen die Raadslede.

Aan die boonste punt van die lang tafel sit Hoofadviseur Snyman met ‘n pen in die hand. Sy eenvoudige bruin pak, grys oortrektrui, geel hemp met gestreepte das flous net diegene wat hom nie ken nie. Maar die raadslede loop baie lig vir hom. Snyman se hare is pynlik netjies in ‘n sypaadjie gekam, en sy ietwat groterige kop laat sy dun lyf nog meer soos ‘n voëlverskrikker lyk. Sy uiterlike voorkoms is nie toevallig so vaal nie. Snyman bestee tyd en energie om so onopsigtelik as moontlik voor te kom, sodat hy die oë en ore van die president kan wees.

“Ek vertrou, generaal, dat die Raad op hoogte gehou sal word aangaande enige verdere verwikkelinge. Ek moet aan die President verslag doen, en ek weier om met ‘n mond vol tande voor haar te gaan staan,” beëindig Snyman die gesprek op ‘n ysige noot.

Generaal Smit stryk eers sy dik snor ingedagte voordat hy knik, en dan verlaat hy die kamer met sy assistente. Almal weet dat die generaal en die Hoofadviseur nie om dieselfde kampvuur sit nie.

“Reg, ons verdaag dan. Hierdie Volksraadsitting is voltooi. Vanmiddag sal die Federale Regering vergader. Ek verwag om meeste van julle daar te sien.”

Sy laaste woorde laat almal vinnig verdaag sodat hulle ‘n middagete kan inkry voor die volgende vergadering.

“Watter kleur pas my oë die beste?” vra Nina Smit, en gaan staan voor Kobus terwyl sy eers ‘n blou rok en dan ‘n okerbruin rok onder haar ken vasknyp. Kobus kyk vlugtig van sy palmkomp op.

“Altwee’s bak,” antwoord hy kamma verveeld.

Nina lag, en Kobus maak asof hy iets baie interessant op die klein skerm lees.

“Ag siestog! Is jy nog steeds die kwarra in vir my?” Sy kom sit langs hom en begin speels sy donker blonde hare trek. “Ek kan mos nie help ek is ‘n beter vlieënier as jy nie?”

Kobus se mond gaan oop, maar hy bedink homself voordat hy iets onnosel kwytraak. Hy glimlag eerder en skud sy kop.

“Jy weet, boklief, hoe meer jy dit nou invryf, hoe meer sal ek dit later moet invryf wanneer jy jou eerste fout begaan.”

Eintlik voel Kobus sommer simpel. Kinderagtig. Natuurlik is Nina ‘n beter vlieënier as hy. Wat het die Kaptein nou die dag weer gesê? Die ‘beste rekruut’ wat hy al ooit gesien het? En dit het niks te make gehad met die feit dat sy Generaal Smit se dogter is nie. Inteendeel, die Generaal bemoeilik dinge vir Nina, sodat hy enige praatjies van ‘spesiale behandeling’ uit die weg kan ruim. Die feit bly staan; Nina Smit is ‘n briljante U-klas vlieënier.

Nina kyk met groot oë en ‘n ondeunde glimlag na haar kêrel.

“Okerbruin. Ek sien jou in elk geval binnekort heeldag in militêre blou,” gee hy in met ‘n dramatiese sug van verveeldheid. Sy slaan haar slanke – maar gedefinieerde – arms om sy nek en soen hom.

“Versigtig. Jou pa sal my…” waarsku hy met ‘n groter glimlag.

“Dit traak my nie! Jy’s my boklief!” lag sy in sy nek.

“Ek kan al sien hoe jou pa ‘n leerbaadjie uit my vel gaan maak…”

“Ek sal dit nooit toelaat nie, en as dit sou gebeur sou ek die baadjie altyd self dra…”

“Wonderlik! Natuurlik sal die leer nie goeie kwaliteit wees nie, want na 20 jaar in die militêre tronk sal my vel baie los aan my sit…”

“Nou praat jy kwarra! Hulle sit ons vir ‘n maksimum van 6 maande weg. Só romanties!”

Hy wonder vir die soveelste keer hoe sy dit altyd regkry om hom so laf te kere te laat gaan.

“En ék is die kwarraprater? Jy weet ons sal nie saam opgesluit sit nie…”

“Ek sal ‘n tonnel na jou toe grou met my naels!”

“…en dat jou pa in alle waarskynlikheid persoonlik op die tugkomitee sal wil dien…”

Dis natuurlik onmoontlik om enige ware weerstand te bied. Haar energie is veels te aansteeklik. Nina wou hom net weer soen, toe haar suster om ‘n rak van die klerewinkel verskyn.

“Het julle twee ‘n mikrofoon nodig? Ek dink daar is nog so twee mense wat aan die ander kant van die winkel julle nie duidelik genoeg kan hoor nie.”

Karien Smit kyk bo-oor haar bril, met ‘n kwaai frons. Nina se lagbui wil nou éérs nie bedaar nie. Kobus lag self, maar staan tog op en kyk versigtig rond.

“Toemaar, ek oordryf, maar julle raak veels te gerus. Sus, jy skuld my talle!”

Nina vee die trane uit haar oë en staan op, omhels haar suster.

“Aag sussie! Ek kry mos binnekort vir jou daardie ruimtevullis waarvoor jy so lief is,” paai sy.

“Asteroïde monsters,” korrigeer Karien, al begin ‘n glimlag haar ernstige gelaat versag.

“Mos wat ek gesê het, ruimterommel!” Stem Nina saam.

Kobus skud net sy kop. Vandag is sy nooi heeltemal gek.

“Wel ek moet spore maak. Dankie Karien, ek skuld jou ook een. Of twee, of … talle.” Karien antwoord nie, maar glimlag voor sy opsy staan sodat die twee vryers kan groet.

“Sien jou môre, bok.”

“Geniet die res van jou afdag, Nina.”

Hulle soen en Kobus verlaat die winkel terwyl hy hard probeer om die blos op sy wange verwens. By die naaste diensrobot bestel hy ‘n versnapering, en stap verder deur die tuine. Hy gaan sit onder die ‘akkerboom’. Dis natuurlik nie ‘n regte akkerboom nie, want uitheemse flora is streng beperk tot ‘n paar stapel gewasse. Tog, sy pa sê altyd dat dit baie na die Terra-tipe lyk.

Hy dink weer terug na die laaste gesprek wat hy met sy pa gehad het.

“Bietjie af vanaand, of hoe ou seun?”

Kobus het geknik.

“Wel, ek en jy het mos ‘n ooreenkoms. As een van ons iets op die hart het, doen ons die regte ding. En dit is?”

Kobus het opgekyk na die harde gesig van sy vader. ‘n Gesig wat getuig het van ‘n jeug op Zanshaphile wat geëindig het tydens die Rooi Slagting. Van nagmerries en alkoholisme. En van dieselfde Donker wat altyd naby is.

“Ons praat met mekaar. Reguit. Ons kry perspektief. Dan bid ons. Dan doen ons iets positiefs, Pa.”

Sy pa se enigste emosionele krukke was koffie, sy vrou, en nogmaals koffie. Natuurlik was sy geloof ook ‘n daaglikse toevlug. Dit het sy pa nie lank gevat om agter ‘n rookskerm te sien nie.

“Nou vertel my wat nou eintlik skort.”

Natuurlik het Kobus eers begin met die klein dingetjies. Soos Nina wat alewig beter as hy is in alles. Sy pa het uitgewys dat Kobus ‘n beter kunste-naar is as sy meisie, maar toegegee dat dit seker nie die nodige troos vir sy ego bied nie.

“Kom, Kobus. Hou op jakkalsdraaie gooi. Wat is regtig fout? Iets was vandag vir jou ‘n sneller.”

Dit help nie om sy pa te probeer systap nie, besef Kobus. Hy vertel wat Barry hom vertel het.

“Kobus, jy moet Barry laat weet dat hy sy mond moet snoer. As sekere mense uitvind dat hy hierdie geheim verklap, braai hulle hom lewendig.”

“Maar Pa, ons swerfjare is veronderstel om verby te wees.”

“Seun, ons is aanpasbaar. Dis wat ons laat oorleef. Ons het Terra, Dormahal asook Zanshaphile oorleef. As ons uit Arwantië geskop word sal ons ook kan oorleef, as dit ons lot is. Maar jy moet glo. Dit help nie om skielik die ergste te verwag nie. Daar is geen teken van daardie beskawing se mense meer nie. Hulle het of uitgesterf of die planeet vir goed verlaat. Wie weet, miskien het die Tar hulle lewe net te ondraaglik gemaak?”

Kobus vat ‘n sluk koffie en dink na oor wat sy pa se woorde. Dis waar. Hy het soos gewoonlik hom die ergste verbeel, dat die vorige bewoners terugkom en hulle weereens op vlug laat slaan. Sonder tuiste. Dit is alle Arwantyne se grootste nagmerrie.

Rebekka Steyn het die aand eers laat opgedaag, na Bassonstad se stadsraad ‘n krisis gehad het wat sy moes help hanteer. Sy het die mans deur die kombuisvenster sien werk in die tuin, en hulle ‘n kreaproteïen drankie gebring.

“Nou is Pa weer aan diens daar op AR De Wet,” prewel Kobus hardop vir homself.

Kristiaan Steyn het die aand na hulle gesprek weer opgevlieg om as tweede in bevel van die Arwantynse vlagskip AR De Wet, diens te doen.

Kobus glimlag en kyk weer op na die boom se takke wat soos ‘n sambreel bo hom span. Hy het self het nog nooit ‘n regte akkerboom gesien nie, behalwe in argiefmateriaal. Die mense hier is lief vir hierdie boom, omdat dit vir hulle bevestig dat hulle hier ‘n tuiste gevind het.

“En simbole is belangrik,” spreek hy die boom plegtig aan.

Kobus sug en sit die proteïene sjokolade halfklaar geëet op die grond langs hom neer. Die boom bokant hom suis dromerig soos die warm middag ligstrale oor die takke en blare streel.

Hoekom het hy nie vir Nina vertel van die murasies nie? Dit was net nie die regte tyd nie, besluit hy. ‘n Dakkie gras bars skielik voor sy voete oop en ‘n vlêrmol kruip blindelings, dog versigtig, uit sy gaatjie in die grond en kyk dié kant dan daardie kant toe, waarna hy die lug in met sy leeragtige vlerke opskiet. Kobus staan vinnig op.

Vlêrmolle vlieg net in die dag as iets hulle in die tonnels probeer vaskeer. Waarskynlik ‘n erdwurm.

“Diensbot!” roep hy die naaste robot.

Die robot kom brommend op sy kruipbande oor die gras.

“Burger K. Steyn ID no. 8893APS889, rommel boete, R20. Dankie,” beboet die diensbot hom nog voor hy kans kry om te praat. Kobus kyk af na die proteïene sjokolade stafie op die grond.

“Vlaks! Jou stuk…” hy wil mik om die ding te skop.

“Burger K. Steyn ID no. 8893APS889, vuil taal in publieke park, boete, R25. Dankie,” sny die diensbot hom af.

“Ek… jou… maar…” is al wat Kobus kan uitkry.

Met hande in die hare en tande gekners staan hy vir ‘n rukkie en verbeel in kleurryke detail hoe die robot sou lyk onder die voet van ‘n Taakman Swaar Industriële Robot, of TSIR. Hy skep diep asem en draai om, tel die ‘rommel’ op, prop die res van die kos in sy mond, en druk die papiertjie netjies tussen die gaas wat voor die lugverkoeler sit, in.

“Daar’s jou rommel, jou…”

Die robot draai om. Kobus weet dat R45 sopas uit sy rekening verdwyn het. Daar is maar net ‘n paar Randjies oor.

“Wag, Diensbot!” Die robot stop en draai weer na hom. “Ek’s nog nie klaar met jou nie, my ou maat.”

Die robot kom weer sy kant toe.

“Skandeer die area vir erdwurms. Ek hoop een vreet jou ook op.”

Hy stap weg met sy hande in sy sakke. Hy weerstaan die begeerte om die robot ‘n skop te gee en mik liewers weer na die wandelpaadjie se kant toe. Hy onthou die keer in Standerd 4 toe ‘n erdwurm, so dik soos sy bobeen, reg by sy voete verby gekruip het. Sy moeder het hom skerp aangekyk en beveel om doodstil te sit, terwyl sy pa ‘n soniese skokker uit die huis gaan haal het. Hy kan nou nog nie erdwurms, énige wurms, verdra nie.

Agter hom begin die diensbot die grond met ‘n blou laser skandeer. Toe Kobus so ‘n honderd tree weg is, hoor hy die geluid van die skokker.

“Ten minste is jy goed genoeg om peste te verwyder, jou stuk kwarra.”

8 Mei 2953 – 14:23 nm.

AR De Wet, Vlagskip van die Arwantynse Ruimtekorps. Tans in wentelbaan om Arwantië.

Die Arwantynse Son se strale tref die enorme romp van die ruimteskip van onder, en gly onreëlmatig oor die gepantserde bulte en hoeke soos ‘n golf van lig. Binne die beheerkamer verloop alles volgens roetine. Kommandant Steyn het tydelik oorgevat by Generaal Bremmer.

“Kommandant Steyn, ek het iets wat u moet sien,” sê die aandiens radartegnikus. Kristiaan Steyn kyk op. Dis Geldenhuys, Dirk Geldenhuys se seun, wat hom geroep het. Die jong man sweet behoorlik in die foutiewe lugversorging van die beheersentrum. Iets in die jong man se houding en stem laat Kristiaan vinniger oorstap om te kom kyk wat fout is.

“Wat is dit, Luitenant?” vra die kommandant kalm, terwyl hy langs die operateur gaan staan.

“Ek dink ons het gaste,” antwoord die tegnikus.

Dit vat ‘n halwe minuut voor iets op die skerm gebeur.

“Daar’s dit weer, het u dit gesien, Kommandant?”

“Ja, maar dit is ‘n baie fyn steuring. Dit kan enigiets wees.”

Maar hy het ‘n slegte gevoel. Die dowwe kol verskyn elke halwe minuut vir ‘n split sekonde. Dit kom nader.

Toe Kobus sy oë oopmaak, sien hy buisligte wat bo hom beweeg. ‘n Masker word oor sy gesig gedruk, en hy kan lug daaruit voel stroom.

Pyn.

Sy linkerbeen gloei, en sy oë voel asof daar vuur uitslaan.

“Vat dit rustig, Kobus, ons sal mooi na jou kyk,” kom ‘n vreemde man se stem gerusstellend na hom.

Kobus voel naar.

Wat die man verder aan hom gesê het sou Kobus nooit weet nie, want ‘n swart mis het hom oorweldig.

“Wie het ons in daardie omgewing?” vra die kommandant.

“’n Patrollie van die Derde Vleuel. Die patrollie bestaan net uit twee gewapende U-vegters, so tien klieks vanaf daardie punt, Kommandant,” antwoord Kaptein Toerien langs hom.

“Stuur hulle om ondersoek in te stel. Stel die res van ons mense op Oranje Vlak Gereedheid.”

“Dadelik, kommandant!”

Die twee U-vegters van Luitenant Uys en Small beweeg teen halfspoed geruisloos deur die vakuum van die ruimte.

“Slagter-1, wat is jou BTA, oor?” dring die stem van Luitenant Uys gespanne die kajuit binne.

“Slagter-2, teikensfeer gebied lê 2 klieks op ons 12, oor,” antwoord Small so kalm as moontlik. Die volgende oomblik flits iets langs haar skip.

“Slagter-1, ek’s getref! Liewe Hemel! Ek’s…”

Maar Uys voltooi nooit sy sin nie. Sy U-vegter ontplof sonder geluid in ‘n flits van lig en wrakstukke. Luitenant Surie Small se mond bly nog ‘n oomblik oop, te geskok om iets te sê. Toe neem die dissipline oor. Sy gooi haar tuig na links onder en die verbranders spuug dadelik tien meter vlamme na agter, soos sy die U-vegter op volspoed dryf.

“AR De Wet, dis Slagter-1, ek het kontak, ek herhaal: Ek het kontak. Oor.”

Skielik spring daar vonke soos ‘n duisend sterretjies van haar linker bovlerk die swart ruim in.

“Linker bovlerk, geel. Oneffektief vir atmosferiese vlug,” dring die elektroniese stem van die U-vegter se kunsmatige intelligensie rekenaar die kajuit binne.

“Slagter-1, wie is jou kontak? Rapporteer. Oor!”

Binne AR De Wet se beheerkamer staan almal en wag op Luitenant Small se antwoord.

“AR De Wet, ek kan dit nie eens sien nie! Wag!”

Hulle hoor haar asemhaling oor die luidspreker jaag.

“Vat so jou drak! Wat de?”

“Luitenant! Wie is jou kontak?” vra Kommandant Steyn dringend.

“Aaa!! Onmoontlik… jammer AR De Wet… maar hierdie vent is… vlaks! Weer op my gat!”

Die personeel kan die tweede kol van die vyandelike vegter nou duidelik op die skerm sien.

“Sit almal op Rooi Vlak. Stuur elke beskikbare vegter om haar te help! Spring!” bulder die kommandant in die rigting van sy kaptein, wat dadelik salueer en wegspring om sy bevele uit te voer.

Hulle kan hoor hoe uitasem die loods is, soos Luitenant Small amper haar bewussyn verloor gedurende nog ‘n draai. Hulle kan haar U-vegter se rekenaar hoor praat.

“Bakboord romp 30% deurdring. Brandstof laag…”

Die luitenant praat oor die elektroniese frekwensie, “Tar! Daar is Tar kentekens op die romp, AR De Wet! O vla…”

Die uitroep word vervang deur die gesuis wat net een ding beteken. Die kommandant sak sy kop. Hy het Surie Small nog self opgelei. Dan bulder hy weer op die personeel.

“Wat staan julle so, kry daardie Tar-vegter uit my ruim uit!”

Dinge gebeur net te vinnig! Eers bel Karien haar en vertel haar dat Kobus in die hospitaal is. Sy kon nie toestemming kry om af te gaan Arwantië toe nie, omdat hulle ‘n oefenvlug gehad het in die middag. En toe word hulle patrollie-oefening kortgeknip, omdat ‘n Rooi Vlak Voorval plaasgevind het. Toe Nina haar U-vegter in die landingstonnel van die vlagskip AR De Wet neerstryk, sien sy hoe haar instrukteur in ‘n hewige rusie met ‘n ander offisier betrokke is. ‘n Tegnikus op ‘n ammunisie uitruster kom aangetrekker oor die blad na haar U-vegter. Die kajuit se glaskap word deur ‘n ander tegnikus oopgemaak. Sy kan net-net haar instrukteur oor die geroesemoes hoor.

“Maar dis gek, Kaptein! Hulle is nog nie gereed nie…” protesteer die instrukteur, rooi in die gesig.

“Ons het nie ‘n keuse nie, Luitenant. Die ander vegters is te ver weg,” antwoord die Kaptein, wat vinnig besig is om ook warm onder die kraag te word.

“Wat is aan die gang, Charl?” vra sy bekommerd aan die tegnikus wat gespanne notas maak van die lesings op haar instrumentepaneel. Waar Nina in die kajuit sit, kan sy sien hoe haar vegter weer brandstof ingepomp word, en dat haar laser kanonne met optiese selle toegerus word. Nog ‘n tegnikus help om die Skerper-3 missiele binne-in die onderste romp te laai.

“Julle word as versterkings ingestuur, juffrou Smit,” antwoord hy en vee sweet van sy voorkop af. Charl haal ‘n wapensleutel, wat soos ‘n ingewikkelde en oorgrote mikroskyfie lyk, uit sy boonste sak en gee dit aan Nina.

“Dé! Ek hoop jy het dit nie nodig nie.”

Nina vat die skyf, soek na die regte gleuf aan die kant van haar stoel, en druk dit in. Die paneelbord se blou agtergrond beligting verander na rooi.

“Die ander U-vegters is aan die ander kant van die planeet, besig met oorlogsimulasie-oefeninge. Praat van slegte tydsberekening!” lig Charl haar verder in.

Nina was die hele dag só bekommerd oor Kobus gewees, dat sy vergeet het van die oefeninge wat tans plaasvind oor die Oostelike Halfrond. Laas week het sy nog gekla dat sy graag wou deel wees van die simulasie. Nou lyk dit asof sy die oefeninge gaan misloop, en direk betrokke gaan wees met die ware Jakob.

“U-vegter is nou rooi. Ek het groen op alle wapenstelsels,” sê Nina Smit aan haar tegnikus, soos sy geleer is.

Die tegnikus gee haar die duim-op teken en twee kloppe met ‘n oop hand op haar helm, voor hy met die leer afklim. Sy hoor hom nog een keer iets sê wat klink soos “…gaan skop nou gat!” voor haar glaskap weer oor die kajuit toesuig.

Vir die eerste keer in haar lewe is sy werklik bang.

9 jaar gelede, 2944

Dit is die tweede Somer van die jaar en hulle is jonk. Nina, skaars dertien, is reeds besonders mooi. Reeds is daar tekens van ‘n tipe mooi wat mans later verslae sou laat wegkyk. Kobus is ‘n volle desimeter korter as Nina op hierdie stadium.

Soos al die ander seuns het hy ook van haar gehou toe hulle jonger was, maar sy gevoelens het eers tot vaste voornemens gevorder die dag toe sy daardie opstel in die klas voorgelees het. Sy was maar elf jaar oud gewees, maar die opstel het almal verbaas. Terwyl sekere seuns bietjie afgeskrik was deur haar intellek, het Kobus daardie dag met nuwe oë na sy klasmaat gekyk. Hy het verlief geraak op die beeldskone mens ágter die skoonheid.

Kobus glimlag. Met sy tradisionele volksdrag het hy by die skuur opgedaag saam met sy familie. Pa het selfs ‘n pyp aangeskaf vir die geleentheid, al rook hy nie. Ma se Voortrekkerdrag is pynlik netjies, en altwee mans stap soos wagte weerskante van haar met ‘n trots wat Rebekka Steyn se hart warm laat klop.

Met hulle boerehoede aan die een kant opgeslaan, lyk die seuns in die skuur soos kleiner weergawes van die mans. Dieselfde beginsel geld ook vir die vrouens en dogters.

Oom Sadie se Jakaranda Orkes is in volle swang. Die dansvloer is in twee gedeel. Die grootste gedeelte is vir die ervare dansers, die ander is oop vir die groentjies. Pa vat vir Ma netjies om die middel en knipoog oor sy skouer vir Kobus.

“Gedra jouself, Kristiaan!” fluister sy dringend, maar Kobus weet dat sy terselfdertyd ‘n glimlag op haar gesig het. Haar gesig bloos asof sy ‘n veltoner blaps begaan het. Kobus kyk dromerig na sy twee verliefde ouers soos hulle grasieus oor die dansvloer beweeg. ‘n Glimlag sprei geleidelik oor sy gelaat.

“Halleluja! Jy’t uiteindelik jou verskyning gemaak,” kom dit skielik van agter hom, voor ‘n hand hom hardhandig ompluk.

“Hallo Tienie, goed om jou ook te sien,” lag Kobus vir sy tingerige maat.

Tienie du Preez se elf broers en susters is wyd en syd verspreid oor die dansvloer. Tienie is die jongste. Sy pa, groot Oom Balie, se lag kan bo-oor die musiek gehoor word.

Tienie vat Kobus aan die elmboog en lei hom een kant toe, sy puisie gesig die ene erns.

“Wat is dan nóú weer die krisis, Tien?”

“Man, moenie praat nie. Weet jy dat boetie Tiaan en sussie Thula my ondergang bewerk het?”

Kobus probeer om sy lag in te hou. Daardie twee familielede het ‘n gawe om van Tienie se kop ‘n bynes te maak. Hy vou sy arms en leun teen die naaste hooibaal, knik maar vir sy vriend om voort te gaan.

“Thula het al my susters belet om my vandag te leer dans, en Tiaan het Sarie Vermeulen gevra om my…,” en hy maak aanhalingstekens met sy vingers terwyl hy Tiaan se stem redelik getroud naboots, “onder haar vlerk te neem!”

Kobus bars uit van die lag. Sarie Vermeulen is ses voet lank. Tienie is, wel, nie ses voet nie. Tienie lag nie saam nie. Kobus onderdruk maar sy lagbui. Maar dit verg ‘n reuse poging.

“En wat lag julle seuntjies só? Kom Tienie, vandag gaan jy leer om nie op tone te trap nie.” Tienie se oë rek tot bewonderenswaardige afmetings, en hy draai stadig om, skouertjies teen sy ore opgetrek. Hy kyk op vanuit die skaduwee wat Sarie oor hom werp. Tienie se hand lig bewerig, maar Sarie vervies haar vir die klein knapie en pluk hom sommer vinnig in die rigting van die kleiner dansvloer. Kobus besef dat hy nooit sou vergeet hoe Tienie se oë angsbevange en pleitend oor sy skouer na sy vriend toe terug kyk nie. Ook nie hoe Tienie die hele aand sy nek draai om nie direk in Sarie se bors vas te kyk nie. Kobus staan nog so en kyk toe hy bewus word van ‘n soet geur in die lug.

“Wat het ons hier? ‘n Ridder sonder ‘n prinses? Verregaande!”

Nina Smit verskyn voor Kobus soos ‘n mitiese godin. Sy’s geklee in haar tradisionele rok, ‘n blou ene met die patroon van die Smitte. Sy loer kamtig skamerig van onder haar kappie na hom.

Die kalmte van vroeër versplinter soos ‘n yskomeet teen ‘n ster. Geen woorde kom by sy mond uit nie. Nina laat sak die kappie stadig agter haar kop sodat haar hele gesig ontbloot word.

“Jou familieruiker is besig om los te kom. Laat ek jou help.”

Nina is meteens baie naby. Die ruiker word verstel met slanke vingers in klein presiese bewegings. Kobus probeer om sy hart terug te sluk, terug na sy borskas waar dit hoort. Hy is vreeslik benoud, want Nina ruik soos… alle soet dinge tesame. Heuning, herfsblare en rose. Toe sy terug staan ontmoet hulle oë mekaar, en op daardie oomblik verander die Heelal vir Kobus Steyn vir ewig. Die spesifieke tyd en plek word in sy geheue vasgebrand, daar waar hulle tussen die hooibale staan.

“Kom ons dans,” kry hy dit uiteindelik uit, en vat haar hand.

Die twee stap deur die jonger mense na die groter dansvloer, met harte wat die ritme van die vastrap laat stadig klink.

“…hoor?”

Swart. Alles is swart om hom. Hy dink hy het sopas die einde van ‘n sin gehoor.

“Kan jy my hoor, Kobus?” kom sy moeder se stem deur die newels aangesweef.

“Ma?”

Hy hoor hoe sy ma snik. Ten minste, hy dink sy het gesnik. Die idee dat sy só ontsteld kon wees krap hom dadelik om. Sy ma huil nooit nie. Hy is bewus daarvan dat sy hand styf vasgehou word.

“Wat gaan aan?”

“Ai…” Sy sukkel hoorbaar om beheer te herwin. “Ek is so bly dat…” sy bly so ‘n rukkie stil.

Klanke penetreer die stilte. Die gesloffel van sagte skoene oor die vloer. ‘n Dokter word oor die interkomstelsel ontbied. ‘n Masjien biep met koue reëlmaat iewers langs hom. Hy wonder skielik of haar ander hand nou soos oudergewoonte met haar bril sit en vroetel.

“Moenie, Kobus!”

Sy hand stop toe dit die verbande oor sy oë voel. Hy laat val sy hand stadig tot langs sy sy.

“Die dokters probeer jou sig herstel, maar hulle het nog nooit sulke simptome gesien nie.”

“Is ek blind?” vra hy terwyl sy keel droog word. “Ma, is ek blind?” herhaal hy die vraag toe sy nie antwoord nie.

“Ons weet nog nie! Jy moet positief bly, my seun. Hulle werk daaraan.” Sy streel oor sy hare. “Wat kan jy onthou?”

Hy moet eers so ‘n rukkie daaroor dink.

“Ek het van die winkelsentrum na die park gestap, daar iets geëet, en toe die bus gevat na die basis toe. Ek onthou die bus, maar nie die basis nie.”

“Jy het ineengestort in die bus. Blykbaar het daar ‘n tipe insek uit die grond, of van ‘n boom van die park, op jou klere geklim. Eers toe jy in die bus kom het die ding jou gebyt. Of ten minste, dis wat hulle dink. Hulle is nie juis seker wanneer jy gebyt is nie, maar hulle dink jy sou dit gevoel het as dit voor die bus gebeur het.”

Hy probeer meer onthou, maar kan nie. Sy linkerbeen jeuk verskriklik. ‘n Suster kom in en kondig aan dat besoekerstyd verstreke is.

“Totsiens, seun. Ek kom vanaand weer.”

Hy hoor haar skoene oor die vloer.

“Ma?”

Die skoenklanke hou op.

“Ja, Kobus?”

“Waar is Pa dan?”

Sy ma bly ‘n rukkie stil.

“Pa het ‘n krisis by die werk.”

“En Nina?”

“Jammer, Mevrou Steyn. Tyd is verstreke.”

“Ons praat later weer, liefste.”

Kobus hoor sy moeder uitstap, die gang in. Hy lê in alomteenwoordige donkerte, met geen rus van die vrae wat hom kwel nie. Sy moeder het té haastig die kamer verlaat…

Ewenaar Oseaan.

Suid van Ewige Woestyn in die Noordelike Halfrond.

Die oseaan lê op die oomblik stil. Daar heers ‘n bedrieglike kalmte wat op enige oomblik ‘n metamorfose kan ondergaan tot in ‘n monster wat skepe binne etlike sekondes kan insluk. Die Ewenaar Oseaan is verdeel in Kolke en Kolle. Kolle is gewoonlik areas wat oorwegend veilig is vir skeepvaart. Kolke is ‘n ander storie. Hierdie area van die Ewenaar Oseaan, ‘n area van bykans 3000 vierkante kilometer, staan bekend as die Waterhel Kolk.

Gister het die Arwantynse satelliete nie die steurnis opgemerk wat oor hierdie deel van die oseaan verskyn het nie. ‘n Skerp lig het vanuit die blou lug bokant die water soos ‘n komeet gedaal. Die vuurbal, met ‘n lang stert, het deur twee lae wolke getrek, en sekondes later die wateroppervlak met ‘n enorme slag getref. ‘n Toring water het die lug in gerys, en daarna stadig na die wateroppervlak in ontelbare druppels afgesak.

Nou dobber ‘n kubistiese voorwerp tussen die vinnig stygende deinings. ‘n Buitedop skiet meteens af, en verbrande teëls val soos skille af na die bodem van die see. Net ‘n blink silindriese kapsule bly ronddobber, met ‘n liggie wat elke dan en wan rooi flits. Stadig kom ‘n deursigtige buisie te voorskyn uit die boonste deel van die silinder. Dit wil voorkom of daar niks binne die buisie is nie.

Meteens bars die buisie stukkend, en stukkies glas val eers op die kapsule en bons dan af tot in die water. Na nog ‘n minuut kan ‘n klein ontploffing gehoor word, onder die waterlyn van die kapsule. Die kapsule sak stadig af tot dit heeltemal onder die water verdwyn.

Sy onsigbare binnegoed is suksesvol in die atmosfeer vrygestel.

11 Mei 2953

Hobhouse Hospitaal, Sterrewag.

Hulle wag ‘n volle twee dae voor hulle hom vertel. Sy pa het spesiale verlof gekry om sy vrou by te staan, sodat hulle die tyding aan hulle seun kan bring. Na ‘n lang, uitmergelende stilte, het Kobus met ‘n bewerige stem net twee vrae.

“Hoe het sy geveg?”

Die Kommandant draai om waar hy by die venster gestaan het, en sug.

“Soos ‘n meester, my seun. Jy moet onthou, die Tar het ‘n tipe vegter gehad wat ons nog nooit van gehoor het nie. Die Tar het reeds vier van ons vegters opgeblaas. Uys, Small, Turivaki, Hendriks. Almal goeie loodse. Nina het weggebreek van haar groep af, nadat haar instrukteur ook getref is. Sy het gesien hulle staan geen kans nie, en sy het probeer om die vyand weg van die ander leerlingloodse te lok.”

Hy stap oor na Kobus en gaan sit op die bed. Sy seun se oë is steeds toegebind deur die verbande.

“Hulle het meer as vyf minute lank geveg. Die Tar is erg beskadig voor hy… wel.”

Kommandant Kristiaan Steyn voltooi nie die sin nie. Hy sal nooit die oomblik vergeet toe sy toekomstige skoondogter gesneuwel het nie. Selfs nou voel dit vir hom onwerklik. “Die Tar het ontsnap. Maar hy was beskadig. Hy is omgedraai, en Nina was die een wat dit vermag het.”

“Sal Pa vir my die krygrekord kry?”

Kommandant Steyn kyk skerp op. Die krygrekord is die beeld en taktiese rekord wat gedurende die skermutseling afgeneem is. Dit word op die oomblik geanaliseer deur Krygkom.

“Asseblief, Pa. Ek moet dit sien.”

Sy pa stem in, en vertrou sy seun aan sy moeder se sorg. Hy moet oomblikke daarna weer opskiet ruimte toe.

Kobus sit stil in sy hospitaalbed. Sy moeder neem nie haar blik van haar seun af nie, en verwens die verbande om sy kop wat sy oë verberg. Sy het nog altyd op sy oë staatgemaak. Sy kon altyd nog daar iets wys raak. Kobus loop nie met sy hart op sy mou rond nie.

‘Die waarheid is, ek het tog altyd gesukkel om hom te lees. Hy en my man, wie weet wat in hulle koppe aangaan? Dit is makliker om ‘n voorspelling van die weer op Zailon te maak.’ Iets in hierdie gedagte pla haar.

Sy streel met haar vingerpunte oor sy hand wat slap langs hom op die bed lê.

Kobus voel die aanraking nie eens nie.

Hy is selfs onbewus van die verwikkelinge buite sy kamerdeur. Meer en meer mense het die hospitaal begin binnestroom. Almal is siek met een of ander verkoue.

13 Mei 2953

Hobhouse Hospitaal, Sterrewag.

“Nina?”

“Nee, Kobus, dis ek, Karien.”

Karien gaan langs sy bed staan, en Kobus is verbaas hoeveel sy na haar suster ruik. Tog, is daar ‘n verskil. Nina se reuk was amper astrant, soet en bedwelmend van aard. Karien ruik… meer subtiel, kompleks.

“Ek is jammer, Karien. Dis alles my skuld…”

“Kobus, moenie…”

“As ek daar was het sy nog gelewe…”

“Kobus!”

Haar stem klink meteens kwaai. Kobus skud stadig sy kop, en is bly vir die verbande wat die vogtigheid in sy seer oë absorbeer. Wat kan hy verder sê? Wat is daar om meer te sê, want woorde is sinneloos.

“Ek’s jammer,” sy sit regop, vee haar oë met haar moue af, en sit weer haar bril op. “Ek weet jy het haar baie liefgehad. Haar dood was nie jou skuld nie. Dit was ‘n Tar gewees. Ek wou maar net vir jou kom sien. Sien hoe dit gaan. Jammer my pa het nog nie kans gehad nie. Die begrafnis… dinge gaan maar dol by die werk.”

Kobus sit stilswyend, asof hy deur die verbande na die teenoorgestelde muur kan staar.

“Kobus, my pa… hy… hy verstaan nie.” Karien se stem klink moeg. “Ek dink hy verkwalik jou pa, dat hy die leerlingvlieëniers uitgestuur het om daardie Tar te stop.”

Weer heers ‘n stilte. Karien vee ‘n nattigheid uit die hoek van haar oog af, en beur maar voort.

“Natuurlik weet hy dat jou pa nie ‘n keuse gehad het nie. Die Tar was op pad om iets te doen. Hy was nie eens naby ons vragskepe gewees nie, hy het blykbaar direk op Arwantië afgepeil. Jou pa moes hom stop. En die leerlingvlieëniers was die enigste eskader wat oorgebly het oor die Westelike Halfrond.”

Na ‘n rukkie kyk sy uit die deur en sug.

 “Iets anders is ook aan die gang, Kobus. Daar is ‘n virus. En hierdie virus is besig om almal, en ek bedoel almal, aan te val. Ons het al gehoor dat meer as 230 mense gesterf het. Meestal mense wat oud of reeds siek is. Ek hoor by my pa dat die virus al die stede en meeste van die dorpe bereik het. Hulle begin nou wonder of die Tar nie sy taak tog maar suksesvol uitgevoer het nie.”

Buite hoor hulle nog hospitaalbeddens verby rol, asook stemme in die gang. Verpleegsters en dokters klink moeg. Karien sit nog ‘n rukkie by hom, totdat sy ook opstaan en hom op die voorkop piksoen.

“Ek moet gaan, my baas hou van stiptelikheid.”

Karien werk in MediKorp se tegnologiese eenheid. Sy spesialiseer op die gebied van kunsmatige bioniese ledemate en ander apparate wat mense help om deur middel van tegnologie oor die weg te kom.

“Karien,” sê Kobus net voordat sy die deur bereik.

Karien draai dadelik om.

“Ja, Kobus?”

“Dankie vir die besoek.”

“Plesier.”

Hy sien nie die manier waarop sy na hom kyk nie.

27 Mei 2953

‘n Noodtoestand was op die 13de Mei deur die Planetêre President, Arwan Fourie die Tweede, verklaar. Mense word aangeraai om binnenshuis te bly totdat die epidemie onder beheer gebring is.

Die mees algemeenste simptoom was die gevoel van algehele uitputting en naarheid. Die hele planeet se bevolking is aangetas. Net ‘n handjievol energie-opkikkers is beskikbaar vir dié wat die belangrikste dienste moet lewer, en hierdie was ook nie ideaal nie, want die naarheid en duiseligheid het nog gebly.

Teen die tweede week staan die dodetal op 18 340. Dit is die grootste ramp in Arwantië se kort geskiedenis.

Dieselfde week beweeg dokters vir Kobus Steyn na ‘n ander saal vir waarneming. ‘n Paar eienaardige fisiese veranderinge aan Kobus is besig om hulle onkant te vang. Eerstens die oë. Hulle het van kleur verander, en het anders gereageer in die lig. Kobus se blou oë is iets van die verlede. Sy oë bly meestal okergeel van kleur, maar verander ook dwarsoor die kleurskema na mate sy bui of energievlak wissel. Verder het die bytsimptome in sy linkerbeen heeltemal verdwyn, wat hulle verwag het, maar sy hele lyf vertrek elke paar uur in ontsaglike pyn. Eers na hulle weer na X-strale gekyk het, het hulle iets aan die skelet se digtheid opgemerk. Nog toetse is gedoen.

“Wat is dit, dok? Vertel my die waarheid.”

Kobus sit regop teen sy kussings, in die bed. Dokter Pienaar kyk ongemaklik in die eienaardige oë, en dan maar liewer af na sy bladkomp. Sy vingerpunte flits oor die plat oppervlakte terwyl hy praat.

“Mnr. Steyn, ek sal jou vertel wat ons dink, maar die waarheid is dat ons glad nie seker is nie. Ek het nog nooit so iets vantevore gesien nie. Om ‘n lang storie kort te knip; jy is besig om op genetiese vlak te verander. Eers toe ons X-strale teruggekry het, het ek onraad vermoed. Die bene in jou liggaam is sowat 14 keer digter as wat dit moet wees, maar net ietwat swaarder, wat net nie logies sin maak nie.”

“Is dit die rede vir die pyn binne… en orals in my lyf? En die verandering in my oë? Is dit ook deel van die genetiese verandering?”

“Ons dink so. Kobus, jou skelet is basies onbreekbaar. Dit sou selfs ‘n 9mm koeël op sekere plekke – soos jou femur – kon stop. Ons weet nog nie of die verandering in jou oë bloot net met die kleur te make het, en of dit een of ander verskillende aanpassing ook behels nie. Ons moet… jammer, meer toetse doen.”

Kobus laat sak sy kop terug en kyk op na die dak, moedeloos.

“Jy moet vasbyt. Ons kan baie leer uit hierdie toetse. Ten minste is jy nie blind nie.”

‘Ja,’ dink hy, ‘ten minste het ek dít.’

“Hoe voel jy verder?”

“Wat bedoel dok?”

“Net… hoe voel jy energie-gewys?”

“Baie goed. Behalwe vir die drakse episodes, jammer.”

Die dokter glimlag moeg en teken iets aan op die blad in sy arm.

“Interessant…”

“Wat?”

“Niks. Niks nie, Mnr. Steyn. Kyk, ek moet gaan, maar hou moed. Ons het almal moed nodig hierdie dae. Tot later.”

Kobus word bewus, nie vir die eerste keer, hoe moeg die dokter voorkom. Die man staan met moeite van die bed se punt op, en rus eers ‘n rukkie teen die deurkosyn voor hy uitstap. Buite, kan mens hoor, gaan dinge maar rof.

30 Mei 2953

Bloekomhof, Presidensiële Gebou.

“President Fourie, Hoofadviseur Snyman wil u graag spreek. Sal ek hom op die holograaf deurlaat?”

Arwan Fourie die Tweede draai in haar stoel om en knik vir die assistent wat voor haar lessenaar wag. Haar lang hare is in ‘n honderd vlegsels gevleg, en rus oor haar een skouer tot by haar dun middel. Haar intelligente groen oë is geraam deur plooitjies aan weerskante, amper asof die pos wat sy beklee sy tol ook só oor die afgelope paar weke van haar geëis het.

Die beeld van die hoofadviseur verskyn oor die glasblad van die holograaf. Snyman buig laag. Vir Arwan lyk hy vandag selfs maerder as hierdie tyd ‘n week gelede.

“President, ons het ‘n 100% infeksie vlak met die Doolhof Virus. Terloops, die wetenskaplikes het dit sopas die naam gegee, omdat die virus verskriklik vinnig muteer. Op die oomblik is dit moeilik om veel meer te doen as simptoom behandeling.”

Snyman hoes. Arwan kan die tekens van uitputting maklik oor die man se gesig sien, al probeer hy dit wegsteek.

“Wat van die VN? Het hulle nie raad nie?”

Die Hoofadviseur skud sy kop, “Nee, President. Op die oomblik het hulle meer vrae as antwoorde oor die virus, net soos ons eie wetenskaplikes. Om die waarheid te sê, dit lyk of ons binnekort ‘n verbod op ons uitvoerprodukte asook reissanksies gaan ontvang. Die VN is nie te gretig om eerstehandse kennis van die Doolhof Virus op te doen nie.”

“Mens kan dit verstaan.”

Die vrou beskou die 3D beeld voor haar.

“Wel, Adaan, hou aan om hulp te vra van die interplanetêre gemeenskap. Iemand daar buite moet ‘n antwoord hê.”

Die hoofadviseur knik en buig laag, voor die beeld weer in die glasblad afsak.

‘Iemand moet kan help,’ dink Arwan in die magtelose stilte wat volg.

2 Junie 2953

Virus ondergaan mutasie. Verspreiding deur lugweë het gestaak. Druppel- en hematogene verspreiding nou alleenlik moontlik.

Planetêre Dodetal staan op 24 730.

3 Junie 2953

Die Kasteel, Sterrewag Distrik, Noord-Oranje Provinsie.

Die twee manne staan teenoor mekaar voor die kantoor se groot venster. Buite beweeg daar hier en daar ‘n militêre voertuig, stadig, om een of ander bevel uit te voer. Die groot omheinde gebied is sanderig en anders baie stil, behalwe vir ‘n warrelwind wat elke nou en dan die sand in hoë kolomme laat dans. Meeste van die bemanning is in hul barakke, te siek om effektief te wees.

Teen hierdie tyd weet Kommandant Steyn dat sy voormalige kollege maat nie meer om dieselfde kampvuur as hy sit nie. Hy kyk na die fors geboude man met die eienaardige kombinasie van ‘n vol gesig met prominente wangbene. Aan die skerp wenkbroue kan mens dryfkrag gewaar, en agter die dik snor skuil beide ‘n man met ‘n goeie sin vir humor, en ‘n onredelike humeur.

Generaal Smit draai om en stap oor na die lessenaar toe. Hy gaan sit en kyk net weereens vlugtig na die foto van sy dogter, wat op sy lessenaar rus.

“Ek is bly die virus kan nie meer deur die lug versprei word nie. Dit behoort ons uitvoere weer aan die gang te kry,” verander die kommandant die onderwerp, net toe ‘n assistent van die generaal ingestrompel kom. Hy gee vir die generaal ‘n manilla koevert, en maak ‘n dapper poging om te salueer.

Die generaal haal ‘n laserskyf uit die pakkie, ‘n tipe wat net spesiale dekodeerders kan ontsyfer, en knik vir die assistent.

“Willem, gaan kry vir jou ‘n opkikker-inspuiting by die dok. Jy lyk muf.”

“Dankie… Generaal. Enigiets anders, Generaal?”

Die generaal skud sy kop en die assistent ploeter weer by die deur uit, waarskynlik onmiddellik op pad na die siekeboeg waar hy sy waardevolle toestemming dadelik sal gaan benut. Generaal Smit sit die laserskyf in ‘n gleufie wat in sy lessenaar ingebou is. Terwyl die informasie laai, lig hy Kommandant Steyn vlugtig in.

“Laat gisteraand het ons ‘n baie interessante boodskap ontvang. Jy weet ons het ons noodtoestand vermeld aan die hele VN. Wel… kyk maar self.”

Die kommandant draai om na die holograaf in die hoek. ‘n Lang menslike figuur kom te voorskyn, geklee in ‘n lang kleed wat sy benerige lyf omvou. Op die kleed is ovaal-vormige rooi sirkels wat helder oor swart materiaal vertoon. Die figuur self lyk nie heeltemal mens nie, want die vingers wat voor die mond saamkom in ‘n biddende tipe groet, is onnatuurlik lank en dun. Die swart oë is ook te groot en wys geen wit nie. Die vreemde figuur buig vooroor in ‘n groet.

“Wees gegroet, Arwantyne. My naam is Sjeihoe Sal, en ek is die Spreker vir die Makroen. Ons het van julle lot verneem, en toe ons meer oor julle planeet uitgevind het, het iets baie belangriks aan die lig gekom. Dit is absoluut noodsaaklik dat ons so vroeg as moontlik diplomatieke samesprekings moet voer. Ons het antwoorde op van julle vrae, maar ons het ook vrae waarmee ons spook, vir eeue lank. Asseblief, ons verwag ‘n antwoord so gou as wat julle kan gee. Ons het alreeds ‘n diplomatieke skip vooruit gestuur, en sal julle besoek die oomblik as ons toestemming kry om te land. Geagte Arwantyne, ons hoop om gou van julle te hoor. Julle vriende, die Makroen van Sjêru.”

Die holobeeld sak weer af en verdwyn. Die generaal hou die kommandant stip dop. Kommandant Steyn se kakebeen werk oortyd asof hy kougom stilletjies probeer kou.

“Praat maar, Kommandant Steyn.”

Nou eers draai die onderbevelvoerder om en gaan sit voor sy senior offisier se lessenaar. Hy vou en ontvou sy hande voor hom, ‘n frons op sy voorkop.

“Mens, mens-verwant, of ander spesie?”

“Ons wetenskaplikes dink rede nommer twee. Dit lyk of hulle eers mense was, maar dat daar natuurlike of kunsmatige aanpassings plaasgevind het.”

“Wat weet ons nog van hulle, generaal?”

“Niks. Natuurlik nie verbasend nie. Die Bekende Ruim is groot en die mensdom het al begin tred verloor van al sy nasate. Hulle praat van ‘Sjêru’, maar daar is nie so ‘n planeet binne die Bekende Ruim nie, en so ver ons weet ook nie in die Onbekende Ruim nie. Natuurlik is dit moontlik dat daar wel so ‘n planeet in die Onbekende Ruim bestaan, maar op die oomblik lyk dit eerder of hulle ‘n nomadiese volk is. ‘Sjêru’ verwys miskien na hulle vorige wêreld – maar weereens is daar nie eens ‘n rekord dáárvan nie – of na hulle godsdienstige orde.”

“Wel, ek dink ons het nie eintlik ‘n keuse nie. Die virus kan weer muteer en ons heeltemal uitroei. Wat dink u gaan die President doen?”

“Wat kan sy doen? Jy is reg, ons moet enige hulp wat ons kan kry op hierdie stadium oorweeg. Ek dink sy sal binnekort laat weet dat ons die vreemdelinge toestemming moet gee.”

Binne ‘n uur het dit toe ook so gebeur. Die Makroen het hulle toestemming gekry.

4 Junie 2953

Hobhouse Hospitaal, Sterrewag.

“Jy word ontslaan, Kobus. Ja, ek is bly vir jou part, maar jy moet weet dit was teen my wense om jou te laat gaan.”

Dokter Pienaar lyk asof die wêreld se verantwoordelikheid op sy skouers rus. Kobus swaai sy voete vinnig van die bed af en mik na die sluitkas langs sy bed.

“Maar waarom dan, dok? Julle het my aan elke denkbare toets onder-werp!”

“Ek weet… dis net…” aarsel die dokter.

Kobus knoop al sy hemp toe, maar draai om en kyk na die dokter.

“Hoekom het jy nog nie die virus nie? Jy is die enigste Arwantyn van wie ons weet wat nog nie die virus gekry het nie.”

“Kyk, dok, miskien het ek dit, maar het net ‘n baie sterk imuunsisteem?”

“Nee, ons het jou bloed tot vervelens toe getoets. As ons jou bloed in die proefbuis sit, dan val die virus die bloed aan en doen wat dit met almal se bloed doen. Maar die bloed binne-in jou lyf bly immuun. Nou dít maak net nie sin nie. Ek het meer tyd nodig! En ons het geen idee watter insek jou gebyt het nie, en of dit wel ‘n insek was nie. En wat van die genetiese veranderinge wat jy ondergaan het?”

Kobus trek eers klaar aan voor hy weer praat.

“Kyk dok. Dis alles goeie redes, so hoekom moet jy my laat gaan?”

Dokter Pienaar gooi sy hande moeg in die lug en skud sy kop.

“Die militêre manne maak die groot besluite nou. Hulle sê ons verkeer in ‘n ‘sekuriteitskrisis’ weens die tekort aan gesonde personeel, veral in die Ruimtekorps waar ons so baie loodse verloor het.”

Kobus se kop sak effe, en hy staar na die grond in stilte. Die dokter wil homself skop oor sy laaste sin. Hy staan weer wankelrig op en gaan staan voor Kobus, sit sy twee hande op die jong man se skouers en wag dat Kobus opkyk voor hy weer praat.

“Doen my net een guns. Besoek die hospitaal vir toetsing elke tweede dag, as dit moontlik is.”

Kobus frons eers, maar dink aan al die mense wat nie so gelukkig is soos hy nie. Insluitend hierdie held van ‘n dokter wat voor hom staan. Hy knik instemmend.

“Vir jou dok, sal ek vir nog ‘n ruk speldekussing wees. Probeer net om nie dood te gaan aan ooreising nie.”

Dokter Pienaar glimlag tevrede en klop Kobus op die skouer.

“Dan het ons ‘n ooreenkoms. Baie dankie, Kobus.”

5 Junie 2953

Gilio Lughawe, aan die suidoostelike rand van Bassonstad.

Die Makroen se ruimteskip, omtrent vyftig meter in lengte, land sonder enige voorvalle op Gilio Lughawe. Die ontwerp is iets om te aanskou, maar min toeskouers word naby die lughawe toegelaat. Veral verslaggewers word weggewys. Die donker romp het weinig skerp hoeke, en het gaan sit op sy agterkant, verbranders op die grond, neus in die lug. Die hele tuig is swart, met opmerklike rooi ovaal vorms dwarsoor die swart teëls.

Na die nodige plegtighede wat normaalweg plaasvind tussen verteenwoordigers van twee volke, word die afvaardiging van twee-en-twintig Makroen blitsvinnig na lang motors geneem en deur tonnels diep onder die grond weggevoer. Die sekuriteitsprosedures neem ‘n volle twee uur, maar verloop vlot. Alle personeel wat betrokke is, is op opkikkers sodat hulle geen foute begaan nie.

Die Makroen het elke vraag en skandering met grasie en geduld hanteer. Heel voor het Sjeihoe Sal gestap. Die onderdane het ‘n sekere eerbiedige afstand van omtrent twee meter agter hom gehou. Hulle was ‘n volle kop korter as Sjeihoe Sal, maar daar was nie ‘n Makroen onder twee meter lank nie.

Uiteindelik het die afvaardiging voor die Presidensiële Raad in die ondergrondse gedeelte van die presidensiële gebou te Bloekomhof, bekend as die Kelder, gestaan.

“Welkom op Arwantië. Dankie vir u geduld gedurende die afgelope paar uur. Ons beloof dat die volgende dae ‘n ander, meer gasvrye sy van ons kultuur ten toon sal stel.”

Weereens buig die lang figure van die Makroen, met die vingerpunte wat raak voor die mond, laag in antwoord.

“Baie dankie, President Arwan Fourie die Tweede, leier van die Arwantyne. Dit was geen ongerief gewees nie,” kom Sjeihoe Sal se stem deur die bonkige halssnoer – ‘n vertaler – om sy nek. Daar is ook ‘n oorfoon wat van die vertaler tot sy een oor strek, wat elke woord uit Taal vertolk wanneer ‘n Arwantyn praat. “Ek sal sonder meer, soos julle blykbaar hier sê: ‘Met die dak in die huis val’…” Agter hom beweeg een van sy metgeselle net ietwat met die lippe, en hy korrigeer homself blitsvinnig. “Met die deur in die huis val, jammer!”

‘n Paar regeringsmanne glimlag, maar dit is nog te vroeg om te lag. Hulle weet nog te min oor die aard van die Makroen.

“Asseblief, Spreker Sjeihoe Sal, gaan voort. U het ons onverdeelde aandag,” nooi Arwan hom uit. Generaal Smit bemerk die totale afwesigheid van ‘n glimlag op haar gesig. Sy lyk heeltemal op haar hoede.

“Dankie, weereens. Dit sal u baat om eers so bietjie oor ons te wete te kom, die Makroen van Sjêru. Ons is ‘n nomadiese volk. Ons was eeue gelede uit ons wêreld verdryf. Ons was destyds nog ‘n primitiewe volk gewees, en na eeue van rondswerf het ons baie swaargekry. Tot onlangs was ons ‘n slawenasie van die Krah.”

Die laaste stelling veroorsaak ‘n skokgolf deur die presidensiële geledere. Die Krah is ‘n bose nasie, afkomstig uit die oorlewendes van ‘n strafkolonie waar die militêre magte oorweldig was. Die moorddadige hordes het sekere wetenskaplikes ingesluit, wat vinnig begin peuter het met genetika en elektroniese aanpassings aan die menslike liggaam. Oor twee eeue kan mens die Krah skaars as menslik beskou, fisies sowel as in moraliteit.

“Ons moeder planeet, Sjêru, se ligging het verlore geraak. Al wat ons geweet het is dat dit iewers in die Onbekende Ruim lê.” Op hierdie punt stop Sjeihoe Sal en kyk na die mense voor hom, een na die ander. Party het verstok. As daar enige kalmte in die lug was, het sy laaste woorde dit verplaas met spanning.

“Ons heilige boek, die Talhi, vertel van ‘n dag dat ons ons tuiste weer sal vind. Dit voorspel dat ons tot die hulp van ‘n ander volk sal kom, baie na aan die tyd dat ons weer ons Sjêru sal vind. So, u sien, ons is baie opgewonde. As ons u volk kan help, kan dit dalk groot gevolge vir ons mense inhou.”

Nie ‘n woord word gerep oorkant die vloer nie. Spreker Sjeihoe Sal gaan voort.

“Ons is amper doodseker dat ons tevore hierdie selfde virus onder lede gehad het. Die simptome toon identies te wees met dié van julle Doolhof Virus. Die slegte nuus is dat die virus binne drie maande sal muteer tot ‘n vorm wat ‘n sterfte syfer van 98% sal hê. Ons het ‘n manier, ‘n baie ingewikkelde manier, om ‘n teenvoeter vir die virus te vervaardig, wat die virus sal weerhou van hierdie mutasie.”

“Nou moet u ons verskoon, geagte Spreker, maar ek moet dit reguit vra: hoe kan ons u vertrou?”

Arwan se oë is stip op die vreemdeling voor haar gevestig.

“Ons vra nie u blinde vertroue nie. Ons is heeltemal bereid om ons goedwilligheid te bewys. Ons sal die eerste teenvoeters aan julle gee. Verder sal ons ‘n virus versneller vir julle wetenskaplikes leen, sodat julle die virus binne ‘n geslote sisteem kan versnel. Dan kan julle een stel monsters inent en ‘n ander stel monsters net so los. Julle kan dan twee dinge gelyk leer: Eerstens of virus muteer soos ons gesê het dit sal, en tweedens of ons teenvoeter werk.”

‘n Stilte het geheers totdat Arwan die verwelkomingsparty gevra het om die Makroen te vergesel na hulle kwartiere. Samesprekings moes eers gehou word tussen die Raad en die President.

‘n Twee derde stem laat die besluit deurgaan om die Makroen stelselmatig kans te gee om hulself te bewys. ‘n Paar raadslede is nie ingenome met hierdie besluit nie, omdat hulle die tydsberekening van die Makroen as uiters verdag beskou. Die feit dat Arwantië se sekuriteit uiters kwesbaar is, is die grootste bekommernis vir almal.

Daar is nog ‘n saak wat sekere mense erg ontstig. Die murasies in die Ewige Woestyn is ‘n geheim waarvan net vyf Raadslede, vier militêre personeel, en een uitgesoekte span wetenskaplikes van bewus is. Die gedagte bly spook: Is Arwantië eintlik Sjêru?

Die res van die Raad word ingelig oor die murasies.

‘n Groot besluit staan nou voor almal: moet hulle die murasies geheim hou?

‘n Vier-en-twintig uur uitstel op dié besluit is deur die Hoofadviseur voorgestel, en word eenparig aanvaar.

7 Junie 2953

‘n Verklaring aangaande die Makroen se diplomatieke sending is aan die media uitgereik, maar niks word verklap oor die moontlikheid van die virus se dodelike mutasie of die Makroen se moontlike teenvoeter nie. Hulle, die Makroen van Sjêru, is hier om diplomatieke brûe te bou, niks meer nie. Oor die algemeen is die nuus ‘n welkome afleiding van die afgelope maand se krisis verslae en slegte nuus.

“Ek kan net nie gewoond raak aan daardie oë van jou nie,” kla Rebekka Steyn weer toe Kobus haar die sop aangee.

Kobus wonder hoeveel keer hy al sy moeder in die bed gesien sit het. Sy is gewoonlik die eerste een by die deur uit, op pad na een of ander belangrike vergadering. Dis vreemd om hierdie energieke vrou so moeg en afgemat te sien.

“Ag Ma, ek sal seker maar kontaklense moet kry.”

“Toemaar, ek spot maar net so ‘n bietjie. Ek is so bly om jou weer by die huis te hê, al is dit net vir ‘n rukkie.”

Kobus gaan by die deur uit.

“Maak Ma se oë gou toe, ek het ‘n verrassing.”

Rebekka frons ietwat. Partykeer is haar seun se idee van ‘n verrassing meer van ‘n skok as wat sy geneig is om van te hou.

“Reg, oë is toe! Maar moet nou nie jou arme moeder ‘n hartaanval gee nie,” gee sy maar in.

‘n Hoë musikale noot kom van agter die deur, gevolg deur ‘n lae suisgeluid, gevolg deur ‘n brom geluid wat elke dan en wan opklink.

“Kyk maar,” sê Kobus.

Sy moeder maak haar oë oop en sien die mees armsalige diensrobot wat sy al ooit gesien het. Dit kom by die voetenent van haar bed tot stilstand.

Dit lyk kompleet soos ‘n asblik met vier meganiese bene. Die bene is op die oomblik bo teen die torso getrek, en dit staan tans op drie ballonagtige rubberbande. Bietjie hoër op is daar ‘n stel armpies, een met ‘n klou, een met ‘n pennetjie waarop verskillende tipe ‘hande’ op kan pas – afhangende van die taak. Die robot is oud, stokoud.

“Die Fluksie 2900,” lees sy op die kop, en wonder of dit werklik verwys na die ouderdom van die masjien. Sy begin te glimlag. “En is dit my nuwe helpertjie?” vra sy toe sy van die koddige ding af opkyk.

“Jup. Ek sal Ma help om hom ‘n naam te gee, of haar, as Ma verkies. Ons moet ook Ma se stem patroon op sy databasis neerlê, daarna sal Fluksie moeder selfs kan verpleeg, binne redelike perke, natuurlik.”

“Nou waar het jy hom gevind?” wil sy weet.

“Vriend van my werk by logistieke, en hulle het ‘n ou krat uit die Laaste Trek onlangs gevind. Dit was vol artikels afkomstig uit Zanshaphile asook Oseuss-2. Raar, maar waar.”

Kobus kan sien die present het haar verras. Sy glimlag op na hom.

“Baie dankie, ou seun, dit sal baie help. Ek is net so móég die hele tyd. Ek probeer nog die Stadsraad se werk hier by die huis doen, maar dit gaan maar rof as ek nog huiswerk ook moet verrig. Dankie tog vir die afleweringsdienste, anders sou ons nooit kos in die huis kon kry nie.”

Kobus gaan staan voor die venster en kyk deur die skrefie in die gordyne. Buite op die sanderige werf krap daar ‘n paar hoennirs op die werf. Hulle kort vere word elke nou en dan deur die briesie opgelig, en die son blink op die gravitasiebandtjies om hulle bene wat hulle verhoed om weg te vlieg.

“Jy weet, hierdie Makroen, dit is vir my nogal opwindende nuus,” sê sy ma later.

“Hoe so?”

“Wel, ek het self ook al gewonder hoekom dit nou juis so opwindend is, en al wat ek kan dink is dat ek ander kulture mis. Toe ons nog in die Bekende Ruim was, veral in die ANR, het ons tog dikwels ander volke om ons gehad. Dit was opwindend…”

“Té opwindend. As hulle nie so korrup was nie, sou ons nie nou in hierdie situasie gewees het nie,” sny Kobus haar af.

Sy stem getuig van ‘n bitterheid wat sy ma nog nie vantevore bespeur het nie. Sy kyk weer na haar seun, waar hy voor die skrefie tussen die twee gordyne staan. Die lig van buite gloei in ‘n streep wat van sy kop tot sy middellyf strek. Sy rug en sye is nog in die donker gehul.

“Dis seker waar, maar dit was… anders. Elke dag het nuwe ondervindinge beloof. Ek het uitgesien na die uitdagings. Natuurlik, dit lyk asof Arwantië ook al hoe meer begin opbreek in verskillende sub-kulture en klasse. Jou pa meen dis noodsaaklik, en ‘n natuurlike ontwikkeling sodra die bevolkingsgroei ‘n sekere grootte bereik.”

Sy begin na ‘n lang stilte in die bed omdraai, en haar hand uitstrek na die glas water wat op die bedkassie staan. Haar arm stop halfpad na die glas, toe haar seun afgetrokke begin praat.

“Nee, ek dink ek begryp op ‘n manier. Dit wat mens voor omgee, wat jou verlede, hede en toekoms met mekaar moes verbind het, word van jou af weggeneem, en dit word net deel van die verlede. Later begin jy wonder of dit alles maar net ‘n droom was. Die tye van lig en die tye van duisternis, die hede en toekoms, verskil by die dag al hoe meer. Ek het ook uitgesien na die lewe. Nou sien ek uit na iets anders.”

Kobus trek weer die gordyn stadig toe, en die kamer verdonker daarmee.

2 jaar gelede, 2951

Totius en Langenhoven hang al in die lug. Die derde maan, Louw, sal eers laat in die aand in die sterrehemel verskyn, ‘n halfuur voordat Totius onder die westerkim sal wegsak. Kobus staar egter soos gewoonlik na die groot, roeskleurige liggaam van Langenhoven, met sy kenmerkende ysteroksiedkraters en plooie.

Van kleins af het hierdie maan vir hom ‘n besondere aantrekkingskrag ingehou. Die sterk swaartekrag van Arwantië se tweede maan kon die Ewenaar Oseaan laat dans. Terwyl Totius dofweg in die middel van die dag verskyn, kom Langenhoven duidelik en kleurryk na vore so ‘n paar uur na sy haastige broeder. Baie mense verkies Louw, wat in teenstelling met sy naam die blinkste vertoon al is hy kleiner. Dit is so weens die omringende skemerlig wat by die minuut verdonker na Louw se verskyning.

 Blykbaar het hy as seuntjie vir sy pa gesê hy gaan nog eendag sy ‘vuurpyl’ daar land, om ‘perskes terug te bring’. Kinders word gewoonlik die storie vertel dat Langenhoven van perskes gemaak is. Natuurlik weet min mense nog wát perskes nou eintlik is. Soos baie gesegdes wat in Taal voorkom, is die oorsprong deesdae onduidelik.

“Ginnegaap jy al weer?” Nina kom langs hom staan en kyk ook op na Langenhoven. Eintlik is die blou, yserige Totius haar gunsteling-maan. ‘n Hand vroetel spelerig aan sy hare, en sy glimlag ondeund. “My dromer.”

“Kom, Nina-nooi. Vandag het ek vir jou ‘n verrassing.” Hy skeur sy oë weg van die rooi maan, en die mooiste vrou wat hy al gesien het verdryf binne ‘n splitsekonde selfs die prag van die hemelliggame. Nina staan langs hom in die lenteson, in ‘n rooi leerpak, stylvol en sportief. Sy lig haar wenkbrou en haar hande ietwat, vir goedkeuring.

“Toemaar, perfek. Soos gewoonlik,” verwoord hy sy waarneming.

Sy lag weer, geniet duidelik die kompliment.

“Klim op, ons moet terug wees voor derde maan.”

Sy glip vinnig agter hom op die tor. Die drie meter lange, motorfietsagtige masjien lig so dertig sentimeter bo die grond, sonder wiele. ‘n Insek ontmoet sy Moses soos dit skielik voor by die luginvoer – wat die turbine enjin agter die voertuig voorsien van lug – invlieg. Kobus se tor brom soos die bynaam van die masjien aandui. Hy kan nie een van die nuwe – meer geruislose – plaaslike modelle bekostig nie.

Binnekort skiet die paartjie teen 200km/uur oor die bosveld. Nina se arm hou styf om sy middellyf vas. Haar voorarms is onder sy vinnigkloppende hart. Elke nou en dan lag sy in Kobus se oor. Een keer gee sy selfs ‘n soentjie op die oor.

“Eenduisend agthonderd-en-veertig,” tel Kobus in sy kop. Hulle hofmakery, wat meestal in die geheim plaasvind, beloop teen dié tyd al meer as vyf jaar. En elke soen wat Nina hom gegee het, het hy getel.

Nina is mal oor verrassings, maar na tien minute roep sy bo die geraas uit dat sy weet waarheen hulle op pad is. Kobus antwoord nie, leun net verder vooroor terwyl hy die handvatsel verder oordraai. Die Suiwer X4 Enjin protesteer soos hulle naby tweehonderd-en-agtien kilometer per uur oor die lae bosse skiet.

Weldra verslap hy die pas, en stuur die tor om ‘n koppie. Baie versigtig stuur hy die voertuig na die skadukant van die koppie by ‘n diep skeur af, eers hierdie kant toe en dan daardie kant toe, sodat hulle na ‘n kort rukkie op die bodem van die skeur neerstryk. Toe hy die tor afskakel, sak die swaar masjien op sy drie metaal pote neer. Die enjin klank word vervang deur ‘n sagte geruis.

Min lig dring deur van bo af, en orals is daar bome en struike. Die ondergrondse water is vlak onder die sagte swart aarde, maar is nie geskik vir drinkwater nie. Kobus vat Nina se hand en hulle stap stilswyend deur die bome in die kloof, na ‘n area waar die grond amper gelyk is.

Dit is hulle gunsteling plek. Hier het soen nommer eenduisend plaasgevind. Die paartjie kom te staan voor die Danser, ‘n ‘poel’ wat ‘n eienaardige voorkoms het. Dié poel bevat nie water nie, maar fyn metaaldeeltjies van rooi, pers en oranje skakerings. Op die bodem van die poel lê groot metaal rotse, wat gemagnetiseer is. Die bodem self kraak elke paar uur oop soos hitte onder die grond skeure veroorsaak. Wanneer dit gebeur, rol van die metaal rotse om, met die gevolg dat die metaal in die poel begin beweeg. Deeltjies wat van ‘n teenoorgestelde polariteit is, stoot weg van die poel, reguit die lug in, en sak wanneer hulle weer georiënteerd is. As die klippe baie rondbeweeg, beweeg die hele poel en ‘dans’ as’t ware, soms tot drie meter bo die oppervlakte. Die kleurskakerings is dan veral indrukwekkend.

Hier het die paartjie al vir baie ure onder die druiweboom gesit en kyk, soos die poel oneindige skakerings en vorms met ‘n sagte geruis voor hulle dans.

Toe die twee by die poel uitkom, sien hulle dat die poel baie stil lê. Die krake het nog nie gevorm nie. Maar iets anders het dadelik Nina se oog gevang. Onder hulle druiweboom, staan daar twee diere. Op die een se rug sit daar ‘n seuntjie.

“Perde!” roep Nina opgewonde uit.

“Sjuut! Wil jy hulle skrikmaak?” proeslag Kobus gelukkig.

Die seuntjie gly behendig uit die saal, en lei die perde in hulle rigting.

“Hallo Oom Kobus,” groet die sproetneus gesiggie kordaat.

Kobus krimp amper ineen toe hy die groet hoor, en verwag dadelik dat Nina hom oor die ge-oomery gaan begin terg. Nina is egter te verwonderd oor die perde.

“Hallo Stefaan.”

Hy vat die leisels by hom oor.

“Moet my asseblief nooit ‘oom’ noem nie!” las hy saggies en dringend by.

“Ja, Oom Kobus,” fluister die rooikop saggies in sameswerende toon. Kobus rol sy oë en sug. Stefaan is nou eenmaal Stefaan…

“Kom Nina, vandag leer ek jou hoe om perd te ry. Ek het al vir vier weke in die geheim lesse gekry by Stefaan se ouer boetie, Marko. Jy ken mos die Venters? In elk geval, nou kan ek vir jóú leer. Hoe hou jy van jou verjaarsdaggeskenk?”

Nina streel met haar hand die kalm, witsokkie perd asof dit van goud gemaak is.

“Ek wens ek kon vir jou ‘n perd koop, maar vir eers kan ek net die ondervinding bekostig. Ek…”

“Dis perfek!” maak sy hom stil, en hy word weer kalm. Die senuwees, die voorbereiding! Dit is altyd ‘n gespook om vir Nina verrassings geheim te hou.

“Wel, boerenooi? Dis mos deel van ons! Allerhande voertuie het ek en jy al baasgeraak, maar nog nie die pérd nie.”

“Die wáre Jakob,” sê sy met ‘n dromerige stem en draai weer om na hom toe.

 Terwyl sy diep in sy oë kyk, kom staan sy tot reg voor hom. In die agtergrond het klein Stefaan Venter reeds ‘n ander afleiding gevind, deur ‘n vinapie lastig te val. Die bosse en struike protesteer soos hy met ‘n stok die arme skepseltjie deur die struike jaag. Niks hou dié rooikop se aandag vir langer as vyf sekondes nie.

Kobus hoor hom skaars, want Nina se oë hou hom vasgenael in die plek waar hy op die sagte grond staan. Die oomblik is reg. Perfek. Maar nog bly die ring hang aan die halsnoertjie om sy nek.

 

Kobus ruk die beddegoed van sy bed af, en staan natgesweet op. Hy gryp aan die titanium kettinkie om sy nek, waar twee ringe teen mekaar klingel, en maak ‘n vuis om hulle. Sy oë bly toe. ‘n Enkel druppel sweet loop van sy voorkop oor sy neus en plas tot op die vloer van die barakke.

Tien minute later is hy in die gimnasium. Een van die skermbotte word hard getref. Die kop van die skermbot kletter oor die gimnasium vloer. Die stukkende robot wankel, bedrading wat by die nek uitpeul, toe slaan dit neer met ‘n slag. Niemand is dié tyd van die aand in die gimnasium nie. Niemand sien dit nie.

Bestel Eben van Renen se boek Arwantië 2953 deur Thompson Boekdrukkery te skakel by: seunatw.yahoo.com