Captive State

Captive State is een van die verrassendste flieks van die afgelope paar jaar.  Met ‘n klein begroting en geen van die groot akteurs nie, kan ‘n mens maklik die fout maak om te dink dat die fliek maar redelik sub-standaard sou wees.  Niks kan egter verder van die waarheid wees nie.

Die fliek speel af in ‘n distopiese realiteit waar die aarde deur buiteaardse wesens oorgeneem is en wat dan die aarde uitmyn om al die natuurlike hulpbronne vir hulself te neem.  Die mensdom staan onder die regering van hierdie vreemde mag en kyk magteloos toe hoe hul tuiswêreld leeggestroop word van alles.

Die interessante hoek wat die fliek neem op hierdie situasie is dat die grootste gros van die mense maar verlief neem met die omstandighede, ‘n klein groepie daarteen rebelleer, maar dan is daar ‘n groep mense wat met die buiteaardse heersers saamsweer en hulle help deur die planne van die rebelle te ontbloot en die rebelle uit te wis.

Hierdie is ‘n perspektief wat nie algemeen in wetenskapfiksie voorkom nie maar wat baie algemeen voorkom in die mensdom.  Dink maar aan Nazi-Duitsland, of die Sowjet Unie – of die Anglo-Boereoorlog.  Daar is al te dikwels dié wat hul medemens sal verklik of hul ondergang bewerkstellig.

En juis daarom is Captive State so fassinerend.  Dit wys op die donkerste kant wat so integraal deel is van die psige van die mens.

Die wesens en hul tegnologie word amper nooit behoorlik in die fliek getoon nie, en dit slaag nogal verstommend goed deurdat daar nét genoeg gewys word sodat jou eie verbeelding die gapings invul.

Die fliek is uiters geslaagd en word sterk aanbeveel.

Afrifiksie voel dat Captive State goed is – moet dit nie misloop nie…

 

Skaal

  • Uitstekend (90% +) – Dit móét op die groot doek in ‘n teater gesien word (oorweeg IMAX en 3D ook)
  • Baie Goed (75% +) – Jy is dom as jy dit nie in ‘n teater kyk nie.
  • Goed (60% +) – Moet dit nie misloop nie, jy moet dit sien.
  • So-so (40% +) – Jy kan dit maar kyk as dit self op TV wys en jy kan nie slaap nie.
  • Swak (minder as 40%) – Kyk dit slegs onder dwang, en as jy níks anders het om te doen nie.