Anon

Kuberpunk, Utopie-Distopie

16 S N

65%

_____________________________

Die fliek speel af in ‘n tyd wat in elke opsig identies is aan die hede, behalwe vir die feit dat die integrasie tussen die individue in die samelewing en ‘n kibernetiese netwerk hoogs gevorderd dog absoluut onsigbaar is. ‘n Optiese inplanting maak dit vir elke individu moontlik om die wêreld waarin hul funksioneer as ‘n aangevulde werklikheid waar te neem. Dié aangevulde werklikheid maak inligting oor elke ding en elke persoon waarmee hul te doen kry onmiddellik beskikbaar as teks wat in die beeld wat gesien word, verskyn.

Verder is kommunikasie tussen persone, of persone en die kibernetiese netwerk waar alles wat ‘n persoon sien oor sy ganse lewe, as datalêers gehou word, onmiddellik moontlik gemaak deur bloot daaraan te dink.

Die doel van hierdie hoogs geïntegreerde wêreld is om die ‘n beter utopiese bestaan te verseker deur dit onmoontlik te maak vir misdaad om gepleeg te word sonder dat die persoon wat die misdaad pleeg se identiteit altyd beskikbaar is – niemand kan dus anoniem wees nie.

Dan, vir die eerste keer, word mense vermoor deur ‘n onbekende persoon. In die soektog na die moordenaar word die gebrek aan ‘n identiteit van die moordenaar as die hoogste sonde uitgebeeld. As almal hul lewens in glashuise moet lei, hoe durf iemand die stelsel uitdaag met anonimiteit?

In die vele naakte- en sekstonele word die behoefte van die individu na privaatheid gespieël in die behoefte van die samelewing om toegang tot inligting oor individue se privaatlewens te hê.

Die fliek is niks buitengewoon nie, maar vra belangrike vrae aan die kyker en die mensdom wat op reis is na ‘n totaal deursigtige wêreld. Ook is die kuberpunk-integrasie van die mens met die kuberruim meer subtiel as ander flieks in hierdie kategorie.

Uiteindelik, word die kyker self gekonfronteer deur die woorde van die hoofaktrise wanneer sy sê: “… ek het niks om weg te steek nie, daar is eenvoudig niks wat ek wil hê ander moet sien nie.” In ‘n wêreld met twitter en facebook wil dit lyk asof ons egter wél alles van ons eie lewens vir almal wil ten toon stel…