Alita – Battle Angel

In die post-apokaliptiese aarde is dit die jaar 2563. Behalwe vir een enkele utopiese stad Zalem wat hoog bo die oppervlak dryf en wat nie deur die grondbewoners toeganklik is nie, is die res van die aarde ‘n distopiese hel. Mense sukkel om te bestaan in stede soos Ysterstad, waar mense (en selfs diere) se liggame aangepas word met tegnologiese ledemate, organe en sintuie om die wese in ‘n kuborg te verander.

Hierdie kuberpunkfliek het sy oorsprong in die Japanese strokiesprentkunsvorm anime en mangha wat nogal duidelik na vore kom in die hoëspoedgevegstonele op die renbaan, en die oormatige groot oë van die hoofkarakter.

Ons hoofkarakter word op ‘n ashoop opgetel deur ‘n dokter wat kuborge vervaardig, en so word sy deur hom herstel. Dit word egter gou duidelik dat sy eintlik van ‘n ander wêreld afkomstig is, en oor gevegsopleiding en tegnieke beskik wat haar uiters gevaarlik maak – sou jy teen haar te staan kom.

Hoewel die storie baie vermaaklik is en oor al die nodige elemente beskik om reg te laat geskied aan die genre van kuberpunk, is daar amper niks nuuts te sien nie. Basies ál die idees wat hierin voorkom het ons alle talle kere van tevore gesien – mens voel ‘n bietjie verneuk aan die einde want jy’t effens meer verwag. En verder eindig dit op ‘n trant wat dit noodsaak vir ‘n volgende fliek – ook ‘n feit wat nogal afbreek doen aan ‘n fliek deurdat dit nie alleenstaande ten volle geniet kan word nie en wat baie vrae onbeantwoord laat. Nogal ‘n jammerte.

Dit voel basies soos ‘n kombinasie van AstroBoy en Ghost in the Shell – wat beide meer geslaagd was op hul eie as Alita. Ten spyte hiervan is dit steeds die moeite werd om te gaan kyk en is die spesiale effekte uit die boonste rakke.

Afrifiksie voel die fliek is goed – dis egter nie baie goed nie.

Skaal

  • Uitstekend (90% +) – Dit móét op die groot doek in ‘n teater gesien word (oorweeg IMAX en 3D ook)
  • Baie Goed (75% +) – Jy is dom as jy dit nie in ‘n teater kyk nie.
  • Goed (60% +) – Moet dit nie misloop nie, jy moet dit sien.
  • So-so (40% +) – Jy kan dit maar kyk as dit self op TV wys en jy kan nie slaap nie.
  • Swak (minder as 40%) – Kyk dit slegs onder dwang, en as jy níks anders het om te doen nie.