Mortal Engines

Waarskuwing: Hierdie resensie kan van die inhoud van die fliek weggee en dit bederf – besluit self of jy dit wil lees…

Wat ‘n ongelooflike fliek. Mortal Engines is gebaseer op die 2001 boek deur Philip Reeve met dieselfde naam. Dit gaan oor sogenaamde predatorstede in die genre van stoompunk.

Die ganse fliek is propvol nuwe idees en ongelooflike ryk beelde – tipies aan stoompunk. In ‘n toekoms waarin die tegnologiese rigting drasties afwyk van dít wat ons sou voorspel, kry ons te doen met ‘n verskynsel dat stede jag maak op mekaar om die ander se materiaal en grondstowwe vir hulself in te palm.

En die akteurs wat nie in die meeste wetenskapfiksieflieks gesien word nie, verleen ‘n verdere element van onbekendheid aan die wêreld wat hoegenaamd nie aan ons eie herinner nie.

Lugskepe, stede wat in die lug dryf, stede wat in jaagtogte vir oorlewing gewikkel is, kannibalisme, tronke wat in die see rondloop, ‘n kuborg met emosie – dis ‘n fees van oorspronklike idees.

Daar is min wat oor hierdie fliek gesê kan word wat nie positief is nie, en ons gee erkenning hieraan deur 95% aan Mortal Engines toe te ken – dit word sterk aanbeveel indien jy van stoompunk hou.

Die skrywer het ‘n aantal boeke in die reeks geskryf, en ons kan maar net hoop dat nog ‘n paar daarvan gestalte op die silwerdoek sal aanneem…