Gewemel Geraas Gedagtes en nog Gedagtes

Kan julle nog die dae van teaters onthou?  Toe almal gesmag het na daai sensasie van ‘n fliek op die groot wit doek gaan sien.  Waar die geur en harde klanke van springmielies saam met ‘n lekker lag of gil al is wat jy inneem?

Nou klik ons dood eenvoudig net op ‘n paar knoppies en daar is die beeld.  Geen meer wag of samesyn soos dit behoort nie.  Dis asof die fliek-kyk proses iets verloor het met die verloop van tyd en vooruitgang van die mens.  So asof die flieks goedkoop begin word het.

Onlangs was ons almal hier by Afrifiksie weer bederf met die sensasie van ‘n goeie fliek op ‘n groot wit doek.  Ja, met springmielies en sonder die oortollige uitdaging van maskers.  Dit was ook grootliks die inspirasie vir al die nuwe toevoegings tot Afrifiksie se webwerf, gaan besoek gerus ons splinter nuwe musiek baldsy.  Die fliek was niks anders as Chaos Walking nie.

Die fliek is nie so eenvoudig soos wat die voorprent lyk nie.  Van die begin af is dit ‘n deurmekaar spul, maar een wat tog sin maak.  Die gehoor verstaan vinnig wat die verwarring veroorsaak en verbasend genoeg is dit nie ‘n hindernis nie.  Ons haal ons hoedde af vir die direkteur – Doug Liman – hy het homself goed van sy taak kwyt gemaak.  Selfs die akterus wat hy gekies het is geloofwaardig vir hulle onderskeie rolle, nie te jonk soos in meeste van die nuwe flieks (Valerian and the city of a thousand planets) nie.

Die fliek bied ook ‘n goeie nuwe WF-idee, wat ons baie opgewonde het hier by Afrifiksie.  Daar is al stories wat speel met die idee van gedagtes op verskeie maniere, maar nie een soos Chaos Walking nie.  Nog ‘n oulike wending in die fliek is die feit dat die buiteaardse wesens nie die hoof storie is nie.  Hulle moet vir eens op die kantlyn staan en kyk hoe die mens self ‘n storie kan inkleur, soos net ons mense kan.  En het die fliek dit goed gedoen.  Jou eie gedagtes maal soos die rolprent voor jou uitspeel.  Wat ‘n fees vir die brein, was die fliek nie!

Soek jy dalk ‘n lekker bederf, ‘n fees of net ‘n wegbreek van die wêreld se dinge, gaan kyk gerus die fliek Chaos Walking terwyl dit nog in die teaters wys!!!