Die Korrekte Gebruik Van Lees- en Skryftekens

Module 2 / Eenheid 2

In hierdie eenheid gaan ons kyk na, lees- en skryftekens, wat waarskynlik die belangrikste element in enige skryfwerk is. Hoeveel keer moes u nie ’n sin weer-en-weer lees voordat u kon begryp wat die skrywer wou sê nie. Dan is daar ook die nuwe wêrelde, diere, lande en natuurlik die eienaardige name vir die magdom karakters in die verhaal, en elke keer as u dié besonderse woord lees vind u dat u dit anders uitspreek het as die vorige keer. En na die afloop van die boek is dit moeilik om enige van die planete, diere of karakters te herroep.
Na aanleiding van die bogenoemde probleme raai ons nie aan om op te hou skryf of te lees nie, maar eerder om aandag te gee aan die korrekte gebruik van lees- en skryftekens.

Ons gaan na die volgende kyk:

  •   Leestekens;
  •   Skryftekens.

Leestekens.

  • Leestekens word gebruik om vaaghede en verwarring in één se skryfwerk uit te skakel. ’n Leesteken is bloot ’n teken wat in ’n teks voorkom of aangebring word om die leesbaarheid daarvan te verbeter en om presies te sê wat jy bedoel. ‘n Leesteken gee ook leidrade oor die betekenis en die uitspraak van ’n betrokke sin. Die versameling en die gebruik van leestekens word ook soms verwys na as Interpunksie.

Ons gaan na die volgende leestekens kyk:

  • Die Punt;
  • Die Komma;
  • Die Kommapunt;
  • Die Dubbelpunt;
  • Die Aanhalingstekens;
  • Die Vraagteken;
  • Die Uitroepteken;
  • Die Hakkies;
  • Die Aandagstreep;
  • Die Aksenttekens;
  • Die Karet (verouderd);
  • Die Asterisk / Sterretjie;
  • Die Ellipsis / Weglaatteken;
  • Die Hoofletter;
  •  Afkortings, SI-Simbole en Letterwoorde.

Die Punt ( . )

a)  Aan die einde van ’n sin, al is dit een woord:

  • Ek sal nou gaan. Nou.

b)  By sommige afkortings:

  • genl. (generaal), dr. (dokter), prof. (professor), ens.

Die Komma ( , )

a)  Tussen twee of meer s.nwe., b.nwe. en wwe.:

  • Die dik, hoë, staaldeur skuif sonder moeite oop. (b.nwe.)
  • Die wagte hardloop, skree en skiet. (wwe.)
  • Sy kan Afrikaans, Gorgaans en Lepturs praat. (s.nwe.)

b)  Tussen twee werkwoorde wat afsonderlike gesegdes vorm:

  • Dié wat dit glo, is baie bygelowig.
  • Hy het gestotter, wat toon dat hy skuldig is. (Sodra die wat ’n hele sin bepaal, d.w.s. ’n ander hoofsin inlei, word daarvoor ’n komma geplaas.)

c)  Tussen twee voegwoorde:

  •       Sy wil weet of, indien ek mag, haar kan oplei.

d)  Na uitroepe wat hulle krag verloor het:

  •       Wag, laat ek jou vertel.

e)  Tussen sinne wat verbind word deur nòg… nòg en òf… òf:

  • Hy het nòg die kennis, nòg die insig om so iets te vermag.
  • Òf sy het te vinnig gevlieg, òf sy het bloot ’n verkeerde besluit geneem.

f)  Waar ’n woord of woorde uitgelaat is om onvanpaste herhaling te voorkom:

  • Hy is die vriendelike; sy broer, die nors.

g)  By parentetiese (ingelaste) sinsnedes en sinne:

  • Sy is, sonder om sleg te praat, baie jaloers.
  • Hy het, of jy dit wil glo of nie, nooit die vlug gehaal nie.

h)  Voor en agter ’n bystelling:

  • Marie, ons beste loods, lê nou in die siekeboeg.

i)  Voor of agter die naam van die aangesprokene:

  • Koos, het jy al jou vlugdata nagegaan?
  • Wanneer is die volgende vlug, Santie?

j)  Ook om vaaghede of dubbelsinnighede uit te skakel:

  • Nico Harmse, my bestuurder, was gister hier gewees.
  • My suster, wat gister hier was, is meer ervare as ek.

Die Kommapunt ( ; )

a)  Vir ’n ruspunt langer as ’n komma, maar korter as ’n punt:

  • So sy wou; wat?

b)  Voor dus, derhalwe, daarom, gevolglik, nogtans, tog, nietemin en inteendeel:

  • Sy was mal; dus moes ons haar opsluit.
  • Hulle was vyande; derhalwe het hulle dit gedoen.
  • Ek is bang; daarom moet jy eers bly.
  • Die Kaptein was dood; gevolglik moes ek die bevele gee.
  • Die aanvalsmag was sterker as ons; nogtans het ons ons beste gegee.
  • Die uitsig was vaal; tog het dit my aan die aarde laat dink.
  • Die ruimtestasie was oud; nietemin het alles gewerk.
  • Hy wou hulle aanval; inteendeel hy wou hulle vermorsel.

c)  Wanneer die voegwoorde want, en en maar weggelaat word:

  • Ek sal nie kan kom nie; ek het baie werk (want is weggelaat).
  • Almal was vrolik; ek het ook gevoel om fees te vier (en is weggelaat).
  • Ek is lief vir die ruimte; ek weet nie of sy my liefde deel nie (maar is weggelaat).

d)  Om ’n redelik lang pouse in lang volsinne aan te dui:

  • Toe ek daar aanland, het ek my voorgeneem om nie ’n woord te rep nie; maar hoe kon ek swyg.

Die Dubbelpunt ( : )

a)  Wanneer ons ‘n hele reeks dinge opnoem:

  • Die volgende planete was teenwoordig: Aarde, Mars, Xeno-1 en Drako.

b)  Voor ‘n aanvulling of ‘n verduideliking wat ná ’n voorafgaande sin verwag word:

  • Jy moet onthou: daardie ruimtewesens is nie intelligent nie.

c)  Voor woorde wat in die direkte rede aangehaal word:

  • Alta vra: “Waarheen gaan julle nou?”

Die Aanhalingstekens ( )

a)  Mense se direkte woorde en aanhalings uit gedigte, boeke, ens. word tussen aanhalingstekens geskryf:Voor woorde wat in die direkte rede aangehaal word:

  • “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” lees ons in die Bybel.
  • “Kom hiernatoe!” het hy geskree.

b)  Woorde of uitdrukkings waarvan daar gepraat word, word gewoonlik tussen aanhalingstekens geskryf:

  • “Speaker” is ’n leenwoord uit Engels.
  • “Ek kan nie die grap vang nie” is ’n Anglisisme.

c)  ’n Aanhaling binne ’n aanhaling word met enkel-aanhalingstekens aangedui:

  • Hy het vertel: “Toe ek om die hoek stap, vra iemand: ‘Waarheen gaan jy?’”
  • Wanneer dialoog gebruik word, moet ’n nuwe paragraaf gemaak word wanneer ’n spreker, na die vorige persoon, weer voortgaan met sy gesprek. Indien ’n spreker lank praat, sodat sy woorde meer as een paragraaf beslaan, word slegs die laaste paragraaf met aanhalingstekens afgesluit. Voor elke paragraaf moet daar egter aanhalingstekens verskyn.

Die Vraagteken ( ? )


Na ’n vraag(sin) in die direkte en indirekte rede skryf ons ’n vraagteken:

  • “Hoekom,” het sy gevra, “is jy al weer laat?”
  • “Sal jy my môre help?” wou die Generaal weet.
  • Wat nou gemaak? Dit is ’n moeilike posisie.

Die Uitroepteken ( ! )

Word gebruik na bevele, uitroepe, wense, waarskuwings en om spot uit te druk:

  • “Loop nou!” het sy beveel.
  • Sjoe! dis warm. OF Sjoe, dis warm!
  • As ek dít maar geweet het!
  • Dit was darem mooi van jou om my so te bedrieg!

Die Hakies ( [ { } ] )

Word gebruik voor en na mededelings wat in- of aangelas word:

  • My broer (jy het hom ontmoet) vlieg môre.
  • Ons het die vorige jaar (3402) geweldige probleme gehad.
  • In dié eBoek kan jy van ’n unieke vaartuig lees (bl. 455-5).

Die Aandagstreep ( )

a)  Om aan te toon dat ’n sin afgebreek is:

  • Ek wil jou nog meer vertel van die Lamina’s – maar wag, ek sal dit liewer later doen.

b)  Voor ’n mededeling wat na ’n volsin volg:

  • Sy het toe eindelik hier opgedaag – maar nie alleen nie.

c)  Voor en na ’n verduideliking, bewering, ens. wat in die middel van ’n sin ingelas is:

  • Ek sal – soos jy teen dié tyd weet – my nie laat beïnvloed nie.

d)  Voor en na omskrywings (ekstra inligting):

  • Dat ek so iets gesê het – dit wou sy nie glo nie.
  • Jy het dit mos nog nie gehoor nie – dat ek volgende week na Mars gaan.

e)  Voor woorde wat herhaal word om te beklemtoon:

  • Daar was wanorde – totale wanorde in die raadsaal.

Die Aksenttekens / Klemtekens

Die Akuutteken ( ˊ)

a)  Om beklemtoning aan te dui:

  • kán, ék, ná, níks, húlle, fýn, én… én, dáár, hiér, één, móét, móói, néé, dié, ens.

b)  By die skryf van vreemde woorde in hulle vreemde spelvorm:

  • attaché, cliché, ens.

c)  In sommige skryfwyses van sekere eiename:

  • Esmé, René, Cronjé, Fouché, Naudé, ens.

Die Gravisteken ( ˋ)

a)  In die volgende vier gevalle: appèl, dè, hè, nè:

  • Hy teken appèl aan.
  • Dè, hier is jou wapen.
  • Hè, hoe het jy nou gesê?
  • Dis lekker koud, nè!

b)  In geykte uitdrukkings, bv.: nòg… nòg en òf… òf:

  • Hy is nòg vis nòg vlees.
  • Nòg sy, nòg haar pa sal so iets doen.
  • Jy moet òf die werk doen òf gaan.
  • Òf hy het nie geleer nie, òf hy is bra dom.

c)  By die skryf van leenwoorde in hulle vreemde spelvorm:

  • crèche, ampère, ens.

d)  In sommige skryfwyses van sekere eiename:

  • Hélène, Thérèse.
  • ’n Aksentteken word nie op ’n i geplaas wanneer dit saam met ’n ander klinker voorkom nie, bv.: dié, lúi, ens. Sodra die i egter die enigste klinker is, word die aksentteken wel daarop geplaas, bv.: ís, wít, ens.

Die Karet ( Ʌ)

Word gebruik om aan te toon dat ’n woord op ’n spesifieke plek uitgelaat is:

                                                                                                                erg

Die elektriese storm het die rekenaar aan boord, ons tuig, Ʌ beskadig.

Die Asterisk / Sterretjie ( * )

a)  n Enkel sterretjie in die teks verwys na ’n aantekening of verwysing onderaan die bladsy, wat ewe-een met ’n sterretjie aangetoon moet word:

  • In die teks: “… so het dit gebeur*.”
  • Onderaan die bladsy: “* Verwys na Kaptein Nemo se dagboek inskrywing van 1867: By ons aankoms het hulle ons gegryp en sonder rede geblinddoek en op gesluit.”

b)  Drie sterretjies word dikwels aangewend om ’n sprong of gedagtewending voor te stel (* * *):

  • … wat meer kan ek sê behalwe dat ek nou bly is dat ek nou mondig is.

                     * * *

  • Ek was skaars elf jaar oud, toe die vreemde wesens my opgeneem het na hulle moederskip.

Die Ellipsis / Weglaatteken ( )

a)  Om spanning te bou:

  • Die deur gly oop en voor my staan die…

b)  Om aan te toon dat ’n sin onvoltooid is of te wys dat die voorafgaande woorde nie gebruik is nie:

  • Dit was nie lank voor ek weer uit die patryspoort…
  • “… wat probeer jy nou sê?”

c)  Kan gebruik word as plekhouers vir sensitiewe (gesensorde) woorde:

  • O! My… wat gaan aan.

d)  By die implisering van ’n nie-bewoordbare alternatiewe woord in die konteks:

  • Drakula sê, “Ek drink nie… wyn.” (Maar dit is duidelik dat hy wel iets anders drink.

e)  By indirekte rede om ’n doelbewuste stilte, irritasie, ontsteltenis, skok of afgryse te verteenwoordig:

  • Hy het aan my gesê…
  • Sy was…
  • Herman, was ontsteld oor…
  • Marie, was woordeloos…

f)  In poësie word dit gebruik om sarkasme uit te lig:

  • Was hy dan nie ’n mooie kêrel nie…

g)  Word gebruik om aanhalings te verkort:

  • “… Was dit die rede vir jou afwesigheid? Beslis ongehoord van iemand van jou stand. Jy is immers ’n generaal…”

h)  Om ’n leser oor te laat om vir homself of haarself te besluit (vir nadenke):

  • So was die derde dag weer ’n genotvolle dag sonder enige voorvalle…

Die Hoofletter ( ABC… )

Persoonsname

a)  Eerbiedsbenaming, voorname, vane en byname:

  • Skepper, Kobus, Du Plessis, Bakkies du Toit, ens.

b)  Name van fabrikate, produkte, ens. na die persoonsname van die vervaardigers genome:

  • Kruppgeweer, Hansardverslag, Fordmotor, Röntgenstraal, ens.
  • Wanneer die verband verflou, word dit met ’n kleinletter gespel: dieselenjin, bunsenbrander, Watt, youngbessie, mauser, dahlia, ens. Ook eienaamafleidings wat al lank in die taal bestaan, soos kryt (van Kreta), kalkoen (van Kalkutta) en tarentaal (van Terra Natal) word spontaan as soortname gebruik.

c)  Personifikasies:

  • Jan Rap, Klaas Vakie, Jan Tuisbly se karretjie, Jan Publiek, ens.
  • Sulke gevalle kan ook as blote soortname aangevoel word; dan skryf ons hulle met kleinletters: ’n janhen (’n man wat van vrouewerk hou), ’n jandooi, jansalie, ens. Die lidwoord voor die soortnaam dui daarop dat ons nie met eiename te doen het nie. Ons sê tog nie ’n Jan Rap en ’n Jan Publiek nie.

d)  Soortname wat as eiename van partye, ens. gebruik word:

  • Arbeidersparty, Padvinders, Drawwertjies, Rapportryers, ens.

e)  Soortname wat in aanspreekvorme as eiename diens doen (wanneer ons byvoorbeeld ’n brief skryf):

  • Geagte Heer/Dokter/Mevrou, maar Geagte meneer Van Der Merwe, ens.

f)  Ander soortname wat by aanspreking in dialoog of in verhaal, ens. as eiename aangevoel word:

  • Meneer die Voorsitter/Seremoniemeester, ens.
  • Maar: Môre sal ’n voorsitter/seremoniemeester aangewys word. (’n Algemene stelling.) So ook: Sy Edele meneer Du Preez, Minister van Landbou, maar: ’n Nuwe minister van Landbou moet nog benoem word. (In die laasgenoemde geval dui minister nie op ’n spesifieke persoon nie, maar Landbou dui op die bestaande staatsdepartement.)

Diername

a)  Wanneer diere eiename kry, skryf ons:

  • Kerneels (kat), Piet (papegaai), Poon (perd), ens.

b)  Diere-eiename in sprokies:

  • Jakkals en Wolf, Pappa Beer, Mamma Varkie, ens.
  • (Origens word die name van diere, selfs waar hulle met persoonsname verband hou, met kleinletters gespel: piet-my-vrou, janfrederik, bêrendlangasem, ens.)

Aardrykskundige eiename

a)  Alle name van lande, provinsies, streke, plase, strate, berge, riviere, sterrebeelde, ens:

  • Duitsland, Noord-Provinsie, Marsnik, Alsfontein, Groenstraat, Solaris, Grootrivier, Suiderkruis, Suidpool, ens.

b)  Die name van volke, streekbewoners, ens.:

  • Marsiane, Europeërs, Bolkaane, ens.

Tydsbepalings

By name van dae, kerklike en wêreldlike gedenkdae, maande, geskiedkundige gebeurtenisse en tydperke:

  • Republiekdag, Christusfees, Oujaarsdag, die Derde Interplanetêre-oorlog, die Steentydperk, die Kruistogte, ens.

Name van gelowe, leerstelsels, kunsrigtings, inrigtings, ens.

  • Boeddhisme, Katolisisme, Renaissance, Afrikaanse Universiteit van Mars, ens.
  • Sodra ons nie ’n woord as ’n eienaam aanvoel nie, skryf ons hom met ’n kleinletter, bv. Hy dien in veskeie interplanetêre-organisasies (nie ’n spesifieke vereniging nie).

Publikasies

Name van boeke, brosjures, koerante, tydskrifte, ens.:

  • Die Psalms en Gesange, Die Westerlig, Tuisverneet, Die Soeke na Vrede deur dr. Jan de Waal, ens.

Name van vakke, sertifikate, diplomas en grade

  • Wiskunde, Lisensiaat, Hoër Onderwys Diploma, B.Ed.-graad, ens.

Beklemtoning

By die nadruk op ’n bepaalde woord (en ook dikwels in opskrifte en advertensies):

  • Dit noem hulle die Lewe!
  • Die Bose sal altyd daar wees.

Hoofletters in afkortings

Hoofletters dui dikwels die verskil aan tussen afkortings met ooreenstemmende letters:

  • Alg. (Algebra) / alg. (algemeen.
  • B.O. (bevelvoerende offisier) / b.o. (blaai om).
  • Do. (Donderdag) / do. (ditto).
  • M.A. (Magister Artium) / Ma. (Maandag) / mA (milliampère).
  • Pk. (poskantoor) / pk. (perdekrag).

Afkortings, SI-simbole en Letterwoorde ( a.g.v. / C / SASOL )

  • Ons wil nie hier poog om reëls vir afkortings aan te gee nie, maar daar is tog ’n paar leidrade wat sal help om foute uit te skakel.

a)  Daar bestaan basies vyf tipes afkortings, nl.:

  • Dié wat uit die woord se eerste lettergreep plus die volgende konsonant(e) bestaan: aanm. (aanmerking), ens. (ensevoorts).
  • Dié wat uit die eerste letter van twee of meer opeenvolgende letergrepe of woorde bestaan: ACVV, SANLAM, ens.
  • Dié waar slegs die aanvangskonsonante van die lettergrepe gebruik word: bw. (bywoord), hs. (handskrif), ens.
  • Dié waar die eerste en laaste letter van die woord as afkorting dien: di. (domini=dominees), dr. (dokter, doctor), ens.
  • Woordgroepe waarby dit gebruiklik is om elke woord met die beginletter af te kort met punte tussenin: a.g.v. (as gevolg van), k.m.b. (kontant met bestelling), ens.

b)  Afkortings van woorde met hoofletters geskryf word, behou die hoofletters:

  • OVS (Oranje-Vrystaat).
  • NAVO (Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie).

c)  Afkortings van die name van liggame, windrigtings en geografiese name sonder punte te skryf:

  • AA (Automobiel-assosiasie).
  • ONO (Oos-Noord-Oos).
  • SWA (Suid-Wes-Afrika).

d)  Alle metrieke eenhede (asook ander vertakkinge van die natuurwetenskappe) se afkortings word sonder punte geskryf (Standaard- Internasionale simbole: SI-simbole):

  • g (gram).
  • C (Celsius).

e)  Meervoude word aangedui deur die slotmedeklinker te verdubbel, of ’n -e aan die afkorting toe te voeg:

  • mejj. (mejuffroue).
  • mnre. (menere).

f)  Die sogenaamde letterwoorde (lettername) is afkortings wat as name aangevoel word, deurdat die medeklinkers en klinkers toevallig so op mekaar volg en ka nook bestaan uit letters wat soos ’n woord klink nie. In beide hierdie gevalle word daar geen punte aangebring nie:

  • YSKOR (Yster- en Staal- Industriële Korporasie).
  • VVV (Vreemde Vlieënde Voorwerp).

Skryftekens

  • Waar leestekens gebruik word om vaaghede en verwarring in één se skryfwerk uit te skakel is die doel van skryftekens weer om die korrekte Afrikaanse uitspraak van ’n betrokke woord te verseker. En as ’n Afrikaanse wetenskapfiksie skrywer lê die uitdaging daarin om nuwe woorde te skep met besonderse uitspraak, sonder om u lesers se ervaring te bederf of te rem.

Ons gaan na die volgende skryftekens kyk:

  • Die Deelteken;
  • Die Koppelteken;
  • Die Afkappingsteken;
  • Die Kappie / Sirkumfleks.

Die Deelteken ( ¨ )

  • Ons skryf deeltekens bloot om aan te toon dat klinkers wat langs mekaar staan en as een lettergreep uitgespreek kan word, nie as sodanig uitgespreek moet word nie, bv. tweërlei, beïnvloed, ens. Die deeltekens verseker dus dat ’n woord korrek uitgespreek word.

a)  Let noukeurig op die volgende:

  • Sonder deeltekens:                Met deeltekens:
  •    breed                                       breër
  •    geleentheid                             geleë
  •    gereeld (dikwels)                    gereëlde (… onthaal)
  •    dieet                                        diëte
  •    jeens                                       bejeën
  •    eie                                           geëien
  •    leeg                                         leë
  •    snee                                        sneë

b)  Die verbinding ae in eg Afrikaanse woorde kry geen deeltekens nie:

  • waenhuis, lae, hael, ens.

c)  Die ae-verbinding in ’n paar vreemde woorde kry wel deeltekens:

  • aëronout, ens. Dit is hier nodig omdat daar ’n duidelike skeiding tussen die a en die e is.

d)  Na, ’n klinker met ’n kappie kry die eerste klinker van die volgende lettergreep geen deeltekens nie:

  • Lêer, trôe, ens. (Sulke verbindinge kan nie as een klank uitgespreek word nie; daarom sal deeltekens hier oorbodig wees.)

e)  Deeltekens word ook in eg Afrikaanse woorde by ’n opeenhoping van klinkers gebruik wanneer die eerste deel van die woord ’n verbindingsvorm is en nie ’n volle woord is nie. Indien die eerste deel van ’n volle woord is, word ’n koppelteken gebruik:

  • geëien teenoor toe-eien.
  • beëdig teenoor see-eend.
  • beïnvloed teenoor eeue oue.

f)  By ’n opeenhoping van klinkers in woorde van vreemde herkoms word deurgaans deeltekens gebruik – ongeag of die eerste deel ‘’n volle woord is of nie:

  • androïde, reünie, hidroëlektries, koöperasie, mikroörganisme, ens.

Die Koppelteken ( )

  • Die vernaamste doel van die koppelteken is om die lees te vergemaklik. Verder moet ons onthou dat ’n woord met ’n koppelteken net so ’n eenheid is soos woorde wat aanmekaargeskryf is. Aangesien koppeltekens dikwels na willekeur gebruik word, sal dit raadsaam wees om weer kortliks op die volgende gebruiksgevalle te let:

a)  By ’n opeenhoping van klinkers:

  • ewe-eens, buite-egtelik, ens. (In hierdie gevalle skakel die koppelteken bloot misverstand uit. Daarom skryf ons sieleadel, handearbeid, wildeals, ens. sonder ’n koppelteken omdat die woorde maklik gelees kan word.)

b)  By saamgestelde titels:

  • sersant-majoor, posmeester-generaal, direkteur-generaal, ens.

c)  By samestellings met oud-, nie-, assistent-, adjunk-, aspirant-, vise-, pro-, anti- en met -hulle agteraan:

  • oud-skoliere, nie-menslik, assistent-rekenmeester, adjunk-hoof, aspirant-vlieënier, vise-hoof, pro-Afrikaans, anti-Europa, Leon-hulle. (Ons skryf wel alledaagse woorde soos antisepties, antitese, antisikloon, ens. sonder ’n koppelteken.)

d)  By herhalings (reduplikasies):

  • sing-sing, waggel-waggel, dum-dumkoeël, eksie-perfeksie, groepies-groepies, bietjies-bietjies, ens. (Herhaling wat net in verkleiningsvorme bestaan, kry nie koppeltekens nie, bv. flapflappie, klapklappie, tinktinkie, toktokkie, ens.)

e)  By die volgende aardrykskundige name:

  • Waterval-Onder, Klein-Asië, Groot-Brittanje, ens.

f)  By samestellings waarin ’n rigting voorkom:

  • Noordwes-Mars, Wes-Duitsland, Frans-Wes-Afrika, ens.

g)  By samekoppelinge wat tot ’n vaste eenheid gegroei het:

  • Rand-vir-rand-stelsel, wag-’n-bietjie-bos, skout-by-nag, laat-maar-loop-houding, ens.

h)  By samegestelde woorde waarvan die dele deur en verbind word:

  • Bek-en-klouseer, olie-en-asynstel, wins-en-verliesrekening, ens.

i)  By samestellings met syfers of letters:

  • Vragskip-19A, die B-span, Z1-groep, ens.

j)  Waar dubbelsinnigheid kan ontstaan:

  • wind-erosie, sand-aal, ru-koper, opera-ster, ens. (Tog skryf ons bosluis, bokerf en bokooi sonder ‘’n koppelteken.)

k)  By bepalings van gesteldheid:

  • bek-af, hand-uit, been-af, stroom-op, nerf-af, ens. (Sulke bepalings wat rigting aandui, word los geskryf, bv. jaar in, pad langs, berg af, land uit, stroom op, ens.)

l)  By koppelinge met Latynse woordgroepe:

  • ipso facto-benoeming, ad hoc-komitee, ens.

m)  By minder gebruiklike verbindings wat deur hulle lengte die lees bemoeilik:

  • tweedeklaskompartement-ondersoek, grootvis-hengelkompetisie, ens.

n)  By gekoppelde name van lande, stede, dorpe en tale en afleidings daarvan:

  • Mars-Aarde, Schweizer-Afrikaans, Angel-Saksies, ens. (Name van tale van die volgende tipe word sonder ‘’n koppelteken geskryf: Platduits, Nederfrankies, Middelnederlands, ens.)

o)  By koppelinge van die volgende tipes:

  • Christelik-nasionaal, tegnies-wetenskaplik, Rooms-Katoliek, sosiaal-ekonomies, ens.

p)  Waar die dele van die samegestelde woord deur tussenplasing van ’n b.nw. van mekaar geskei word:

  • hoof- vakkundige beampte, linker- agterste voet, deursnee- Mars burger, ens. (Die b.nwe. vakkundige, agterste en Mars skei dus die s.nwe. hoofbeampte, linkervoet, deursneeburger onderskeidelik. Let noukeurig op die spasie ná die koppelteken – net soos in voor- en agterspelers.)
  • Ons moet egter waak teen die hiperkorrekte (foutiewe) koppelteken in gevalle soos: stedelike- en dorpsgebiede, want gebiede vorm nie ’n morfologiese eenheidsdeel van stedelike nie; dus: stedelike en dorpsgebiede.

q)  By ’n aantal uitroepe:

  • h’n-’’n!, ’m-’m!, t-t-t!

Die Afkappingsteken ( )

a)  By die meervoud- en verkleiningsvorme van selfstandige naamwoorde (ook eiename) wat op -i, -o, -u en ’n beklemtoonde -a eindig:

  • okapi               okapi’s                         okapi’tjie
  • foto                  foto’s                           foto’tjie
  • parvenu           parvenu’s                    parvenu’tjie
  • hoera               hoera’s                        hoera’tjie
  • Hugo               Hugo’s                         Hugo’tjie
  • Van Breda       Van Breda’s                Van Breda’tjie
  • Dit is duidelik dat die afkappingsteken in die bogenoemde voorbeelde beslis nodig is, want daarsonder sal ons die woorde verkeerd uitspreek. Nou kan u verstaan waarom ons Vosloos en Prinsloos sonder ’n afkappings-s spel. Ons skryf egter Kennedy’s omdat die -y as ’n i uitgespeek word. Aan die ander kant skryf ons Du Plooys en Van Rooys omdat dié vane se uitspraak op die ooi-diftong eindig en die ’s dus nie nodig is om verkeerde uitspraak uit te skakel nie.

b)  By die meervoud- en verkleiningsvorme van eiename op -e, -s of -z wat in die enkelvoud nie uitgespreek word nie:

  • Terblanche                  Terblanche’e               Terblanche’ie
  • Marais                         Marais’s                      Marais’tjie
  • De Villiers                    De Villiers’s                 De Villiers’tjie
  • Du Preez                     Du Preez’s                  Du Preez’tjie
  • Die bogenoemde reël is dus nie van toepassing op vane soos Du Toit, Le Roux, Joubert, ens. nie. Verder skryf ons Cronjés, Naudés, Fouchés, ens. omdat die laaste -e van dié vane wel uitgespreek word.

c)  By die meervoud- en verkleiningsvorme van letters:

  • b                      b’s                   b’tjie
  • l                       l’s                     l’tjie
  • o                      o’s                   o’tjie
  • r                       r’s                    r’tjie

d)  By verswakte vorme:

  • daar’s (daar is), s’n (syne), hulle’t (hulle het), g’n (geen).

e)  By ’n paar uitroepe:

  • B’r!, H’n-’n!, ’M!

Die Kappie / Sirkumfleks ( ˄ )

a)  By lang, oop lettergrepe:

  • lê, kêrel, êe, êrens, wîe, trôe, smôrens, brûe, rûe, prêrie, ens.

b)  By geslote lettergrepe omdat dit gebruik word in die verboë vorm van die woord:

  • skêr (skêre), populêr (populêre), sekondêr (sekondêre) en militêr (militêre).

c)  By die skryf van vreemde woorde in hulle vreemde spelvorm:

  • crêpe-de chine, dépêche, maître, d’hôtel, mêlée, tête-à-tête, ens.

d)  Waar ’n klinker in ander gevalle in ’n geslote lettergreep staan, word die kappie gewoonlik nie gebruik nie:

  • vlermuis, vers, ver, soggens, pers, werd, kombers, ens.
  • Ons spel blêr en kwêr wel met ‘n kappie, want hulle is klanknabootsende woorde.

Oefening

Stel ’n lys op van die algemeenste foute, verwarring en verkeerde gebruik vir elk die bogenoemde lees- en skryftekens.

Volgende:

In die volgende eenheid gaan ons kyk na die verskillende skryfstyle waarvan gekies kan word om één se wetenskapfiksie uniek te maak.

Bronnelys:

  • Afrikaans my Taal 9/10, Afrikaans Eerste Taal Hoërgraad; P.F. de Klark, B.J. Esterhuizen, H.J.R. Hamman, E.L. Neethling; Maskew Miller Longman, 1986.
  • Afrikaanse woordelys en spelreëls; Saamgestel deur die Taalkommissie; Tafelberg, 1991.

© 2012 Thompson Boekdrukkery

4 thoughts on “Die Korrekte Gebruik Van Lees- en Skryftekens

  1. Pingback: luottoa

  2. Pingback: essayforme

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui