EEN BILJOEN JAAR N.C. – Charles F. Stofberg

UITTREKSEL (Hoofstuk 7)

Teen skemeraand is Usta nog nie terug nie. Den, die hoofslaaf, sorg egter dat alles seepglad verloop asof Usta se gees hom dophou. Roe se werk is minder met Usta weg en dit is die tyd van die dag dat hy kan uitspan voor aandete. Nog net dié een ete met minder kos, dan sal dinge beter gaan, dink hy opgewonde. Hy laat sy kop sak. So, nou raak hy opgewonde oor ‘n stukkie brood! Hoe laag het hy nie gedaal nie!

Die strate van Beith is teen die tyd wat Roe daarin af staar reeds donker. Vir ‘n oomblik wonder hy hoe die vroumense se stad, Drawe lyk. Hulle was destyds net naby genoeg om die groot stadsmure te sien. Hoe dit daar binne lyk, weet geen man nie. Niemand word daar toegelaat en niemand het ook die behoefte gehad om daarheen te gaan nie, en tog fassineer die idee hom heel dikwels. Sal dit soos Beith wees: groot imposante stadsgeboue, breë strate, hoë bome, die groot rivier? Verder weg teen die horison sien hy ‘n aantal hoërige geboue. In daardie wyk lê Beith se berugte dobbelhuise en daar lê ook sy ondergang.

Diep ingedagte staar hy na buite. Hy onthou nog die verhale wat sy vader hulle as seuns oor die Afwykendes en die mens se geskiedenis vertel het. Baie geslagte gelede, niemand weet meer presies hoeveel nie, was die mensdom nog nie so verfyn en beskaaf soos hulle vandag is nie, en het die mansmense en vroumense in ‘n stadium saamgewoon. Dit was voor die gevreesde Siekte sy ontstaan gehad. Die tyd toe alle mense, mans en vrouens in ‘n legendariese vasteland ten noorde van Azila gewoon het. Die hele mensdom is as gevolg van dié siekte toe byna uitgewis. Dit het sy ontstaan gehad juis deur die geslagsgemeenskap tussen mans en vrouens – hoe ondenkbaar dit vandag mag klink. Dit was om dié rede dat die twee geslagte nou reeds vir ondenkbare eeue lank van mekaar geskei is – alles in ‘n poging om te verhinder dat die mensdom werklik totaal uitgewis sou word.

Toe die Siekte op sy hoogtepunt was, het die mense oor die oseaan na ‘n veiliger bestemming gevlug, en so het Azila sy ontstaan gehad. Dit moes honderde, moontlik duisende jare gelede wees, soos dit uit sy navorsing van die ou tale geblyk het. Daar is verwysings daarna in ou historiese geskrifte. Die presiese tyd sal niemand weet nie, maar dit was baie, baie lank gelede.

Die geslagte is van daardie tyd af vir ewig van mekaar geskei. En tog is dit nie die hele verhaal nie. Daar is nog sekere afwykende mense, die sogenaamde Afwykendes, wat die Wet oortree. In die droër, noordelike streke van Azila is daar groepe mense van verskillende geslagte wat saamwoon. Die twee geslagte het nie soos die res van Azila van mekaar geskei gelewe nie. Moontlik was hulle oorlewendes wat van die destydse dooie, noordelike kontinent af gekom het – niemand weet nie, want daar is geglo dat die Siekte almal uitgewis het. Hoe kan daardie mense so onverantwoordelik wees? Besef hulle nie wat hul doen nie? Hoe is dit in elk geval moontlik dat mans en vrouens ooit kan meng, wat nog van saambly! Roe skud ingedagte sy kop asof hy sy stelling wil bewys. Dit is in hulle moderne tyd haas ondenkbaar, maar so is baie dinge vandag ondenkbaar as dit met die ou gebruike en gewoontes van die mens deur al die eeue heen vergelyk word. Roe sug hardop – ja, die mens het ‘n lang ontwikkelingspad geloop.

Selfs in Usta se huishouding was daar ‘n Afwykende. Almal het hom soos die pes vermy. Die man se verhaal, soos Roe dit gehoor het, het hom koue rillings gegee. Danu het eendag, heel toevallig, ‘n vrou in die woude naby Drawe ontmoet toe hy daar gaan jag het. Hulle was so gefassineer met mekaar dat hulle besluit het om weer in die geheim daar in die woud te ontmoet. Daarna het Danu en die vrou mekaar elke derde dag op ‘n gegewe plek ontmoet, totdat hulle op ‘n dag uitgevang is. Die vrou is erg vermink en naby Drawe in die pad gelaat, terwyl hulle hom na Beith teruggebring het. Hier is hy gemartel en so aangerand dat hy byna sy sig verloor het. Hy is die doodstraf gespaar omdat hy nog so jonk was – ‘n jongman wat maar net deur jeugdige onbesonnenheid die pad byster geraak het. Hy is toe as slaaf begenadig. Dié wat Danu geken het, het vertel dat hy net soos hulle was. Hy was beslis nie kranksinnig nie. Hy het normaal geklink en was glad nie so “afwykend” soos Veiligheid en die Stadsregering hom bestempel het nie. Tog het die ander slawe hom geheel en al vermy totdat hy op ‘n dag sy eie lewe geneem het.

Die laat middagson het verdwyn en skemeraand oorval die stad vinnig. Weldra sal dit donker wees. Vir ‘n oomblik wonder Roe wat lê aan die anderkant van die see. Niemand weet nie. Nog see…? Geen boot of skuit waag dit verder as die horison nie. Solank land in sig is, is dit veilig, maar daarna kan ‘n man van koers af raak, net om in die oneindige groot oseaan om te kom. Niemand wat so agter die horison verdwaal het, het ooit weer lewendig by Azila aangekom nie. Azila is die enigste kontinent wat hulle ken. Miskien lê die legendariese vasteland waarvandaan hulle voorgeslagte gekom het daar in die noorde, maar Azila is al land wat hulle het. Daar is nog nooit bewys van die vasteland gevind nie en dit bly ‘n verhaal. Dalk ontdek iemand dit nog eendag. Roe glo die hele aarde is soos hulle dit ken. Dis net die oneindige groot oseaan, met Azila as die enigste vasteland. Ten suide van Azila is net see, aan die westekant is net see, en so ook oos van hulle – net see – onmeetlik wyd en groot.

Die nag buite is swart en vol sterre. Oneindige getalle lê in ‘n uitgestrekte boog bo-oor Roe se kop. Die sterre skitter en blink. Vir ‘n wyle wonder Roe wat dit presies is wat maak dat die sterre skitter. Hoe ver is hulle? Waarom kan hulle nie groot pyle tot daar skiet nie, selfs nie van die hoogste bergtoppe af nie? Sterre is raaiselagtig en onpeilbaar, miskien so eienaardig dat die mansdom dit nooit sal begryp of kan verklaar nie. Moontlik het die vroue al ‘n verklaring vir die sterre ontdek. Moontlik hou hulle hul nie met sulke vrae op nie. Waarom moet die wêreld vol sulke vrae wees? Vrae en vrae – vir ewig onopgelos, en niemand weet waar om na antwoorde te soek nie. Vir Roe is dit asof die hele lewe een stuk ingewikkelde pad is om oor te worstel sonder om ooit te weet wat om hom aangaan of wat met hom gebeur. Alles voel onbepaald en lukraak – so nutteloos soos sy eie lewe.