Hoe om ‘n Fantasie Verhaal te Skryf

Hierdie skrywe is ʼn handleiding vir enige persoon wat daarna streef om ʼn fantasie verhaal te skryf. Baie moets en moenies, van hoe om ʼn towerwêreld te skep word hier saamgevat.

Hoe om ʼn Fantasie Verhaal te Skryf – Wat Behels ʼn Fantasie Verhaal?

Fantasie is ʼn genre of kategorie wat handel oor die omstandighede wat onmoontlik blyk te wees. Dit sluit in towerkrag, bo-natuurlike kreature soos bosgeeste (elwe), drake en eenhorings (Die Tandmuis, daarenteen, bestaan werklik). Fantasie word gewoonlik gebaseer op mites, legendes en oorlewing uit volksmond, en bevat baie beginsels en agtergrond uit die Middel Eeue. In Afrikaans is hierdie aspekte egter ʼn bietjie moeilik om te omskryf, gesien vanuit die lig dat ons as volk eers aan die einde van die Agtiende Eeu gevorm is. Die kern beginsels van avontuur, aksie, romantiek en ontdekkingsreise is egter nie onbekend in ons taal nie. Die stryd tussen goed en kwaad kom algemeen in fantasie verhale voor.

 Hoe om ʼn Fantasie Verhaal te Skryf – Gedagtes om in Rekening te hou

  • Lees ander fantasie skrywers se werke. Raak bekend met die gebruike van die genre.
  • Musiek – Baie Europese groepe sing oor fantasie wêrelde. Luister na die woorde en kry ʼn gevoel van die romantiek van fantasie lewe.
  • Bestudeer die kulture, tradisies en gebruike rakende die towerkuns wat u wil gebruik in die verhaal.
  • Met ʼn verhaal wat afspeel in die Middeleeue of beginsels gebruik vanuit daardie era, is navorsing van kardinale belang. Alle nuwe uitvindings en ontdekkings moet geskoei wees op ingeligte kunstige kennis en nie uit onkunde nie. Wanneer u ʼn swaard gebruik wat beskik oor toorkrag is dit goed om die leser daar omtrent in te lig. U kan alle geloofwaardigheid verloor, en u leser verwar, as u ʼn swaard het wat anders is, bloot uit onkunde oor hoe swaarde werk.
  • Beplan jou fantasie wêreld vooraf, skenk veral aandag aan besonderhede, die omgewing moet net so bekend wees as jou eie woonbuurt. Deur dit te doen sal die verhaling meer natuurlik voorkom. Nog ʼn voordeel is dat u nie in die pekel sal land deur die landskap en karakters se ligging te verwar en alles kronologies te hou.
  • Bereken wat die beperkings op die towerkragte in u boek is. Die towerkragte moet beperkinge hê. As die held/in of skurk oor onbeperkte magte beskik, gaan die verhaal ʼn vroeë dood sterf — dit laat geen spasie vir struweling en spanningslyn nie. U lesers moet besef hoe belangrik die reëls is, en u moet self daarby bly.
  • Skilder u wêreld baie fyn en in besonderhede. Nêrens anders, as in u boek, kry die lesers geleentheid om mitiese figure te sien nie. Hulle moet voel asof hulle in die landskap is.
  • Die held/in moet struikelblokke oorkom binne hulle vermoëns, in stede van situasies buite hulle beheer en verwysingsveld.

Hoe om ʼn Fantasie Verhaal te Skryf – Idees om te Vermy

  • Moenie genoodsaak voel om die lesers alles van jou karakters en wêreld te vertel nie. Alhoewel daar heelwat beplanning daarin gaan alvorens jy begin, is daar geen rede om elke krummeltjie inligting in die boek in te bring nie. Met die fyn beplanning sal u weet watter besonderhede om in die verhaal in te bou om die verhaal boeiend te hou.
  • Moenie buite berekening laat dat u meer inligting kan oordra deur die leser te “wys” in plaas van om hulle te “vertel”.
  • Moenie te veel aan u tower reëls karring nie of dit breek nie. Die lesers sal verneuk voel. Hulle sal geen geloofwaardigheid hê in enige iets wat jy verder aan hulle vertel nie. Die storie sal nie meer eg voel vir hulle nie.
  • Moenie storielyne, agtergrond of spesifieke karakters van ander fantasie skrywers steel nie. Ten spyte van die feit dat fantasie verhale baie ou grondbeginsels bevat wat geskoei is op vervloë tradisies, moet u, u eie vingerafdruk op hulle plaas. Niemand wil nog ʼn “Lord of the Rings” lees nie. Gebruik u verbeelding en skep ʼn uitspansel wat niemand nog ooit gesien het nie.
  • Moenie die tred van die verhaal verloor nie. Alhoewel dit pret is om wêrelde te skep met hulle eie geskiedenis, aardrykskunde, gebruike, kulture en tower reëls, moet u nie so daarin vasgevang word dat niks gebeur nie.
  • Skep ʼn hoofkarakter of karakters, gee vir hulle ʼn doelwit of ʼn probleem, voeg ʼn paar hindernisse by en u het ʼn verhaal.

Wenke hoe om ʼn Verhaal te Skryf Beheer die Leser se Verbeelding deur Kragtige Omskrywings

Hierdie gedeelte gee u advies hoe om ʼn verhaal te skryf met die hulp van omskrywende taal gebruik wat die leser se verbeelding sal aangryp.

Wenke hoe om in vol kleur te skryf

Kom ons begin met ʼn speletjie: Sluit u oë en skep ʼn prentjie in u kop van ʼn persoon genaamd Chris. Moenie na die volgende sin kyk alvorens u dit gedoen het nie.

Maak nou u oë oop (Nou goed ek besef u kan nie hierdie sin lees terwyl u oë toe is nie. Ek het van die veronderstelling uitgegaan dat u sal besef dat u nie heeldag daar kan sit met toe oë nie).

Wat as ek u nou vertel Chris is ʼn drie jarige seuntjie wat bril dra? Het u beeld van hom verander?

Wat as ek u verder vertel Chris is ʼn drie jarige blonde seuntjie met brille? Verder is hy groot vir sy ouderdom en is ʼn bietjie mollig. Het die beeld weer verander?

Hoe meer uitdruklik u omskrywings is wat u aan die leser bied, hoe groter is die moontlikheid dat die leser presies gaan sien wat u in die oog gehad het. Deur baie uitdruklik te wees lei u die leser se verbeelding. Die leser geniet hierdie leiding. As hulle op vrye verbeeldingsvlugte wou gaan sou hulle in elk geval nie u boek opgetel het nie. Die skrywers wil riglyne hê!

Probeer ook om uit persoonlike ervarings te skryf. Dit klink vreemd om te sê skryf ʼn fantasie verhaal uit persoonlike ervarings, maar neem dit verander die lyne om in te pas by die milieu, en die verhaal sal makliker vloei.

Hier volg nou ʼn paar riglyne wat die lesers vereis.

Wenke om ʼn Verhaal te Skryf – Moenie die Leser in die Vlaktes Los nie

Lees die volgende uittreksel:

“Sy skink vir haar ʼn glas melk en gaan sit op die bank. Elke aand, nadat sy haar huiswerk klaar gemaak het, doen sy dit. Haar twee katte kom sit by haar. Een is groot, een is klein, een is jonk, een is oud. Vanaand is sy besonders moeg, en die boek wat sy besig is om te lees is nie baie goed nie; sy mompel klaend teenoor haar ouer kat en stap op om ʼn ander een te kry. Die kat hou nie daarvan om versteur te word nie. Sy gaan sorgvuldig deur die boeke op die rak en probeer een kry wat sy nog nie gelees het nie. Sy besluit om maar weer Fiela se Kind, een van haar gunstelinge te lees. Hierdie boek het aan haar ma behoort, en herinner haar altyd hoe baie haar ma daarvan gehou het om te lees. ʼn Geluid kom uit die slaapkamer en sy kyk op. Al twee katte het dit ook gehoor.”

Die skrywer het nie genoeg omskrywings gegee nie en laat te veel vrae oor aan die leser. Watter kleur is die bank? Wat is die katte se name? Hoe het die geluid geklink? Die verhaal kort meer vleis om die lyf. Dit verveel my.

Wenke om ʼn Verhaal te Skryf – Gebruik Omskrywende Woorde

Ek wil verduidelik hoe om ʼn toneel te beskryf en ʼn paar riglyne deurgee rakende die gebruik van byvoeglike naamwoorde en bywoorde.

Eerstens – As u enigsins soos ek was, het taalklasse verlore gegaan terwyl jy skelm gelees het, en die onderwyser/es probeer het om ʼn paar basiese feite in my kop te kry. Hier is ʼn opskerpings kursus:

  • Selfstandige Naamwoorde: Hierdie woorde verwys na persone, plekke, diere en voorwerpe. Bv. Kat, Kaapstad, Kobus en piering.
  • Byvoeglike Naamwoorde: Woorde wat naamwoorde beskryf. Bv. Pers, lank, vet, snaaks ens.
  • Werkwoorde: Woorde wat na ʼn daad verwys: Werk, eet, slaap, behoort.
  • Bywoorde: Woorde wat die werkwoord beskryf. Vinnig, stadig, stil.

Byvoeglike naamwoorde en bywoorde woord word gebruik om ʼn toneel te beskryf, maar dit is nie die enigste metode nie. Hulle moet gebruik word en nie misbruik word nie.

Gebruik: Sy gooi haar boeke kwaad op die vloer, dan sy stap na die venster en druk haar gesig teen die koel glas, en kyk oor die gerimpelde rooi dakke van die Spaanse dorp.

Misbruik: Sy gooi haar boeke kwaad op die rooibruin geteëlde vloer, dan sy stap na die vierkantige venster en druk haar gesig teen die koel, gladde, langwerpige ruit, en kyk aandagtig oor die tradisionele gerimpelde rooi dakke van die Suid Spaanse dorp.

Wat is fout met die tweede voorbeeld? Die hoeveelheid omskrywings is net te veel. Dit maak die lees spoed stadiger. Die sinne kom lomp en onnatuurlik voor.

Daar is geen rede hoekom soveel byvoeglike naamwoorde en bywoorde gebruik hoef te word nie. Daar is vele ander maniere om die sin te laat werk. Probeer eerder om beskrywende werkwoorde en naamwoorde te gebruik.

Kom ons probeer die weergawe: Sy smyt die boek op die terra cotta vloer, haas haar na die venster, druk haar gesig teen die koel glas en staar oor die gerimpelde rooi dakke.

  • “Smyt” sinspeel op “gooi kwaad”
  • “Staar” beteken “kyk aandagtig”
  • Terra cotta vloer is ʼn rooibruin geteëlde vloer
  • Om deur glas te sien moet dit glad wees. Die leser sal aanneem dat die ruit langwerpig is omdat dit die norm is.

Byvoeglike naamwoorde en bywoorde het wel ʼn nut, maar gebruik ook ander woorde om omslagtigheid te vermy.

Hoe om Fantasie te Skryf wat Eg Voel

Hierdie gedeelte poog om u te vertel hoe om ʼn fantasie verhaal te skryf wat eg gaan voel vir die leser, met die gebruik van “wys” in plaas van “vertel” tegniek.

Hoe om ʼn fantasie te skryf wat wys in plaas van vertel

Om fiksie te skryf is soos om mense te probeer oortuig jy is “cool”. Jy kan nie net na mense toe stap en vir hulle sê: “Kyk na my ek is “super cool” nie. Jy moet die regte vriende hê, die regte klere dra en vertel van al die “cool” goed wat julle saam doen. Sodoende sal jy meer erkenning kry vir wie is.

Wat het die bogenoemde met fantasie verhale te doen? As u die leser iets vertel, moet hulle u woord daarvoor neem. Maar as u vir die leser iets wys, het dit onmiddellik meer geloofwaardigheid.

Voorbeelde wat onderskei tussen vertel en wys

Vertelling: Lois was ʼn verskriklike slordige persoon.

Wys: “O, daar is my middagete!” roep Lois triomfantlik uit toe sy gister se toebroodjie sien uitsteek tussen al die vuil wasgoed wat gestrooi lê regoor haar voertuig se agterste sitplek.

Daarenteen, wat as Lois ʼn pynlike netjiese persoon was? Manies kompulsiewe sal hulle kombuisrakke alfabeties pak en die spasies tussen voorwerpe met ʼn liniaal meet. Watter situasies sal ʼn persoon se maniese netheid na vore bring?

Hier is ʼn verdere voorbeeld van vertel: Dit was ʼn warm dag.

Vergelyk dit nou met wys: Haar hemp kleef klam aan haar rug, die sweet rol teen haar bene af terwyl sy voortstrompel oor die son geskroeide na die stoep. Waar ʼn skaaphond hygend in die klein skaduwee kolletjie van die wiegstoel, lê.

Die voordele van wys in plaas van vertel:

  1. Dit is meer boeiend vir die leser.
  2. Dit skep ʼn duideliker prentjie in die leser se geestesoog.
  3. Dit gee meer inligting. Die laaste “wys” voorbeeld laat die leser presies verstaan watter tipe hitte die skrywer bedoel. Dit is warm kon ook verwys het na ʼn tropiese eiland of selfs ʼn woestyn.
  4. Dit is oortuigend. As ek sou sê dit is warm moet u my woord daarvoor neem. As ek Lois slordig noem, beteken dit nie ek is reg. Ek mag dalk ʼn maniese netjiese persoon wees en sy mag dalk meer gebalanseerd leef. Met wys metodiek laat u die oordeel oor aan die leser.
  5. Dit is moontlik om meer as een ding op ʼn slag te doen. U wys die leser die leser hoe warm dit is, terselfdertyd laat loop jy haar deur haar tuin en stel haar hond voor.

Hoekom kan ek nie net sê dat Lois is slordig?

Soms is dit moontlik en is soms noodsaaklik.

Hier is ʼn paar voorbeelde wanneer vertel eerder gebruik moet word:

  • Dit is onbelangrike feite.
  • Dit is vervelig. U karakter raak aan die slaap in die biologie klas, spaar my asseblief die uitleg van die biologie les.
  • Dit is agtergrond inligting wat duidelik oorgedra moet word.
  • Vertel werk soms beter. As u karakter van Pretoria af kom sê dit. Dit is onnodig om Pretoria buskaartjies die hele kamer vol te laat lê tussen al die blou bul memorabilia.

Oefening: Hoe om fantasie te skryf wat wys

Vervang elke sin wat vertel met een wat wys.

Voorbeeld:

Vertel: hulle is kwaad vir mekaar.

Wys: Hy slaan die glas so hard op die tafel dat haar bord ratel. Steeds weier sy om na hom te kyk. In stede staar sy na die servet in haar hand wat sy stadig in repies skeur met haar vingernaels.

Vertel: Sy was ʼn baie geordende persoon.

Vertel: Dit was ʼn koue dag.

Vertel: Niemand het geweet sy is verlief op haar eiendomsagent.

Groete,

Quintin Ellis (Die Oplossing: Valhalla)

quintinellis0@gmail.com

3 thoughts on “Hoe om ‘n Fantasie Verhaal te Skryf

  1. Hi Quitin Ellis
    Ek het die antwoorde dadelik neergeskryf maar ek weet nie moet ek dit intik en aanstuur nie?

  2. Ek het die artikel baie geniet, maar daar is absoluut geen uitgewer in Suid-Afrika wat dit sal oorweeg om ‘n fantasie verhaal te publiseer nie. Om die waarheid te sê, hulle verbied uitdruklik op hul webtuistes die aanstuur van manuskripte wat in hierdie genre val.

    Hulle het egter geen probleem om publikasies in die genre deur buitelanders geskryf in te voer en te verkoop nie. Solank dit net nie ‘n Suid-Afrikaanse skrywer is nie. Ek het het dit op die harde manier uitgevind en moes my 98,678 woord verhaal in Engels skryf en is in die proses om ‘n internasionale uitgewer deur ‘n agent te nader, wat jare kan vat.

    My advies is om die fantasie genre te vermy en doodgewone Afrikaanse dramas te skryf soos al die ander Afrikaanse skrywers. Ek doen dit tans en moet bieg, vir ‘n fantasie skrywer is dit soos om droë brood te vreet as jy aan steak en chops gewoond is.

    Maar ten minste skryf ek, of hoe?

Comments are closed.